Читать книгу In die blou kamp - Dana Snyman - Страница 20
ОглавлениеMakroplase
’n Plaasopstal wat agtergelaat word, sterf stadig. Die dak se verf begin afdop en onder die nokke maak die swaeltjies en die vlermuise en die perdebye nes. Daar kom voëlmis op die stoep. Die geute roes en wanneer dit reën, loop trane bruin teen die mure af. ’n Sinkplaat begin flap in die wind, flap, flap, flap in die nanag terwyl ’n uil roep. Iemand kom en stroop die dak, dra die deure weg, kap die kosyne en vensterrame uit. Dan is dit asof die huis moed opgegee het. Die pleister kom eerste van die mure se bokant los terwyl die rysmiere onder in die hoeke tonnels maak. Daar kom ander insekte ook, insekte en parasiete, wat op verlore drome teer. Die beendere in die grafte in die familiekerkhof naby die leë skaapkraal is nie meer gesigte in ovaal rame teen die sitkamermuur nie. “’n Lykrede behoort gehou te word by huise en kerke wat ineenstort,” skryf Hennie Aucamp iewers. “Daar moet ’n eenvoudige gebed gebid en daar moet gesing word. Dat die siel van die huis tot rus kan kom.” ’n Erdvark kom grawe waar die plankvloer in die gang uitgebreek is, en die telefoon wat op ’n rottangtafeltjie gestaan het, lui nie meer nie, is nie meer daar nie. Die tyd se kouevuur woed deur die vertrekke, seisoen ná seisoen. ’n Driedoring spartel deur ’n kraak in een van die kamervloere en sprei sy takke. Een middag is daar ’n donderbui en die wind waai een van die mure om. Daarna val nog ’n muur om, en dan waai daar nog winde, en nog mure val om. ’n Onbewoonde huis treur homself terug die aarde in.