Читать книгу In die blou kamp - Dana Snyman - Страница 9

Оглавление

’n Held van weleer

Oom Frik du Preez vertel, man, hier op my oudag bel ’n man van ’n garage my. Meneer Du Preez, sê die man. Ons wil u graag borg met ’n bakkie.

Ek dink: A, nie sleg nie. In my speeldae was daar mos niks van sulke dinge nie. Jirder, ons moes selfs ons kouse en toks self koop.

Gaan dit my iets kos? vra ek.

Nee, Meneer, sê hy. Ons wil net ons naam by Meneer se naam op die bakkie hê.

Nee, nee, sê ek vir hom. Ek soek nie my naam op die bakkie nie. Ek’s nie ’n windgat nie.

Maar die kêrel hou vol, my naam sal op die bakkie moet staan. Later toe sê ek vir hom: Jong, dis so ’n bleddie lekker bakkie, skryf maar my naam op, maar skryf hom klein.

Ek kry toe die bakkie. Man, en hy ry lekker. Een oggend ry ek met hom dorp toe. Mafikeng toe. Ek hou daar by Mega City stil, en toe ek uitklim, sien ek uit die hoek van my oog ’n man kyk na my, en hy kom nader – ’n jongerige swart man. Hy kom staan voor my, hierdie outjie, en hy is baie vriendelik, en hy vra: Are you Mister Frik du Preez?

Ek sê vir hom: Yes, my friend. I’m Frik du Preez. How are you? Hy sê vir my: I’m fine, Mister Du Preez. It’s a honour to meet you. It’s really a big honour.

Thank you very much, my friend, sê ek en ons skud hand, en toe ek so wegstap, dink ek: Rugby is darem ’n wonderlike ding. Ek het in ’71 al uitgetree en hier weet ’n swart outjie op Mafikeng van my. Ek draai om en stap terug na hom toe. Ook maar ydel, sien. Ek vra vir hom: My friend, are you a big fan of rugby? How do you know I’m Frik du Preez?

Hy kyk so na my, daai mannetjie, en hy glimlag, en hy leun so half terug, en hy sê: I read it on your bakkie.

In die blou kamp

Подняться наверх