Читать книгу Fiela se kind - Dalene Matthee - Страница 9

5

Оглавление

So wragtig, hy hou van die plan. Hy hou al hoe meer van die plan.

Elias van Rooyen het op die stomp voor die agterdeur gaan sit sodat hy kan dink. ’n Man kan nie sy kop by sy werk hou as daar groot dinge in sy kop woel nie.

“Gaan jy nie die balk klaarmaak nie, Elias?” het Barta versigtig in die agterdeur kom vra.

“Dis darem jammer dat jy nie net vir een minuut kon voel hoe voel my rug nie,” het hy verwytend gesê en gedink: Hoe moet ’n man nou sy planne bedink as ’n vrou in jou nek kom staan neul? Hoe ouer Barta word, hoe meer kom sy in die gewoonte om te kerm. Hy kon sweer sy tel gereeld die balke om te sien hoeveel klaarkom. Dit moes end kry. Hy had twee seuns wat help kos inbring, dit was nie langer vir hom nodig om hom dood te werk nie. Willem had hy by Martiens Willemse in die span en Kristoffel by Soois Cronje van Klein-Skuinsbos. Volgens Martiens en Soois was die kinders fluks en was dit nie vir hom nodig om hom oor hulle te kwel nie. En hy was nie van plan om die balke te los nie, dis net dat ’n man dit ligter het as hy eers die dag seunskinders het wat kan help om iets in te bring. Hy lewer nou wel nie meer die aantal balke wat hy vroeër gelewer het nie, want ’n man raak moeg van balke maak. Johannes Carelse, deeskant Bokbaard-se-draai, het mos ook begin balke maak. Kosyne ook. En die wa uit die Lange Kloof loop laai nou eerste Johannes se goed en laaste syne. Nie dat hy hom daardeur sou laat mismaak nie, dit was húlle wat verleë was oor balke.

Barta het agter hom in die agterdeur bly staan.

“Is daar dan nie ’n bietjie koffie nie, vrou?”

“Die koffie is op. Dalk kom Willem of Kristoffel vanaand huis toe en bring ’n trekseltjie. Het Kristoffel dan nie gesê hulle ry vandag die hout uit dorp toe nie?” Sy het langbeen op die drumpel in die son gaan sit en weer balke toe geneul: “Kom haal die wa dan nie aankomende week weer ’n vrag nie, Elias?”

“Het jy nie werk nie, Barta? Moes jy nie vandag gespit het nie?”

“Ek het gister klaar gespit. Malie het gesê sy sal later vir my ’n paar pampoenpitte bring om in die grond te sit.”

“Nou hou jou kop by die pampoenpitte en laat ek myne op mý dinge hou. Ek moet ’n groot ding bedink.”

Dawid Olwage het die week tevore met die ding uit die Bos gekom. Al Barnard-se-eiland se houtkappers was vir die Sondag by die huis.

“Mense,” het Dawid die aand vertel, “ek het Vrydag ’n ding gesien wat ek nie gedink het my oë sien reg nie. Ons kom van Gouna se kant af dikbos deur en ek sê vir die ander om vooruit te loop, ek wil net ’n deurstap deur Stinkhoutkloof maak om te kyk wat daar te kap is. Die houtkoper neuk nou weer oor stinkhout. Kap jy stinkhout, neuk hy oor geelhout; kap jy geelhout, neuk hy oor kamassie … Ewentewel, daar’s mos ’n voetpad onder in Stinkhoutkloof langs en een bo teen die kop langs oor na Brown-se-kloof toe.”

“Ek sien daardie voetpad daar bo,” sê Martiens. “Hy is nou wel kortpad oor na Brown-se-kloof toe, maar hy kan gevaarlik wees in natweer.”

“Dis waar,” sê Dawid, “maar ek vat toe die onderste voetpad. En net toe ek mooi onderkant die regop kranse by die watergat is, verbeel ek my ek hoor grootvoete, maar ek weet voor my siel ’n grootvoet kom nie onder in Stinkhoutkloof teen dáárdie steiltes af nie, en iets sê vir my ek moet opkyk. En ek kyk op. En net mooi waar die boonste voetpad voor teen die steilte en op die afgrond loop voor hy wegknak om af te gaan in Brown-se-kloof, kom ’n stuk of ses grootvoete die steilte uit.”

