Читать книгу Melk die heilige koeie - Deon Maas - Страница 10

6 Televisie

Оглавление

One Nation under God

has turned into One Nation

under the influence of one drug

Television, the drug of the nation

Breeding ignorance and feeding radiation

(Michael Franti, Disposable Heroes of Hip-Hopracy)

Albert Hertzog, Suid-Afrika se minister van pos- en telekommunikasiewese vanaf 1958 tot 1968, het ’n groot rol daarin gespeel om te keer dat Suid-Afrika televisie kry. Hy het gesê dat dit ’n medium is waaroor ouers geen beheer kan hê nie en dat dit die moraliteit van die volk sal beïnvloed. Hy het ook gesê dat Suid-Afrika “oor sy dooie liggaam” televisie sal kry. Televisie in Suid-Afrika het in 1975 begin. Hertzog is in 1982 dood. Dit is nie bekend watter rol televisie gespeel het in sy dood nie.

Hendrik Verwoerd, ’n eertydse eerste minister van Suid-Afrika, het televisie vergelyk met gifgas en die atoombom. Net omdat dit ’n moderne ontdekking was, beteken dit nie dat dit goed is nie.

Suid-Afrika was natuurlik nie die laaste land in die wêreld wat televisie gekry het nie. Papoea-Nieu-Guinee is die laaste land wat dit gekry het. In 2009. Papoea-Nieu-Guinee is natuurlik bekender as ’n land vol kannibale waar daar tot so onlangs as 2016 ’n poging was om twee Britse toeriste te eet … maar dit net so terloops.

Televisie het Suid-Afrika en hoe ons dink verander en ons blootgestel aan ’n breër wêreld. Hertzog was toe reg, die ouers kon nie beheer wat die kinders kyk nie en dit het die moraliteit van die volk beïnvloed. Dit het dalk nie gebeur soos wat Hertzog dit bedoel het nie, maar dit het gebeur.

Die dae van klaar geëet en na die toetspatroon sit en kyk om te wag vir Riaan Cruywagen se Haas Das se Nuuskas is lankal verby. Om die waarheid te sê, as dinge aangaan soos dit aangaan, is daar ’n goeie kans dat Riaan televisie in hierdie land gaan oorleef. Ons weet mos almal dat Chuck Norris sy bitch is en dat Riaan vir ewig gaan lewe en nooit oud raak nie.

Feit van die saak is: Televisie in Suid-Afrika staan op die rand van die afgrond en daar is vele redes daarvoor.

Kom ons begin by die begin. In die begin was daar televisie en sy naam was die SAUK. Dis nie meer sy naam nie, maar om histories korrek te bly, sal ons só daarna verwys tot 1994.

Don Johnson het Afrikaans gepraat in Misdaad in Miami en Spiderman het Zoeloe in Rabobi gepraat. Ons het die hele wêreld op ons televisie gehad en almal was bly en gelukkig.

Nee, dit was nie so nie.

Daar was sensorskap en sensuur. Sekere musiekvideo’s is op die lug verbied en sekere programme is gesensor. Volgens die reëls van PW Botha en die Noodtoestand kon baie min geskryf of gesê word oor die politieke toestand in die land. Nie net op televisie nie, maar in alle media. Die Tweede Noodtoestand het selfs bepaal dat die media nie mag berig oor die feit dat daar ’n noodtoestand is nie.

Die SAUK is nie net daarvan beskuldig dat hy politieke vooroordele getoon het nie. Daar was ook korrupsie, baantjies vir boeties en (soos Lizz Meiring tereg opgemerk het) “onkunde, geldmors en selfverryking”.

Met ander woorde, dit was maar soos dit vandag is. Toe was dit net nie so ’n groot probleem vir die deursnee wit Afrikaner nie, want dit was sy mense wat voordeel daaruit getrek het.

Dit was okay vir die nuus om gesensor te wees, want hulle wou nie weet wat in die townships aan die gang was nie. Almal het geweet wat besig was om daar te gebeur, maar het verkies om nie aandag daaraan te skenk nie. Naspers se koerante het die regeringsbeleid vir ons mooi omskryf sodat dit soos nuus gelyk het. Tussen dit en die TV-nuus kon ons aanhou lewe met die illusie dat alles voor die wind gaan. Soos Pik Botha altyd sê: “Onthou dat ons niks gedoen het wat die kiesers nie van ons verwag het nie.” Solank iemand anders die vuil werk gedoen het, was alles reg.

