Читать книгу In die blou kamp - Dana Snyman - Страница 22
ОглавлениеOperasie Savanna
Ek sit in die Wimpy op Vredenburg en drink koffie. By die tafel langsaan bestel ’n ouerige vrou ’n sunrise breakfast. Sy sit alleen.
“Sunny side up,” sê sy vir die kelnerin.
Op haar kop is ’n papperige pers hoedjie en by die laphandsak wat langs haar op die bankie lê, steek ’n sonneblom uit – ’n enkele vars sonneblom aan ’n lang stingel. Sy leun vorentoe en wikkel ’n sakkie suiker tussen die ander uit in die wit bakkie voor haar.
’n Hele ruk bekyk sy die sakkie, asof sy soek na daardie trooswoorde wat eens op die suikersakkies in die Wimpy was.
Sy sit die sakkie weer neer en kyk na my.
“Verskoon my, Meneer.” Om haar oë is donker kringe. “Het jy dalk vir my ’n pen?”
Ek skud my kop. Nee, jammer.
Sy lig haar arm en waai in die kelnerin se rigting, maar die kelnerin is by ’n ander tafel besig. Sy kyk weer na my en wys na die selfoon by my op die tafeltjie. “Het daai foon van jou ’n calculator in?” Haar stem is sag. “Kan jy miskien vir my kyk hoeveel is … ?” Sy vat na die handsak langs haar, trek die sonneblom aan sy steel uit die handsak, sit dit op die bank neer. Sy krap en krap in die handsak en haal later ’n ou blou ID-boekie en ’n paar los foto’s uit. Die foto’s lyk na regte ou kiekies wat nog met ’n Kodak Instamatic-kamera geneem kon gewees het.
Die ID-boekie bewe in haar hande. Sy blaai dit oop en kyk weer na my. “Kan jy dalk vir my uitwerk hoeveel is 2014 minus 1978? Asseblief, Meneer.”
Ek lig my selfoon, druk die knoppies en gee vir haar die antwoord: 36.
Die ID-boekie val uit haar hand, tot op haar skoot, tot op die vloer. Ek kom orent en tel dit vir haar op. Sy tel van die kiekies op die tafel op. Dit bewe in haar hand. Sy gee dit vir my toe ek die boekie vir haar gee.
Op die kiekie sit ’n jong man in ’n tent iewers in die veld, kaal bolyf, stewels, bruin weermagbroek, boshoed. Om sy nek hang ’n ammunisieband. Op sy skoot rus ’n Bren-masjiengeweer. Buite in die straat druk iemand ’n motor se toeter.
Ek kan skaars hoor toe sy weer langs my praat: “Hulle het hom vandag presies ses en dertig jaar gelede in Angola doodgeskiet.”