“In dáárdie voetpad?” wou Koos stry. “Dit kan nie wees nie.”

“Ek sê vir julle, julle kan loop kyk, die spore sal daar lê. Maar dis nie al nie. Ek staan nog ewe by myself en dink: Vandag is die dag wat grootvoet se kinders hulle in hierdie bos lelik gaat vasloop. Die knakdraai op die afgrond lê voor en geen grootvoet sal daar kan om nie. Ek sien al hoe duiwel die voorste een daar teen die kranse af en ek sê vir myself: As hy hom tog net goed vrek val sodat ek vir my die tande kan uitkap. Omdraaiplek is daar nie daar bo vir ’n grootvoetlyf nie.”

“En toe?”

“Toe kom die voorste een by die knak en staan ek ewe eenkant toe vir die afstort, maar sal hy nie sowaar as wat ek leef sy slurp uitsteek en om die kershoutboom krul wat reg op die draai staan, sy gatkant omgooi afgrond toe en vashou-vashou omskuifel en netjies om die knak kom nie!”

“Jy lieg seker!” sê hulle omtrent almal gelyk.

“Ek lieg nie, ek het julle gesê die spore sal daar lê as julle wil gaan kyk. Een vir een is hulle so om daardie kort draai en veilig anderkant af. Soos wat elkeen se beurt kom, is dit slurp om die boom, gatkant afgrond toe en skuifel-skuifel om.”

“Nee, sowaar,” erken Martiens met respekte, “ek het altyd geweet die verbrande goed is slim, maar ek het nie geweet hulle is só slim nie.”

Koos van Sofie het gelag. “Wat? Ek het eendag bo in Meulbos gesien hoe ’n trop deur die modder teen ’n skuinste uit is. Eers het hulle die voorste een van agter af gestoot tot hy anderkant vastrapplek het, en toe draai hy om en gee so wragtig slurp aan vir die tweede een en trek hom deur die pappery. Elkeen wat anderkant was, het omgedraai en die volgende een aan die slurp deurgehelp.”

“Ek het gesien,” het Martiens vertel, “dat hulle onderbos uittrek om te vreet en die grond eers netjies teen ’n boomstam afkap voor hulle dit in hulle bekke steek. Vreet nie grond nie.”

Die aand toe Elias in die kooi lê, was dit nie Martiens of Koos se storie wat saam met hom kom lê het nie, dit was die ding wat Dawid bokant Stinkhoutkloof sien gebeur het. Want sê nou ’n man sou die boom daar bo op die draai net so ’n entjie bokant die grond loop afsaag sodat daar net genoeg hout en bas bly om hom regop te hou?

Hoe langer hy daaroor lê en dink het, hoe meer het hy van die plan gehou. Wanneer hy eendag in sy lewe ’n geweer sou kon bekostig, kon hy nie sien nie. As ’n man dan op só ’n manier ’n gelukkie met ’n paar tande kan kry, moet hy dit gryp.

“Barta!” het hy geroep en geskrik toe sy agter hom in die deur antwoord gee. Hy het vergeet dat sy daar sit. “Jy moet Maandag vir my kos inpak vir so vier of vyf dae. Ek wil ’n bietjie onder in Gouna se bos gaat kyk na die hout.”

“Hoekom dan daar?”

“Hulle sê daar’s nog baie jong geelhout.”

“Jy moet groter bome kap, Elias.”

“Groter bome?” Hy het hom sommer vervies. “Wat ek hóé uitgesleep moet kry tot hier? Ek het net my eie twee hande en die twee stokou osse.”

“Maar jy praat dan nou asof jy kans sien om ure ver en deur hoeveel klowe en driwwe te loop jonghout aanhaal?”

