Читать книгу Melk die heilige koeie - Deon Maas - Страница 5
1 Die taal van ’n rewolusie
Оглавление“An attempt is being made by a number of jokers near Cape Town to reduce the ‘Plat Hollands’ of the streets and the kitchen to a written language and to perpetuate it. They are carrying on the joke well. They have a newspaper, have published a history of the colony, an almanack and to crown the joke – a grammar. It is impossible to read these productions without laughing, because one cannot help feeling that the writers are themselves laughing while they write. The spelling, the words, the idioms, the grammar – all is such as may at any time be taken phonetically from the mouth of any old Hottentots.”
– The Argus, 13 September 1877
Afrikaans het hom nog altyd in ’n struggle bevind.
Die eerste mense wat Afrikaans begin praat het, was gewikkel in ’n struggle met dié wat wou vasklou aan die Suid-Hollandse dialek wat Kaap toe gebring is deur die eerste setlaars. Nadat Afrikaans deel van die volksmond geword het, was dit gewikkel in ’n struggle met die Engelse, wat – tot 1925 – geweier het om dit as ’n amptelike taal te erken. Op 16 Junie 1976 het Afrikaans deel geword van Suid-Afrika se struggle toe die verpligte onderrig daarin as katalisator vir opstand teen die regering gedien het. En in 1994 het Afrikaans se struggle begin om net ’n taal te wees in plaas van ’n politieke stelling.
Geen wonder dat “struggle” in die sesde uitgawe van die Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal (HAT) wat in Augustus 2015 uitgereik is, as ’n Afrikaanse woord erken word nie.
In die begin was daar Suid-Hollands. Dit is waar die meeste van die eerste Kaapse setlaars vandaan gekom het, van dié dele wat vandag Suid-Holland en Noord-België is.
Die historiese beginpunt van Afrikaans kan as 1691 beskou word. Dit was die eerste jaar dat daar meer kinders aan die Kaap gebore is as wat daar nuwe setlaars aangekom het. Die term Afrikaans is dan ook ’n afleiding van “Afrika-Hollands”. (Dieselfde het met die slawe gebeur. Teen 1780 is daar nie eintlik meer slawe ingevoer nie; die meeste is hier gebore en dit het die ontwikkeling van Afrikaans aangehelp.)
Daar was verskeie benamings vir die taal, onder meer “Kombuis-Hollands”.
Daar was nie spel- en grammatikareëls nie. Afrikaans is gebore in die volksmond en het ontwikkel vanweë ’n behoefte onder ’n groep mense wat van verskillende plekke gekom het om mekaar te kon verstaan.
Suid-Afrika se sensussyfers van 2011 wys 6,85 miljoen mense in die nege provinsies praat Afrikaans. Net ’n dekade vroeër was dié getal 5,98 miljoen. Na raming is daar sowat 10 miljoen Afrikaanssprekendes wêreldwyd in lande soos Namibië, Botswana, Brittanje en natuurlik Australië. In sommige openbare biblioteke in Australië is daar selfs afdelings vir Afrikaanse boeke.
Reg van die begin was Afrikaans dus in ’n stryd om oorlewing gewikkel. In 1948 toe prof. J.J. Smith in die Hofmeyr-stigting-lesings sy navorsing bekend gemaak het onder die titel Theories About the Origin of Afrikaans, het hy gevoel dat Afrikaans 95% gegrond was op Hollands. Hy het die invloed van Portugees-Maleis en die plaaslike swart bevolking verwerp.
In teenstelling hiermee het prof. Hermann Giliomee in 2003 in ’n lesing getiteld The Rise and Possible Demise of Afrikaans as a Public Language die invloed van Portugees-Maleis op Afrikaans beklemtoon en gevoel dat dit en die plaaslike tale ’n baie groter rol in die skepping van Afrikaans gespeel het as wat vroeër gedink is.
Portugees-Maleis was ’n taal wat deur die vroeëre Portugese seevaarders gepraat is. Dit het sy ontstaan gehad in kusstreke waar die Portugese handel gedryf het met die plaaslike bevolking en het oor eeue heen ontwikkel. Dit het gedien as die eerste lingua franca en kommunikasievorm tussen die burgers en die mense wat reeds in die Kaap was.
