Читать книгу Fiela se kind - Dalene Matthee - Страница 7

3

Оглавление

Agterna het sy die tekens gesien wat sy eers nie herken het nie: soos die pofadder wat die vorige dag voor die agterdeur kom lê het en wat haar ’n dosyn klippe gekos het om sy kop mee inmekaargegooi te kry. Nie ’n oomblik het dit by haar opgekom dat dit satanstyding kon wees nie. Sy het maar gedink dis slangtyd. En toe kom vang die valk die mooiste hoenderkuiken van die hele broeisel ook nog. Tekens. Voortekens gewees wat aan haar wou stamp om haar te waarsku, maar toe is haar kop mos net by die volstruiswyfie en slaan sy nie ag nie.

Die perdekar het van die westekant af in die Kloof opgekom en die kinders met die volstruis van die oostekant af. Sy het nog bo van die huis af gestaan en meet wie eerste by die uitdraaipad sou wees, die kinders of die kar. Die volstruis was haastig. Die takswaaiende kinders moes hol om by te bly en haar in die regte rigting te hou, en Benjamin was natuurlik weer voorholler.

“Kyk nou daar vir Benjamin, Selling! Al voor die volstruis uit, en ek het hom uitdruklik gesê hy kan saamgaan as hy agter draf!”

“Los die kind, Fiela, hy’s nie een vir agter draf nie. Daardie perdekar is al heelweek op en af hier in die Kloof. Vreemde kar.”

“Smouse. Al hoe meer van die goed hier rond. As dit so aangaan, sal daar op die ou end vir elke volstruisveer ’n koper wees.”

Die kinders en die volstruis was voor die perdekar by die uitdraaipad en Fiela se hande het opgewonde geraak onder haar voorskoot.

“Sy’s mooi, Selling. Bietjie rankerig om die boude, lyk dit my, maar ons sal haar vet kry, wag maar.”

“Dis nog te ver om te sê hoe sy lyk, vrou – die perdekar het lus vir uitdraai hiernatoe.”

“As dit smouse is en hulle wil velle en goed koop, sê jy reguit ons deel met Rossinski.”

“Daar’s taamlik dasvelle wat klaar gebrei is.”

“Goed, hulle kan dasvelle kry, maar nie vir onder die twee oulap ’n vel nie.”

Die hitte het trillings gemaak oor die oorkantse rante; na Diepkloof se kant toe, oos, het ’n dwarrelwind pad langs in die stof getol en skielik weer gaan lê. Toe sy opkyk, het die valk weer ewe suutjies bo die werf gehang.

“Maaifoerie!” het sy vir hom geskree. “Gister my mooiste kuiken gevang toe ek my rug draai, nè? Vandag kan jy maar op ’n ander plek loop aas, ek het hulle toegemaak!”

“Die kar draai op, Fiela.”

“Nie ’n enkele vel vir onder die twee oulap nie.”

Onder in die laagte het die volstruis skielik regs die veld in geswenk, met die kinders agterna dat die stof onder hulle voete uitslaan.

“Hulle gaan sukkel om haar hier te kry,” het Fiela sonder erg gesê en teen die skuinste agter die huis uit geloop na die hoenderhok toe.

Die somer was kwaai. Sy het teen die kaal, skurwe rooibruin berg bokant die huis uit getuur en gesien hoe die slierte mis oor die kruin waai en weer wegfrummel teen die bloue lug. Dit was of die hitte aan die Kloof se kant van die voorste berge nie ’n flenter mis heel wou laat oorwaai om lafenis te bring nie. Waarom dit die liewe Here behaag het om dié yslike gebergte soos ’n hindernis tussen die Lange Kloof en genade te kom neersit, sou net die Here alleen weet. Seekant van die berg het Hy milddadig geplant en laat reën en laat groei totdat daar ’n bos opgestaan het om myle en myle ver na al wat ’n kant is, die loop te neem. Kloofkant van die berge het Hy net klippe en stof en waboom en taaitrek en renosterbos en aalwyn oorgehad om iets van te maak.