Barta is ook nie aldag ewe dom nie, het hy gedink en gesê: “Ek het nie gepraat van hout loop aanhaal nie, ek het net gesê ek wil gaan kyk.”

Nina het van die oorkant van die eiland af aangedraal gekom. In haar een hand het sy ’n leë bottel aan die nek gedra en in die ander hand ’n stok waarmee sy elke paar treë teen die bottel kap. Hy het haar dopgehou. Dit was of daar ’n speletjie tussen haar voete en die geklieng van die bottel aan die gang is.

“Barta, kan jy nie die kind se hare afsny nie? Kyk hoe lyk sy. Nes ’n wilde ding. Of vleg die goed vas.”

“Sy wil nie.”

“Van wanneer af het ’n maaksel ’n wil?”

“Die skêr wil ook nie meer knip nie.”

In die Bos moes ’n man liewerster nie meisiekinders gehad het nie. Hulle kon nou wel hulle ma in die huis of in die tuin help, maar kos kon hulle nie help win nie. Net bekommernis. En die Vader weet wat van dié een gaan word. Maer en tingerig en nes ’n bok wat gedurig moet klim en spring. As sy die dag ’n pak slae moet kry, moet jy vir haar fyn bekruip met die osriem, want as sy eers kans kry om weg te hardloop, vang jy haar nie gou weer nie. En teen die tyd wat jy haar gevang het, is jy te flou om haar behoorlik uit te neuk. Barta was te vrot om die kind in te toom.

“Nina!” roep hy oor die oopte. “Loop vra daar vir tant Anna ’n trekseltjie koffie tot môre toe.”

Sy het eers haar treë en haar klienge klaargemaak voor sy hom antwoord gee. “Tant Anna wil nie meer leen nie, sy sê ons gee nie terug nie.”

“Dit lieg sy!” Sover hy weet, het hulle Anna nog net die laaste treksel geskuld. “Loop vra dan by tant Malie. Sê ons is Kristoffel te wagte, dan gee ons terug.”

Een, twee, drie. Klieng teen die bottel. Een, twee, drie. Klieng teen die bottel. As hy ’n gooiding had, het hy haar sowaar aan die draf gegooi!

Daar was dae wat hy sommer lus had om huis op te breek en op ’n ander eiland te loop woon. As ’n man nie meer houtkapper in die Bos is nie, skuif die ander jou eenkant. Sê sommer jy gee nie terug wat jy leen nie. Ewe min in almal se hande, almal ewe nooddruftig, maar hy het aldag meer die gevoel gekry dat die houtkappers van bo af op hom afkyk en onder mekaar bereken hoeveel hy uit die balke maak. Jaloers. Bang hy maak iets meer as hulle. Maar hy sou hulle nog wys. As die geluk hom bystaan en dit was nie ’n storie wat Dawid vertel het nie, sou hy een van die dae met ’n klomp geld in sy sak sit. Dan kon hulle maar bereken waar hy daaraan gekom het. Hy sou hulle nie sê nie.

“Hoe oud word Nina nou, Barta?”

Barta was nie meer in die deur nie. Die kind was seker al tien of elf. Iemand het eendag gesê daar is van die Engelse op die dorp wat wit meisiekinders invat om kinders op te pas. Hang af van wat hulle betaal.

Die Maandag, driekwartdag, was hy bokant Stinkhoutkloof in die boonste voetpad. Oor sy rug het hy die kort treksaag gedra, die handbyl, osrieme en ’n kombers; in die knapsak was genoeg kos vir ’n week. Kristoffel het toe wel die Vrydagaand huis toe gekom en koffie en suiker en meel gebring. Die kind was gedaan. Hulle het drie weke lank by Kalanderdraai gekap en toe breek die arme Soois se wa ook nog met die uitry. Op die dorp was die houtkoper soos gewoonlik ontevrede met die hout en hy het Soois maar min kos in ruil laat kry by sy winkel. Dalk sou Willem darem ook in die week huis toe kom en weer iets bring.

