Читать книгу In die blou kamp - Dana Snyman - Страница 11

Оглавление

Huisbesoek

Iewers tussen die tweede en die derde beker koffie stol die woorde in Marius se mond. Hy lig sy hand en vee oor sy oë.

Ons sit by ’n tafeltjie in Café Grace. Hy bly ’n hele ruk stil en druk en druk aan die suikersakkie in sy hand.

“Ek kry oor en oor dieselfde nagmerrie.” Hy kyk vlugtig na my. “Ek droom ek staan op die preekstoel en terwyl ek preek, begin my tande uitval – een vir een. Later begin my tong sleep en my stem raak al hoe sagter, en hoe harder ek wil praat, hoe meer val my tande uit. Totdat ek later tjoepstil is. Magteloos.”

Marius is al vir sestien jaar ’n NG predikant. Ons het op Facebook met mekaar begin gesels en ontdek ons woon minder as twintig kilometer van mekaar af. Dit is die eerste keer dat ons mekaar in lewende lywe ontmoet.

“Ek weet nie meer wat mense van ’n predikant wil hê nie.” Hy druk weer aan die sakkie suiker. “Soms dink ek hulle soek net ’n pel – ’n pel wat hulle laat goed voel oor hulself. Baie wil ook hê jy moenie meer huisbesoek by hulle doen nie. Jy ontmoet hulle in ’n koffieshop.

“Party stuur vir jou ’n SMS. Bid asseblief vir my, Dominee. Wat doen jy dan?” Hy sit die sakkie suiker neer. “Jy kan baie van hulle ook niks meer leer nie; almal het Google. Een ouderling, ’n moeilike oubaas, bel my nou die aand: ‘Dominee, jy’t vandag op die kansel gesê Damaskus is in die huidige Iran. Ek’t op Google gaan kyk: Damaskus is in Sirië.’” Hy bly ’n ruk stil. “Dis dieselfde oubaas wat reguit vir my gesê het: ‘Jy kan oor enigiets preek, Dominee, behalwe oor homoseksualiteit en Belhar. Anders werk ons jou hier uit.’ Fok.”

Hy glimlag flouerig. “Jammer, daar sê ek dit: fok.”

“Fok,” herhaal ek om hom beter te laat voel.

Hy neem ’n sluk van sy koffie. “Jy’t gesê jy’s op antidepressante?” Hy kyk oor sy beker na my. “Watter?”

“Lorien.”

“Ek’s op Venlor. Was eers op Wellbutrin.”

“Ek was ook al op Wellbutrin.”

Hy sit die beker weer neer. “Dalk is ek net uitgebrand. Kort-kort sit ’n vrou voor jou: ‘My man drink, Dominee.’ ‘My man verneuk my, Dominee.’ Anderdag sê ’n vrou vir my: ‘My man slaan my, Dominee’. Voor ek kan keer, vra ek vir haar: ‘Hoe hard slaan hy jou, Mevrou?’”

Hy sit weer die beker neer en vat na die voosgevatte pakkie suiker. “Ek sit eergister in die hospitaal by ’n vrou. Kanker. ‘O, die pyn, die pyn,’ kla sy terwyl sy my smeek: ‘Dominee, praat met God, sê vir Hom Hy moet my kom haal.’ Ek bid vir haar, toe staan ek op en stap na die kraamsaal waar ’n ander gemeentelid haar pasgebore babatjie vashou, en vir my sê: ‘Kyk sy ou toontjies, Dominee. Is dit nie te cute nie?’” Hy bly weer ’n ruk stil. “Toe begin ek huil. Die vrou dink ek huil oor haar cute ou babatjie, maar eintlik huil ek oor myself.”

Hy lig sy hand en wink ’n kelnerin nader. “Nog ’n koffie vir jou?” Sy oë is dof. “Ek sit hier en praat net oor myself. Jy’t amper nog niks eens gesê nie.”

Hy hou twee vingers voor die kelnerin in die lug. “Twee regular koffies, asseblief. With hot milk.”

In die blou kamp

Подняться наверх