Читать книгу Fiela se kind - Dalene Matthee - Страница 11

7

Оглавление

Waar die nou kronkelpad oor die nek van Avontuur se berg loop, het hulle die perde vir die eerste keer laat rus. Die dikke het afgeklim om die lantern dood te blaas.

“Wil jy nie ook ’n bietjie afklim nie, boet?”

Hy het die trommel langs hom op die agterste sitplek neergesit en versigtig oor die voorste bankie getrap en afgeklim.

Dit was bibberkoud.

Ver agter hulle, noord, het die Kloof se koppe swartblou in die vroeë oggend gelê, en waar die son wou uitkom, het die lug rooi geword.

Soms, op ’n Sondag, as dit ’n baie helder dag is, het hulle napad teen die koppe langs tot op Avontuur se berg gekom om na die see in die verte te kom kyk. As dit effens dynserig is, kan jy nie die see sien nie. As dit baie stil is en die luggie stoot van die oostekant af, kan jy die see hoor. Tollie het altyd gesê dis die wind deur die besembosse wat hulle hoor, maar sy ma het gesê dit is die see. Alhoewel die eintlike see, waar die skepe deur ’n groot gat in die koppe in die Knysnarivier op kom, suid lê. Dit is swaar om te glo. Suid is daar net berge. Wes ook.

“Waar begin die Bos dan?” wou Dawid altyd weet.

“Anderkant die berge.”

Hulle het weer begin ry. Solank die twee mans nie met hom praat nie, het dit nie te sleg gegaan nie.

“Is jy warm genoeg, boet?” het die dikke gevra.

“Ja, baas.” Dit was koud. Hulle het ’n dik kombers oor hulle bene gehad en hy het Dawid se baadjie om syne gevou.

“Jy sal moet afleer om baas te sê, jy’s nou tussen witmense.”

“Ja, baas.”

Hulle het aan mekaar gestamp en gelag. Sy ma het gesê hy moenie vir die magistraat baas sê nie; sy het niks van die ander gesê nie.

Hy was onrustig oor die volstruiswyfie. As sy nie haar streke los nie, sou Skopper haar nie vat nie en dan broei hulle nie. Sy ma het gesê as die volstruise eers broei, gaan baie dinge reguit kom wat krom is.

Die pad het ’n lang ruk op die rug van die berg langs geloop en die perde het gemaklik met die kar gedraf. Toe Tollie en Dawid hom op die kar getel het, het hy geskop en geskree, maar toe sy ma begin huil, het hy opgehou. Die lange was dikbek. Seker oor sy ma vir hom gesê het dis helwaarts met hom as haar kind nie Saterdag in die huis is nie.

Hy kon nie eintlik om hom sien nie; die kar se kap was opgeslaan en die twee mans voor hom het die ander bankie goed vol gesit.

Die magistraat moes hom tog net nie die nege-maal-tafel vra nie. Een maal nege is nege. Twee maal nege is agttien. Die bang vir die magistraat het soos naarwees in hom opgekom; dit het nie gehelp hy sluk nie, dit het net weer gekom. Drie maal nege … Hy het die antwoord op sy vingers begin aftel: negentien, twintig, een-en-twintig. Maar hy het nie verder gekom nie. Anderkant die perde se koppe het die wêreld skielik vorentoe gekantel en met ’n slingerpad teen die berg afgefoeter en gunter onder met ’n wye draai weggeraak. Hy het weerskante van hom aan die sitplek vasgegryp en benoud geskree: “Moet ons dáár af, baas?” Dit was seker waar die poskar verongeluk het.

Hulle het weer aan mekaar gestamp en gelag en die dikke het omgekyk.

“Hoe het jy dan gedink?”

Sou die kar ’n briek hê? Hy het nie ’n briek gesien nie. Die smous se wa het ’n briek gehad.

“Het die kar ’n briek, baas?”

“Waar het jy van ’n perdekar met ’n briek gehoor?” het die dikke gevra en na die perde gewys. “Dáár is sy brieke.”

Dit het gelyk of die perde die kar met hulle boude teëhou, of hulle in die tuie gaan sit soos hulle keer om nie met kar en al die afgrond af te duiwel nie.

“Ek wil afklim, baas.”

“Sit!” het die lange geraas.

