Читать книгу In die blou kamp - Dana Snyman - Страница 25
ОглавлениеSiele op wiele
Laatnag. Jy voel deur die donker na die radio op jou bedkassie. Dit is ingeskakel op RSG. Lorriedrywers bel van oral af na Ettienne Ludick, die aanbieder in die ateljee. Ouens met name soos Assegaai, Skaap, Pucman, Bontbaadjie.
“Naand, Ettienne,” groet ’n volgende een. “Dis Tank hier. Hoe gaan dit?” Op die agtergrond dreun ’n lorrie se enjin.
“Nee, dit gaan goed, Tank,” sê Ettienne. “Waar’s jy vanaand?”
“Ek sukkel nou hier deur Vryburg, Ettienne.”
“Wat het jy op die hart, Tank?”
“Man, ek wil net vir my vroutjie sê ek verlang baie na haar. Baie dankie vir ’n wonderlike naweek, my engel. Ek het jou ontsettend lief. Jy bly die warm bloed wat deur my are vloei. Jy bly my eerste keuse en sal altyd my eerste keuse bly.”
Tank groet en Ettienne gaan na die volgende oproep. Tommy. Hy is iewers tussen Colesberg en Springfontein. “Ek kan oor niks kla nie, Ettienne,” sê Tommy. “Die ongelukke is net te veel, man. Dit maak ’n mens so hartseer. Jy weet, ’n lorrie is vir my amper soos ’n lewende ding. Ek wil nie hê die ding moet seerkry nie. Almal moet mooi ry. Ou Skaap ook.”
Nog manne bel. Boeta. Diek. Kokkie.
“Dis Generaal hier, Ettienne,” sê ’n ander een.
“Hoe gaan dit, Generaal?” vra Ettienne.
“Nee, man, ons kyk noord. Ons kyk noord. Ek is sterk op pad Upington toe. Ek het nou net vier klein koedoetjies langs die pad gesien. Ek wil net vir Skaap sê: ‘Ons gaan julle Saterdag op Loftus opvreet, pel.’”
Freddie. Anton. Panado. Sakkie bel ook. “Die langpad is my woning en God is my koning,” bulder hy bokant die lawaai rondom hom uit. “Ek dien ’n lewende God. Ek’s lief vir almal.”
Jy sien vir Sakkie agter die stuurwiel sit. Miskien dra hy Croc-skoene en hang daar ’n houtkruisie aan die truspieëltjie links van hom, wiegend in die wind wat by die oop venster inwaai. Miskien is daar ’n Solly Ozrovech-Bybeldagboek of ’n pakkie Rough Rider-kondome in die slaapkajuit agter die sitplek.
“Naand, Ettienne,” groet die volgende stem. “Dis Gawie Jooste hier. Almal noem my sommer Blou Bul. Ek wil ook net vir Skaap sê hy moet lekker luister. Ek het hom al baie daar by Colesberg gekry. Dan drink ons maar ’n koffietjie, ek en hy.”
Willem. Tiekie. Ben. Hannes.
Een ná die ander kom die stemme uit die donker. Stemme wat na mekaar uitreik, stemme wat mekaar weer verloor terwyl die radio op die bedkassie se rooi liggie jou deur die noutes van die nag navigeer.