Читать книгу Melk die heilige koeie - Deon Maas - Страница 9
5 Platemaatskappye
ОглавлениеTwintig jaar gelede was daar vyf groot platemaatskappye in die wêreld. Vandag is daar drie heelwat kleiner platemaatskappye in die wêreld. Hoe dít gebeur het, is ’n baie interessante storie.
Dis ’n storie van mense met groot koppe, groot ego’s en ’n onwilligheid om aan te pas by veranderende omstandighede. Dis ’n storie van hoe nuwe tegnologie die groot Babelse toring kon wegskaaf, een houtkerf op ’n slag, en hoe mense te laat wakker skrik en hulle in die middel van ’n groot gemors bevind en dan nie weet hoe om die probleem op te los nie.
Sedert rock and roll die wêreld in die 1950’s popkultuur gegee en die generasiegaping geskep het, was platemaatskappye koning. Hulle het die reëls gemaak en as jy jou musiek wou uitreik, moes jy dans op die maat van hulle musiek, wat deur iemand anders gemaak is.
Platemaatskappye het ’n doodsgreep op musiek gehad. Voor die groot platemaatskappye was musiek kuns. Iets waarop mense gedans, gedrink, gesels en geseks het. Platemaatskappye het dit in ’n besigheid verander.
Hierdie greep wat hulle op musiek gehad het, het alle aspekte daarvan ingesluit. Radio en televisie was vinnig onder hulle beheer. Radiostasies het musiek nodig gehad om tussen advertensies te speel. Hoe meer mense van die musiek gehou het wat die radiostasie speel, hoe meer mense het daarna geluister. Hoe meer mense daarna geluister het, hoe duurder het hulle advertensies geraak en hoe meer geld het hulle verdien.
Dis nie soos dit aan die begin was nie en dit was dalk nie die oorspronklike plan nie, maar dis wat gebeur het.
Die kleiner platemaatskappye het nie direkte toegang tot die radiostasies gehad nie, want die groot platemaatskappye het seker gemaak dat die platejoggies speel wat hulle wou hê hulle moes speel. Op dié manier het hulle seker gemaak dat hulle die publiek se smaak beheer.
Die eerste payola-skandaal, waar platemaatskappye radio betaal om sekere liedjies te speel, het reeds in die laat vyftigerjare gebeur. Dit gebeur steeds, maar niemand praat daaroor nie. Dis soos jou stadige neef wat weggesteek word en net toegelaat word om met die res van die familie te meng as dit Kersfees is.
Met die koms van MTV in die vroeë tagtigerjare het dit nóg moeiliker geraak vir kleiner platemaatskappye om saam te speel. Die koste van video’s het beteken dat jy ’n redelike begroting moes hê om saam te speel. Die eerste video wat meer as ’n miljoen dollar gekos het, is reeds in die tagtigs gemaak. Vandag, amper veertig jaar later, word daar nog vollengte Suid-Afrikaanse flieks vir minder as dit gemaak.
Die platemaatskappye het hulle mag gebruik om almal weg te hou van hul sandput af. As iemand toevallig en per ongeluk begin uitblink het, het hulle die maatskappy doodeenvoudig uitgekoop en deel van hul groter maatskappy gemaak. Dit was Kapitalisme 101.
Is die internet ontdek of ontwerp? Welke een van die twee dit ook al was, dit was moeilikheid vir die platemaatskappye.
Met tegnologie wat goedkoper geraak het, het dit moontlik geword vir musikante om musiek goedkoper op te neem. ’n Ateljee wat eens miljoene gekos het, kon danksy 1’e en 0’e nou in ’n slaapkamer gerepliseer word. Dit het beteken dat almal nou hul eie musiek kon opneem. Dit was nie net die een of twee gelukkiges wat ’n kontrak by platemaatskappye losgeslaan het nie.
In Suid-Afrika het die negentigs ’n double whammy vir Afrikaanse musiek ingehou. Ná 1994 is die beperkings op Afrikaans as taal gelig. Die SAUK, ATKV en die FAK kon nie meer bepaal watter musiek bevorder sou word nie. Afrikaans was ewe skielik vry. Gekombineerd met toeganklike tegnologie het die twee nuwighede ’n groot ontploffing veroorsaak.
Die platemaatskappye het nie geglo die internet hou ’n gevaar vir hulle in nie. Met die uitsondering van grootskaalse rowery was daar voorheen geen bedreiging vir hul produk nie. Die internet, so het hulle geglo, is vir pornografie en nerds, nie die cool mense aan wie hulle musiek verkoop het nie.