Hy het met sy een hand die sitplek gelos en die trommel begin oopvroetel. Die beste sou wees dat hy die vyf sjielings in sy sak kry, dan het hy immers dit as alles anders verongeluk.

“Baas, ek wil afklim!”

Die dikke het omgedraai. “Moenie so skree nie, boet, jy maak die perde bang.”

Hy het op sy tande gebyt, maar die bang het aanmekaar geluide gemaak in sy keel. Hy moes na Dawid geluister het en weggehol het. Maar toe sê sy ma die beste sou wees dat die magistraat en die bosvrou hom sien en klaarkry sodat hy weer kan huis toe kom.

Een maal nege is nege. Twee maal nege is agttien. Drie maal nege is – negentien, twintig, een-en-twintig, twee-en-twintig. Hy tel nege vingers af. Drie maal nege is sewe-en-twintig. Hoe ver is dit na die magistraat toe? Sy pa het gesê dis tot donker toe met ’n perdekar.

Die pad het geleidelik witter geword. Later was die stof soos droë, wit kalk, en die wind het die stof teen die bosse vasgewaai en dit het soos as oor alles gelê. Drie maal nege is sewe-en-twintig.

Op die volgende draai was dit of die perde se pote in die lug trap, só na aan die afgrond is hulle om die draai.

“Asseblief, baas, ek wil afklim! Ek wil huis toe gaan!” Hulle het hulle nie aan hom gesteur nie, net gelag. “Asseblief, baas!” Hy kon napad oor die berg huis toe hol. “Asseblief, baas!”

Die lange het hom omgeruk. “Kry end!” het hy vir hom gesê. “Ons wil nie heelpad met jou sukkel nie, ons het groot moeite gehad om jou te haal. As die konstabel jou kom haal het, sou jy lankal ’n oorveeg gekry het. Jy bly nou stil en jy sit stil. Hou op om so heen en weer te skuif.”

“Baas, ek wil huis toe gaan, asseblief, baas.”

“Hou op met kerm!”

Hy moes weggehol het soos Dawid gesê het.

Onder die berg het hulle die perde in ’n smal, bosserige klofie laat rus en net die dikke het afgeklim. Hy het gekyk of die perde nog vas is en die kar se kap laat sak. Toe het die wêreld oop om hulle gelê en die pad waarlangs hulle afgekom het, was oral teen die berg met klipmure vasgepak. Moerse klippe. Net die Here kon die klippe so gepak het.

Hulle het al in die klofie op gery. Lank en gelykpad. Maar voor hulle was ’n ander berg en dit het kompleet gelyk of die pad reguit in die berg vasloop. Miskien was daar ’n gat deur die berg. Drie maal nege is sewe-en-twintig. Vier maal nege … Hy het weer nege vingers afgetel. Vier maal nege is ses-en-dertig. Hoe nader hulle aan die berg kom, hoe skurwer en kaler het dit gelyk.

“Hou die pad daar voor op, baas?”

“Nee. Sit stil!” Die lange was nog altyd dikbek.

Een maal nege is nege. Twee maal nege is agttien. Die pad het begin draai. Hoe verder die pad draai, hoe oper het die berg voor hulle geskeur. Hoe nader hulle aan die skeur kom, hoe meer het dit gelyk of dit twee berge is wat perdekar-ver uitmekaar staan.

Toe die pad in die skeur indraai, was hulle tussen die vreeslikste aasvoëlkranse en die pad het weer reg voor die perde se koppe teen ’n hoogte afgeduiwel. Dáár sou hulle nooit sonder brieke afkom nie, hulle sou morsdood verongeluk!

“Baas, ek wil afklim!”

Hulle het nie meer gelag nie, ook nie omgekyk nie. Toe die kar die eerste kort draai vat, het die dikke sy lyf na die middel toe gegooi en so bly lê tot hulle om was.

“Baas, ek wil afklim!”

Om die volgende draai het die lange weer sý lyf middel toe gegooi. Dit was nie twee berge nie, dit was een berg wat deurgeskeur het, en hoe dieper hulle in die skeur in afdaal, hoe bruiner en hoër het die kranse aan weerskante geword. Saam met die pad het ’n stroom water gehol. Met rukke was hulle hoog bo die water en dan weer onder langs die water, en die hele tyd was die helse klipmure oral opgestapel om die pad teen die kranse vas te druk.

