Читать книгу 13 uur - Деон Мейер - Страница 6

2

Оглавление

Sy het oor die Kloofnek-pad gehardloop en ’n oomblik lank besluiteloos gestaan. Sy wou rus, sy wou haar asem terugkry en die angs probeer beheer. Sy moes besluit: Regs, weg van die stad af, na wat die padpredikant as Camps Bay aandui en wat ook al daardie kant van die berg lê, of links, min of meer terug na van waar sy gekom het. Haar instink was regs, weg, verder weg van haar agtervolgers, van die skrikwekkende gebeure van die nag af.

Maar dit is wat hulle sal verwag, dit is wat haar dieper die onbekende sal inneem, verder van Erin af en sy het links gedraai sonder om verder te dink, haar sportskoene luid op die teer se afdraande. Vir 400 meter het sy aan die regterkant van die dubbelbaanpad gehou en toe het sy regs geswaai, afgeskarrel teen ’n klipperige helling, oor ’n lappie veld, na die normaliteit van Higgovale, ’n woonbuurt hier hoog teen die berg, groot, duur huise met digte tuine en hoë mure. Haar hoop het opgevlam; hier sal mense wees wat kan help, wat skuiling en beskerming en hulp kan bied.

Die hekke was toe, elke huis ’n fort, die strate verlate so vroeg in die oggend. Die pad het skerp bergop gekronkel, haar bene wou nie meer nie, kon nie meer nie, en toe sien sy die oop hek van die huis regs van haar en haar hele wese het gesmag na rus. Sy het oor haar skouer gekyk en daar was niemand nie. Sy het by die hek ingeswaai. ’n Kort, steil oprit, ’n motorhuis en ’n afdak. Regs was digte struike teen die hoë muur; die huis het links gelê, agter ’n ysterstaafheining en ’n toesluit-traliehek. Sy het in die struike ingekruip tot teen ’n gepleisterde muur, diep, tot heel agter, waar sy onsigbaar van die straat af sal wees.

Sy het eers afgesak op haar knieë, met haar rugsak teen die muur. Haar kop hang, sy is doodmoeg, haar oë toe. Toe sak sy verder, sodat sy op haar boude sit. Sy weet die klamheid van die bakstene, die verrottende blare gaan haar blou denimkortbroek bevlek, maar sy gee nie om nie. Sy wil net rus.

Sy het in haar kop skielik weer die toneel gesien wat sy meer as ses uur vantevore vasgelê het. Haar liggaam het geruk van skok en sy het haar oë oopgemaak, want sy kan nie nou daaraan dink nie. Dit is té … alles. Deur die gordyn van diep groen blare en helder, groot rooi blomme het sy ’n motor onder die afdak sien staan en sy het daarop gefokus. ’n Vreemde vorm, slank en elegant en nie nuut nie. Wat sou dit wees, só het sy haar eie aandag van die terreur in haar kop probeer aflei. Haar asem het bedaar, maar nie haar hartklop nie. Uitputting het soos ’n groot gewig op haar gedruk, maar sy het haar teëgesit; sy kon nog nie dié luukse bekostig nie.

Om 06:27 hoor sy die gehardloop in die straat, meer as een mens, in dieselfde rigting as wat sy gekom het, en haar hart ruk weer.

Sy hoor hoe hulle na mekaar roep daar buite in die straat, in ’n taal wat sy nie verstaan nie. Die voetstappe verlangsaam en word stil. Sy beweeg, effens vorentoe, soek ’n baan deur die blare om te kan sien, kyk stip na die oop hek. Een van hulle staan daar, skaars sigbaar, mosaïekstukke wat wys hy is swart.

Sy sit doodstil.

Sy sien die mosaïek beweeg. Hy loop by die hek in, geluidloos op sy sportskoensole. Sy weet hy sal sy oë laat soek na die wegkruipplekke, die huis, die motor onder die afdak.

Die vae vorm halveer. Buk hy af? Sodat hy onder die motor deur kan sien?

Die stukkies wat hom vorm, verdubbel, die buitelyn word groter, hy is besig om nader aan haar te kom. Kan hy haar sien, hier heel agter?

“Hey!”

