Читать книгу 13 uur - Деон Мейер - Страница 14

8

Оглавление

Bennie Griessel het na Alexa Barnard se verhaal geluister.

“Alexa. Niemand noem my Alexandra of Xandra nie.”

En nou, net voor hy die voordeur van Brownlowstraat 47 oopmaak om vir Dekker te gaan soek, is daar ’n eienaardige emosie in hom, iets wat druk op sy hart, ’n gewigloosheid in sy kop, ’n sekere verwydering van die werklikheid, asof hy ’n paar millimeter terugstaan van alles, ’n sekonde of twee uit pas is met die wêreld.

Daarom neem dit hom ’n rukkie om te besef daar is chaos hier buite: Die straat, stil en rustig toe hy aangekom het, is nou ’n samedromming van mediamense en nuuskieriges: ’n kudde fotograwe, ’n trop verslaggewers, ’n kameraspan van e.tv en die groeiende groep omstanders wat deur hul teenwoordigheid gelok is. Die gedruis spoel oor Griessel, swaar klankgolwe wat hy met sy lyf kan voel, saam met die besef dat hy só intens na Alexa se storie geluister het dat hy heeltemal onbewus was hiervan.

Op die stoep hier voor hom staan ’n gespanne Dekker in ’n vuurwarm gesprek met ’n kaalkop man, hul stemme hard in argument.

“Nie voor ek haar gesien het nie,” sê die man met ’n meerderwaardige houding en aggressiewe lyftaal. Sy kop is heeltemal skoongeskeer, hy is lank en seningrig, groot, vlesige ore, die een met ’n ronde, silwer oorring. Swart hemp, swart broek en die swart bofbaltekkies wat tieners dra, al lyk hy laat veertigs. Sy prominente adamsappel ruk op en af in ritme met sy woorde.

Dekker sien vir Griessel. “Hy dring aan om haar te sien,” sê Dekker, gespanne.

Die man ignoreer vir Griessel. Hy knip ’n swart leerhouer aan sy dik swart gordel oop en bring ’n klein swart selfoon te voorskyn. “Ek gaan my prokureur laat kom; hierdie optrede is totaal onaanvaarbaar.” Hy begin knoppies op die selfoon druk. “Sy’s nie ’n gesonde vrou nie.”

“Hy’s die oorledene se vennoot. Willie Mouton,” sê Dekker.

“Meneer Mouton,” sê Griessel, met redelikheid. Sy stem klink vir hom vreemd.

“Fokkof,” sê Mouton. “Ek praat oor die telefoon.” Sy stem het die deurdringingsvermoë en toonhoogte van ’n industriële bandsaag.

“Meneer Mouton, ek sal nie toelaat dat jy só met ’n polisieoffisier praat nie,” sê Dekker met ’n stygende stem. “En as jy persoonlike oproepe wil maak, dan doen jy dit daar in die straat …”

“Dis ’n vry land, sover ek weet.”

“… en nie op my moordtoneel nie.”

“Jou moordtoneel? Wie de fok dink jy is jy?” En dan, in die foon: “Sorry. Kan ek met Regardt praat, asseblief …”

Dekker tree dreigend nader, sy humeur besig om handuit te ruk.

“Regardt, dis Willie, ek staan hier op Adam se stoep met die Gestapo …”

Griessel sit ’n hand op Dekker se arm. “Daar’s kameras, Fransman.”

“Ek gaan hom nie moer nie,” sê Dekker en ruk vir Mouton hardhandig van die stoep af en stoot hom tuinhekkie se kant toe. Kameras flits en klik.

“Hulle is besig om my aan te rand, Regardt,” sê Mouton, met minder selfvertroue.

“Môre, Nikita,” sê prof. Phil Pagel, die staatspatoloog, van anderkant die hek met ’n geamuseerde uitdrukking op sy gesig.

“Môre, prof,” sê Bennie en kyk hoe Dekker vir Mouton deur die hekkie stoot tot op die sypaadjie en vir die uniform sê: “Jy laat hom nie hier inkom nie.”

“Ek gaan julle gatte sue,” sê Mouton. “Regardt, ek wil hê jy moet hulle fokken gatte sue. Ek wil hê jy moet nou hiernatoe kom met ’n fokken interdik; Alexa sit daar binne en die fok weet wat hierdie stormtroepe met haar doen …” sy stem opsetlik hard sodat Dekker én die media hom kan hoor.

Pagel skuur by die ruiter in swart verby en stap met die trappies op, swart tas in die hand. “What a piece of work is man,” sê hy.

“Prof?” sê Griessel en skielik is die verwydering weg, is hy terug by die hede, sy kop skoon.

