Читать книгу Fiela se kind - Dalene Matthee - Страница 5

1

Оглавление

Die dag toe die kind weggeraak het, het die mis vroeg begin toetrek en teen halfdag was dit of die Bos onder ’n digte wit wolk lê. Elias van Rooyen het van die steier afgeklim, die byl neergesit en onder die afdak op die hoop klaar geelhoutbalke gaan sit. Dit het nie gebaat om te werk as die mis só toe was nie, want die hout het taai gebly onder die byl, en buitendien was hy nie ’n man wat daaraan geglo het om homself vroegtydig in die lewe te verrinneweer nie. Soos die houtkappers nie. ’n Man het net een lyf en dié moet lank uitkom. Hy het liewers aan ’n goeie plan en ’n bietjie geluk geglo, al was geluk ’n skaars ding in daardie bos. En vir ’n skaars ding moet jy jou oë en jou ore elke dag gereed hou. Soos die dag toe hy onderkant Diepwalle in die hardepad op pad was dorp toe en die vreemde wa by Jim Reid-se-draai uitgespan gekry het: manne van agter die berg uit die Lange Kloof se wêreld, op soek na geelhout en stinkhout vir balke en kosyne en deure en vloerplanke en goed. Hulle wou direk van die houtkappers koop, nie van die houtkopers op Knysna nie. Maar die houtkappers was skrikkerig om aan hulle te verkoop omdat hulle vas was van die skuld by die houtkopers se winkels en die houtkopers hulle liksense kon laat afvat as hulle nie kom hout lewer nie. Elias van Rooyen was nie bang nie. En op die ou end kom dit uit dat die Langeklowers eintlik sou verkies om klaargemaakte goed te koop sodat dit nie nodig sou wees om met ’n enkele splinter onnodige hout op ’n wa oor die berge te sukkel nie. Daardie tyd was die nuwe pas nog nie klaar nie en moes hulle onder by Duiwelskop oor. Nie dat die nuwe pas veel beter was nie, maar dit was darem vier dae korter. En net daar het hy die plan gekry en aangebied om vir hulle klaar balke te lewer. In die hardepad by Diepwalle waar Kom-se-sleeppad uit die grootbos kom. Elke vierde maand se tweede Donderdag.

Daardie jare het hulle gunter agter in die Bos op ’n ander oopte gebly, op Groot Eiland, en het hy in sy skoonpa se span gekap. Hy het toe lankal nie meer sin gehad vir houtkap nie en het vir Barta loop sê sy moet regmaak, hulle gaan huis opbreek en Barnard-se-eiland toe trek. Dit was ure nader aan die hardepad en sommer in Kom-se-bos.

As die mis die dag kom toetrek, kry ’n man weer ’n slag kans om al jou dinke te dink.

“Barta!” het hy onder die afdak uit huis se kant toe geroep. “Bring vir my ’n bietjie koffie, ek is gedaan!”

Die mis was wragtig dik. Hy kon skaars tot by die huis sien; net genoeg om te weet dat hy voor die komende winter ’n plan sou moes maak met die dak voor die hele spul meegee. Hy sou êrens ’n paar ou sinkplate in die hande moes kry. Barta het die vorige winter gekla die kinders bly aan die snuif en hoes van die nattigheid in die huis.

Van die vier huisgesinne wat op Barnard-se-eiland huis gemaak het, was hy al een wat nie houtkapper was nie. Behalwe as hy moes kap vir die balke se maak. En van almal op die eiland was hy al een wat darem ’n oulap regte geld verdien het en nie alles net so moes ruil vir koffie en suiker en meel en goed by die houtkopers op die dorp nie. Nie dat hy sou sê dat dit veel beter met hom gegaan het as met die houtkappers nie; die balke se geld was ook maar net genoeg om van te leef as hy sy eie vleiskos in ’n strik gevang het. Maar balkemaak was darem baie ligter werk as houtkap en daarby het hy elke nag in sy kooi geslaap en nie iewers in die Bos onder ’n skerm nie.

Hy het Barta met die koffie hoor kom, vinnig die handbyl gegryp en die steel aandagtig bekyk soos een wat besig is. Barta kon nie verstaan dat ’n man soms moet stilsit om te dink nie.

