Читать книгу In die blou kamp - Dana Snyman - Страница 13
ОглавлениеOom Ollie Viljoen (1939 – †2014)
Oom Ollie se hande lê stil voor hom op die duvet. Hande wat trekklavier gespeel het. Hande wat liefgehad en kos gemaak het en motor bestuur het.
Hande wat oud en krom van die jig geword het.
Hy trek hom effens teen die kussing op. “Het ek jou al die storie vertel van die dronk ou in die doodskis?” Sy stem is moeg. Hy was in die hospitaal met hartversaking, maar nou lê hy hier op die bed in die spaarkamer van sy seun se huis op Gordonsbaai. Hier kan hy minstens die see en die voëls buite hoor, en kosreuke uit die kombuis kry, en elke keer op pad badkamer toe, skuifel-skuifel verby die ou hoederak waaraan sy hoedjies en kepse hang, al sewentien daarvan.
Hy is een van die land se bekendste musikante, ’n trekklavierspeler wat saam met Hugh Masekela by president Mandela se inhuldiging in 1994 by die Uniegebou opgetree het. Oom Ollie is ook die man wat die TV-program Spies & Plessis begin het en ’n storieverteller soos Tolla van der Merwe ontdek het.
“’n Oom van Moorreesburg het my die storie vertel.” ’n Flou glimlaggie op oom Ollie se gesig. “Die oom sê daar by hulle was ’n ou wat so gedrink het. Die dominee het probeer om hom reg te kry, maar dit was ’n gesukkel.
“Eendag bel iemand die dominee. Dominee moet kom help, die ou het uitgepaas. Hy’t gedrink tot hy getiep het. Die dominee gaan soontoe. ‘Vandag moet julle my help, manne,’ sê die dominee. ‘Ons moet hierdie man regkry.’
“Die dominee bel ’n begrafnisondernemer op Piketberg en reël ’n doodskis. Toe ry hulle met die omgetiepte ou soontoe. Hulle sit hom in die kis en vat hom na ’n grot in die berg naby die dorp.
“Hulle sit daar in die donkerte van die grot by die kis en wag. Later hoor hulle die ou in die kis begin beweeg. En later toe vra die ou uit die kis uit: ‘Wat gaan aan? Waar’s ek?’
“Die dominee sit daar – en die grot het so ’n hol klank – en hy sê: ‘Jy’s dood, broer.’
“Die ou raak weer stil in die kis, maar ná ’n rukkie vra hy weer: ‘Nee, man, sê my nou: Waar’s ek?’
“‘Jy’s dood, broer,’ sê die dominee weer. ‘Jy’s in die doderyk.’
“Die ou lê weer ’n rukkie, en toe sê hy weer uit die kis uit: ‘Nee, jene, dis onmoontlik, ’n ou wat so ’n groot pis het soos ek nou het, kan nie dood wees nie.’”
Oom Ollie begin onder die komberse lag, geluidloos lag hy. Sy lyf skud en sy ogies trek klein.
Hy sak weer terug teen die kussings, asof die storie hom uitgeput het. Hy trek die kombers op tot teen sy ken.
“Ek’s moeg, man.” Sy stem is sag. “Die dokter sê my hart is gedaan.”
Hy kyk stil na die plafon. Die gordyne is toegetrek. Op die bedkassie langs hom is ’n selfoon, ’n pen, ’n paar blokkies sjokolade en Ferdinand Deist se boek Tussen angs en sekerheid.
In die hoek van die kamer staan sy drie trekklaviere waarop hy nooit weer sal speel nie.