Читать книгу 13 uur - Деон Мейер - Страница 10
5
ОглавлениеDie verkeer is nou onmoontlik. Net om van Langstraat tot in Buitengracht te kom, neem hom 15 minute. Teen Buitensingel se bult op staan hulle buffer teen buffer. Hy drink die laaste van die soet koffie. Dit sal hom hou tot hy iets te ete kry. Maar sy plan om Carla se e-pos gou te gaan aflaai, is nou daarmee heen. Dit sal seker moet wag tot vanaand toe. Hy is nou al ’n week van lyn af met die verdomde rekenaar; hy kan seker tot dan toe wag. Carla sal verstaan, want hy het van die begin af moeilikheid met die blikbrein gehad. Hoe moes hy weet jy kry skootrekenaars wat nie ingeboude modems het nie? Hy’t die ding op ’n polisieveiling van onopgeëisde gesteelde goedere gekoop vir ’n helse winskoop ’n week nadat sy dogter Londen toe vertrek het. Want hy wou weet hoe dit met haar gaan, sy Carla, wat “eers haar kop oorsee wil gaan skoon kry” voor sy besluit wat om met die res van haar lewe te doen.
Hoe kry jy jou kop skoon as jy vloere stofsuig in ’n hotel in Londen?
Dit het hom R500 gekos om die rekenaar aan die Internet gekoppel te kry, want hy moes ’n modem gaan koop en ’n Internet-diensverskaffer kry en drie uur lank met ’n mannetjie oor die telefoon praat net om die ding se konneksie reg te kry en toe wil Microsoft Outlook Express nie werk nie, nog ’n uur op die telefoon om dit opgelos te kry voor hy ’n e-pos vir Carla kan stuur om te sê Hier is ek, hoe gaan dit met jou? Ek verlang na jou en ek bekommer my oor jou. Daar was ’n artikel in Die Burger wat sê die Suid-Afrikaanse kinders in Londen drink baie en maak moeilikheid. Jy moet jou nie laat beinvloed nie …
Dis hoe hy uitgevind het dat om ’n kappie op ’n skootrekenaar se “e” te sit is net omtrent onmoontlik en hy het heeltemal moed opgegee met die deelteken in “beinvloed”.
Liewe Pappa
Ek het werk gekry in die Gloucester Terrace Hotel naby Marble Arch. Dit is ’n mooi deel van Londen, naby Hyde Park. Ek is ’n skoonmaker. Ek werk van tienuur in die oggend tot tienuur in die aand, ses dae per week, met Maandae af. Ek weet nie hoe lank ek dit sal kan doen nie, dit is nie baie lekker nie en die pay is maar min, maar dis darem iets. Die ander meisies is almal Pools. Die eerste ding wat hulle gesê het toe ek sê ek is van Suid-Afrika is “maar jy is dan wit”.
Pappa weet ek sal nooit drink nie …
Hy het dié woorde gelees en dit het regdeur hom gebrand, die wete, skielik weer nuutgemaak, van die skade wat hy aangerig het. Carla sal nooit drink nie, want haar pa is ’n alkoholis wat sy hele gesin opgefok het. Want jy kan vir eenhonderd-ses-en-vyftig dae al nugter wees, maar jy kan nie die verlede uitvee nie.
Toe weet hy nie wat om vir haar terug te skryf nie, sy woorde opgedroog deur sy onsensitiewe blaps. Eers twee dae later het hy haar lomp geantwoord, vir haar vertel van die fiets wat hy ry en sy oorplasing na die Provinsiale Taakspan. Sy het hom aangemoedig. Dit is so lekker om te weet wat in Pappa se lewe aangaan. Baie interessanter as myne. Ek werk en ek slaap en ek eet, maar ek was darem Maandag by Buckingham Palace …
En so het hulle korrespondensie ’n trant gekry waarmee hulle al twee gemaklik was, ’n ritme van twee e-posse per week, vier, vyf gemaklike paragrawe waarna hy al hoe meer begin uitsien het – die ontvang en die skryf. Sy antwoorde het hy bedags in sy kop beplan. Hy moet vir Carla hiervan of daarvan vertel. Die woorde wat sy klein lewe ’n sekere waarde gee.
