Читать книгу Melk die heilige koeie - Deon Maas - Страница 8
4 Jack Parow
ОглавлениеEnigiemand wat Jack Parow en sy musiek verwerp, mag nie hulself Afrikaans noem nie. Lanklaas was daar ’n taalstryder van sulke stoffasie wat die vyand oorrompel en soos ’n wafferse askari gedraai het om hulle saam met hom te laat veg.
Jack Parow vat Afrikaans na plekke waar dit voorheen net kon droom om te wees. Soos Rusland. Onthou jy die Rooi Gevaar? Wel, hulle party nou op Afrikaanse rap.
Hier is die groot verskil tussen iemand wat dink hulle is ’n taalstryder soos Steve Hofmeyr en iemand wat weet hulle is ’n taalstryder soos Jack Parow: gehoor.
Steve Hofmeyr se gehoor bestaan hoofsaaklik uit politieke vlugtelinge wat hulself versprei het in immigrant-vriendelike lande soos Kanada en Australië en dan natuurlik die plekke waar hulle nie eintlik ’n nuwe taal hoef te leer nie, soos België en Holland. Hulle dra swaar aan hul bevoorregte verlede en voel dat hulle beroof is van hul erfenis. Hulle is ouer, praat Afrikaans met nostalgie en gaan altyd voel dat FW hulle verraai het. Die Engelse sou gesê het he’s preaching to the converted.
Ons weet almal nostalgie hou jou terug in plaas daarvan om jou vorentoe te vat. Nostalgiese mense plant nou nie eintlik die saadjies vir enigiets om te groei nie. So, die Afrikaans wat Steve die wêreld invat, hou geen voordeel vir die taal in nie. Sy geveg is nie vir Afrikaans nie, dis net die verskoning daarvoor. Soos ’n pa wat so lief is vir sy dogter dat hy weier dat sy ooit die huis verlaat, universiteit toe gaan en gaan trou. Daar is natuurlik baie probleme in sulke verhoudings. Probleme soos jaloesie, bloedskande en kindermishandeling.
Jack Parow vat Afrikaans na ’n internasionale gehoor wat niks van die taal weet nie. Hy stel jong mense, global citizens, voor aan die jongste taal in die wêreld.
Hy doen dit deur kontemporêre musiek te gebruik en voor mense op te tree wat toegang het tot tegnologie om die boodskap te versprei wat sy taal deel maak van die 21ste eeu. Die mense wat na sy musiek luister, het geen idee wie of wat die Afrikaner is nie. In baie gevalle stel hulle nie eens belang nie, maar hulle gaan altyd die taal onthou en daaroor praat en dalk selfs daaroor oplees. Hy stel Afrikaans bekend aan ’n nuwe gehoor.
So, wie’s beter vir Afrikaans, Steve of Jack?
Kom ons kyk weer na Steve se gehoor in ons hipotetiese gesprek (wel, eintlik monoloog totdat elke leser ook ’n boekkontrak kry).
Steve se gehoor se bure regoor die wêreld het seker gereeld al die stories gehoor van wat ’n lekker land Suid-Afrika was; hoekom hulle die besluit geneem het om dit te verlaat en hoe sleg dinge nou daar gaan. Die bure hoop elke keer as hulle in die koue moet braai dat hulle net nie weer die skuifieprojektor uithaal nie. As hulle huis toe loop, skud hulle hul koppe en voel rêrig jammer vir hierdie verlore boere, die nuwe Voortrekkers wat in die vreemde langs hulle kom woon het. Hulle hoop ook dat hulle nie gou weer oorgenooi word nie, want damn, dis darem rêrig ’n downer om elke keer sulke stories te moet hoor.
O, en dan wonder hulle ook nog hoekom hierdie vent nie eens die moeite doen om musikante saam met hom te laat speel nie. Wat is hierdie backtrack-ding? Is dit ’n variasie op karaoke waar jy net jou eie musiek doen? Maar nee, dan sou hy nie Neil Diamond covers gedoen het nie. So, eintlik is die volksheld maar net ’n karaoke-sanger. Snaaks, hoe het so iemand die redder van ’n taal geword?
Duidelik is hulle indruk van Afrikaans negatief.
Okay, nou kom ons kyk na ’n tipiese Jack Parow-gehoor.
Die Melkweg in Amsterdam is gepak met mense, skouer teen skouer. Die skare staan so dig, jy kan op hul koppe rondloop. Buite staan nog 400 mense wat nie kon kaartjies kry vir die gig nie. Ek word 100 euro’s vir my kaartjie aangebied.
Die gehoor het al almal ’n paar biere en spliffs in. Hulle is opgewonde oor hierdie nuwe ervaring wat hulle gaan hê. Daar kom hierdie snaakse ou met ’n snor en ’n lang pet op die verhoog, iets wat hulle nog nie voorheen gesien het nie. Hy kombineer ’n onbekende taal met vet beats wat die musiek waaraan hulle gewoond is, reflekteer. Al sing hy in ’n taal wat hulle nie verstaan nie, verstaan hulle die musiek. Dit beteken hulle gaan môre probeer om die lirieke uit te figure op die internet. Langs my staan ’n Poolse vrou wat danksy die poging van die Hertzogpryswenner Tertius Kapp vlot Afrikaans praat. Ek dink nie ek sal haar sommer by ’n Steve gig sien nie. Konsert, eerder konsert. Steve het nie gigs nie, hy’t konserte.
Halfpad deur die vertoning laat Jack alles tot stilstand kom. Hy oortuig die hele gehoor om op hulle hurke af te gaan en hy speel met hulle. Honderde jong mense wat die sake van die wêreld oor die volgende paar jaar gaan beïnvloed, eet uit sy hand. Dan kom Francois van Coke op die verhoog en hulle doen ’n duet wat die dak lig. Ná die gig gaan ’n opgewonde skare weg en vertel vir almal daarvan.
Vertel jy my wie meer vir Afrikaaans doen.