Die olifantmis in die voetpad was ’n week oud en hy het geweet hy sou nie te lank onder in die kloof vir sy geluk hoef te wag nie. Die stinkhoutbome was aan die bessies afgooi in Brown-se-kloof; dis olifante se lekkergoed, hulle sou nie lank daar wegbly nie.

Die enigste neukery wat hy vorentoe kon sien, was dat hy dalk sou moes osse byleen vir die uitsleep van die tande. Die houtkappers leen onder mekaar osse sonder om mekaar iets te vra, maar Elias van Rooyen sou moes tand afgee en daarvoor het hy nie kans gesien nie. Dan moes Willem of Kristoffel liewers ’n ruk by die huis bly sodat hulle stuk-stuk kon uitsleep.

Die boom was presies waar Dawid gesê het hy is. Soos ’n helse hoekpaal het die ou kershout bo-op die knak gestaan en op ’n beter plek kon hy nooit kom wortelskiet het nie. Net mooi slurphoogte was die bas glad gevat van baie jare se vashou om die boom en die lekker soort roering van verwagting was skielik in Elias se lyf. Geen olifant wat dáár afduiwel, sou lewendig onder aankom nie. Vabonde! Seker gedink geen mens sal ooit op hulle triek afkom nie.

Maar hy sou versigtig moes werk. Hy sou moes sorg dat daar nie ’n hand of ’n skouer aan die boom raak wat ’n mensreuk kon laat sit nie. Olifante is fyn van snuffel. Na ’n dag of twee sou enige mensreuk in elk geval af wees, maar ingeval sy geluk dalk korter op sy spoor was as wat hy gehoop het, het hy sy lyf weggehou van die boom af.

En hy het netjies gesaag. Van die agterkant af. So kuithoogte van die grond af en totdat daar aan die voorkant net genoeg hout en bas oor was om die boom goed regop te hou en ’n olifant gerus te maak. Wanneer die voorste een sy slurp om die boom het en sy gatkant afgrond toe skuif, sou sy volle gewig die res losskeur. Al waarop Elias van Rooyen dan nog kon hoop, was dat die tweede olifant vorentoe sou storm om die voorste een te help sodat hulle albei daar afduiwel.

Sononder was hy onder in Stinkhoutkloof. Hy het vir hom ’n plek langs die spruit uitgekyk van waar hy die boonste voetpad goed sou kon dophou, en daar vir hom ’n takskerm gepak.

Die eerste nag het hy vrot geslaap. Sy lyf was nie meer gewoond om op die aarde te lê soos ’n houtkapper s’n nie; hoe langer hy gelê het, hoe meer knobbels het daar in al wat ’n sagte plek aan sy lyf was, ingebult.

Die Dinsdag het hy Draaikloof se kant toe olifante hoor breek. Die Woensdag het sonder ’n teken van ’n olifant verbygegaan, net ’n pragtige bosbokram het klipgooi van sy skerm af water toe gewei, maar hy het niks by hom gehad om ’n strik mee te stel nie.

Die Donderdag, so teen halfdag, het hy ’n bietjie gaan skuinslê om die tyd om te wag, en wakker geword toe hy stemme hoor. Hy het eers gedink hy droom, maar toe hy hom oplig, het Freek Botha se span vlak by sy skerm verbygetou. Hy het alle verwagting uit hom uit geskrik. As hulle in Stinkhoutkloof kom kap, was al sy moeite verniet. Hy het nog ewe gekoes sodat hulle hom nie moes sien nie, maar Freek het hom gewaar en vasgesteek.

“Genade, Elias, wat maak jý hier?”

“Ek kyk sommer die geelhout deur,” lieg hy en hou hom ongeërg toe hy onder die skerm uitkruip.

Freek het sy swaargelaaide span laat afpak om te rus en te rook. Genadiglik het dit uitgekom dat hulle op pad was na Michiel-se-kruis om daar te kap, toe steek hulle sommer kortpad deur Stinkhoutkloof.

“Aan jou vuurmaakplek lyk dit of jy al ’n hele paar dae hier is, Elias?”

