Читать книгу In die blou kamp - Dana Snyman - Страница 6
ОглавлениеuMlungu
Johannes Bogosi stap by my werkkamer in met ’n swaar frons tussen die oë.
Hy kom sit op die punt van die ou bal-en-klou-stoel langs my skryftafel. Hy het al die jare by my pa op Ventersdorp gewerk, maar ná Pa se dood het hy en sy vrou, Lettie, en hul seun, Koos, by my op Jacobsbaai kom woon, in die woonstel agterin my erf.
“Vra maar, Johannes,” sê ek, want ek weet al hy wil iets vra wanneer hy so kom sit met sy hande vasgeknyp tussen sy kniekoppe. “Wat’s dit?”
“Kan ons Ouboet se bakkie môre vroeg vat? Ons wil vir ons brille by die trein gaan kry.”
Die hele week al staan daar ’n wit trein, ’n reisende oogkliniek, op ons buurdorp Saldanha se stasie – ’n projek van die departement van gesondheid om mense te help wat dit nie kan bekostig om na ’n oogarts te gaan nie.
Die volgende oggend donkervroeg skrik ek wakker en hoor daar ry my bakkie. Elf minute oor vier, sê die horlosie op my selfoon. Johannes-hulle het die lig in die voorhuis aan gelos.
Ek sukkel om weer aan die slaap te raak. Ek sien mense in sinkhutte en HOP-huise wakker word en aantrek en na die trein stap en ry in ou karre. Ek sien mense in ’n ry in die donker wag.
Iewers tussen nege en tien piep my foon. Dis ’n please-call-me van Johannes af. Ek bel hom. Hulle was gelukkig, hulle was derde in die ry, sê hy. Hulle is op pad terug. Moet hulle vir my die koerant saambring?
Ek verkies maar steeds die papier van ’n koerant onder my vingers.
Ek stort, trek aan en gaan sit by die tafel in die voorhuis en lees verder aan die John Berger-boek waarmee ek besig is.
’n Ruk later kom my bakkie aangedreun. Ek gaan loer deur ’n skreef in die gordyn. Johannes hou voor die motorhuis stil. Lettie klim eerste uit in daardie rooi, groen en oranje trui met die frilletjiesrige hals wat sy altyd aantrek wanneer hulle dorp toe gaan.
Hulle het elkeen ’n roomkleurige brilhuisie in die hand. By die agterhekkie haal Johannes sy bril uit en sit dit op. Lettie en Koos doen dit ook.
Toe hulle by die deur inkom, nuut bebril, sit ek weer by die tafel.
“Oe, Ouboet,” sê Lettie. “Ons sien nou so lekker.”
“Baie lekker,” beaam Johannes en lag.
Koos skakel die lig by die skakelaar langs die deur af en stap deur die vertrek en begin die gordyne voor die vensters een vir een ooptrek. Lig sypel tot in die vertrek se donkerste hoeke. Buite is die see ’n groen kombers op ’n onopgemaakte bed. Johannes tel die leë Coke-blik en halwe pakkie grondboontjies langs die rusbank op waar ek dit gisteraand gelos het.
Lettie kom staan by my. “Wanneer gaan Ouboet weer mall toe?” vra sy. “Ouboet lyk sleg. Kyk net hoe stukkend is Ouboet se hemp. Kyk net hoe lyk Ouboet se skoene.”