Pagel kom skud Griessel se hand. “Hamlet. Aan Rosencrantz en Guildenstern. Net voor hy sê die mens is ‘a quintessence of dust’. Ek was gisteraand by die opvoering, hoogs aan te beveel. Besige oggend, Nikita?”

Pagel noem hom al twaalf jaar lank “Nikita”. Want die eerste keer toe hy vir Griessel ontmoet het, het hy gesê: “Ek is seker dis hoe ’n jong Kroetsjef gelyk het,” en Griessel moes hard dink wie Kroetsjef is. Pagel is flambojant aangetrek, soos gewoonlik – lank en fiks en uit-sonderlik aantreklik vir sy iets in die vyftig jaar; daar’s mense wat sê hy lyk soos die ster van die een of ander televisiesepie wat Griessel nog nooit gesien het nie.

“Dit gaan rof, soos gewoonlik, prof.”

“En ek verstaan jy mentor nou ’n nuwe generasie wetstoepassers, Nikita.”

“Soos prof kan sien, ek’s briljant in my jop,” grinnik Griessel. Dekker kom met die stoeptrappies op. “Het prof al vir Fransman ontmoet?”

“Ek het inderdaad al die voorreg gehad. Inspekteur Dekker, ek bewonder jou daadwerklikheid.”

Dekker se spanning het nog nie gesak nie. “Môre, prof.”

“Gerugte wil dit hê dat Adam Barnard die slagoffer is?”

Hulle knik saam, in gelid.

“Take arms against a sea of troubles,” sê Pagel.

Die speurders kyk onbegrypend na hom.

“Ek misbruik Hamlet om te sê hier kom groot moeilikheid, kollegas.”

“Aaa,” sê die speurders. Hulle verstaan.

* * *

In die biblioteek staan hulle en praat terwyl Pagel by die lyk kniel en sy dokterstas oopmaak.

“Dit was nie sy nie, Fransman,” sê Griessel.

“Jy’s honderd persent seker?”

Griessel haal sy skouers op. Niemand kan honderd persent seker wees nie. “Dis nie net wat sy sê nie, Fransman. Dis hoe dit by die toneel inpas …”

“Sy kon iemand gehuur het.”

Griessel moet toegee dié argument het meriete. Vroue wat ander betaal om van hul eggenote ontslae te raak, is die nuwe nasionale sport. Maar hy skud sy kop. “Ek twyfel. Jy huur nie mense om dit te laat lyk of jy dit gedoen het nie.”

“In hierdie land is enigiets moontlik,” sê Dekker.

“Amen,” sê Pagel.

“Prof, die ‘sea of troubles’ … Het jy vir Barnard geken?” vra Griessel.

“Ten dele, Nikita. Hoorsê-getuienis, meestal.”

“Wat is sy storie?” vra Dekker.

“Musiek,” sê Pagel. “En vroumense.”

“Dis wat sy vrou ook sê,” sê Griessel.

“Asof sy nog nie genoeg gely het nie,” sê Pagel.

“Hoe so, prof?” vra Dekker.

“Jy weet sy was ’n ster?”

“Nee, prof,” verstom.

Pagel kyk nie op as hy praat nie; sy hande is behendig besig met sy instrumente en die liggaam. “Barnard het haar ‘ontdek’, hoewel ek nog nooit gemaklik was met dié begrip nie. Maar laat ek my onkunde beken, kollegas. Soos julle weet, lê my liefde eintlik by die klassieke. Ek weet hy was ’n prokureur wat by die musiekbedryf betrokke geraak het. Xandra was sy eerste ster …”

“Xandra?”

“Dit was haar verhoognaam,” sê Griessel.

“En sy’t gesing?”

“Inderdaad. Baie goed ook,” sê Pagel.

“Hoe lank terug was dit, prof?”

“Vyftien jaar, twintig?”

“Ek het nog nooit van haar gehoor nie,” sê Dekker kopskuddend.

“Sy het van die toneel verdwyn. Redelik skielik.”

“Sy’t hom gevang met iemand anders,” sê Griessel. “Toe begin sy drink …”

“Dit is wat die gerugte ook sê. Menere, nie-amptelik en onbevestig: Ek vermoed die tyd van dood is so min of meer …” Pagel kyk na sy horlosie. “… tussen twee-uur en drie-uur vanoggend. Soos julle sekerlik afgelei het, is die oorsaak van dood twee skote van ’n kleinkaliber-vuurwapen. Die posisionering van die wonde en geringe ontstekingsresidu dui op ’n skietafstand van twee tot vier meter … en ’n redelike goeie skut; die twee wonde is minder as drie sentimeter uit mekaar.”