Daar is ook vas geglo dat die grootbase, as goeie Calviniste, nie hulself sal verryk ten koste van ander nie. Intussen is swembaddens en huisverbeteringe verruil vir televisiereeks-kontrakte, kokaïen was ’n manier om jou musiek op die radio te kry en daar het ’n Pierneef of twee verdwyn. Die mense wat geweet het hoe om televisie te maak moes aan politieke aanstellings verslag doen.

Prophets of Da City se album Age of Truth is in 1994 (net voor die verkiesing) in sy geheel deur die SAUK verbied. Dit het ’n instrumentale weergawe van “Nkosi sikelel’ iAfrika” ingesluit. Dit is verbied omdat dit beskou is as te “partypolities” – menende dat dit te pro-ANC was – hoewel daar nie ’n enkele uitspraak in dié verband op die album is nie. Ná die verkiesing is die album weer verbied – dié slag omdat dit nie “in die gees van rekonsiliasie” was nie.

Laat ons ook nie vergeet dat kunstenaars wat vandag bekend is, mense soos Johannes Kerkorrel en David Kramer, se werk vir lang tye deur die SAUK verbied is nie.

Met ander woorde, dit was presies soos wat dit vandag is.

Ons het nie baklei net om van die Nasionale Party ontslae te raak nie. Ons het nie baklei om hulle te vervang met mense wat net soos hulle dink nie. Ons het baklei om van ons land ’n beter plek te maak.

Dit maak nie saak wat die Nasionaliste by die SAUK gedoen het nie – dit is geen regverdiging vir wat die ANC met die SABC doen nie.

Die idee was om dinge te verander, maar dit lyk meer en meer of dit net die kleur van die regering is wat verander het.

Die SABC het ’n slegte geskiedenis sedert 1994. Die probleem is natuurlik dat elke tweede aanstelling ’n politieke een is. Een wat moet seker maak dat daar na die regerende party gekyk word en dat sy propaganda en waardes uitgedra word. Dit sluit nie net die nuus in nie. Dit beteken dat daar pro-regeringspropaganda in programme soos sepies ingewerk word.

Deur ’n politieke aanstelling te maak, maak jy natuurlik seker dat die instelling nie vooruitgang kan maak nie. Daar is, soos in die ou dae, mense met kennis van televisie wat verantwoording moet doen aan mense wat niks van televisie weet nie. Dit beteken dat die SABC nou net so ’n gemors is as in die ou dae.

As jy in die SABC rondloop, is daar ’n gevoel van vrees onder die werknemers. Niemand weet wanneer hulle gevra gaan word om te loop nie. Mense fluister goed vir mekaar – soos in ’n totalitêre staat. Niemand wil ’n mening lug nie … en die ergste van alles is dat niemand ’n besluit wil neem nie. Almal is te bang dat dit dalk die verkeerde besluit gaan wees.

Maar, hey, not to worry, want hier kom ons ridder op die wit perd aangery, omring deur die pryssangers van die SABC-koor wat miljoene rand elke jaar kos. Moenie vergeet van die lofsange onder leiding van almal se gunsteling-bankrower, Mzwakhe Mbuli, nie. Mbuli is ’n man wat die kuns van gatlek so verfyn het dat Jacob Zuma elke Saterdagoggend by hom gaan lesse neem.

Die naam Hlaudi kan vervang word met ’n groot aantal ander name, soos Dali, Solly, Phil, Zwelakhe, Lulama … jy kry die idee. Die werk as grootbaas van die SABC is een van die mees gesogte werksaanbiedinge in Suid-Afrika. Niemand voltooi hul kontrak nie en almal kry daai goue handdruk van miljoene – of jy nou jou werk gedoen het of nie.

Die ironie is natuurlik dat die burokrasie by die SABC (dieselfde struktuur wat die meeste kreatiewe mense wat met hulle sake doen tot raserny dryf) die enigste rede is waarom die organisasie nog nie in duie gestort het nie. Soos Europese lande sonder regerings, soos België en die Tsjeggiese Republiek, al uitgevind het, het jy nie eintlik leierskap nodig as jy ’n sterk burokrasie het nie.

Dit beteken nie dat daar ’n visie is nie, dit beteken net dat die daaglikse take sonder enige toekomsplanne steeds verrig word.

En dit word weerspieël in die gehalte van die programme wat op die lug verskyn. Omdat niemand ’n risiko wil loop nie, kry jy geen programme wat iets nuuts skep nie.

