Читать книгу In die blou kamp - Dana Snyman - Страница 24

Оглавление

Flash mob

In die verte is ’n bondel karre. Dis ’n ongeluk, weet jy dadelik.

’n Vragmotor, ’n tamaaie Freightliner, lê op sy sy op die skouer van die pad. Daar is twee polisiebakkies en ’n Opel van die verkeersdiens by. Die ander karre is aan die ou kant: ’n blou Colt Galant met een geel modderskerm, ’n Chev 4.1, ’n Nissan 1400-bakkie.

Oral staan mense rond. Dis so vyf kilometer duskant Leeu-Gamka op die N1. Ek hou stil. Op die vragmotor was ’n vrag bier – Windhoek Lager. Die botteltjies blom groen tussen die vaal bossies, maar die mense kan nie daarby uitkom nie, want die polisie het die vragmotor toegespan met ’n wit-en-rooi lint. Dis Februarie. Die son is ’n woedende geel kolk iewers bokant Beaufort-Wes.

Een kêrel leun teen ’n fiets. Sakkie Nissen is sy naam. In sy hand is ’n selfoon, ’n ou Nokia. Hy hou die skermpie naby sy gesig in die helder lig en druk die knoppies. Die nuwe geel pet op sy kop pas nie by die res van sy uitrusting nie: ’n T-hemp wat natgesweet en vol gate tussen sy blaaie vasklou, ’n blou Johnson-oorpakbroek, ’n paar moeë China shop-tekkies. Hy het van Leeu-Gamka af met die fiets getrap toe hy hoor die lorrie het omgeslaan, en hy is voorbereid op ’n gelukkie: Op die fiets se carrier is ’n leë koeldrankkrat waarin hy goed kan laai.

Nog ’n motor kom aangerammel en hou by die ander stil. Nog mense kom by. Een man het ’n leë lemoensakkie by hom. Ek het al gehoor hoe mense op ’n ongelukstoneel in die Karoo kan toesak en gryp wat te grype is, en dis toe nie net ’n storie nie.

“Nee, wat,” sê Sakkie. “Hier gat ons niks kry.” Hy het by sy broer Gert van die ongeluk gehoor. Per SMS.

Gert is ook hier. Nes Sakkie, is Gert werkloos. Gert se vrou, Drieka, werk by die winkel op Leeu-Gamka en toe sy van die ongeluk hoor, het sy vir Gert ’n SMS gestuur, en hy het weer vir Sakkie per SMS laat weet.

Die Freightliner het omtrent ’n halfuur gelede omgeslaan en hier staan al so vyftig mense met blinkgeswete gesigte na die wrak en staar.

Hoe almal so gou van die ongeluk uitgevind het, is seker maklik te verstane. Leeu-Gamka is ’n gehuggie langs die N1. Sodra ’n polisiebakkie met die blou lig op die dak aan by die polisiekantoor oorkant die Shell Ultra City se hek uitjaag, weet almal dis seker maar weer ’n ongeluk op die N1. Dis wanneer die selfone uitgehaal en daar gebel en ge-SMS word: Ongeluk. Laingsburg se kant toe. Kom.

Die vragmotor se bestuurder is nie beseer nie. Hy staan eenkant met ’n polisieman en gesels. Oor die vlakte op die tweespoorpad langs die treinspoor kom ’n donkiekar in ’n lugspieëling aangebewe. Twee ander polisiemanne wag tussen die wit-en-rooi lint en die vragmotor om seker te maak die mense begin nie die bottels bier optel en wegdra nie. ’n Insleeptrok is van Laingsburg af op pad om die wrak regop te trek en weg te sleep, maar die mense beweeg nie.

Hulle wag. Dit klink of almal mekaar ken, hulle noem mekaar op die naam. Iemand praat oor die lorrie vol Truworths-klere wat laas week naby Prins Albertweg-stasie omgeslaan het.

Een kêrel se selfoon lui. “Nee. Niks,” sê hy vir die een aan die ander kant. “Ons wag maar.”

Die donkiekar kom ’n entjie veld-in naby almal tot stilstand. ’n Oom en ’n tante klim af. Die tante bly by die karretjie staan, asof sy moet waghou oor die donkies. Die oom stap nader in ’n sakkerige kakiebroek met gelapte knieë, al agter sy skaduwee aan.

“Hallo, oompie Jan,” groet iemand.

Nog stemme groet hom.

“Oompie Jan is laat,” sê ’n ander een.

“Ek weet,” antwoord die oubaas, “maar my air time is mos op.”

Hy gaan staan tussen die ander, laat sak sy hande en maak die splinternuwe Truworths-gordel los wat sy broek bo hou, trek dit een gaatjie stywer en maak dit weer vas voor hy vra: “Wat het hier gebeur?”

In die blou kamp

Подняться наверх