Читать книгу In die blou kamp - Dana Snyman - Страница 18
ОглавлениеVrees
Sy kom staan voor my met ’n hand in die sy, asof sy haar drie maatjies teen my wil beskerm.
“Wat’s jou naam?” vra ek.
“Beyoncé,” antwoord sy.
“En jou van?”
“Hartbees.”
Hulle krap tussen die rommel by die munisipale stortingsterrein – die asgate – buite Griekwastad rond. ’n Koue wind jaag plastieksakke en papiere en stof oor die grond waarop oral glasstukke blink.
“Kan jy mooi sing, Beyoncé?” vra ek.
“Nee,” sê sy, en giggel soos die kind wat sy is.
“Kan ek ’n foto van julle neem?”
Sy kyk om en roep na die ander. “Kom, julle,” sê sy. “Die meneer wil ’n photo van ons vat.”
’n Bont brakkie storm blaffend op my af, maar Beyoncé Hartbees gryp hom en lig hom van die grond af. Die ander drie kom staan by haar. Nie een van hulle kan ouer as tien of elf wees nie. Die een meisietjie het die gesig van ’n oumatjie, kompleet met kopdoek en al. In haar hand hou sy twee plastieksakke vas, volgeprop met bottels en twee oefeningboeke en stukke lap. Die ander een staar stip na my onder haar pienk Pep-hoody se kappie uit.
Die derde een buk en tel ’n kleurbrosjure van Lewis Stores van die grond af op. Santa Barbara 3-piece Lounge Suite. Only R8 999. Same-day delivery.
Beyoncé Hartbees hou steeds die hondjie in haar arms vas.
“Wat’s die hondjie se naam?” vra ek.
Sy giggel. Hulle al vier giggel. Ek draai die kamera se lens na hulle en maak seker ek kry die stukkende hondebak in, en die ou motorfietsvalhelm, en die leë Doom-blik. Lensopening: F3.5. Sluiterspoed: 1/10. Asa: 800.
’n Paar oomblikke later, terwyl ek terugstap kar toe met die kamera oor my skouer, storm die hondjie weer op my af, blaffend, mik-mik na my hakskene.
“Nee, Oubaas!” roep Beyoncé Hartbees iewers agter my. “Oubaas! Nee! Nee!”