Sy skrik vir die stem, ’n hamerslag in haar bors, sy weet nie of sy op daardie oomblik beweeg nie.

Die donker figuur beweeg weg, maar sonder haas.

“What do you want?” Die stem kom daar van die huis af, bo. Iemand wat met die swart man praat.

“Nothing.”

“Get the fuck off my property.”

Geen antwoord nie. Hy staan stil, beweeg dan, stadig, traag, tot sy verbrokkelde vorm wegraak deur die blare.

* * *

Die twee speurders deursoek die kerkterrein van die suidekant af. Vusi begin voor, teen die Langstraat-grens met die gepunte barokreling, Griessel agter, teen die hoë baksteenmuur af. Hy loop stadig, tree vir tree, kop omlaag, oë wat heen en weer beweeg. Hy sukkel om te konsentreer, daar is ’n ongemaklikheid in hom, ’n ontwykende ding, vaag en sonder vorm. Maar hy moet nou hiér fokus, op die kaal grond, die graspolle om die bome se stamme, die stukkies teerpaadjie. Hy buk nou en dan om iets op te tel en in sy vingers te hou – ’n prop van ’n bierbottel, twee ringetjies van koeldrankblikkies, ’n geroeste metaalwasser, ’n leë wit plastieksakkie.

Tot agter die kerk, waar die straatgeraas skielik gedemp is. Hy kyk op na die toring. Daar is ’n kruis aan die punt. Hoeveel keer het hy al hier verbygery, nooit regtig gekyk nie. Die kerkgebou is mooi, ’n argitektoniese styl waarvoor hy nie ’n naam het nie. Die tuin goed versorg, die groot palmbome, denne en selonsrose hoeveel jare gelede al geplant? Hy loop agter om die kantoorgeboutjie en dan is die straat se geluide weer terug. In die noordelike hoek van die terrein gaan staan hy en kyk op en af in Langstraat. Dis nog die ou Kaap dié, die geboue so half Victoriaans, die meeste net twee verdiepings, sommige nou in helder kleure geverf, seker om vir die jonges aantreklik te wees.

Wat is dié vae onrustigheid wat nou in hom lê? Dis nie oor gisteraand nie. Dis nie die ander ding wat hy al ’n twee, drie weke lank ontwyk nie, oor Anna en terugtrek en of dít hoegenaamd gaan werk.

Is dit die mentorkwessie? Om op ’n moordtoneel te kom staan, jy mag kyk, maar jy mag nie vat nie? Hy gaan sukkel, dit weet hy nou.

Of miskien moet hy net iets te ete kry.

Hy kyk suid, na die Oranjestraat-kruising. Net voor sewe op ’n Dinsdagoggend en die straat is besig – motors, busse, taxi’s, bromponies, voetgangers. Die energieke gewoel van middel-Januarie, die skole wat heropen, vakansies verby, vergete. Op die sypaadjie het die moordtoeskouers aangegroei tot ’n klein skare. Twee persfotograwe het ook aangekom, kamerasakke oor die skouers, lang lense soos wapens voor hulle. Hy ken die een, ’n drinkebroer uit sy suipdae, wat jare vir die Cape Times gewerk het en nou vir ’n poniekoerant sensasie jag. Wat een aand in die Fireman’s Arms gesê het as jy die polisie en die media vir ’n week op Robbeneiland toesluit, stort die drankbedryf van die Kaap in duie.

Hy sien ’n fietsryer wat behendig deur die verkeer vleg, ’n resiesfiets, die onmoontlike dun wiele, die ryer in ’n stywe swart broekie, helder, kleurvolle hempie, die skoene, die valhelm, die fokker het selfs hand-skoene aan. Sy oë volg die fiets tot by die verkeerslig van Oranjestraat met die wete dat hy nooit só belaglik wil lyk nie. Hy voel al klaar simpel genoeg met net die pispot-helm op sy kop. Hy sou dit nie eens gedra het as hy dit nie verniet saam met die fiets gekry het nie.

Dok Barkhuizen, sy borg by Alkoholiste Anoniem, het die hele ding begin.

