Читать книгу In die blou kamp - Dana Snyman - Страница 23

Оглавление

WeChat

Ons sit skaars by die tafeltjie in die Blue Whale toe piep Hennie se selfoon. Dis ’n SMS van iemand af.

“Ek antwoord net gou,” sê hy. “Jammer.”

Sy duim wip oor die selfoon se knoppies.

Ons was goeie vriende op skool, maar ons sien mekaar nou maar min, ek en Hennie. Vandat hy bevordering gekry het by die IT-maatskappy waarvoor hy werk, reis hy dikwels oorsee, veral China toe.

Hy laat sak die selfoon weer.

“Ek sien jy’t nog ’n paraffienmodel.” Hy beduie na my ou BlackBerry langs my op die tafel.

“Ek’t hierdie een nou vir my in Hongkong gekoop. Samsung Galaxy. State of the art. Dis amazing wat hierdie dingetjie als kan doen.” Hy druk ’n paar knoppies, toe hou hy die selfoon naby sy mond, en sê hard: “Hallo, Galaxy.” Hy draai die selfoon se gesig in my rigting. “Vra vir hom enige vraag. In Engels.”

“Enigiets?”

“Enigiets,” antwoord Hennie.

“What is the purpose of life?” vra ek met my mond naby aan die Galaxy.

“Jy bly maar ’n grapgat, nè?” Hennie laat sak die foon sonder om te lag. “Vra hom ’n ordentlike vraag, man. Vra hom wie is die president van Amerika.” Hy hou die foon weer naby my mond.

“Who is the president of America?” vra ek.

Ons wag ’n rukkie, toe weerklink ’n blikkerige stem uit die Galaxy se smal lyf: “Barack Obama is the president of the United States of America.”

Hennie glimlag en sit die foon langs sy kleinbordjie neer.

“Hoe gaan dit met jou?” vra ek.

“Nee, goed,” sê hy. “Goed. Net besig. En met jou?”

“Goed. Goed.”

“Ek’s bly. Ek’s bly.”

’n Kelner kom sit voor ons elkeen ’n spyskaart neer.

“Hoor jy nog van die ander?” vra ek.

“Nee, nie eintlik nie.”

“Ek het nou die dag ’n spanfoto van ons vierde rugbyspan ontdek.”

“Jy moet dit op Facebook sit. Ek hou van die goedjies wat jy op Facebook sit.” Sy selfoon maak weer ’n piepgeluid. “Jammer, man.” Hy lig die foon op en kyk na die skermpie. “Dis ’n WeChat van my meisiekind af.”

“WeChat? Wat’s dit?”

“Ken jy nie WeChat nie?” Hy druk ’n paar knoppies, toe kom sy dogter – sy is op universiteit – se stem uit die Galaxy: “Hi, Pappa. Thanks vir die geld. Hoop dit gaan orraait. Ba-bye.”

Hy sit die foon weer langs hom neer. “Ek kry die arme kind jammer,” sê hy.

“Hoekom?” vra ek.

“Het jy nie gehoor nie?”

“Nee. Wat?”

“Ek en haar ma gaan skei.” Hy kyk my vlugtig in die oë. “Die laaste twee jaar was ’n nagmerrie. Ons praat die hele tyd by mekaar verby.”

Hy trek die spyskaart nader. “Ons moet seker bestel, nè?” Hy blaai die spyskaart oop. “Ek wonder hoe is hulle vis.”

In die blou kamp

Подняться наверх