Dis sonde, het sy haar gedagtes gekeer, die algoede Heer het darem nie die Kloof sonder genade laat staan nie, Hy het die volstruis diékant gelos. En kom die reën die jaar op sy tyd, blom die Lange Kloof en staan die kos vir mens en dier in oorvloed en vergeet jy die droogte waardeur alles en almal moes wurg. Soos nou. Maar ook dit is sondige denke, want die fontein bloei nog daagliks ’n watertjie wat sloot langs tot onder in die vangdam loop. Die bok is nog in die melk. Die paar skape is nog op die been, en saam daarmee bring Selling se hande darem ook iets in met die velle se brei en die karwatse en die swepe en die skoene se maak. Veel is Selling nie meer nie, die swakte het hom ingeneem, maar sy hande kan nog werk, al kos dit party dae skel om hulle aan die gang te kry. Swakte of nie swakte nie, Selling moet sy deel doen, niksdoen is kwaaddoen se beste broer.

Die wyfie het ’n wye draai met die kinders deur die veld gemaak voordat hulle haar weer in die rigting van die huis en die nuwe kamp gekeer gekry het.

Wes van die huis, in die ou kamp, het die mannetjie gewei. Gitswart pragvoël met wuiwende wit vlerkpluime en ’n dik, geelwit stert.

Daar was trots in haar toe sy na sy kamp toe aanloop.

“Ek het vir jou gesê ek gaan vir jou ’n wyfie kry!” het sy oor die heining gepraat. “Kyk bietjie daar, daar kom sy! Ek het nie vir jou gelieg nie!”

“Fiela!” het Selling van die huis af geroep, “die perdekar kom hiernatoe.”

“Hy kan maar kom!”

Daar was baie plek in haar hart vir daardie volstruismannetjie. Vir Skopper. Om hom te kon bekom, moes sy dae lank met ’n witdoringtak gewapen teen die aalwynkoppe sit en haar kans bokant die twee wilde volstruise se nes afwag om uiteindelik drie kleintjies gesteel te kry en huis toe te bring. Van die drie het net Skopper bly leef. Volstruiskuikens vrek sommer van niks. In die komende maand sou Skopper drie jaar oud wees – tyd dat hy bekwaam raak vir wyfie vat. Een volstruis is goed, maar as jy eers ’n broeipaar het, is dit net so goed jy het ’n trommel vol geld onder die kooi. Van Skopper se pluksel alleen het sy die vorige Augustusmaand ses pond drie sjielings gemaak. Die jaar voor dit vier pond ses sjielings, en Rossinski het gesê die prys gaan nog hoër klim, want die mense oor die see wou baie volstruisvere hê. Vir tjalies en hoede en dansrokke en wat nog alles. As Skopper die wyfie vat en hulle begin broei, sou Wolwekraal ’n hele klompie spogsels van daardie vere voorsien. Skopper moes net eers sin kry vir die wyfie.

Onder in die laagte, waar die pad na die huis toe deur die fonteinsloot gaan, het die smous stilgehou om die perde te laat blaas. Waar die botterblomme teen die helling plaat maak, het die kinders die wyfie op koers gehou en reguit met haar op die huis afgepyl.

“Kom maak met haar ’n draai om die ou kamp!” het sy vir hulle geskree. “Maak ’n draai dat Skopper haar net eers sien voordat julle haar anderkant injaag!” Die kinders het van die onderkant af met haar omgekom. “Sleg ding!” het sy vir die mannetjie geskree. “Jy kyk nie eers op nie! Jy sien nie eers hoe pragtig sy is nie!”

“Pas op, Ma!” het Dawid, die oudste van haar seuns, met die omkom geskree. “Keer voor daar bo, Benjamin!”

Die wyfie was maer en verwilder, maar haar nek was regop en fier toe sy verbyhol met die skreeuende kinders oral aan’t keer en jaag.

“Werk mooi met haar!” het Fiela vir hulle geskree en omgekyk na waar Skopper nog al pikkend wei. “Sies! Ses karwatse en twee swepe moes ek vir haar ruil en jy kyk haar nie eers aan nie!”