“Ja. Julle het nie miskien grootvoete langs die pad gekry nie?”

“Ons is sonop duskant Rooihout by ’n trop verby. Maar jy’s veilig hier onder, hulle kom nie maklik hier af nie.”

“Ek het maar net gevra, ek wou miskien agtermiddag in daardie rigting loop.”

“Hoe gaan dit by die balke, oom?” het een van Freek se skoonseuns gevra.

“Goed.”

“Ek sien een van oom se seuns is by Martiens Willemse in die span.”

“Ja.”

Daar was agt man in Freek se span en hy het die gevoel gekry dat hulle hom sit en aankyk soos goed wat iets nie vertrou nie.

“Maar daar’s mos volop geelhout by julle in Kom-se-bos, Elias,” het Freek bly bodder.

“Ou bome, ja. Ek soek jonghout.”

“Ek sou nou weer gereken het groter bome is beter, gee jou darem ten minste vier balke uit ’n blok. Vir wat sal jy hiervandaan hout aansleep vir een ou balkie?”

“Moenie van dinge praat waarvan jy nie weet nie, Freek.” Hy het hom sommer vererg.

“Ek sien jou ander seun is by Soois in die span.”

“Ja.”

“Hoekom vat jy nie jou seuns by jou in en lewer behoorlik balke nie?”

“Dit help nie almal kook in dieselfde pot nie.”

“Die dag as ek by die houtkoper uit die skuld kom, loop maak ek ook balke of goed. Maar ek wil nie slegter af wees as wat ek nou is nie. Ons is sleg genoeg af.”

Toe hulle opstaan en begin pype uitkap, was hy bly. En hulle het seker gedink hy sien nie hoe hulle onder sy skerm inspaai na wie weet wat nie. Aan die ander kant was dit seker beter dat hulle dink hy steek dáár iets weg.

Die Vrydag het hy begin moeg word van die wag. Hy kon maklik huis toe gaan en ’n dag of twee later weer kom, maar sê nou sy geluk kom duiwel die kranse af terwyl hy weg is? In die Bos is optelgoed vatgoed. Wie sou hom glo as hy sê dit was sý plan om die boom halfpad af te saag en dat die olifant syne is? Geen houtkapper sou ’n tand los as hy eers sy vat aan hom gekry het nie.

’n Roersel aan die oorkant teen die kop het sy oog getrek. Toe hy opkyk, het dit gevoel of sy hart ’n paar keer oorslaan. In die voetpad het drie olifante uitgekom. Stadig en lewensgroot, en dit was kompleet of hy ’n wens voor sy oë sien gebeur. Toe hulle vol in die son staan, het hy geweet dat die geluk nie vir hom drie mooier olifante kon uitgesoek het nie. Yslike goed. Selfs op daardie afstand kon hy die dik, geelwit tande langs hulle koppe sien boogstaan en dit het gelyk of daar nie van een ’n punt of ’n splint afgebreek was nie.

Hy het versigtig onder die skerm uitgekruip en stadig orent gekom. Tydsaam en ewe gerus het hulle in die al steiler voetpad opgeloop. Sy kakebeen was later stram van die byt op sy tande. Sy asem het teen die slym in sy bors vasgehyg, maar hy het nie durf hoes nie. Nie ’n geluid sou onder uit die kloof boontoe trek om hul gang te stop nie. Niks. Dit was sý geluk. Die voorste een was die grootste van die drie; as net hy val, sou al die moeite en die wag beloon wees. Voor donker sou hy nog die tande uitgekap en weggesteek kon hê. As twee val, kon hy nog altyd voor donker klaar wees as hy vinnig werk. As al drie val, sou hy nie voor die volgende môre kon klaar uitkap nie, dan sou hy eers moes huis toe om die slee en die osse te loop aanhaal.

Voet vir voet het hulle daar uitgeloop. Dit was of hulle geen haas ken nie en asof dit net in hom was wat die haastigheid wou kook. Dit het later gevoel of hy hulle van onder af kon aanjaag. Hoe steiler en smaller die voetpad word, hoe stadiger en hoe nader aan mekaar het hulle geloop: kop teen gat. Kop teen gat.