Hulle het veilig in hul limousines en hoë torings gesit en gedink dat die internetwind wat gewaai het nie hulle hoë boom sou affekteer nie. Wat hulle nie besef het nie, is dat die internet van almal rowers sou maak.
Hulle is vinnig verkeerd bewys. Hulle kon steeds die kommersiële musiek identifiseer en ontwikkel, maar hul koste het gestyg en hul profyte het gedaal omdat die luisteraars gevoel het dat hulle ’n reg het om musiek te besit sonder om daarvoor te betaal. Hulle laaste goue oomblik was die ontdekking van die CD, ’n formaat wat hulle hard bemark het omdat almal hulle ou musiek vervang het en hulle dekades-oue albums wat al lank vergete was en ophou verkoop het, weer op die mark kon sit. Mense het dit weer gekoop.
Hulle het miljoene dollars uitgegee om te keer dat mense onwettige kopieë van CD’s maak, maar niks kon die tsoenami keer nie. Sony het jare en baie geld gespandeer om seker te maak dat niemand sy CD’s kon dupliseer nie. Maar iemand het uitgevind as jy ’n koki-pen teen die plat kant van ’n CD vryf, dit die antiroof-sagteware neutraliseer. So much for that.
Omdat platemaatskappye nie meer hul kunstenaars kon beskerm nie, het die kunstenaars besef hulle kan die internet gebruik om hul eie musiek te bemark. Jy het nie meer radiostasies nodig gehad om jou musiek te speel nie. Jy kon dit direk na die publiek toe vat, die middelman uitskakel en pleks om tantième van tussen 6% en 15% te verdien, kon jy alles vir jouself hou.
Die eerste Afrikaanse kunstenaar wat dit besef het, was Chris Chameleon, wat danksy ’n goeie besigheidsin homself ryk gemaak het met albums waarvan duisende verkoop is. Albums wat hyself opgeneem, gedruk, versprei en bemark het. Dis dié dat hy ’n Vrystaatse dorp besit.
Soos die mag van die platemaatskappye getaan en hul profyte minder geraak het, het hulle begin saamsmelt. Die probleem van ’n burokrasie versus ’n terroriste-organisasie is dat dit te lank vat vir ’n burokrasie om te verander, terwyl ’n terroriste-organisasie vanoggend ’n besluit kan neem en dit vanmiddag implementeer.
Vandag is die groot platemaatskappye maar ’n skaduwee van wat hulle eens was. Hulle is steeds so windgat soos altyd, maar hulle hoop maar dat alles lank genoeg gaan hou sodat hulle pensioenfonds gaan uitbetaal.
As die storie hier geëindig het, sou dit ’n suksesverhaal gewees het van hoe die proletariaat groot besigheid se knaters geknip en gekeer het dat die verrotting van musiek ophou.
Ongelukkig is dit nie die geval nie.
Musiek speel ’n groot rol in ons almal se lewe. Dis daar as jy in die hysbak klim of inkopies doen. Dis jou geselskap as jy alleen in jou motor ry. Ons het ’n emosionele konneksie met musiek wat sekere gebeure in ons lewe terugbring en ons daardie selfde emosies laat ervaar as toe ons die liedjie op ’n spesiale oomblik gehoor het.
Die val van platemaatskappye was veronderstel om weer daardie deel van musiek vir ons terug te gee. Om vir ons die geleentheid te gee om dit wat van ons gesteel is deur groot besighede weer ons eie te kan maak.
Die enigste rede hoekom ek nie op die grafte van die platemaatskappye gaan urineer het nie, is dat ek dit haat om in ’n tou te staan.
Die dood van platemaatskappye het nuwe probleme geskep wat musiek vandag selfs meer van ’n kommoditeit maak as wat dit voorheen was.
Jy kan by enige partytjie sit met mense wat dieselfde as jy dink en iemand kan tien nuwe albums noem waarvan jy nog nie van een gehoor het nie. En dan kan jy dieselfde doen. Platemaatskappye het gedien as ’n filter om die goeie van die slegte te skei. Dit het sewesyfer-getalle gevat om iets nuuts daar te stel en teen daai tyd moes dit mooi netjies in ’n boksie inpas of dit het nie gewerk nie.