En toe, ’n week gelede, wil sy Internet-konneksie nie meer werk nie. Onverklaarbaar, skielik, onoplosbaar deur die mannetjie op die telefoon wat hom dinge aan die rekenaar laat doen het wat hy nie geweet het moontlik is nie. “You will have to take it to your dealer,” was die finale diagnose. Maar hy het nie ’n fokken dealer nie; dis gesteelde goedere.
Vrydagmiddag ná werk het hy vir Charmaine Watson-Smith raakgeloop op pad na sy woonsteldeur. Charmaine is diep in die sewentig en sy bly in nommer 106. Almal se gryskop-ouma-met-’n-bolla, uitgeslape, gulhartig, lewenslustig, sy ken die hele woonstelblok, weet van alles.
“How’s your daughter?” het Charmaine gevra.
Toe vertel hy haar van sy rekenaarprobleme.
“Oh, I might just know someone who can help.”
“Who?”
“Just give me a day or so.”
Gister, Maandagaand halfsewe, het hy in sy kombuis gestaan en klere stryk, die woonsteldeur oop, toe Bella kom klop het.
“Tannie Charmaine sê ek moet na jou PC kom kyk.”
Hy het haar al voorheen gesien, die jong vrou wat saans in ’n bonkige, onaantreklike soort grys uniform na haar woonstel aan die ander kant van die gebou stap. Kort blonde hare, ’n bril en ’n moegheid aan die einde van die dag, met ’n tassie in haar hand.
Gisteraand het hy haar amper nie herken nie; sy’t mooi gelyk. Dit was net die tassie wat hom gered het, want sy het dit by haar gehad.
“O … kom in.” Hy het die strykyster neergesit.
“Bella van Breda. Ek is in nommer 64.” Net so ongemaklik soos hy.
Hy het haar hand vlugtig geskud. Dit was sag en klein. “Bennie Griessel.” Sy het ’n denim en ’n rooi bloes en rooi lipstiffie aangehad. Haar oë was skaam agter die bril, maar hy was van die begin af bewus van haar breë, vol mond.
“Tannie Charmaine is …” Hy het na die regte woord gesoek. “ … besig …”
“Ek weet. Maar sy’s great.” Bella het na die skootrekenaar gekyk wat hy in die oopplankombuis hou, sy enigste werkoppervlakte. “Is dit … ?”
“O … ja.” Hy het die rekenaar aangeskakel. “My Internet-konneksie wil … dit werk net skielik nie meer nie. Ken jy rekenaars?”
Hulle het saam na die skerm gestaan en kyk terwyl dit aan die gang kom. “Ek’s ’n PC technician,” het sy geantwoord en haar tassie eenkant neergesit.
“O.”
“Ek weet, die meeste mense dink dis ’n man se werk.”
“Nee, nee, ek … enigiemand wat rekenaars verstaan …”
“Dis omtrent al wat ek verstaan. Kan ek maar …” Sy het na die rekenaar beduie.
“Asseblief.” Hy het vir haar een van sy hoë stoeltjies nader getrek. Sy het voor die blikbrein gaan sit.
Hy’t besef sy is skraler as wat hy vroeër gedink het. Miskien was dit haar oorpak-uniform wat hom die wanpersepsie gegee het. Of haar gesig. Dit is rond, soos dié van ’n molliger vrou.
Sy is in haar laat twintigs. Hy kon amper haar pa gewees het.
“Is dit jou konneksie?” Sy het ’n spyskaart oopgehad, die muisloper op ’n ikoontjie.
“Ja.”
“Kan ek vir jou ’n short cut op jou desktop sit?”
Dit het hom ’n rukkie geneem om daardie een uit te werk.
“Asseblief.”
Sy’t geklik en gekyk en gedink en gesê: “Dit lyk my jy’t per ongeluk die dial-up se telefoonnommer verander. Hier’s ’n syfer te min.”
“O.”
“Het jy die nommer iewers?”