Ná elke paar draaie was daar ’n houtbruggie oor die water waaroor die perde se pote en die kar se wiele anders geraas het. Later het dit vir hom gevoel hulle is diep binne-in die berg se pens en die pad is ’n rooibruin slang wat uitkomplek soek en dit nie kry nie.

“Baas, as daar vandag ’n kar van voor af kom, is ons dood!”

Op party van die draaie was die pad so nou dat hy kon sweer die kar is met een wiel in die lug daar om. Wit, skuimerige sweet het op die perde begin uitslaan; alles om hulle het dieselfde rooibruin kleur geword: die pad, die kranse, die klipmure, die stof. Regop en onderstebo was dieselfde ding. Net die streep lug bokant die kranse was nog blou.

Sy kop was dronk toe die pad uiteindelik uitkomplek kry. Anderkant die berg was ’n breë drif waar die perde hulle proes-proes deurgetrek het, en anderkant die drif het hulle die perde uitgespan. Hulle was weer in ’n kloof en voor het weer ’n berg gelê. ’n Hoër een.

“Jirlikheid, baas,” het hy vir die dikke gesê, “dis dan nog altyd net berge waar jy kyk!”

“Dis De Vlugt dié, en die berg wat daar voor lê, is De Vlugt se berg. Hy’s kwaai.”

Die twee mans het geëet. Hy was nie honger nie. Hy wou huil en hy wou huis toe gaan. Emma het gesê hy moet op die grond gaan lê as hulle hom kom oplaai en maak of hy dood is, maar toe was hy bang hulle kielie hom en sien hy lieg. Hy moes gemaak het soos Dawid gesê het. Weggehol het. Nou was dit te laat.

Toe hulle weer begin ry, het die pad geleidelik steiler geword en die klipmure het weer aan die onderkant begin vashou en saam met die pad al hoër geword. Die perde se lywe het onder die tuie gerem en hulle pote het al stadiger vasgetrap vir die trek. Nie lank nie, toe moes die lange stilhou om hulle te laat rus.

“Boet,” het die dikke gesê, “dis nou De Vlugt se berg waarvan ek gepraat het. Voor ons hom uit is, lê daar nog baie steilte vir die perde voor. Hulle kry swaar. Jy sal moet afklim en loop, want hoe ligter die kar is, hoe beter. Sodra ons begin sak, kan jy weer opklim.”

Hy het die trommel gevat om af te klim, maar die lange het sommer op hom begin skel. “Waar die duiwel wil jy nou met die trommel heen?”

“Ek dog dan die ander baas sê die kar moet ligter kom?”

“Sit neer die ding!”

Hy het agter die kar ingeval en maklik bygehou. Dit was beter om te loop. Dit was net dat hy so vol huil was dat sy keel en sy neus en sy oë gebrand het daarvan. Dawid het gesê hy moenie huil nie. Nie voor witmense nie.

Een maal nege is nege. Twee maal nege is agttien.

Die pad was vol klein ronde ysterklippers en hier en daar was ’n skerpe tussenin. Drie maal nege is sewe-en-twintig. Hoe lank nog voor dit Saterdag is? Twee keer se slaap. As hulle terugkom, sal elke opdraand ’n afdraand wees en elke afdraand ’n opdraand. Hy sal baie moet loop. Hulle kan hom maar net tot by De Vlugt bring, hy sal alleen regkom daarvandaan.

Vier maal nege is ses-en-dertig.

Die magistraat wil net sien wie se kind hy is, of hy die bosvrou se kind is. Hy is Fiela Komoetie se kind. Al wat hy moet doen, is om dit vir die magistraat te loop sê. Kittie het gesê baas Petrus of miss Baby kon ’n brief vir die magistraat geskryf het om te sê hy is Fiela Komoetie se kind. Sy pa het gesê die brief sou te lank vat om daar te kom. Die poskar loop maar elke tweede week.

Hy het die huil nie meer ingehou gekry nie. Sy voete het soos kole vuur in die skoene gebrand, want die skoene het nie meer gepas nie. Hulle het gekrimp of iets.