Sy het die wyfie by Koos Wehmeyer geruil, en sy kon seker geweet het Koos sou nie sy beste werfwyfie uitgesoek het nie. Maar sy sou haar vet en mooi kry voor dit paartyd was.

Sy het die kinders anderkant die huis hoor sukkel om die wyfie in die kamp te kry en self ’n tak gegryp om te gaan help.

“Die kar kom hiernatoe, Fiela!” het Selling gesê toe sy verbykom.

“Twee oulap ’n vel en niks minder nie!” Die wyfie het langs die kampheining rondgetrippel. “Emma, loop keer jy en Kittie onder!” het sy die moeë, stofvuil kinders op die regte plekke geskree. “Dawid, keer jy en Benjamin bo, en Tollie, kom help jy hier by my!” Al haal sy net ses kuikens uit ’n broeisel van twaalf of sestien eiers deur, sal dit meer geld in Wolwekraal se trommel beteken as ooit tevore. “Keer daar onder!” Dit moet net eers kom reën. Die Here weet, die droogte het die Kloof op die knieë. Die wêreld is kaal. Elke middag bol die donderwolke agter die verste berge uit en raak net so weer weg sonder om ’n druppel in die stof te los. Waarvan die ou klomp Laghaans, wes van haar grensheining, leef, weet hulle alleen. “Keer, Benjamin!” As die mis net eers ’n slag oor Jan Koles se kop wil kom lê sodat dit kan reën voor die volstruise moet veld toe gaan. Met die volgende verbykom kierang hulle die wyfie en keer haar netjies in die kamp in. “Pak toe!” skree sy vir die kinders en gooi haar tak neer.

Die kinders was gedaan.

“Ma, baas Koos sê Ma moet nog ’n karwats stuur, die een is te dun om die lyf,” kom Tollie sê.

“Loop sê jy vir Koos Wehmeyer hy sal lank wag vir nog ’n karwats. Benjamin, kom weg daar van die heining af! As daardie wyfie vandag losbreek, gaan sy skop om derms uit te skop!”

“Sy’t Kittie amper geskop, Ma. As Tollie nie by was met die tak nie, was Kittie nou lekker dood!”

“Benjamin lieg, Ma,” stry Kittie. “Dis vir hom wat sy amper geskop het!”

Sweet het onder Kittie se kopdoek uitgeloop en blink straaltjies deur die stof oor haar bruin vel gemaak. Emma het by die sloot op haar maag gelê en met haar mond teen die water gedrink. Langs haar het Dawid gekniel en water oor sy gesig gespat. Die volstruis had die kinders klaar.

“Julle moet koelte kry en die wyfie kans gee om tot ruste te kom.”

“Ek gaan kyk net eers hoe ver my skuit gedryf het, Ma!” het Benjamin teëgeskop en al langs die sloot af gedraf in die rigting van die vangdam.

Dié kind van haar wat alewig met sy skuite doenig is, het Fiela by haarself gedink. Al wat ’n stukkie hout is, moet gedurig uitgehol word vir ’n skuitjie.

“Daar kom mense, Ma,” waarsku Tollie haar toe hy verbyloop sloot toe.

“Hulle kan maar kom, ons deel met Rossinski – tensy hierdie een se prys vir dasvel beter is.”

Toe die perdekar oor die werf kom en die hoenders voor die perde se pote wegspaander, gaan ’n stadige skrik deur haar. Dit is nie ’n smous nie. Dit is twee mans in kispakke en swart hoede.

“En dít?” vra sy agter Selling op die hoek van die huis. Die skrik het maar altyd in haar opgekom as daar vreemdes oor haar werf kom. Dit was al gewoonte.

“Seker predikers, Fiela,” stel Selling voor.

“Wie kom preek op so ’n warm dag?”

Die prediker-smouse het die perde onder die peerboom vasgemaak en nader gekom. Die een was lank en bebril en die ander een was kort en dik en rooi in die gesig soos een wat baie bloed in die kop had.