“Ek dink so …” Hy’t die pakkie dokumente en boekies en handleidings uit die kas gehaal wat hy daar in ’n plastieksak hou en daardeur begin soek.
“Hier …” het hy met sy vinger gewys.
“O.K. Sien jy, die agt is weg, jy’t dit seker ge-delete, dit gebeur nogal …” Sy het die syfer ingetik en geklik en skielik het die modem gebel en gekerm.
“My fok,” het hy in opregte bewondering gesê. Sy het gelag. Met daardie mond. Toe vra hy of sy koffie wil hê. Of rooibos, wat Carla altyd gedrink het. “Dis al wat ek het.”
“Koffie sal lekker wees.”
En toe sit hy die ketel aan en sy sê: “Jy’s ’n speurder,” en hy sê: “Wat het tannie Charmaine jou nie vertel nie?” en toe gesels hulle, miskien bloot omdat hulle al twee alleen is op ’n Maandagaand. Hy het nie planne met haar gehad nie, fok weet, hy het die koffie na die sit-gedeelte toe gedra met die wete dat hy teoreties haar pa kon gewees het, al het sy ’n mond, al het hy ook teen daardie tyd bewus geraak van haar borste wat soos haar gesig aan ’n voller vrou behoort, en haar bleek, foutlose vel.
Hoflike, effe ongemaklike gesprek, vreemdelinge met ’n behoefte aan gesels op ’n Maandagaand.
Twee bekers koffie met suiker en Cremora later, toe maak hy die groot fout. Hy vat onnadenkend die boonste CD op sy stapeltjie van vier en druk dit in sy rekenaar se skyfspeler, want dis al wat hy het, behalwe die draagbare Sony wat net met oorfone werk.
En sy sê verbaas: “Jy hou van Lize Beekman?” en hy sê in ’n oomblik van eerlikheid: “Baie” en daar gebeur iets hier by haar oë, asof sy hom anders sien.
Hy’t die CD gaan koop nadat hy ’n Beekman-liedjie op die karradio gehoor het, “My Suikerbos”. Daar was iets aan die sangeres se stem, ’n deernis, nee, ’n kwesbaarheid, of was dit net die melancholie van die musiek, hy weet nie. Hy’t gehou van die verwerking, die fyn instrumentasie en toe gaan soek hy die CD en hy luister daarna op die Sony, eintlik met die bedoeling om so in sy kop die baskitaar se note te druk. Toe vang die lirieke hom. Nie net die woorde nie, die kombinasie daarvan met die musiek en die stem en dit maak hom bly en dit maak hom hartseer en hy kan nie onthou wanneer laas musiek hom só laat voel het nie, asof hy ’n verlange na onbekende dinge het. En toe Bella van Breda vir hom vra of hy van Lize Beekman hou, toe is dit die eerste keer dat hy so iets vir iemand kan sê. Dit is hoekom dit só uitgekom het: “Baie.” Met gevoel.
Bella het eindelik gesê: “Ek wens ek kan ook só sing,” en die ding is, hy het verstaan wat sy bedoel, hy het dieselfde smagting ervaar, om met soveel wysheid en insig en … gelatenheid al die dinge van die lewe te kan besing, die lekker en die sleg, met sulke fyn, mooi melodieë. Gelatenheid het hy nog nooit gehad nie. Gatvolheid, ja, dié het hy al sy hele lewe lank, en hy kon nog nooit verstaan hoekom nie, ’n konstante, laegraadse gatvolheid vir alles, en bowenal vir homself.