Die onafhanklike platemaatskappye het gedien as ’n voergrond om nuwe talent te ontwikkel. Die sukses van Nirvana is ’n goeie voorbeeld hiervan.
Noudat daar nie meer ’n filter is nie en elkeen hul eie musiek kan opneem en versprei aan die algemene publiek deur die internet, het die standaard drasties afgeneem. Vra maar vir enige Afrikaanse kunstenaar wat deel was van die groot doef-doef-ontploffing van ’n dekade gelede. Die Afrikaanse publiek het enigiets gekoop, aanvaar dat backtracks die norm is en elkeen sy oomblik in die son gegee.
Die kunstefeeste se parkeerplekke was vol duur, geborgde vans met kunstenaars se gesigte op die kant wat van fees tot fees beweeg en groot geld gemaak het.
Daar is name wat duisende mense gelok het en vandag nie eens ’n “waar is hulle nou?”-artikel in die plaaslike koerant sal kry nie. Die gehore het uiteindelik besef dat hulle meer verwag van hulle vermaak en met voete wat wegloop, gestem. As jy kyk na Huisgenoot se Skouspel selfs so onlangs as vyf jaar gelede, is daar name wat jy vaagweg onthou en miskien kan jy nog een liedjie neurie. En dan wonder jy wat daai sangers vandag doen om die huur te betaal.
Die internet was nie die enigste probleem ná die val van platemaatskappye nie. Radiostasies se formate het nie verander nie, selfs al het die musiek verander. Dit het beteken dat die nuwe musiek steeds in ’n bepaalde formaat moes wees. Daar is uitsonderings op die reël soos Arctic Monkeys, wat eers beroemd op die internet geword het en hulself so groot gemaak het dat radio hulle nie kon ignoreer nie.
Die groot platemaatskappye is vervang met ’n klomp kleineres. Terwyl die groot platemaatskappye ’n sekere verantwoordelikheid teenoor hulle aandeelhouers gehad het, en skeef soos hulle was, darem by sekere wette en reëls gehou het, het baie van die nuwe, kleiner maatskappye niks van dié verantwoordelikheidsin nie.
In die verlede is verskeie platemaatskappye daarvan beskuldig dat hulle nie die regte bedrae tantième uitbetaal het nie. Ná Miriam Makeba se dood het ’n amperse hofsaak beteken dat miljoene rande aan haar boedel uitbetaal is deur haar platemaatskappy, Gallo. Kunstenaars soos Groep Twee en Gé Korsten het dekades gelede reeds die regte op hul musiek verbeur, maar vandag sou hulle heel moontlik met slim regsmense aan hul kant miljoene uitbetaal kon gekry het.
Die kleiner platemaatskappy werk soos die dopstelsel. As ’n kunstenaar vra vir geld, sal hulle iets kry. As hulle nie vra nie, sien hulle niks of baie min. Die eienaars van hierdie maatskappye doen geen verantwoording teenoor hulle kunstenaars nie. En as die kunstenaar te veel geraas maak, word hulle kontrak beëindig en word kontrakte met iemand anders gesluit. Einde van die storie.
So, die les is: As jy wil musiek maak, gaan jy altyd aan die kortste ent trek, behalwe as jy groot genoeg is om soveel geraas te maak dat dit grootbase bang maak.
Dieselfde musiek wat jou gelukkig maak, herinner aan jou eerste close dance onder ’n rooi lig in iemand se motorhuis of jou eerste seks, het heel moontlik ’n ander geskiedenis vir die musikant wat dit geskep het. Dis amper soos om Nikes te koop wat jy weet deur ’n sewejarige kind in ’n fabriek in China gemaak is wat 10 sent per uur verdien.
Die val van die groot platemaatskappye het niks verander aan die lot van die musikant nie. Jy kan steeds ’n legende soos Lance James of Julian Laxton in jou plaaslike kroeg sien speel op ’n Dinsdagaand. Ná die tyd pak hy sy klankstelsel en instrumente in ’n afgeleefde bakkie voordat hy huis toe ry. Môreoggend as jy in die verkeer sit op pad werk toe, staan hy of sy op in ’n huisie wat hulle gekoop het toe hulle nog goeie geld gemaak het, kyk na gisteraand se geld en besluit of hulle ontbyt gaan maak met wat ook al in die yskas is. Of hulle hoop maar dat die plek waar hulle in die middagetensuur speel, ’n gratis maaltyd gaan bied.