“Middag.” Die lange het eerste gegroet. “Mooi volstruis­mannetjie wat julle daar in die kamp het!”

“Hy’s nie te koop nie,” het sy kortweg gesê en gewonder of hulle tog wel smouse is. Die lange het ’n boek en skryfgoed by hom gehad.

Die dikke het sy hoed afgehaal en die sweet van sy kop afgevee. “Dit word darem wragtie warm hier by julle in die Kloof.”

“Ja,” het sy beaam. Selling het net gestaan.

“Kan ons sitgoed kry?” het die lange gevra.

“Wat is baas-hulle se besigheid?” Vreemdes kry nie sommer op háár werf sitgoed nie.

“Sensus.”

“Wat is dit?”

“Die Goewerment gaan al die mense in die land laat tel, ons begin solank hier in die Kloof.”

Die doodskrik het deur haar geskiet. “En vir wat wil hulle die mense tel?” het sy vinnig gevra.

“Tel jy nie saans jou hoenders nie?”

Sy het hom nie geantwoord nie. Jare se voorspooksels het skielik voor haar gestaan en haar na uitkoms laat soek: As die wyfie net wil uitbreek en weghol sodat die kinders moet agterna. As Benjamin se skuit net wil wegdryf sodat hy moet aanhou soek en wegbly van die huis af. As die liewe Here tog net sy grote vlerke oor die kind sit en hom voor die aangesigte van die twee vredestoorders verberg.

“Kan ons sitgoed kry?” het die lange weer gevra.

Sy het omgedraai en die bruingekleide huis binnegegaan; anderkant die drumpel het sy eers bly staan totdat die daglig uit haar oë was en sy in die skemerte van die huis kon sien. Net die plankluik voor die kombuisvenster was afgehaal, die luike van die ander drie vertrekke se vensters moes die warmte buite hou en die koelte binne.

Hulle wou die mense tel en opskryf. Here, het sy dringend boontoe gepraat, laat Benjamin se skuit wegdryf, hou hom weg van die huis af, asseblief, Here.

Sy het twee riempiesmatbankies buitetoe geneem na waar die vreemdes in die streep koelte aan die suidekant van die huis wag. Selling het eenkant gestaan soos een wie se verstand heeltemal skeef getrek het.

“Kan een van julle lees en skryf?” het die dikke gevra.

“Ja,” het sy gesê. “Ek. Ek het skoling gehad by mister Hood op Avontuur. Ek is die haneboek deur en die Trap der Jeugd ook, as julle wil weet.”

Die lange het sy sit met sy rug teen die muur gekry, die boek op sy skoot gevat en die ink op die nabankklip staan gemaak. Die dikke het gesukkel om vir sy bankie gelykte te kry.

“Volle doopname en van?” Die lange het dit vir Selling gevra, maar sy het geantwoord.

“Selling Komoetie.”

Die man het dit neergeskryf. “Geboortedatum?”

“Hy weet nie.”

“Weinig van julle bruinmense weet dit in elk geval,” het die dikke half vies gesê en die vlieë gewaai. “Ons is nou amper veertien dae hier in die Kloof en ek weet nie of daar drie bruinmenshuise was waar hulle van hulle eie dinge geweet het nie. Hulle moes óf die baas loop vra óf ons moes raai.”

Selling het verleë gestaan. “My pa het altyd gesê ek is gebore toe hulle die Engelse moes aanry met die waens.”

“Aanry waarheen?”

“Ek weet nie, dit was die Engelse wat met die skepe gekom het en wat die plase gekry het.”

“Dan kan dit 1820 wees,” het die dikke uitgereken. “Hy lyk vir my nie na gister se kind nie, hy lyk vir my bra sleg.”

“Hy’t die swakte!” het sy vinnig vir Selling ingestaan. Sy het Kittie om die hoek sien loer en haar verwilder. In haar hart het sy gebid dat die wyfie moet uitbreek en weghol, al sou dit beteken dat hulle haar nooit weer kry nie en sy die karwatse en die swepe vir ewig kwyt is.