Toe sê hy: “Ek ook,” en ná ’n lang stilte, toe vat die gesprek vlam. Oor baie dinge. Sy vertel hom die storie van haar lewe. Hy gesels oor sy werk, gee haar die ou staatmakerstories van eienaardige arrestasies, aweregse getuies en eksentrieke kollegas. Bella sê sy wil eendag haar eie besigheid begin en daar is ’n lig in haar oë, passie, geesdrif. Hy luister, met verwondering. Sy het hierdie droom. Hy’t niks. Net ’n fantasie of twee. Die soort ding wat jy vir jouself hou, wat jy uitdink as jy saans alleen die snare pluk. Soos om vir Theuns Jordaan aan sy mifkrofoon vas te boei en te sê: “Nou sing jy ‘Hex-vallei’, pappie, maar nie ’n stukkie in ’n medley nie, die hele fokken ding.” En Anton L’Amour op lead kitaar, hy wat Bennie is op bass, en hy gaan dit oopdraai, groot, en hulle gaan gat skop. Of die kans om net een keer vir Schalk Joubert te vra: “Hoe de moer kry jy dit reg om só baskitaar te speel, asof die ding by jou brein ingeprop is?”
Of miskien weer eendag sy eie four-piece band te hê. En die oer-blues te doen, Robert Johnson en John Lee Hooker, of die ou, regte rock ’n roll – Berry, Domino, Ricky Nelson, die vroeë Elvis …
Maar hy sê niks, hy luister net na haar, en iewers teen tienuur staan sy op om toilet toe te gaan en toe sy terugkom, is hy op pad van die wasbak af rusbank toe en hy wil sê: “Nog koffie?” toe is hulle naby aan mekaar en haar oë kyk anderpad en haar mond het ’n klein, geheime glimlag wat sê sy het ’n vermoede wat nou gaan gebeur en sy gee nie om nie. Toe soen hy haar.
En waar Bennie Griessel in die helder somerson van die Dinsdagoggend in die verkeer sit, onthou hy dit was aanvanklik sonder wellus, eerder ’n soort voortsetting van hulle gesprek. Dit was vertroosting, verlange, samesyn, soos Lize Beekman se musiek. Twee mense wat aanraking nodig gehad het.
Hulle het lank gesoen en toe het hulle teenaan mekaar gestaan en mekaar vasgehou; hy was weer daarvan bewus dat haar lyf skraler is as sy verwagting. En toe het sy teruggestaan en op die bank gaan sit. Hy het gedink sy wou sê dis genoeg. Toe haal sy haar bril af en plaas dit versigtig langs die kant, op die vloer, haar oë skielik weerloos en diep bruin. Hy het by haar gaan sit en haar weer gesoen en die volgende wat hy kan onthou, is toe sy regop kom om haar bra los te maak en met ’n sekere trots haar mooi borste vir hom aan te bied. En hy sit in die polisiemotor en hy onthou hoe haar lyf gevoel het, sag en warm en verwelkomend. En hy onthou die stadige intensiteit. Hoe hy in haar was, daar op die rusbank, homself van haar opgelig het en na haar gekyk het en dieselfde groot dankbaarheid in haar oë gesien het wat hy in sy hart gevoel het. ’n Dankbaarheid omdat sy daar was, omdat hierdie ding wat gebeur mooi en stadig en sag was.
En hy dink so iets is die fok weet nie verkeerd nie.
Sy selfoon lui en hy is terug in die werklikheid; dis seker Dekker wat wil weet waar hy is. Maar die skerm sê ANNA, en sy hart ruk.
* * *
Dit is die val wat haar lewe red.
Sy het instinktief uit die straat uit opgehardloop met die steil stel trappies, teen die berg se helling uit, tussen twee hoë, rankplant-begroeide mure en toe op met ’n nou, slingerende voetpad. Tafelberg is skielik ’n kolos hier bo haar, die gradiënt steil, rotse en fynbos en oopte, sodat sy met ’n nuwe beklemming om haar hart seker is sy het ’n fout gemaak: Hulle sal haar sien, hulle sal haar inhaal teen die helling, hulle sal haar op die grond vasdruk en haar keel afsny, soos Erin s’n.
Sy dryf haarself teen die berg op. Sy kyk nie om nie. Die steilte vreet aan haar bobene, haar knieë, ’n stadige gif wat haar gaan verlam. Daar, regs, bo, sien sy die kabelkarstasie, die son wat blink op motorruite, klein, klein figuurtjies van mense, so naby, so verskriklik ver, as sy net daar kan kom. Nee, te steil, die afstand te groot, sy sal dit nooit maak nie.
