Читать книгу In die blou kamp - Dana Snyman - Страница 26

Оглавление

Die honde van die samelewing

Hannes beduie na die tamaai vragmotor en sleepwa wat by die Ultra City net buite Worcester staan. “Dit is ons huis,” sê hy. “Als wat ons het, is hier binne. Ons klere, als wat ons nodig het.”

Oor die oopte van die Quick Shop se kant af kom sy vrou, Daleen, aangestap met ’n groot bottel water in die een hand.

Hulle het vanoggend blikkies sousboontjies van meer as vyftig ton by ’n inmaakfabriek op Ashton opgelaai, waarmee hulle nou op pad Kaap toe is.

Hannes vat ’n diep trek aan ’n sigaret. Dis maar hoe dit met ’n heeltydse vragmotorbestuurder gaan: vandag hier, môre daar, oormôre tuis. Maar vir hom wat Hannes van Rensburg is, is dit anders: Hy het nie ’n huis nie. Hy en Daleen, met wie hy al nege jaar getroud is, woon al vir byna twee jaar so ál ryende in hierdie Freightliner met sy sleepwa en sy ses en dertig wiele.

Dag ná dag is hulle saam onderweg met ’n vrag iewers heen, en nag ná nag slaap hulle iewers langs die pad in die vragmotor.

“Ons is eintlik haastig.” Hy tik met ’n vinger op sy horlosie. “Ons moet halfdrie in die Kaap aflaai.”

Twee dae tevore was hulle op Kakamas, doer bo teen die Oranjerivier. Môre is hulle weer op pad George toe. In die laaste drie maande het hulle al meer as twee en veertig duisend kilometer afgelê – alles vir Hannes om tussen R15 000 en R20 000 per maand te verdien.

Daleen klim by die leertjie teen die vragmotor se hoë bakwerk op, hups vir ’n vrou van twee en vyftig.

Die kajuit is ruim binne, maar dis nie eens naastenby die grootte van ’n voorstedelike badkamer nie.

Bo-op die paneelbord staan twee bokse snesies: een vir hom, een vir haar. Byna soos op ’n vensterbank in ’n getroude paartjie se badkamer.

“Hier’s my stoof.” Daleen wys na ’n eenplaatgasstofie wat in ’n kassie tussen die twee sitplekke staan. “En hier’s ons slaaparea.” Sy wys na die smallerige slaapbank agter die sitplekke.

Dit is netjies opgemaak met ’n duvet en by die twee kussings lê ’n lappop en ’n wollerige diertjie in ’n Blou Bul-truitjie. Die huweliksbed.

Twee jaar gelede het hulle nog in ’n woonstel in Benoni gewoon met ’n mikrogolfoond, ’n satellietskottel vir die televisiestel en al sulke goed.

Hannes het vir ’n landskapsargitek gewerk, toe kry hy die aanbod om hierdie Freightliner te bestuur. Hulle het die woonstel opgegee en selfs hul motor verkoop.

Hannes het een van Suid-Afrika se sowat twee honderd en veertig duisend lorriedrywers geword. Met Daleen op die sitplek langs hom.

“Ons was moeg vir sukkel in Benoni.” Daleen glimlag flouerig. “Dit was maar ’n aanpassing, maar ’n mens moet ’n lewe maak. Jy’t nie ’n kombuis nie. Jy’t nie ’n badkamer nie. Jy kan nie sommer enige plek langs die pad stilhou en slaap nie. Jy word besteel.”

“En die hoere pla kwaai,” voeg Hannes by. “Jy slaap net, dan klop een aan die venster. Hulle sny ook jou seile stukkend en steel jou goed, die hoere. Op Richmond het hulle ’n klomp mayonnaise by ons gesteel. En as jy in ’n ongeluk is, sak die armes op die wrak toe en vat fokken als.”

Hulle vervoer enigiets van mayonnaise en gifstowwe tot veevoer en sousboontjies. Sewe dae ’n week. Maand-in, maand-uit.

Soms moet hulle vinnig ’n vrag iewers kry, dan is daar nie eens tyd vir stilhou en toilet toe gaan nie.

“Ek’t hierdie bottel se bokant afgesny.” Daleen haal ’n tweeliterkoeldrankbottel langs die sitplek uit. “Ons piepie sommer so in die ry daarin.”

Hannes tik weer met ’n growwe vinger op sy horlosie. Hulle moet in die Kaap kom.

“Hannes sê altyd ons is die honde van die samelewing.” Daleen kyk na hom.

“Dis hoe party mense jou laat voel,” beaam hy. “Hulle jaag tot op jou gat en flits vir jou fokken ligte. Kom hulle verby, kry jy ’n middelvinger. By die plekke waar jy moet af- of oplaai, laat baie jou voel of jy ’n stuk gemors is.”

Hy druk ’n knoppie, toe vat die enjin. Hulle ry stadig terug in die rigting van die N1. Môre is dit George toe, daarna Port Elizabeth toe. Waarheen hulle die dag daarna gaan, weet hulle nog nie. Hulle hoor op kort kennisgewing wat moet hulle waarheen neem.

Daarom het hulle ’n naam vir hierdie lorrie gegee en dit op die neus laat verf: “Slaafie.”

In die blou kamp

Подняться наверх