Griessel het uit frustrasie vir dok gesê die verlange na die bottel word nie minder nie, want die eerste drie maande was lankal verby, die sogenaamde krisisperiode, en sy smagting was nog net so groot soos die eerste dag. Toe resiteer dok die “dag op ’n slag”-rympie en Griessel sê hy het meer as dít nodig en dok sê: “Jy moet afleiding kry; wat maak jy saans?”

Saans? ’n Poliesman hét nie ’n “saans” nie. En wanneer hy wel wonder bo wonder vroegaand by die woonstel aankom, dan skryf hy vir sy dogter, Carla, of hy sit een van sy vier CD’s in die rekenaar en hy vat die baskitaar en speel saam.

“Saans is ek besig, dok.

“En soggens?”

“Ek stap partykeer in die park. Daar bo by die reservoir.”

“Hoe gereeld?”

“Ek weet nie. Nou en dan. Een keer per week, miskien minder …”

Die probleem met dok is dat hy welsprekend is. En geesdriftig. Oor alles. Een van daardie positiewe “die glas is halfvol”-ouens wat nie rus kry voor hy jou geïnspireer het nie. “Ek het so vyf jaar gelede begin fietsry, Bennie. My knieë hou nie van draf nie, maar die fiets is sag op ’n ou man se ledemate. Ek het stadig begin, vyf, ses kilo’s ’n dag. En toe begin die ding my vang, want dis lekker. Die vars lug, die reuke, die son, jy vóél die hitte en die koue, jy sien dinge uit ’n ander perspektief, want jy beweeg teen jou eie tempo, dis asof jou wêreld tot ruste kom. Jy’t tyd om te dink …”

Toe raak hy hier ná dok se derde toespraak meegevoer en gaan soek einde Oktober vir hom ’n fiets. Op sy gewone manier: Bennie Griessel, Bargain Hunter, soos sy tienerseun, Fritz, hom versigtig spot. Eers die pryse van nuwe goed gaan navors by die winkels en twee dinge agtergekom – hulle is belaglik duur, en hy hou meer van die bonkige bergfietse as die maer moffie-resiesgoed. Toe gaan kyk hy by pandjieswinkels, maar alles is afgeleef, goedkoop Makro-gemors, selfs toe dit nuut was. Toe kyk hy in die Cape Ads en hy sien die advertensie – blommerige taal oor ’n Giant Alias, 27 ratte, superligte aluminiumraam, Shimano shifter en skyfremme, ’n gratis saalsakkie met gereedskap, gratis valhelm en “just one month old, original price R7 500, upgrading to DH”, wat die eienaar later vir hom oor die telefoon sê staan vir Downhill, asof hy presies sal weet wat dit beteken. En toe dink hy wat de fok, R3 500 is ’n helse bargain, en wat het hy die afgelope ses maande vandat sy vrou hom uit die huis uit geskop het vir homself gekoop? Niks. Net die sitkamerstel by Mohammed “Love Lips” Faizal se pandjieswinkel in Maitland. En die yskassie. En die baskitaar wat hy vir Fritz vir Kersfees wou gee, nog ’n Faizal-winskoop wat hy toevallig in September al raakgeloop het. Dis al. Noodsaaklike goed. Jy kan nie die skootrekenaar tel nie, want hoe anders moet hy met Carla kontak hou?

Toe dink hy nie aan Kersfees en al die uitgawes wat nog voorlê nie. Hy stry die fietseienaar met nog tweehonderd rand af en hy gaan trek die geld en hy gaan koop die ding en hy begin soggens ry. In sy ou rugbybroek en T-hemp en sandale en die koddige fokken valhelm en hy kom agter hy bly nie op die perfekte plek vir fietsry nie. Die woonstel is kwartpad teen Tafelberg se hang op. As jy afry see toe, moet jy terug op teen die bult. Of jy kan eers op ry, Kloofnek se kant toe, om later die af te geniet, maar ly sal jy ly. Hy’t dit amper ná ’n week gelos. Tot dok Barkhuizen vir hom die raad van “vyf minute” gegee het.

“Dis my strategie, Bennie. As ek nie lus is nie, sê ek vir myself: ‘Net vyf minute.’ As ek dan nie verder wil ry nie, draai ek om en ek kom terug.”