Die Natte het hul beheer van televisie ten minste probeer verdoesel. Die ANC doen nie eens die moeite om dit te probeer wegsteek nie. Gwede kan maar sê wat hy wil oor Hlaudi, ons glo hom nie. As Hlaudi uiteindelik die trekpas kry, gaan hy net vervang word met nog iemand wat net so ongeskik vir die werk is soos al sy voorgangers.

My program op SABC3, Jam Sandwich, het sedert 2007 ’n verhoging van net 5% in die koste per minuut gekry. Dit beteken dat ek dieselfde gehalteprogram moet probeer maak vir minder en minder geld, gunste moet vra van personeel om vir minder te werk en ’n kleiner en kleiner wins met elke reeks moet maak.

Maar laat ons dit nou nie net by die SABC laat nie, want wat daar gebeur, het ’n uitwerking op die res van die bedryf. En dis ’n bedryf wat besig is om te sink.

As jy voel dat die gehalte van televisie besig is om af te neem, is jy heeltemal reg.

Met die probleme by die SABC was daar ander dinge wat begin gebeur het. Kleiner maatskappye wat altyd werk by kykNET gekry het, moet nou meeding met die reuse van die bedryf. Aangesien hulle nie meer by die SABC-werk kry nie, moet hulle nou hul inkomste op ander plekke gaan soek.

Die bedryf word beheer deur vier of vyf groot maatskappye. Van hierdie produksiehuise word tot twintig programme tussen die drie uitsaaiers (DStv, SABC en e.tv) gebeeldsend. In baie gevalle twyfel ek of die eienaars van die produksiehuise selfs weet watter programme hul eie is. Dit het ’n worsmasjien geword waar programme net gemaak word sonder dat enige aandag aan gehalte geskenk word. Dis kwantiteit en nie kwaliteit nie wat die groot maatskappye aan die lewe hou.

Omdat die SABC nie sy koste per minuut verhoog nie, kan DStv en e.tv dieselfde ding doen. Deur hul koste per minuut laag te hou, vermeerder hulle hul eie wins, maar die gevolg is dat die bedryf verder en verder agteruitgaan.

Net soos die SABC het kykNET spesifieke produksiehuise wat baie werk vir hom doen. Verteenwoordigers van sommige produksiehuise hang saam met die grootbase uit, hulle doen vir mekaar gunste en is in die algemeen hand om die blaas. Of dit reg of verkeerd is, is nie vir my om te oordeel nie. Die onderwerp word breedvoerig behandel in ons hoofstuk oor korrupsie.

Almal kla oor die SABC se beheer van nuus en hoe dit die regering se agenda voor alles stel, maar wat van kykNET-nuus? Wie weet, dalk is kykNET se nuus ook onderworpe aan sensuur van heel, heel bo af. Nog hoër as selfs kykNET se baas.

KykNET maak hom soms skuldig aan soortgelyke gedrag as die SABC, maar daar is nooit protesoptogte nie. Is dit miskien omdat die Afrikaanse media deur ’n enkele maatskappy beheer word?

Ons gaan nie eens praat oor al die klagtes oor die herhaling van programme op kykNET nie. KykNET is een van die grootste geldmakers vir DStv. Die enigste rede waarom daar nie meer programme is nie, is om die wins groter te maak. Naspers, die eienaar van DStv, se wins vir die 2014–’15 boekjaar was R11,2 miljard. Die jaar daarvoor was dit R8,6 miljard. Dis netto wins, nie bruto nie.

Dit klink nou nie eintlik na die soort maatskappy wat programmakers behoort te druk om goedkoper programme te maak nie.

Die meeste van hierdie wins word natuurlik nie uit televisie gemaak nie, maar dis steeds ’n aansienlike wins.

KykNET en DStv betaal, soos die SABC, geen residuals nie. Dit beteken dat jy eenmalig betaal word om die program te maak en die kanaal kan daarmee doen wat hy wil. As dit aan ander stasies verkoop word en twintig jaar later weer op ander, nuwe platforms (soos die internet) verskyn, is daar geen ekstra geld vir die vervaardiger of die akteurs en aanbieders nie. Die kanale besit dit 100% en kan doen daarmee wat hulle wil. In Amerika, waar daar unies is, is dit nie die geval nie. Elke akteur word tantième betaal as die program weer gewys word of op ander stasies en platforms verskyn. Dit beteken dat plaaslike akteurs en vervaardigers arm doodgaan terwyl die mense wat die televisiekanaal beheer, pensioenfondse het.