“Elias, is Lukas dan nie hier by jou nie?” het sy onrustig gevra toe sy oopkant van die afdak met die beker koffie kom staan.

“Nee. Sit maar die koffie daar op die blok neer, my hande is besig.”

Sy het omgedraai en weggestap, half stadig soos dit haar gewoonte was. Sy is nog mooi, het hy gedink, maar sy sal moet skoene kry.

Miskien moes hy ou Krisjan Smal van Lelievleibos se oudste seun kry om te kom help by die balke sodat hy meer kon lewer. Die kind was gewoond daaraan om vir koffie en suiker en meel te werk, hy kon dit maar daar by hom ook kom verdien. Aan die ander kant had hy dan weer sonde en ergernis met blyplek vir die mannetjie. Die huis was klaar te klein. Hy sou later ’n derde vertrek moes aantimmer, want die kinders was besig om groot te word. En agter uit Lelievleibos kon Krisjan Smal se kind ook nie elke dag stap nie, want hy sou saans sononder daar aankom.

Nee, het hy vorentoe gedink, al manier waarop ’n man ’n behoorlike ekstra in die Bos kan bekom, is om ’n geweer te koop en olifante te skiet. Vir die tande. Maar waar kry jy geld vir ’n geweer en vir koeëls, en hoe kom jy by die houtkopers op die dorp verby tot by die skippe om die tande te verkwansel? Die skippe betaal die beste vir ivoor, maar volgens die houtkopers het net húlle liksens om aan die skippe te lewer. Martiens Willemse sê dis ’n vervloekste leuen. Die houtkopers smokkel self ook maar die olifanttande water toe.

“Pa …” Willem, die oudste van sy vier kinders, het onder die afdak ingekom. “Pa, Ma sê Lukas is nie in die huis nie.”

“Loop kyk by tant Malie of hy nie daar is nie en vee af jou neus!”

As ’n man in die nag tot by die skippe kon kom en lewer wat jy het … Hoe kom jy dan nou weer in die donker deur die Bos sonder dat die olifante jou trap?

Aan die noordekant van die eiland het hy Anna van Dawid Olwage soos gewoonlik op haar treksel kinders hoor skel. Miskien moes hy Anna en Dawid se oudste seun, Kransie, kry om hom by die balke te kom help. Kransie was seker goed ’n mannetjie van by die vyftien en Dawid se span was juis te veel van hande. Hulle het swaar gekry.

“Pa, Lukas is nie by tant Malie nie.”

“Het jy by tant Anna gevra?”

“Nee, Pa.”

“Nou vir wat moet ek julle alles voorsê?”

“Ja, Pa.”

’n Man sukkel tot sy kinders die dag groot genoeg is om te kan help en hy sou nog lank moes sukkel. Willem, sy oudste, was maar ses en Kristoffel vyf, Lukas was drie en Nina nog aan die tiet. Willem kon darem al mooi vir Barta in die groentetuin help, maar vir hom het die kinders nog min beteken. Hy sou ’n bietjie by Dawid hoor van Kransie. Die kind sou dit nie swaar hê by hom nie; balkemaak is nie oswerk soos houtkap en regkap en uitsleep en op die wa laai en dorp toe uitry nie.

“Elias?” Barta het soos ’n gedaante uit die mis gekom.

“Wat is dit nou weer, vrou?” Kon hulle dan nie sien hy is besig nie?

“Was die kind nie hier by jou nie?”

“Ek het jou mos gesê hy was nie hier nie. Loop hoor by Sofie of hy nie daar is nie, as julle dan nou stuk-stuk wil soek.”

“Ek was by Sofie, hy’s nie daar nie.”

’n Halfuur later het hy Barnard-se-eiland om hom sien deurmekaar raak van die geroep en gesoek en van lywe wat mekaar in die digte mis raakloop en met angsgesigte vra: “Het julle hom gekry?”

Hy het vir hulle gesê die kind is iewers in een van die huise, hy het iewers aan die slaap geraak. As die vrousmense net nie so te kere gegaan het nie en hom ’n kans wou gee om sy soek te soek, sou dit beter gegaan het. As die mis net wou lig sodat alles nie so wanstaltig lyk nie, sou dit nog beter gewees het, en as Barta net nie so aanhou loop en roep het nie. Dit het aardig geklink in die mis. Die kind was nie weg nie.