’n Derde teorie is dat Afrikaans ’n kreoolse taal is. Kreools word beskryf as “die proses van assimilasie waarin aangrensende kulture bepaalde eienskappe deel wat ’n beduidende nuwe kultuur vorm”. Volgens dié teorie het die taal ontwikkel as ’n kommunikasievorm tussen die Hollandse setlaars, swart Afrikane en Suid-Asiatiese slawe.
Een feit staan soos ’n paal bo water: Hoe verder jy van Kaapstad gewoon het, hoe sterker was die invloed van Afrikaans en hoe swakker die invloed van Hollands. Die Kapenaars het steeds kontak gehad met die suiwer Hollands van die besoekende matrose, terwyl die mense in Stellenbosch minder kontak gehad het en dus ’n groter rol gespeel het in die ontwikkeling van Afrikaans.
Natuurlik het die Kapenaars neergesien op die Stellenbossers. Die Engelse het ook neergesien op Afrikaans en koerante soos The Star, The Argus en The Cape Times het neerhalend na die taal verwys.
Maar die grootste teenstanders van Afrikaans was die beter opgevoede Afrikaners. Dit is in die Kaap beskou as ’n “hotnotstaal” vir ongeletterdes en plaasmense.
Teen die tyd van die Groot Trek in 1838 was daar reeds drie baie herkenbare vorms van Afrikaans. Kaapse Afrikaans is sterk beïnvloed deur die taal van die Maleisiese slawe wat gebroke Portugees ingesluit het. Oranjerivier-Afrikaans het sterk invloede van Khoi en die dialekte van Namakwaland en Griekwaland-Wes gehad. Oosgrens-Afrikaans is hoofsaaklik gepraat deur die boere wat deur die Oos-Kaap na Natal getrek het.
Maar die grootste ontwikkeling in Afrikaans het gekom danksy die Moslems.
Moslems in die Kaapkolonie is die eerste keer in 1804 toegelaat om hul godsdiens openlik te beoefen. Die gebruik van Afrikaans het gehelp om dié diverse gemeenskap te verenig.
In 1815 is daar begin om Maleis in Moslem-skole in die Kaap te vervang deur Afrikaans. Afrikaans is geskryf in die Arabiese alfabet. Dit het die taal ’n groot hupstoot gegee en gelei tot wat vandag Kaaps genoem word.
Teen 1840 is die eerste Afrikaanse instruksies vir die Moslem-geloof gepubliseer en in skole gebruik. Hulle het egter steeds die Arabiese alfabet gebruik en dit foneties geskryf. Teen dié tyd was ’n derde van alle Kapenaars Moslems. Alle lees- en skryfoefeninge in die skole is op dié manier gedoen en die instruksieboeke is “koplesboeke” genoem.
In 1856 het die Kaapse drukker M.C. Schonegevel die eerste boek in Afrikaans gedruk: Sjeik Ahmad al-Ishmuni se The Book of the Firm Declaration Regarding the Explanation of the Matters of Religion (Engelse vertaling).
Abu Bakar Effendi, ’n Moslem-heilige van Turkye, is Kaap toe gestuur om die godsdiensverskille tussen die Maleiers in die Kaap te kom oplos. Hy was in 1860 hier en dis sy aangepaste alfabet, Arabies-Afrikaans, wat die voertaal onder Moslems geword het. Sy eerste Afrikaanse publikasie is in 1860 in Istanboel gedruk.
Een ding wat ons moet onthou, is dat die amptelike voertaal in die Kaap in hierdie stadium steeds Hollands was. In die regering, die howe en die skole is Hollands gebruik. Baie min mense kon dit egter vlot praat en nog minder kon dit skryf.
Arnoldus Pannevis het in 1874 in De Zuid Afrikaan ’n artikel geskryf getiteld “Is die Afferkaans wesenlijk een taal?” Pannevis, ’n Hollandse immigrant, het dit opgevolg met ’n brief aan die British and Foreign Bible Society waarin hy sy misnoeë uitspreek oor die feit dat die meeste mense nie meer die Bybel in Hollands kon verstaan nie. Hy het aanbeveel dat ds. S.J. du Toit van die Paarl aangestel word om ’n vertaling in Afrikaans te doen.