Hy het dit probeer – en nie een keer omgedraai nie. As jy eers aan die gang is, dan gaan jy aan. En einde November, toe raak dit skielik vir hom lekker. Hy het ’n roete gekry waarvan hy hou – net ná ses in die oggend, af met St. Johnsstraat, wederregtelik deur die Kompanjiestuin, voor die oorgretige sekuriteitswagte op diens is. Dan vat hy Adderley en hy waai vir die blommeverkopers by die Goue Akker wat voorraad van die bakkies aflaai en hy ry tot heel onder in Duncanstraat by die hawe, kyk watter skepe vandag by die kaai lê. Dan ry hy deur die Waterkant Groenpunt toe – en al langs die see af tot by Seepunt se swembad. En hy kyk vir die see en die berg en die mense, die mooi, jong, drawwende vroue met lang, sonbruin bene en wippende borste, pensionarisse wat doelgerig stap, ma’s met babas in stootkarretjies, ander fietsryers wat hom groet, ondanks sy primitiewe kleertjies. En dan draai hy om en hy ry terug, sestien kilometer in totaal en dit het hom goed laat voel. Oor homself. Oor dié stad, wat hy vir so lank net van die gatkant af gesien het.

En oor sy slim aankoop. Toe kom sy seun, Fritz, twee weke voor Kersfees en sê nee, hy’t besluit bass is nie meer vir hom nie, hy wil kitaar speel. “Lead guitar, Pa, jissie, Pa, ons het Vrydagaand vir Zinkplaat gesien, daar’s hierdie lead, Basson Laubscher, awesome, Pa. Effortless. Genius. Dis my droom, Pa.”

Zinkplaat.

Hy’t nie eens geweet daar bestaan só ’n orkes nie.

Dít nadat Griessel al amper twee maande lank die baskitaar wegsteek wat eintlik Fritz se Kersgeskenk moes wees. Toe moes hy weer met Hot Lips Faizal gaan praat, wat op dié kort kennisgewing net een kitaar gehad het, ’n fokken Fender, omtrent nog splinternuut en net so duur. En wat jy vir Fritz gee, moet jy vir jou dogter, Carla, ook stuur in Londen en toe’s hy skielik finansieel in sy moer in, want Anna laat hom onderhoud betaal soos ’n geskeide man en die manier hoe sy haar berekeninge gedoen het, is vir hom duister en hy het ’n sterk vermoede hy word gemelk, hy word geboor, want sy verdien goeie geld as assistent by die prokureurs. Maar as hy sy bek oopmaak, sê sy: “Jy het geld vir drank gehad, Bennie, dit was nooit ’n probleem nie …”

Die morele hoë grond. Sy het dit en hy nie. Daarom moet hy betaal. Dis deel van sy straf.

Maar dis nie die ding wat nou hier in sy buik draai nie.

Griessel sug en begin aanstap, terug na die moordtoneel toe. En as sy kop fokus op die groeiende skare van omstanders wat beheer sal moet word, herken hy skielik die nuwe onrustigheid hier binne.

Dit is nie sy seksdade, sy finansies of die honger nie. Dit is ’n voorgevoel. Asof dié dag ’n onheil in hom het.

Hy skud sy kop. Hy’t hom nog nooit aan sulke twak gesteur nie.

* * *

Die Metro-polisiemanne help met ywerige hande om ’n jong bruin vrou in ’n wit baadjie oor die skerp traliewerk van die muur te kry. Sy neem haar tas, knik haar kop in dank en kom na Griessel en Ndabeni aangestap. Hulle ken haar nie.

“Tiffany October,” sê sy en steek ’n klein handjie na Bennie uit. Hy sien dit bewe effens. Sy het ’n smal swartraambril op. Onder die grimering is spore van aknee. Sy is skraal, tengerig onder die wit baadjie.

“Bennie Griessel,” sê hy en beduie na die speurder langs hom. “Dit is inspekteur Vusumuzi Ndabeni. Dis sy toneel.”

“Noem my Vusi.”

“Aangename kennis,” sê sy en skud die swart speurder se hand.

Hulle kyk vraend na haar. Sy snap skielik: “Ek’s die patoloog.”

“Jy’s nuut?” vra Vusi ná ’n ongemaklike stilte.