“En jy, atta?” het die lange haar gevra. “Tydens watter pes of ellende is jy gebore?”

“Ek sal die Bybel gaan haal, dis daarin opgeskryf.” Sy het omgedraai en weer die huis in geloop. Net die Here kon haar nog help, het sy geweet, en al langs die mure af gevoel tot by die plankrak waar die Bybel lê. Buite het sy self die Boek oopgeslaan en gelees: “Fiela Maria Apools. Geboren 19 October 1836. In den huwelijk bevestigd met Selling Komoetie op 3 Januari 1859.”

“Waar is jy gebore?”

“Hier. Toe staan ons huis daar onder in die laagte waar ons die slag uitgespoel het met die vloed. Ek was toe so kniehoogte.”

“Aan wie behoort hierdie grond?”

“Dis my grond.” Miskien wil hulle nie die kinders tel nie, het sy begin hoop, net die grootmense. “My pa en my oupa het in hulle lewens oor baie jare heen vir die Wehmeyers gewerk. Jy kan maar sê hulle het hulle vir die Wehmeyers doodgewerk. Na die oubaas se afsterwe is hierdie twaalf morg van Oude Wolwekraal op my oorle pa se naam gesit, die erfbrief en alles is by mister Cairncross op die dorp op Uniondale. Ons is nie pagters nie. Ook nie werfvolk nie.”

“Kinders?”

Here, laat Skopper dan uitbreek! Laat hom stokstyf dood neerslaan, laat ek hóm dan op hierdie dag offer, maar hou Benjamin weg van die huis af.

“Hoeveel kinders het julle?”

“Vyf,” het sy gesê en Selling sien banger word.

“Name en geboortedatums?”

“Laat ek sien …” Sy het die Bybel weer oopgeslaan. Hoeveel keer het sy nie vir haarself gesê om Benjamin in te skryf en nooit sover gekom nie! “Kittie, ons oudste, is op 4 Januari van 1856 gebore,” lees sy. “Die jaar daarna is onse Dawid gebore, die 2de Maart van 1857.”

Here, vat Skopper, laat hom op hierdie oomblik vrotpens kry. Asseblief, Here.

“Volgende?”

“Tollie. Op die 17de van November van 1858. Die jaar daarna is ek en Selling getroud en had ons nie kinders nie. Emma is eers die 6de Februari van 1860 gebore, toe bou hulle aan die witmenskerk op die dorp met oorle oubaas Wehmeyer se geld.”

Hy het dit alles met lang, kirtsende hale neergeskryf. “En die vyfde kind?”

Sy het Selling net een kyk gegee, toe maak sy of sy uit die Bybel lees: “Benjamin. Geboren 13 Februari 1862. Hy’s nou twaalf.”

Pen in die ink, kirts-kirts. “Enige ander mense saam met julle in die huis? Broers, susters, oompies, anties, ma’s, pa’s, oumas, oupas, vriende?”

“Nee.”

“Dis amper snaaks. Gewoonlik is die aanhangsels meer as die huismense self.”

“Op Wolwekraal se werf is nie plek vir leeglêers nie,” het sy hom reguit gesê. In haar binneste het sy vir hom geskree: Kry jou loop en vat die dikke saam! Sy het Benjamin tot op die Goewerment se boek ingeskryf gehad en êrens wou daar in haar gerustheid kom waar daar nog nooit tevore gerustheid was nie. Maar dan moes hulle loop.

“Waaruit maak julle ’n lewe?” het die lange gevra en met ’n nuwe blaai begin.

“Uit wat ons met ons hande verrig. Dis nie nou die ou klomp Laghaans daar onder met wie julle te doen het, wat van heuningbier en leeglê leef nie.”

“Waaruit, presies, maak julle ’n bestaan?”

“Bietjie koring, bietjie mielies, bietjie groente, paar skape en ’n melkbok. Alles hang af van die water. Verder brei Selling velle en so aan en wen ons ’n plukseltjie vere af en toe.”

“Aan watter kerk behoort julle?”

