Читать книгу In die blou kamp - Dana Snyman - Страница 27
ОглавлениеStop and go
Elke dag, seven to five, staat ek hier met hierie vlag van my, Meneer. Ek lat die karre briek. Hulle moet weet hier word gewerk. Dis darem ’n job. Dis iets. Die anderse sit in die shackse en drink bier en steek mes. Party kere raak die mense ongemaklik met my. Hulle kom hier aan in hulse Land Rovers, oop en toe. Dan waai ek die vlag, want die lig voor is rooi. Dan sit hulle hier met hulse dik kieste. “Wat’s fout met hierie government van jou, hè?” sê hulle. “Gaan sê vir Zuma hierdie land is verby.” Een ou vrou draai haar glas af. “Kom hier, ubaba!” roep sy. Miskien kry sy my jammer, want sy vra: “Wat’s jou naam?” “Anneries,” sê ek. “Shame,” sê sy, en toe kry ek die toebroodjies van Gauteng af. Kom hier niks karre nie, gaan sit ek op daai paaltjie daar. Ek bring my eie watertjie en broodjie en bêre dit hier in die grassies. Ek gaan nie vir Meneer verkeerd sê nie: Ek verlang na die bottel, hier, soms, party kere. Maar ek het my gelat doop in die kerk, ek’s klaar met die bottel. My sonne is afgekap. Ek wil hê die liefde moet wen. ’n Mens se kop werk sterk as jy hier staat. Die lorries kom ook hier, die groot lorries. Ek stop hulle. Hulle luister vir my. Jy dink baie dinge, jy sien dinge, jy voel dinge. Jy staat nie net hier en waai die vlag nie.