Maar Malie het die onrus nog dikker kom saai:

“Dit het my oorle antie agter in Karatara se bos oorgekom. Sy het gedink die kind is saam met die ander om te gaan vuurhout kap en so kom sy dit eers die middag agter lat hy weg is. Meer as ’n week later het hulle die verkluimde liggaampie gekry. Ons is nog die dag begrafnis toe.”

Barta het haar vuis in haar mond gedruk en in haar kneukels gebyt.

“Ek sê vir julle, die kind is nie weg nie,” het hy vir die soveelste keer gesê. “Loop kyk weer in julle huise, almal van julle, kyk onder elke katel en oralster!”

“Ons het gekyk, Elias,” het Sofie van Koos van Huysteen gesê.

“Loop kyk weer.”

Tant Gertjie, Anna se skoonma, het Nina van Barta se arm af gevat en dit het gelyk of Barta dit nie eens agterkom nie.

“Ek kan nie verstaan hoe jy die kind onder jou oë uit kon laat wegraak nie, Barta!” het hy moedeloos met haar geraas.

“Ek het met die vuur gesukkel, Elias, die dunhout was nat – ek het gedink die kind is by jou.”

Hy het aan die suidekant van die eiland die Bos in geloop en gaan roep. Die kind is nie weg nie, het hy vir homself gesê en die skrik van hom weggeskop. Die kind is nie weg nie.

Toe het hy aan die westekant van die eiland gaan roep. Oos. Elke keer ’n bietjie dieper die ruigtes in. Toe hy noord die Bos in loop, het tant Gertjie saam met hom kom loop en help roep.

“Dis die mis wat maak dat hy ons nie hoor nie, tante,” het hy gesê en begin sukkel om die duiwel weg te hou. “Hy speel natuurlik iewers.”

“Elias, ons moet omdraai, Anna moet die mans loop roep om te kom help soek voor dit te laat word.”

“Maar hulle kap by Draaikloof, tante!” het hy gekeer. “Dis vier uur se stap. Die kind is nie weg nie, julle jaag spoke op!”

“Die kind is weg.” Die manier waarop sy dit gesê het, die sekerte in haar, het die teensit uit hom geruk en die skrik laat kom. As jy in die Bos grootgeword het, weet jy wat wag op ’n kind wat uit ’n voetpad of ’n sleeppad dwaal as daar nie ’n grootmens by is nie. En in dik mis hou jy jou kinders om die huis.

“Ek verstaan nie hoe hy sommerso kon weggeraak het nie, tant Gertjie. Ek kan dit nie glo nie,” het hy ’n laaste keer probeer stry.

“ ’n Kind, Elias, is nes ’n skilpad. Jy dink nog hy’s stadig, dan’s hy weg. Anna moet die mans loop roep.”

“Ek sal self gaan.”

“Nee. Barta gaat jou nodig kry. Anna sal loop. Sy ken die voetpaaie en sy weet wat om te maak as die grootvoete langs die pad is.”

Hy en Malie en Sofie het tot donker toe geloop en roep. Tant Gertjie het by Barta gebly. Teen die aand het hulle Barta neergelê en haar kort-kort ’n bietjie bergboegoe ingejaag en haar kop warm gehou. Later het dit geklink of haar huil opraak; sy kon net die aardigste geluide uitkry, soos ’n kleinhond se tjank. Hy het vir haar gesê sy moet ophou, hulle sal die kind kry.

Maar die huis het nes ’n huis waar sterfte is, geword. Tant Gertjie het bo by haar huis laat asbrood haal. Sofie het ’n treksel koffie gebring en Nina na haar huis toe geneem. Malie het ’n kommetjie heuning en ’n paar gaar patats gebring.

Willem en Kristoffel het soos verskrikte goed by die vuurherd gestaan.

“Die laaste wat ek vir Lukassie gesien het, was op die hoek van die huis toe Ma vir hom ’n patat gegee het. Hy het dit gestaan en eet,” het Willem vir die honderdste maal gesê.