“Independente Kerk. Dis ons eie kerk nadat die London Missionary Society ons gelos het om self aan te sukkel. En baas kan sommer daar op baas se boek inskryf dat die geld vir die kerk destyds hier in die Kloof bymekaargemaak is en dat die kerk hier onder by Avontuur op die kruis gebou sou geword het. Maar toe loop mister Hood mos agter die klomp Stewarts aan Uniondale toe en vat die geld saam en loop bou dáár die bruinmenskerk. Nou moet ons voordag van hier af begin as ons laastegelui in die kerk wil sit, en Selling met sy swakte sien nie meer die binnekant van ’n kerk nie.”

’n Geluid agter haar het haar laat omruk. Op die hoek, stralend en met die houtskuit nog drupnat in sy hande, het Benjamin oop en bloot gestaan, en haar tong het dik geword in haar mond van die skrik.

“Hy’t tot onder in die vangdam gedryf, Ma! Ek moes ’n stok vat om hom uit te kry en hy het nie eers omgeslaan nie.” Hy het die twee mans onthou en eerbiedig gegroet: “Middag, baas – middag, baas.”

Die lange het sy bril afgeruk en die dikke se mond het oopgeval. Selling se hande het al vinniger om en om inmekaar gerol soos die skrik hom vasvat.

Here, het sy in haar hart geskreeu, vat dan alles wat ek het! Vat die hele lot, maar moenie vir Benjamin vat nie!

Sy het altyd geweet die dag sou kom waarop sy voor die wye wêreld oor daardie kind van haar sou moes staan. Nagte op nagte het sy haar daarvoor lê en voorberei en in haar verbeelding haar sê gesê soos sy deur die jare in die Kloof gedoen het, sodat wit en bruin voor haar tong moes swig en Wolwekraal se besigheid uitlos en saam daarmee die kind. Sy het die Kloof gewoond sien raak aan die kind by haar.

“Wie se kind is dit dié?” het die lange geskok gevra.

“Myne.” Hulle sou Fiela Komoetie nie sien krimp nie.

“Maar dis dan ’n wit kind!”

“Hy’s wit, ja.”

Die dikke het hom heftig met sy hoed begin koel waai. “En ’n dekselse mooi kind daarby. Wie se kind is dit?”

“Dis Benjamin, my hanskind.”

“Kom hier, seun!” het die lange die kind geroep.

Sy het soos ’n waakhond tussen hulle ingespring. “Los die kind! As julle te praat het, praat met my!”

“Luister, atta, jy weet net so goed soos ek dat hier iets baie vreemds aan die gang is. Dit kan nie jou kind wees nie, maar jy het hom staan en opgee as jou eie. Waar kom jy aan die kind?”

“Dis my hanskind.”

“Wat jy waar gekry het, vra ek jou?”

“Waar kry jy hansgoed?” Sy het soos ’n tierwyfie gekeer. Sy was lank klaar vir hierdie dag. “Ek het hom gekry waar sy ma hom gelos het, dis waar ek hom gekry het.”

“Waar was dit?”

“Net daar waar baas nou sit.”

“Wanneer?”

“Amper nege jaar gelede. Middel van die nag.”

“Hy lyk ouer as nege,” het die dikke gesê.

“Hy is.”

“Hoe oud is hy?”

“Ek weet nie, ek het hom so op drie geskat die nag.”

Die lange het bly loer na die kind. “Jy sê jy het hom hier voor jou agterdeur gekry? Het hy gestaan of gesit of gelê?”

“Gestaan.”

“Ek dink jy lieg.”

“Vir wat sal ek lieg? Ek het die nag wakker geword van ’n kind wat huil en toe ek kom oopmaak, toe staan hy hier. Iemand het hom voor my deur kom los.”

“Het jy iets gehoor?”

“Nee. Net die kind.”

“Maar dit het jou nie die reg gegee om hom te hou nie. Dis ’n wit kind!”

“Moes ek hom buite laat staan het?”

“Moenie vir jou probeer slim hou nie, atta,” het die lange haar gewaarsku, “jy het ’n wit kind op jou werf en tussen jou ander kinders in die huis en jy weet net so goed soos ek dat dit nie die regte ding is nie.”