Intussen is DStv besig om intekenare te verloor omdat mense eerder na Netflix begin kyk waar jy programme kan kyk wanneer jy wil. Netflix kos R100 per maand met ’n ekstra R40 om jou IP-adres weg te steek. Dis heelwat minder as DStv. As jy van sport hou, kan jy altyd die sosiale ding doen en die wedstryd in ’n kroeg gaan kyk. Dit sal jou heel moontlik steeds goedkoper uitwerk as om DStv te hê.

En net toe jy gedink het dat dinge nie erger kan raak vir televisie in Suid-Afrika nie, maak VIA-televisie sy verskyning.

Om die probleem van VIA te verstaan, moet ek gou eers vir die deursneeleser verduidelik hoe televisie-maak werk.

Televisie se koste word per minuut bereken. ’n Joernaalprogram sal min of meer R5 000 per minuut kry om gemaak te word, game shows R3 500 per minuut en dramas R14 000 per minuut.

Dit is gewoonlik wat dit die produksiehuis kos om die program te maak. So, as jy jou somme wil doen, werk dit soos volg: ’n Drama van 24 minute met 26 episodes sal dus 24 maal R14 000 maal 26 wees. Die R8 736 000 sal deur die produksiehuis se boeke gaan. Op papier lyk dit baie, maar in werklikheid is dit min of meer wat dit kos om die program te maak. Die wins wat die maatskappy daaruit maak, mag nie meer as 10% wees nie. So, as jy een reeks maak, hou dit jou aan die gang vir die duur van die reeks – en miskien drie maande langer. Daarna beter jy jou volgende reeks begin vervaardig, anders het jy nie meer geld om salarisse te betaal nie.

Televisie se wins is nie groot nie.

Met VIA-televisie is die maksimum koste per minuut R2 000. Dit beteken dat VIA drie of vier programme op een dag moet vervaardig om binne die begroting te bly. Dit beteken ook dat jy meer as een program moet maak as jy enigsins ’n wins wil toon. As jy soveel programme in een dag skiet, kan jy nie aandag skenk aan gehalte nie, iets oor doen as dit nie reg is nie, of selfs die program ontwikkel nie.

In baie gevalle is VIA se programme eerder ’n ego boost vir die aanbieder as wat dit hulle bankrekening veel sterker maak.

So, as jy wil weet hoekom televisie swakker en swakker raak: Dáár het jy jou antwoord.

En dit gaan nie beter raak nie. Soos daar groter en groter druk op televisiekanale is om meer geld vir hul aandeelhouers te maak gaan dit erger eerder as beter raak.

Ja, Hlaudi is ’n probleem, maar hy is maar net een van vele wat jou as televisiekyker in die toekoms gaan raak.

As jy daarvan hou om vermaak te word, lees eerder ’n boek. Daar is ten minste nog ’n mate van gehaltebeheer.*

* Hierdie mening word geborg deur die Boekpubliseerdersvereniging van Suid-Afrika. ;-)


#5 Hlaudi Motsoeneng. Hy is duidelik iets wat deur Zapiro geskep is, maar die grappie gaan nou al te lank aan. As Suid-Afrikaners soek ons ons kwota geweld op televisie. Ons is jaloers op die mense wat die hele dag die geleentheid gegun word om goed af te brand terwyl ons by die werk moet sit. Dit is ook nodig dat Hlaudi sy liggaamshouding op rusbanke verbeter. As hy nie iets daaraan doen nie, gaan hy groot rugprobleme hê soos wat hy ouer raak. Hy stel ’n slegte voorbeeld vir ons kinders, want hoe moet ons hulle leer hoe om hulle te gedra as die oom dit mag doen … én hy verskyn nog op TV ook.

#6 Selfie sticks. Die konsep van selfies is reeds ’n probleem, want jy kan netsowel ’n poskaart koop en ’n foto van jouself daarop vasplak. Met ’n bietjie Photoshop kan jy jouself op enige plek in die wêreld plaas. Selfie sticks is gevaarlik – fisiek en vir die siel. Ons het altyd die draak gesteek met Japanse toeriste wat alles afneem, nou is jy self een. Daai selfie stick kan iemand se oog uitsteek, verkieslik jou eie, want in die land van die blindes is eenoog koning en jy wil duidelik ’n koning wees.

#7 Onesies. As jy dit by die huis dra, is dit jou eie saak. Jy kan maar self besluit hoe jy jou bolyf gaan warm hou as jy die toilet moet gebruik. As jy dit in die openbaar dra, kan jy maar netsowel jou haarkrullers ook inlos. As dit veronderstel is om jou soos een of ander cute dier te laat lyk, skuif dit die verlies van jou maagdelikheid met drie maande terug elke keer as jy dit doen.

Melk die heilige koeie

Подняться наверх