“En hy’s nie hier geskiet nie,” sê Dekker.

“Inderdaad.”

“Net twee wonde?” vra Griessel.

Die patoloog knik.

“Daar’s drie rondtes afgevuur met sy pistool …”

“Prof,” sê Dekker, “sy sê sy’s ’n alkoholis. Sy sê sy was dronk gisteraand. Ek het bloed laat trek, maar sal dit help, agt of tien uur ná die tyd?”

“A, Fransman, ons het deesdae etiel-glukuronied, wat alkoholvlakke se neerslag tot 36 uur ná die tyd in die bloed kan opspoor. En met ’n urinemonster, tot vyf dae ná inname.”

Dekker knik, tevrede.

“Maar ek moet my gewig agter Nikita se teorie ingooi. Ek dink nie dit was sy nie.”

“Hoe so, prof?”

“Kyk na hom, Fransman. Hy’s in die omtrek van 1,9 meter, hy is effens oorgewig, ek skat so iewers aan die verkeerde kant van honderd-en-tien kilogram. Ek en jy gaan sukkel om sy liggaam by daardie trappe op te dra – en ons is nugter.” Pagel begin sy apparaat oppak. “Kom ons kry hom by die lykshuis; ek kan nie nou veel meer doen nie.”

“Iemand het baie moeite gedoen om hom hier te kry,” sê Dekker.

“And therein lies the rub,” sê Pagel.

“Vroumense …” bespiegel Dekker.

Pagel staan op. “Moenie die Afrikaanse musiekbedryf as potensiële bron van konflik afskryf nie, Fransman.”

“Prof?”

“Volg jy die populêre media, Fransman?”

Dekker haal sy skouers op.

“A, die lewe van die wetstoepasser, all work and no play. Daar’s geld in die Afrikaanse musiekbedryf, Fransman. Gróót geld. Maar dit is net die oortjies van die seekoei. Die intriges is legio. Skandale van egbreuk, teistering, pedofilie … Meer lang messe en oënskynlike rugstekery as in Julius Caesar. Hulle baklei oor alles – back tracks, kontrakte, kunsmeriete, tantième, wie ’n musiekblyspel oor watter geskiedkundige figuur mag maak, wie watter plek in die musiekgeskiedenis verdien …”

“Maar hoekom, prof?” vra Griessel, diep teleurgesteld.

“Mense is mense, Nikita. En as daar groot roem en rykdom op die spel is … Dis die gewone ding: Daar’s klieks en kampe, groot ego’s, kunstenaarstemperament, fyngevoeligheid, haat, jaloesie, afguns, naywer, daar’s mense wat al jare lank nie meer met mekaar praat nie, nuwe vyandskappe … die lys is eindeloos. En onse Adam was in die middel van dit alles. Is dit genoeg om moord te inspireer? Soos Fransman tereg opgemerk het: In hierdie land is enigiets moontlik …”

Jimmy en Arnold van Forensies kom by die deur in. “O, daar’s prof, môre, prof,” sê Arnold, die dikke.

“Rosencrantz en Guildenstern are here. Môre, menere.”

“Prof, kan ons vir prof iets vra?”

“Natuurlik.”

“Prof, die ding is …” sê Arnold

“Vrouens …” sê Jimmy.

“Hoekom is hulle borste so groot, prof?”

“Ek meen, kyk na diere …”

“Baie kleiner, prof …”

“Jissis,” sê Fransman Dekker.

“Ek sê dis revolusie,” sê Arnold.

“Evolusie, jou swaap,” sê Jimmy.

“Whatever,” sê Arnold.

Pagel kyk na hulle met die welwillendheid van ’n geduldige ouer. “Interessante vraag, kollegas, maar ons sal die gesprek later moet voortsit. Kom maak ’n draai in Soutrivier.”

“Ons is nie lykshuis-ouens nie, prof …”

Dekker se selfoon lui. Hy kyk na die instrument. “Dis Cloete,” sê hy.

“And let the kettle to the trumpet speak,” sê Pagel op pad deur toe, want Cloete is die SAPS se skakeloffisier wat die media moet hanteer. “Totsiens, kollegas.”

Hulle groet die patoloog en luister hoe Fransman Dekker vir Cloete die opspraakwekkende besonderhede gee.

Griessel skud sy kop. Hier kom ’n ding; kyk hoe lyk dit al klaar daar buite. Dan lui sy eie selfoon. Hy antwoord: “Griessel.”

“Bennie,” sê Vusi Ndabeni. “Ek dink jy moet kom.”

13 uur

Подняться наверх