“Dis my eerste solo.” Tiffany October glimlag senuagtig. Dik en Dun van Forensies kom nuuskierig nader om haar te ontmoet. Sy skud elkeen se hand hoflik.

“Is julle klaar?” vra Griessel ongeduldig.

“Ons moet nog die paadjie en muur doen,” sê Jimmy, die skraal een. Hy kyk vir sy korter kollega. “Bennie is nie ’n morning person nie.”

Griessel ignoreer hulle. Altyd iets te sê.

Tiffany October kyk af na die liggaam.

“Ai,” sê sy.

Die speurders sê niks nie. Hulle kyk net vir haar terwyl sy haar tas oopmaak, handskoene uithaal en by die meisie kniel.

Vusi kom nader. “Bennie, ek het vir die fotograaf gevra om foto’s te neem wat … nie die skade wys nie. Van haar gesig. Ek wil dit rondwys hier in Langstraat. Ons moet haar identifiseer. Miskien die foto’s vir die media ook gee. ”

Griessel knik. “Goeie idee. Maar jy moet druk op die fotograaf sit. Hulle is stadig …”

“Ek sal.” Ndabeni buk af na die patoloog toe. “Dokter, as jy so min of meer kan sê hoe lank sy al dood is …”

Tiffany October kyk nie op nie. “Dis te vroeg …”

Griessel wonder waar prof. Phil Pagel, die hoofpatoloog, vanoggend is. Pagel sou daar gesit het en vir hulle ’n skatting gegee het wat binne dertig minute van die werklike tyd van dood was. Hy sou ’n vingerpunt in die bloedplas gedoop het, hier gevat en daar aan die lyk gedruk het en gesê het dit is die klein spiertjies wat eerste rigor mortis wys en hy dink sy’s so min of meer sus of soveel uur al dood, hy sal dit later bevestig. Maar Tiffany October het nie Pagel se ervaring nie.

“Gee ons net ’n raaiskoot,” sê Griessel.

“Ek kan regtig nie.”

Sy’s bang om ’n fout te maak. Griessel loop tot teen Vusi en praat sag, naby sy oor, sodat sy nie kan hoor nie. “Sy lê al lank, Vusi. Die bloed is al swart.”

“Hoe lank?”

“Ek weet nie. Vier uur … of meer. Vyf.”

“O.K. So ons sal moet wikkel.”

Griessel knik. “Kry daardie foto’s vinnig. En praat met die Metro-mense, Vusi. Hulle het videokameras wat die strate monitor – in Langstraat ook. Kom ons hoop die goed het gewerk, laas nag. Die beheerkamer is in Waal. Miskien is daar iets …”

“Dankie, Bennie.”

* * *

Sy raak aan die slaap, teen die muur agter die struike.

Sy wou net ’n oomblik lank rus. Sy het haar oë toegemaak en met haar rugsak teen die muur teruggesak en haar bene voor haar uitgestrek, wou net vir ’n oomblik aan die uitputting en spanning probeer ontkom. Die nag se gebeure was demone in haar kop. Om dit te ontvlug, het sy aan haar ouers gedink, hoe laat dit nou by die huis is, die berekening van tydsones te veel vir haar. As dit vroegoggend in West Lafayette was, sou haar pa met die koerant, die Journal & Courier, gesit het en sy kop geskud het oor Purdue-voetbalafrigter Joe Tiller se uitlatings. Haar ma sou laat gewees het, soos altyd, haar hakke wat teen die trappe af kletter, oorhaastig, die verslete bruin leertas oor haar skouer, “I’m late, I’m late, how can I be late again?” Haar pa sou sy koerant laat sak, “It’s a mystery, honey,” sê en sy en haar pa sou hul rituele glimlag oor die kombuistafel heen daaroor deel. Dié roetine, dié geborgenheid, die veiligheid van haar ouerhuis oorweldig haar met ’n verskriklike verlange en sy wil hulle bel, op daardie oomblik, hul stemme hoor, vir hulle sê hoe lief sy hulle het. Sy het dié denkbeeldige gesprek gevoer, met haar pa wat sag en rustig antwoord, tot die slaap haar bekruip en oorval het.

13 uur

Подняться наверх