Читать книгу In die blou kamp - Dana Snyman - Страница 21

Оглавление

Onskuldig, Edelagbare

Die hofverrigtinge kan maar begin. Dit lyk of almal gereed is. ’n Polisievrou het pas by ’n kantoor uitgekom en die name op die hofrol hardop gelees: “Charleton Papier! Wayne Stuurman! Gert Julies … !”

Die meeste van dié wat voor die landdros moet verskyn, sit of staan in die portaal van die hofgeboutjie in Hopefield se hoofstraat.

Hulle en hul familie en vriende wag al van vroegoggend af.

Ek het al hoeveel keer by dié hofgeboutjie met die hoë gewel verby gery op pad tussen Jacobsbaai en die Kaap, maar vandag het ek stilgehou. Ek wil weet wat gebeur in ’n plattelandse hof, ver weg van mediamense met hul Twitter updates en hul TV-verslae.

’n Stille verdrietigheid hang oor alles in die portaal. Op die een houtbankie sit ’n meisie en ’n man in ’n swart frokkie. Teen die muur langs die hofsaal se deur en ’n skildery van ’n enkele boom op ’n eensame vlakte, wys ’n horlosie dis agt minute oor tien.

’n Ouerige vrou kom by die deur in met ’n handsak oor haar skouer, twee plastieksakke en ’n blikkie Appletiser in die hand. Sy gaan sit langs die man in die frokkie.

“Waar was Ma?” vra hy.

“Ek’t gou vir Wayne ’n sappie gaan koop.” Sy wys die blikkie Appletiser vir hom.

Die staatsaanklaer kom uit ’n kantoor gestap met ’n pak vaalbruin lêers onder die arm. Ons gaan sit op die regop bankies in die klein hofsaal.

“Staan!” beveel die aanklaer.

Die landdros kom in en gaan sit op sy stoel waarna ons almal moet opkyk.

Die aanklaer blaai ’n lêer oop en roep: “Charleton Papier!”

Papier gaan staan in die beskuldigdebank. Hy wurg en wurg aan ’n keppie in sy hande. Hy verskyn op aanklag van aanranding, maar die saak kan nie begin nie, want die polisie is nog besig met die ondersoek. Die saak word uitgestel.

“Wayne Stuurman!” roep die aanklaer volgende, toe gee hy ’n lêer vir die landdros aan, en sê: “Stuurman het iemand met ’n mes doodgesteek, Meneer.”

’n Polisieman staan op en gaan sluit die deur aan die agterkant van die vertrek oop, want Wayne Stuurman – hy is negentien jaar oud – is in aanhouding.

Hy kom uit die sel, ’n jong man met littekens op sy kaalgeskeerde kop. Ke-klieng, ke-klieng, stap hy met boeie om sy enkels. Hy laat gly sy oë oor die bankies. Sy ma, wat langs die man met die swart frokkie sit, die blikkie Appletiser steeds in die hand, waai vir hom, maar hy waai nie terug nie. Hy hou die reling voor die beskuldigdebank met albei hande vas.

“Werk u, meneer Stuurman?” vra die landdros.

“Ja, Edelagbare. By ’n hoenderplaas.” Sy stem is sag.

“Wat doen u daar, meneer Stuurman?”

“Ek maak hoenders dood.”

“Hoe werk dit, meneer Stuurman?”

“Ek shock hulle dood met ’n masjien. Party dae shock ek sommer ’n duisend dood.”

Die landdros laat sak sy kop en skryf iets in die lêer voor hom. Hy kyk weer na Stuurman. “U het Sheldon April in die nag van 23 April vermoor, meneer Stuurman. Wat pleit u?”

“Onskuldig, Edelagbare.”

“U sê u wil nie van ’n regsverteenwoordiger gebruik maak nie?”

“Nee, Edelagbare. Ek sal vir myself praat.”

“Kan u vir die hof vertel wat het daardie nag gebeur?”

“Ek het hom twee keer gewaarsku, maar hy het nie opgehou nie.”

“Wat het hy gedoen, meneer Stuurman?”

“Hy was gedrink, Edelagbare. Ek het hom twee keer gewaarsku.”

“Het u hom met ’n mes gesteek, meneer Stuurman?”

Wayne raak stil en kyk vinnig om na waar sy ma sit met haar kneukels wit om die blikkie Appletiser. Hy kyk weer na die landdros. “Ek dink ek moet eerder maar ’n lawyer kry, Edelagbare.”

Die saak word uitgestel, maar Wayne moet in aanhouding bly.

Een na die ander verskyn hulle. Gert Julies. Sidney Lackay. Aanranding. Diefstal. Dronkbestuur. Die meeste van hulle pleit onskuldig.

Later verdaag die hof. Ons stap weer buitetoe. Wayne se ma staan op die sypaadjie voor die gebou en wag vir die gevangenismense om hom uit te bring. Sy sit die blikkie Appletiser in een van die twee plastieksakke.

Ke-klieng, ke-klieng, weerklink dit uit die portaal. Wayne kom by die deur uit. Hulle kyk woordeloos na mekaar, ma en seun. Sy tree vorentoe, na haar kind toe, maar een van die bewaarders keer haar voor: Sy mag nie by die hof vir hom iets gee nie.

Sy bly met die twee plastieksakke in die hand staan terwyl hy agter in die gevangenisdiensbakkie klim.

“Ai,” sê sy vir niemand in die besonder nie toe die bakkie wegry. “As ek darem net vir hom ’n sappie kon gegee het.”

In die blou kamp

Подняться наверх