Darem ’n jammerte, het hy gedink, dat ’n man nie elke week ’n ander boom op daardie draai kan loop staan maak nie. Dan sal Elias van Rooyen nooit weer sy hande aan ’n balk hoef te sit nie. Maar sê nou een val hom nie heeltemal vrek nie? Sê nou die olifant breek net sy bene of sy rug? Daar was ’n veilige afstand tussen hom en die plek waar die olifant moes val, maar ’n halfdooie olifant is die gevaarlikste ding op die aarde, selfs al het ’n man ’n sware geweer.

Hy het die afgrond weer van bo tot onder bekyk en geweet hy staan homself en bang dink; geen olifant sou daar afduiwel sonder om hom goed vrek te val nie.

Omtrent honderd tree van die boom af, op die plek waar die voetpad die nouste en gevaarlikste was, het dit gelyk of hulle mekaar stoot. Dertig tree van die boom af. Twintig. Sy asem het al vinniger in sy bors geroggel; hy het afgebuk en die handbyl opgetel asof dit ’n wapen was wat hom moed moes gee. Tien tree. Soos ou mense het hulle die laaste treë gegee. Toe die voorste een se slurp begin opkom vir die strek en die vat om die boom, het die agterste twee bly staan. Toe die voorste een se slurp om die boom begin krul, het dit vir Elias gevoel of sy bors toetrek van die slym, maar toe laat die olifant skielik weer sy slurp sak en bly net so staan. Soos een wat dink. Of soos ’n ding wat bid.

“Loop! Vat hom!” het hy in sy hart geskree. “Vat hom!”

Maar al drie het net daar bo in die voetpad gestaan. Doodstil. Een keer het dit gelyk of die voorste een weer sy slurp wou lig om te probeer, maar dit toe ewe moedeloos los.

“Wag julle nou dat die bliksemse boom weer moet aangroei?” wou hy vir hulle skree. Geen mensreuk kon nog êrens om daardie boom hang nie. Van onder uit die kloof kon nie ’n asem boontoe trek nie, want die wind was in sý gesig. Nie ’n loerie het iewers gegorrel of gesis om hulle te waarsku nie. Daarom kon hy nie verstaan waarom die olifant nie sy slurp om die boom wou sit nie. Die vloeksel kon nie geweet het dat die boom gesaag is nie, só netjies was dit gedoen.

Hulle het seker ’n uur lank daar bo in die voetpad bly staan voordat hulle stadig agteruit begin trap het. ’n Man met ’n geweer sou hulle op sy tyd daar kon afgeskiet het, maar Elias van Rooyen het nie die geluk van ’n geweer gehad nie, hy moes kragteloos staan en toekyk hoe alles verbrui. Al wat hy kon doen, was om die handbyl diep in die stam van die vlier langs hom in te moker. Vloeksels!

Dit het hulle tot donker geneem om te kom tot waar hulle lywe kon omdraai. Vir hom was dit te laat om nog Barnard-se-eiland toe te loop; hy sou nog ’n nag met sy sere lyf en sy bittere neerlaag onder die takskerm moes lê.

Die volgende môre, toe hy by die bopunt van Stinkhoutkloof die laaste steilte uitklim om die sleeppad huis toe te vat, was dit godsgenade alleen of hy was morsdood. Katvoet het hulle in die ruigtes geskuil en die eerste wat hy gewaar het, was die flap van die ore tussen die takke. Hy moes alles net so neergooi en vir sy lewe vlug. Hoeveel daar was, het hy nie geweet nie, en hy het ook nie omgegee nie; hy moes hardloop om terug te kom in Stinkhoutkloof waar hulle hom nie sou kon inhaal nie. Of dit dieselfde olifante was, kon hy ook nie sê nie. Hy het net geweet die bosse breek kort agter sy lyf en die dood blaas in sy nek.

Dit het hom ’n dag se stap met ’n ompad huis toe gekos.