Elke keer as een van die mans op die perdekar omkyk, het hy sy kop laat sak sodat hulle nie moes agterkom hy huil nie. Hy wou nie huil nie, maar hy kon nie anders nie. Hy het al verder agter geraak omdat sy voete in sy skoene brand; hy was seker die bloed loop al uit hulle uit. Tollie het gesê as hy terugkom, wil hy die skoene by hom leen; hy wil op Avontuur gaan dans met Siena van oompie Jakoos-hulle. Sy ma slaan Tollie dood. Sy sê altyd die Komoeties kyk eers wáár hulle inkruip voor hulle inkruip, en hulle kruip nie by oompie Jakoos-hulle in nie. Tollie kon die skoene in elk geval maar vat.

“Jy moenie te ver agter raak nie, boet!”

“Gaan bars!” wou hy vir hulle terugskree.

Toe die lange die perde weer ’n slag laat rus, het hy gaan sit en die skoene uitgetrek. Gelukkig het sy voete darem nog nie gebloei nie, hulle was net baie rooi. Sy ma het gesê hy moet die skoene aanhou sodat die mense kan sien hy is uit ordentlike mense wat winkelskoene dra. Sy pa het net die werfskoene self gemaak.

“Hoe lyk dit dan vir my of jy gehuil het?” het die dikke gevra.

“Nee, baas. Hoe ver is dit nog, baas?”

“Waarheen?”

“Knysna toe, baas.”

“Ons is nog nie halfpad nie, man!”

“Hoe laat is dit al, baas?”

“Twaalfuur.”

Een maal nege is nege. Twee maal nege is agttien. Toe die perde weer begin loop, het die huil in strome uit hom uit geloop en hy moes sy gesig aan Dawid se baadjie afvee om te kon sien waar hy trap. Sy voete sonder die skoene was net so erg as met die skoene aan. Erger. Sy ma het al die harde velle van sy voete af geskrop en die klippe was skerp. En Dawid gaan kwaad wees oor die snot aan sy baadjie, hy sou Dawid se baadjie moes was.

En die dikke het gesê hulle was nog nie eers halfpad nie. Hoe sou hy ooit halfpad haal?

Hy is op die kante van sy voete uit tot bo waar hulle hom weer laat opklim het.

“Ek het gedink daardie skoene gaan vir jou druk,” het die lange gesê en gelag.

Agter die volgende berg het hulle weer uitgespan. Hy was nog nie honger nie.

“Is ons nou al halfpad, baas?”

“Ja. Net so oor die halfpad en ons behoort so oor drie uur in die Bos te wees. Kan jy iets van die Bos onthou?”

“Nee, baas, ek ken nie die Bos nie.”

Voor hulle in die Bos was, moes hy nog twee keer afklim om die kar ligter te kry. Maar die pad was nie meer so erg vol ysterklippers nie en het weer witter geword. As hy mooi trap, kon hy al langs die kant in die wit stof langs vir sy voete sagte plekke soek. Die klippe van die mure wat die pad moes vashou, het ook witter geword.

Teen vieruur het dit darem gelyk of hulle die ergste berge oor was, want die berge agter hulle was hoër as die berge vorentoe.

“Wat snuif jy so?” het die lange gevra nadat hy die laaste keer moes loop.

“Ek weet nie, baas.”

“En ek weet nie hoe hulle jou ooit weer gaan wit kry nie. Jy moet leer om ‘oom’ te sê! Jy’s wit, jy’s nie bruin nie.”

Hy het niks van die lange gehou nie. Die dikke was beter. Sy ma het gesê die Here help hulle as hulle weer ná Saterdag hulle pote op Wolwekraal se werf sit.

Die son was al flou toe die pad in die groen tonnel van bome en bosse inloop.

“Is dit die Bos, baas?” Sy sitvlak was seer gesit.

“Dis sy begin.” Die dikke het onrustig geklink.

Alles was skielik anders. Die lug het na die modder in die fonteinkloof geruik. Net natter. Die asem in sy neus was kouer.

“Is dit die Bos?” het hy gevra om seker te maak.

“Ja.”

Dit was mooi. Oral tussen die bome het die geilste varings gestaan. Sy arme ma moes so sukkel om die varing in die blik voor die agterdeur aan die groei te hou en hier het die goed sommer onder die bome gegroei. Nie eens in blikke nie.

“Woon hier mense, baas?”

“Meeste houtkappers.”

“En die olifante?”