Du Toit het op 14 Augustus 1875 ’n klomp invloedryke mense bymekaargekry en die Bybel-vertaling is eers laat vaar (en sou uiteindelik eers in 1933 kom). Daar is besluit om die taal en die geleentheid eerder te gebruik om Afrikaners te verenig om die Britse politieke, kulturele en ekonomiese oorheersing teen te staan. Dit het gelei tot die stigting van die Genootskap van Regte Afrikaners.
Hulle het besluit om die taal aan die nasionaliteit van die volk te koppel. Hulle wou nie hê dat “Hottentots-Afrikaans die norm raak nie”. Hulle het besluit dat die “beskaafde deel van Afrikaans” geformuleer word.
Dit het gelei tot die publikasie van die eerste stel reëls vir grammatika en spelling en godsdiens- en geskiedenistraktate. Die Afrikanerbond, wat Du Toit in 1879 gestig het, was die eerste politieke party wat die daarstelling van Christelik-nasionale onderwys nagestreef het. Sy mondstuk, Die Afrikaanse Patriot, is die eerste keer op 15 Januarie 1876 gepubliseer.
Met die publikasie van hierdie reëls is Kaaps uitgesluit. Kaaps is dus gesien as ’n dialek, al was Hendrik Bibault en Oude Ram die eerste wat na hulself as Afrikaners verwys het.
Ná die Anglo-Boereoorlog van 1899–1902 wat allerweë beskou word as Afrika se eerste “vryheidsoorlog”, was Engels die amptelike voertaal en Afrikaans is verbied in alle amptelike kommunikasie van die regering. Dit was die pogings van Louis Botha en Jan Smuts tydens die Nasionale Konvensie in 1908 en 1909 (hul weergawe van Kodesa waar die grondwet van die Unie van Suid-Afrika opgestel is) wat bepaal het dat Hollands dieselfde status as Engels geniet. Kort hierna is die ontwikkeling van Afrikaans in skole versnel om meer mense geletterd te maak. Teen 1915 het slegs 15% van alle Afrikaanse kinders onderrig hoër as st. 5 (gr. 7) gehad.
Daar het steeds ’n stigma aan Afrikaans gekleef. Daar was min geskrewe werke en dis beskou as ’n armmanstaal. Tog was daar ’n sterk gevoel dat Afrikaans Hollands moes vervang, aangesien dit die taal was wat aan moedersknie geleer is.
Hier kom C.J. Langenhoven in die prentjie. Hierdie onbekende prokureur van Oudtshoorn het in 1910 sy kredo gepubliseer waarin hy dominees aangemoedig het om afstand te doen van die Hooghollands wat op die preekstoel gebruik is. Hy het Afrikaans as “ons grootste eer en besitting” bestempel. Hy was trots op die feit dat dit op plaaslike bodem geskep is.
Die Afrikaner-nasionaliste het besef hul taal maak hulle anders as Engelse mense. Dit was ’n waterskeidingsoomblik.
Jan Hendrik Hofmeyr de Waal, die skrywer van die eerste Afrikaanse roman, was een van die min taalaktiviste wat wou hê die term “Afrikaner” moet mense van alle kleure insluit. Hy het die stryd gesien as een tussen Afrikaners en die Engelse imperialiste en mynmagnate. Hy het sterk standpunt ingeneem dat mense nie die bruin gemeenskap teen die Afrikaner laat draai nie. “Die twee groepe,” het hy gesê, “praat dieselfde taal en het dieselfde liefde vir Suid-Afrika.”
In sy eerste uitgawe in 1931 het einste Die Taalgenoot wat jy vandag nog lees, uit sy pad gegaan om eweneens te beklemtoon dat die bevordering van Afrikaans nie beperk is tot wit mense nie.
Dit was egter ’n minderheidsopinie en teen die vroeë dertigerjare het die Nasionale Party die bedreiging van die Verenigde Party (wat heelwat bruin steun geniet het), probeer neutraliseer deur bruin kiesers van die kieserslys te verwyder.
In dieselfde tyd het Afrikaans as taal sy merk begin maak in gevorderde navorsing in die kunste en geesteswetenskappe. Afrikaans was besig om ’n regte taal te word.
