Читать книгу Melk die heilige koeie - Deon Maas - Страница 4

Voorwoord

Оглавление

Daar is ’n ou grappie wat lui:

As jy drie Indiërs bymekaar sit, stig hulle ’n maatskappy.

As jy drie Zoeloes bymekaar sit, stig hulle ’n vakbond.

As jy drie Afrikaners bymekaar sit, stig hulle af.

Die Afrikaner-geen is ’n dwarstrekker-geen. Ons gene bestaan uit die bloedlyn van mense wat hier beland het omdat hulle met almal baklei het waarvandaan hulle gekom het. Hulle het met hul regering baklei, met hul bure en met hul kerk.

Toe trek hulle. Nie ’n paar blokke of plase weg nie, nie na die volgende dorp nie en ook nie na ’n aangrensende land nie. Hulle het op ’n skip geklim, waar hulle skeurbuik en siektes kon opdoen en dalk nie lewendig aan die ander kant sou uitkom nie, na ’n nuwe kontinent. Hierdie kontinent was so onverkend dat die meeste kaarte net die kuslyn gewys het, die binneland was leeg. Wel, nie leeg nie, die kartograwe het gedink dis leeg.

So, nou het ons hierdie dwarstrekker-gene wat mekaar vir die eerste maal ontmoet by die Kaap de Goede Hoop. Hulle kan nie eens mekaar se taal verstaan nie, maar hulle deel een ding – ’n ongelukkigheid met waar hulle vandaan kom.

Die wyndrinkers bly in die Kaap agter, die res trek die binneland in. Daar is al klaar ’n verskil tussen die twee groepe, die wyndrinkers en die trekkers. Die trekkers baklei met mekaar, party eindig in Pretoria, party in Natal, party in Potchefstroom.

Dié wat in die ou ZAR eindig, kan nie ooreenkom oor wat moet gebeur nie. Daar is sprake van twee hoofstede, Pretoria en Potchefstroom – God behoede ons. Party dink dat van die ander heeltemal te liberaal is en trek deur ’n woestyn om in die suide van Angola te eindig, waar hul bloedlyn doodloop onder die oormag brandewyndrinkende Portugese en plaaslike mense met wie hulle nie kan assimileer nie.

Dis wie ons is, ’n groep mense wat een naam en duisende opinies het.

Vandag, danksy verbeterde kommunikasie, is daar ’n nuwe geslag van ons. Dié wat ons van ’n postapartheid- (of is dit pro-apartheid?) groep na die nuwe beloofde land moet lei. Ook die jonger geslag wat wil hê dat ons deel van die wêreld moet wees en nie verder laer trek nie.

Hierdie nuwe geslag dwing ons om al ons heilige koeie in heroorweging te neem. Om besluite te neem en opinies te hê wat ons deel maak van ’n groter som sonder dat ons ons identiteit verloor.

Die Zoeloes het die regte spreekwoord hiervoor: umuntu ngumuntu ngabantu – ’n mens is ’n mens danksy ander mense.

Heilige koeie kan nie meer heilig wees nie. Ons isolasie as nasie is verby. Ons staan nou op ons eie voete, op die graf van ’n politieke ideologie wat ander benadeel en ons groei gekortwiek het.

Dis ook hoog tyd dat ons ’n humorsin ontwikkel wat nie Leon Schuster is nie. Tyd om vir onsself te lag en nie vir die bure nie.

As jou tong in jou kies is, gaan jy baie skade opdoen in ’n vuisgeveg. Dis jou keuse.

Melk die heilige koeie

Подняться наверх