“Hulle is ook hier.”

Alles het sagter geklink: die perde se pote, die kar se wiele. Daar was nie meer stof nie, dit was of die stof klam was en bly lê het.

Hulle het ver so deur die Bos gery. Die bome het al dikker opmekaar begin staan en al hoër geword. Hy wou nie die een wees wat ’n volstruis moes soek wat in dáárdie ruigtes weggeraak het nie. Op plekke sou ’n volstruis nie eens kon in nie, sy bene en sy nek sou net daar knoop en afknak. Om nie eens te dink aan hoe die vere sou lyk nie. Rossinski sou hulle niks gee daarvoor nie.

Wanneer hulle stilgehou het om die perde te laat rus, het hy voëls gehoor. Maar hy kon hulle nie sien nie. Bokant die pad het die bome van weerskante af deurmekaar geraak en hy kon net stukkies van die lug sien. As hy net een van die bome vir sy pa kon uittrek en langs die huis gaan staan maak om onder te sit, en een vir sy ma vir die varing om onder te staan.

“Waar’s die olifante dan, baas?” Hulle het hom nie geantwoord nie. Nêrens was huise nie, daar was nie plek tussen die bome en die boskasie wat onder die bome gegroei het vir huise nie.”Waar woon die mense dan, baas?” Weer het hulle hom nie antwoord gegee nie. Dit het gelyk of hulle stokstyf regop sit en die hele tyd op die uitkyk is vir iets wat uit die Bos moet kom.

Eers toe hulle stilhou om die lantern op te steek, het die dikke weer met hom gepraat: “Boet, van hier af moet jy albei jou oë oophou en ons help uitkyk vir die olifante.”

“Ja, baas.”

Maar hy moes in die ry aan die slaap geraak het, want toe hy wakker word, het die perde se pote weer anders geklink. Hulle was in ’n straat tussen huise. Die dikke het voor een van die huise afgeklim en hy en die lange is alleen verder tot by ’n ander huis waar ’n vrou met ’n lantern op die stoep gestaan het.

“Ek dog julle het verongeluk!” Sy het nader gekom en die lantern opgelig om beter te kan sien. “Is dít die kind?” het sy gevra en hom aangekyk soos een wat nog nooit ’n mens gesien het nie.

“Ja,” het die lange gesê, “dis hy.”

Die bang het hom weer begin naar maak.

Die huis se mure was wit van binne en die vrou het bly staar na hom.

“Sit neer jou trommel, boet. Is jy honger?”

“Ek het kos.”

“Wil jy ’n bietjie koffie hê?”

“Nee, mies.”

Toe die lange van buite af inkom, het sy geskinder: “Dis te vreeslik, Ebenezer, hy noem my mies. Nes ’n bruinmens.”

Iemand het die perde op en af voor die venster koudgelei. Die vrou het hom buitetoe geneem en gewys waar die waterhuis is waar hy hom moes was en die plek waar hy moes pie. Sy het die lantern vir hom gelos en is weer die huis in. Die een wat die perde koudgelei het, het anderkant die waterhuis omgekom en gesê: “Naand, kleinbaas.” Dit het snaaks geklink. Hy het geweet hy is wit, maar niemand het nog ooit vir hom kleinbaas gesê nie. As Dawid en Tollie daar was, sou hulle hulle slap gelag het.

Toe het die vrou vir hom gewys waar hy moes slaap en vir hom ’n kers gegee. Hy het van die kos in die trommel geëet en die vyfsjielingstuk weer in die lap geknoop. Die Komoeties was nie kaalgat nie.

Die volgende môre was die bang sy hele lyf vol, maar een nag se slaap was verby en net een het oorgebly. Hy het opgestaan en die nuwe hemp aangetrek, soos sy ma gesê het. Net nie die skoene nie. Sy voete was te seer. Die hemp se moue was te lank en het aangehou om oor sy hande te skuif as hy sy arms langs sy sye laat hang.

Die vrou het vir hom brood en koffie in die kombuis gegee en hy moes dit langs die tafel staan en eet. Daar was stoele. Sy het in die deur kom staan en na hom bly kyk, en later het die lange agter haar kom staan en hulle het Engels gepraat met mekaar.

“Die hale oor jou bene, boet,” het die vrou gevra, “het hulle jou so geslaan?”