“Wat van die bruin kinders op die witmense se werwe en in hulle huise en tussen hulle kinders?”

“Dis ’n ander saak. Saans gaan daardie kinders huis toe, dis die werfvolk se kinders. Dis ’n verkeerde ding hierdie.”

“Sê wie?”

“Sê ek!”

“As jy ’n hanslam gevat en grootgebring het, wie gaan vir jou kom sê wie se skaap dit is?”

“Hoekom het jy nie die kind grootplaas toe gevat, na baas Petrus Zondagh toe nie? Hy is ’n vername man, hy sou geweet het wat om te doen.”

“Baas Petrus was agter by die see.”

“Dan kon jy die kind dorp toe gevat het, na die magistraat toe.”

“Magistraat wat waar was? Onse dorp het maar anderdag magistraat gekry.”

“Fiela …” het Selling ’n woord uitgekry, “sê die baas van die veldkornet.”

“Wat van die veldkornet?” het die lange gevra.

“ ’n Week na ek die kind gekry het, is ek dorp toe om die veldkornet te sê, maar toe was hy weg Dugas toe agter skaapdiewe aan. Toe ek weer loop om te hoor of hy al gekom het, toe sê hulle hy is begrafnis toe onder op Haarlem.”

“En toe het jy nie weer gegaan nie?”

“Nee. Die kind wou toe nie meer van my rok af nie, ek had hom toe gevat.”

“Jy het die kind dus skelm gehou.”

“Ek het hom van niemand gesteel nie.”

“Ma …”

“Loop speel, Benjamin. Loop kry jou skuit op die water.”

Maar die kind het agter haar bly staan asof hy skuilte in haar skaduwee soek. Sy het altyd geweet die dag sou kom waarop sy vir hom sou moes baklei, dis net dat die dag uit ’n rigting gekom het wat sy dit nie verwag het nie. Sy het altyd gedink dit sou weer Petrus Zondagh wees wat op ’n dag ’n tweede keer oor die kind kom praat. Vir daardie dag was sy voorberei, nie vir hierdie een nie.

“Mense, wag ’n bietjie!” Die dikke het skielik sy hande in die lug gegooi en gesit soos een wat iets te sê het. “Hoe lank gelede sê jy was dit dat jy hom hier voor jou agterdeur gekry het?”

“Nege jaar.”

Hy het na die lange toe gedraai. “Hoekom onthou ek dan nou van ’n ander ding? Onthou jy die kind wat destyds hier agter in die Bos weggeraak het? Ek is nog die slag saam met ’n nuwe boswagter tot by Diepwalle en daar het die ander wagter my gevra om vir hom die boodskap van die kind tot by magistraat Blake op Knysna te neem. Mister Blake het nog die volgende dag ’n konstabel gestuur om die houtkappers te help soek. Onthou jy van die kind?”

“Ek onthou iets daarvan, maar kan dit al nege jaar wees?”

“Maklik. En hulle het mos nooit weer daardie kind gekry nie.”

“Was dit ’n seunskind?” Die lange het duidelik sin gekry vir die storie.

“Ja. En ek sal amper sweer dat hy ook drie jaar oud was.” Dit het gevoel of die bloed in haar are kook. “Luister hier, baas,” het sy losgetrek en voor die dikke loop staan. “Nou probeer baas visvang in ’n pispot!”

“Wag, atta, die kind van wie ek praat, het hier agter in Kom-se-bos weggeraak. Ek onthou die hele ding nou al hoe helderder. As jy van hier af, reguit oor die berg, ’n lyn sou trek, sweer ek kom jy net mooi agter in die Bos uit waar die kind weggeraak het.”

“Het baas al gesien hoe lyk dit reguit hier oor agter die berg?” Hulle het met ’n kakstorie gesit en sy sou moes keer! “Dis nie ’n berg nie, dis berg op berg op berg voor die berg klaar is en die Bos begin, en baas weet self hoe lyk die Bos. Maar nou wil baas hier kom sit en voorstel dat ’n kind van drie van daar af tot hier kon gedwaal het? Baas is nie reg van kop nie.”