Die Afrikaner, wat tot die laat 1800’s grotendeels ’n boerevolk was, is stad toe gedwing deur ’n verskeidenheid sosio-ekonomiese gebeure. Die Britte se verskroeide-aarde-beleid tydens die Anglo-Boereoorlog was een. Die runderpes, die Groot Griep en die Groot Depressie het ook daartoe bygedra dat die Afrikaner sy heil in die stede gaan soek het.
In 1904 het slegs 6% van Afrikaners in stede gewoon; teen 1936 was dit 44% en teen 1960 76%.
Omdat hulle ongeleerd was en net geskik vir handearbeid, moes hulle aanvanklik meeding met swart mense en Engelse. Saam met die frustrasie van verstedeliking het maatskaplike probleme begin kop uitsteek. Die invloed van die kerk, wat in die klein gemeenskappe op die platteland dinge kon beheer, het gekwyn. Alkoholisme, kindermishandeling en armoede het daartoe gelei dat amper ’n derde van Afrikaners verarm het.
Om na sy mense te kon omsien, het die Afrikaner al hoe meer op sy politieke mag gesteun vir die bevordering van Afrikaans. Een van dié maniere was deur kultuurprojekte.
Boeremusiek was die gewildste vorm van musiek in die 1930’s. En dit was nie die boeremusiek wat ons vandag ken nie. Hierdie ouens het gesing ook. Hulle het groot Cadillacs gery en vet partytjies gehou. Een van die grootste sterre, David de Lange, het ’n treffer gehad met die lirieke “maak ’n doppie, maak ’n stoppie, al die rokers bymekaar”.
Een van die eerste dinge wat die Nasionale Party ná sy bewindsoorname in 1948 gedoen het, was om boeremusiek oor die radio te verbied. Die Afrikaner, so het die ringkoppe gemeen, is nie deel van Afrika nie en boeremusiek het te hard gesteun op hierdie invloede.
Dr Anton Hartman, destyds hoof van musiek by die SAUK, het begin om Europese liedjies in te voer en in Afrikaans te vertaal. Op dié manier het hy probeer om die Afrikaner se Europese identiteit te behou. Dié gebruik duur tot vandag toe voort.
Tydens die 46 jaar wat die Nasionale Party aan die bewind was, het Afrikaans hoogty gevier. Verskeie Afrikaanse universiteite is gebou, die staatsdiens was amper eksklusief Afrikaans en organisasies soos die Broederbond het seker gemaak dat Afrikaners eerste geholpe raak.
Kultuurorganisasies wat die Afrikaanse saak bevorder het, het staatsteun gekry en is ook deur die regering gebruik as platform om sy politieke idees te bevorder. Banke is gestig wat goedkoop lenings aan boere gegee het. Die taal is vereenselwig met apartheidspolitiek en terwyl Afrikaanssprekendes voordeel daaruit getrek het, het die taal internasionaal ’n vloekwoord geword.
Met die koms van die nuwe Suid-Afrika het talle mense gedink die doodsklok lui vir Afrikaans.
Presies die teenoorgestelde het gebeur. Afrikaans, as onbeskermde taal, het gegroei danksy sy vermoë om hom te herskep as ’n kommersiële entiteit. Sonder die tradisionele beskerming van kultuurorganisasies het Afrikaans ook vir die eerste keer verder ontwikkel. Bevry van alle beperkinge het die saadjie ontkiem wat in 1988 deur die Voëlvrybeweging geplant is.
Vir die eerste keer is popkultuur toegelaat om ’n invloed te hê op die ontwikkeling van Afrikaans. Kunstenaars soos Fokofpolisiekar en Jack Parow het die taal vir ’n nuwe geslag Afrikaners herskep. Hulle het die taal by die politieke meesters weggegryp en dit weer cool gemaak om Afrikaans te wees.
Die beste en suksesvolste Suid-Afrikaanse rolprente, sepies en boeke is in Afrikaans. Kunstefeeste soos die KKNK en die Woordfees hou Afrikaanse teater lewend. Daar was MK en daar is steeds Huisgenoot. Daar is ook 7de Laan en Deon Meyer. Die meeste advertensiegeld word steeds in Afrikaans bestee.
En nou is Kaaps ook terug. En die HAT spog met woorde soos “gattas”, “gabba”, “laaitie” en “sharp”. Die taal het beslis gevorder – van “dis ons erns” tot “kyk hoe lyk ons nou”!