Barta het geskrik toe hy die agterdeur oopstoot. “Elias, kyk hoe lyk jy! Het die grootvoete jou gejaag?”

“Jy vra nog? Hulle het my op ’n haar na fyngetrap gehad!” Hy was ’n geknakte man. ’n Bitter man. Alles was verniet. “Maar ek sal hulle kry, sê ek julle. Elias van Rooyen sal hulle kry!”

Willem was by die huis. “Moes Pa neergooi?” het hy met ontsag gevra.

“Die laaste ding. Die handbyl, die kortsaag, die osrieme, alles. Jy moet môre loop kyk of jy nie iets kry nie. Ek sal jou beduie waar hulle my staan en inwag het. Bogghers.”

“Wat van die kombers, Elias?” het Barta onrustig gevra.

“As die grootvoete jou skraap, kies jy nie wat jy wil los en wat jy wil hou nie, vrou!”

“Dis net lat ons so kort van komberse is, Elias.”

Nina het soos ’n skaduwee uit die skemerte in die deur kom staan. “Wat raas julle so?” het sy gekla. “Daar sit die mooiste uil op die afdak en hy maak hoot-hoot-hoot in sy krop. Netnou vlieg hy weg.”

“Loop jaag hom!” het Barta beangs gesê. “Hy bring ongeluk!”

Die volgende dag het hy saam met die son al om die huis geskuif en sy lyf kans gegee om reg te kom. As hy net kon verstaan hoe dit moontlik was dat sy plan só kon verfoes het. Hoe die bliksemse olifant geweet het?

“Van Rooyen?”

Toe hy opkyk, staan Diepwalle se boswagter ’n entjie van hom af. Hy het geskrik. As ’n boswagter jou die dag op die naam kom noem, was dit moeilikheid se tyd. Maar sy kapliksens was betaal en hy had nêrens ’n strik gestel nie. Goed, die geelhout wat gekap lê, het nie die boswagter se merk opgehad nie, maar wie in die Bos kon bekostig om te kap waar ’n wagter gesê het hy kan? Dié ou storie was al muf.

“Meneer, as meneer kom moeilikheid wegbring het, het meneer na die verkeerde man toe gekom,” het hy sommer reguit gepraat. “Ek is ’n vernielde man, ek was op niks na nie onder die grootvoete vertrap. Kyk hoe lyk ek.”

“Ek kom nie moeilikheid wegbring nie, ek bring net vir jou ’n boodskap van die magistraat op Knysna af.”

Magistraat? Dit kon net groter moeilikheid as gewone moeilikheid beteken.

“Boodskap van die magistraat af?”

“Ja. Daar bestaan ’n groot moontlikheid dat jou seun wat die slag weggeraak het, gevind is. Lewend gevind is.”

Nee.

Nee, dit kon nie waar wees nie. Die man het geyl.

Elias het probeer opstaan, maar die skrik het hom teruggedruk op die stomp.

“Wat sê meneer daar?”

“Hulle het hom agter die berg in die Lange Kloof gekry.”

“Meneer, jy praat ’n ding wat my kop nie wil vat nie, ek sit bedol.”

“Jy beter maar eers bedaard bly, Van Rooyen. Die ding het ’n bietjie gesloer omdat dit destyds mister Blake was wat met die wegraak van jou seun gewerk het. Die nuwe magistraat moes nou eers weer alles opleer en so aan. Baie dinge dui daarop dat dit jou kind kan wees, maar die saak is nog nie uitgemaak nie. Dis hoekom die magistraat jou en jou vrou Vrydag op die dorp in die hof wil sien.”

“Jy sê hulle het die kind in die Lange Kloof gekry?”

“Ja. By bruinmense. Hy is glo al nege jaar lank daar.”

“Jy sê hulle het onse Lukas gekry?”

“Die moontlikheid lyk groot.”

Dit kon nie wees nie. “Waar’s hy nou, meneer?”

“Nog daar agter in die Kloof. Hulle laat hom môre haal.”

Fiela se kind

Подняться наверх