“Dis nie onmoontlik nie.”

“Jirre, baas, net so min as wat daardie volstruismannetjie daar anderkant ’n eier gelê sal kry, sou ’n kind van drie dit uit die Bos uit tot hier gemaak het. Nie eers ’n sterk man sou dit in ’n week se tyd gemaak het nie.”

“Wat van pad langs?” het die lange voorgestel.

“Pad wat waar was? Nege jaar gelede was die pad nog nie klaar nie, hulle het aan die pad gewerk, ja. En as baas iemand soek wat daardie pad ken …” Sy het Selling se voete sien verskuif en hom eers met haar oë gerusgestel voordat sy verder praat. “… vra vir my. Ek ken daardie pad. As die kind in die halfklaar pad beland het, sou iemand hom gekry het, want daar’t honderde bandiete aan die pad gewerk. Ek sê vir baas, die kind wat ek voor my agterdeur gekry het, het nie ver gekom nie. Hy was skoon en netjies. Baas moenie vandag op my werf kom goed aanmekaarlap wat nie aanmekaar hoort nie.”

Die lange het opgestaan. “Mense, ons het hier met ’n ernstige saak te doen, dis ’n saak vir hoër gesag, nie vir ons nie.” Here, sien my nood, help my, het sy paniekerig gebid, en begin pleit. “Baas, asseblief, los hierdie ding, los die kind.”

“Kan die kind nie onthou hoe hy hier gekom het nie?”

“Nee.”

“Boet, kom hier na my toe,” het die lange die kind geroep.

“Los die kind!”

“Ek wil hom net iets vra, atta.”

“Ek het hom alles gevra wat gevra moes word, hy weet niks.”

“Miskien moet ons die kind saam met ons neem,” het die dikke skielik voorgestel.

“Dan sal julle my eers vandag moet keel-af sny!” het sy verwoed gekeer. “Dis mý kind hierdie en my kind sal hy bly. Almal in die Kloof weet dit en hou hulle bekke van hom af en nou wil julle julle pote aan hom kom sit! Jy, baas, jy,” het sy na die lange gewys, “jy’t hom in daardie Goewermentsboek ingeskryf as Benjamin Komoetie, en so sal dit opgeskryf staan tot in lengte van dae!”

“Jy het my belieg!”

“Net so min as wat baas die waarheid ken, ken ek die waarheid!”

“Het jy ooit probeer om sy ma op te spoor?”

“Nee. ’n Ooi wat lam weggegooi het, draai nie om nie.”

Dit was die dikke wat sy kans afgekyk het om om haar te kom en die kind teen die muur vas te keer. “Oom sal jou niks maak nie, boet,” het hy paaiend gepraat. “Oom kyk sommer na jou skuitjie.”

“Los die kind!”

“Ek sal nie aan hom raak nie, atta. Dis ’n mooi skuitjie, het jy hom self gemaak?” Die kind het verskrik gestaan. “Oom vra maar net, oom is baie lief vir skuitjies. Het jy hom self gemaak?”

“My pa het my gehelp, baas.”

Sy het hulle vinnig na mekaar sien kyk oor die baas. “Hy praat agter ons aan, dit kan nie anders nie.”

“Sê vir my, boet, hoe het jy hier gekom? Dink nou mooi, dan sê jy vir oom.”

“Ek weet nie, baas.”

“Ek is seker jy sal iets kan onthou as jy net hard genoeg dink. Van julle huis of van jou ma.”

Die kind het sy potblou oë na haar gedraai asof hy by haar wou pleit om hom los te kry. Selling het verslae nader geskuifel en met die lange gepraat.

“Julle maak die kind bang, baas. Hy ken nie ander ma nie, hy ken net vir Fiela.”

Die lange het die boek toegeklap en die inkpot opgetel. “Ons gaan môre terug Knysna toe, ons sal gaan verneem van daardie ander kind.”

Fiela se kind

Подняться наверх