“Nee, mies.” Sy was seker laf. “Ons tap aalwee. Ons moet nog tot andermaand toe tap. Dis die dorings wat ’n mens se bene so skraap. Mies moet sien hoe lyk my twee broers en susters s’n.”

Die vrou het weggedraai en haar kop geskud.

Hy het sy hande buite gaan was en voor die agterdeur gebly. Dit was beter buite. Toe het die man hom kom roep. Dit was tyd om te begin aanstap magistraat toe.

Een maal nege is nege. Twee maal nege is agttien.

Die huise van die dorpie het ook maar rietdakke en sinkdakke gehad nes Uniondale s’n, en die strate was ook maar gaterig. Toe hulle in die bo-straat kom, het ’n wa met koponderstebo osse in die straat af gekom en dit was vol houtstompe gelaai. By die wa was snaakse mense; witmense, maar hulle was baie arm.

Aan die voet van die dorp het die grootste dam wat hy in sy lewe gesien het, gelê. Dit was nie die see nie.

“Waar’s die see dan?” het hy gevra en onthou om die baas uit te los.

“As jy mooi kyk, sal jy hom daar agter die meer deur die koppe sien.” Die lange was nie meer dikbek nie. “Maar hou nou op om om te kyk, ek wil met jou praat. Ek wil hê jy moet weet dat jou hele lewe op hierdie dag kan verander. Jy moet jou mooi gedra. As die magistraat vir jou ’n ding vra, antwoord hom ordentlik en moenie obsternaat wees nie.”

“Gaan ek môre huis toe?”

“Dit hang af van wat vandag in die hof gebeur. Jou … ee … die mense daar agter in die Lange Kloof het jou seker gesê van die kind wat destyds hier in die Bos weggeraak het, en dat die ma van die kind vandag moet kom kyk of jy dalk daardie kind kan wees …”

“Ek is nie haar kind nie.”

“Dis nie vir jou om te besluit nie,” het die lange hom weer opgeruk en vinniger geloop.

Die plek van die magistraat was soos ’n groot skool, met baie vensters en baie klaskamers. ’n Man het uit een van die klaskamers gekom en Engels gepraat met die lange. Onder in die gang was ’n konstabel; sy knope baie blinker as die perdkonstabel s’n wat altyd kom rondte doen het in die Kloof. As die perdkonstabel in die pad opkom, moes hy onder sy ma-hulle se kooi loop lê, en dan drink die konstabel lekker koffie in die kombuis en weet van niks. Net vir ingeval, het sy ma altyd gesê.

Hy het sy oë op die ander man gehou ingeval dit die magistraat was. Die konstabel het nader gekom en na hom staan en kyk tot die ander man gesê het hulle moet solank in een van die klaskamers gaan wag.

Sy kakebene wou bewe van die bang en die huil het in sy keel gewurg. Dit was ’n groot kamer met baie houtbanke in, nes ’n kerk, en met ’n preekstoel ook.

“Is dit ’n kerk?” het hy vir die lange gevra.

“Nee. Dis die hofsaal. Sit daar op die bank en sit stil.”

“Was dit die magistraat?” Die huil het ál boontoe gekom.

“Nee, dit was sy klerk. Die magistraat is met ander dinge besig. Hulle wag nog vir die bosmense om te kom. Jy kan nie nou huil nie! Jy kan nie voor die magistraat kom staan en huil nie!”

“Sal baas my môre huis toe vat?”

“Nie as jy huil nie.”

Dit het die huil laat ophou en hy het op die punt van die voorste bank gaan sit.

“Is die magistraat kwaai?”

“Nee. Hy’s ’n goeie man en ’n baie slim man. En jy moet nou stil sit, ek gaan solank buite gesels.”

Dit was koud in die kamer. Die koue het in sy voete opgetrek en hy het gewens hy het Dawid se baadjie, want hy het vergeet om sy ou hemp of sy flenniehemp onder sy nuwe hemp aan te trek.

Een maal nege is nege. Twee maal nege is agttien.

Miss Baby was kwaai oor tafels ken. Sy het hom eendag voor in sy sommeboek netjies laat uitskryf: “Laat u het leerren van deez tafel niet verdrieten. Gij zult voor uwe vlijt het zoetste loon genieten.”

Fiela se kind

Подняться наверх