Sy sien die voetpad verdeel in twee, sy kies die een na links en sy hardloop. Veertig tree en dan die onverwagse, skerp daling, die paadjie wat skielik val na ’n klipperige rivierklofie wat hoog uit die berg kom. Sy is nie daarop voorbereid nie, haar voet land sleg op rollende klippe en sy val na links, bergaf, haar hande wat keer, haar skouer tref hard, haar wind uit. Sy rol een keer en dan lê sy, daarvan bewus dat haar hande nerfaf is, dat haar ken iets getref het, maar haar nood is asem, sy wil dit met groot teue terugdwing in haar longe, die eerste probeerslag is ’n bulk soos ’n dier en sy wil stil wees, hulle mag haar nie hoor nie. Twee keer adem sy hees, dan sagter, kleiner pogings, en dan kom die wal van die riviertjie in fokus en sy sien die skeur waar water oor die eeue heen die reuserots onder uitgekalwe het, net genoeg sodat sy daarin sal kan kruip.
Sy beweeg soos ’n slang oor die ronde klippe, haar bloeiende hande voor haar, tot by die opening. Sy hoor die dringende voeteval van haar agtervolgers. Hoe naby is hulle? Sy besef haar rugsak sal nie hier kan in nie. Sy het nie tyd nie, hulle gaan haar sien. Sy kom orent tot op haar knieë, wil die rugsak afruk, moet eers die gespe om haar maag losknip, pluk die skouerbande regs, dan links af, wurm haar lyf in die holte in, trek die rugsak agterna en dan spring hulle hier drie meter van haar af oor die riviertjie, rats en behendig en en woordeloos, en sy hou haar jagende asem in, sy sien hoe die bloed van haar ken tot op die rots drup, sy lê stil, sy maak haar oë toe, asof hulle haar dan nie sal kan sien nie.
* * *
Hy sit in die verkeer, selfoon teen sy oor, en hy sê: “Hallo, Anna,” en sy hart klop in sy keel oor gisteraand.
“Bennie, ek wil graag met jou praat.”
Dis fokken onmoontlik; daar is geen manier hoe sy vrou kon uitgevind het nie.
“Waaroor?”
“Oor alles, Bennie. Ek het gewonder of ons dalk vanaand kan gesels.”
Oor alles? Maar hy kan nie agterkom waar haar stemtoon lê nie.
“Ons kan. Wil jy hê ek moet huis toe kom?”
“Nee, ek het gedink ons moet iewers … miskien iets gaan eet.”
Jissis. Wat beteken dit?
“Dis reg so. Waar?”
“Ek weet nie. Canal Walk is soort van halfpad. Daar’s ’n Primi …”
“Hoe laat sal jou pas?”
“Sewe-uur?”
“Dankie, Anna, dit sal lekker wees.”
“Totsiens, Bennie.” Net so skielik, asof hy die verkeerde ding gesê het.
Hy sit met die selfoon in sy hand. Agter hom blaas ’n motoris op sy toeter. Hy besef hy moet vorentoe ry. Hy los die koppelaar, maak die gaping voor hom toe. Oor alles, Bennie. Wat beteken dit? Hoekom nie by hulle huis nie? Maar sy wil gaan uiteet. Amper soos ’n date. Maar toe hy sê: “Dit sal lekker wees,” toe kom die totsiens asof sy haar vererg het.
Weet sy van gisteraand? Sê nou maar sy was daar, by sy woonstel, by sy deur. Sy sou fokkol kon sien, maar sy sou seker kon gehoor het, Bella wat in ’n stadium sagte, tevrede geluide gemaak het, Here, toe het hy daarvan gehou, maar as Anna dit gehoor het …
Maar sy was nog nooit by sy woonstel nie. Hoekom sou sy gisteraand gekom het? Om te praat oor iets?
Nie heeltemal onmoontlik nie. En sy kon dalk iets gehoor het en toe gewag het en vir Bella sien uitkom het en …
Maar sal sy dan wil gaan uiteet?
Nee. Miskien.
As sy weet … Hy’s in sy moer. Hy weet dit nou. Maar sy kan nie weet nie.