“Waar’t jy hom laas gesien, Kristoffel?”

“In die huis, Pa, hy’t met sy klippe gespeel.”

Malie het mistroostig gesug. “Net die liewe Vader in die hemel sal weet waar ’n kleine kind vannag in hierdie grote bos is – dieselfde ding het my oorle antie oorgekom. By Karatara.”

“Ek verstaan dit nie, Malie. Ek moes tog ’n spoor gekry het.”

“Hier’s baie kinders op die eiland, baie spore.”

“Ek verstaan dit nie.”

“Wat van Flip Lourens wat die slag weggeraak het? Net sulke dikke mis gewees en hulle het hom nou nog nie gekry nie.”

“Flip het nie weggeraak nie, Malie. Almal reken tog maar dat die grootvoete hom getrap het. Flip sou nie weggeraak het nie, hy het die Bos te goed geken.”

“Daar’s nog ’n ding wat my hinder, Elias. Die grootvoete het heelweek in die omgewing gebreek en gevreet, hulle sal nie eers voel as hulle in die donker op ’n kleine kind trap nie.”

“Grootvoete trap nie op kinders nie.”

Anna en die mans het donkernag gekom. Martiens van Malie het oorgevat en die orders gegee terwyl hulle sommer so in die staan iets geëet het.

“Die mis klaar op. Ek sal suid soek. Dawid, jy soek wes. Koos, jy soek noord. En Elias, jy soek oos. Elke honderd tree roep ons, en op die tiende roep draai ons om tot weer hier en swaai ons die rigtings so vyftig tree om. Is die lanterns reg?”

“Ja,” het Malie gesê, “ek en Sofie het hulle reggekry.”

“Wat van die grootvoete?” wou tant Gertjie weet.

“Die naastes is in Gouna se Bos,” het Dawid gesê, “ons kan met gerustheid soek.”

Martiens het die vrousmense se werk ook uitgedeel. “Net Anna kan gaan lê, sy’s gedaan. Tant Gertjie moet by Barta waak. Malie, jy en Sofie moet ’n groot vuur in die middel van die eiland maak; as Lukas dalk iewers aan die slaap geraak het en wakker word, sal hy die skynsel sien en aankom.”

Teen die oggend het die mis nog net in die diepste klowe gelê. Koos van Sofie is met ligdag weg Diepwalle toe om die boswagter te loop sê van die kind. Teen die middag was daar veertien houtkappers aan die soek en die volgende oggend het die konstabel van die dorp af gekom om ook te kom help. Die boswagter het ’n boodskap dorp toe gestuur tot by die magistraat. Teen die aand het van die houtkappers die konstabel in Jonkersberg se kloof hoor roep en hom gehawend daar loop uithelp. Totaal verdwaal.

Op die eiland het die konstabel hulle toegespreek:

“Manne, ek is bevrees dat julle sal moet aanvaar dat die kind teen dié tyd nie meer kan leef nie.”

“Hoe kan meneer besluit of die kind nog leef of nie leef nie?” het Martiens hom sommer ingevlieg. “In hierdie bos is ’n kind taaier as wat meneer dink.”

Die vierde dag was hulle vier-en-twintig man wat gesoek het; almal houtkappers behalwe hy, Elias, en die boswagter, mister Kapp. Die vyfde dag was hulle dertig. So ver as wat die tyding deur die Bos geloop het, het die houtkappers die byle neergelê en kom help. Die sesde dag was hulle veertig.

Aan die einde van die agtste dag het Martiens dit op hom geneem om te sê wat lankal op almal se gesigte begin lê het:

“Hy kan nie meer leef nie.”

Barta het tussen Sofie en Malie gestut gestaan. Verouder en verslae, opgehuil en in lanfer geklee wat tant Gertjie haar geleen het.

Elias het sy kop laag laat sak en heen en weer gerol soos een wat dit tot aan die einde nie wou glo nie.

Sewe maande later, Augustus van 1865, het die groot reën gekom, en kort daarna het die boswagter kom sê dat hulle dele van ’n kleinerige kind se geraamte langs die Gounarivier tussen die opdrifsels gekry het. Dit kon ’n bobbejaan s’n ook gewees het.

Fiela se kind

Подняться наверх