Читать книгу 13 uur - Деон Мейер - Страница 15

9

Оглавление

Rachel Anderson kruip in die klofie af. Dit word dieper namate sy vorder, die sykant nou hoog, ru, onbegaanbaar. Dit keer haar vas, maar dit bied skuiling sodat sy kan staan, want hulle sal haar moeilik sien. Die berg se helling word skerper, die terrein moeiliker. Kort ná agt en dit is sweetwarm hier. Sy moet afklim, aan rotse en die wortels van struike vashou, sy sweet, haar keel is droog, haar knieë kan nie meer nie. Sy moet water kry, sy moet iets kry om te drink, sy moet aanhou beweeg.

En dan sien sy die paadjie uit, na regs, trappies wat uit die rots en grond gekap en gegrawe is. Sy staar daarna. Sy weet nie wat daar bo vir haar gaan wag nie.

* * *

Alexa Barnard sien hoe hulle haar man se lyk by die deur verbydra en haar gesig vertrek van emosie.

Tinkie Kellerman staan op, kom sit op die rusbank langs haar en lê ’n sagte hand op haar arm. Alexa voel die verskriklike drang om deur die tengerige polisievrou vasgehou te word. Maar sy sit net, skuif haar arms sodat sy haar eie skouers vashou, ’n desperate selfomhelsing, en sy laat haar kop sak en sy sien hoe die trane op die wit materiaal van die kamerjas se mou drup en dan verdwyn, asof hulle nooit bestaan het nie.

* * *

Rachel Anderson klim tot amper bo en dan kyk sy met ’n kloppende hart oor die rand van die klofie. Net die berg. En stilte. Nog ’n trappie hoër en sy besef skielik hulle kan haar van agter af sien en sy draai verskrik om, maar daar is niemand nie. Die twee laaste trappies, versigtig. Aan haar linkerkant is die dakke van huise, die laaste ry bo teen die berg. Voor haar is ’n voetpaadjie wat agter die huise langs loop, met bome wat skuiling en skadu bied. Regs van haar is die steilte van die berg, dan die bergmassa self.

Nog een keer kyk sy terug, dan stap sy haastig met die paadjie aan, haar kop omlaag.

* * *

Griessel ry terug Langstraat toe, die verkeer nou ligter. Vusi het gesê hy moet na die Cat & Moose toe kom.

“Wat gaan aan?” het hy gevra.

“Ek sê jou as jy hier is,” met die intonasie van iemand wat in die teenwoordigheid van ander praat.

Maar dit is nie waaroor Griessel wonder nie. Hy sit in die polisiemotor en hy dink aan Alexa Barnard. Aan haar stem en haar storie, aan haar skoonheid wat agter twintig jaar se drink skuil. Hy wonder of ’n mens se kop haar jonger, mooier beeld in die geheue gaan opdiep en op die doek van haar huidige gelaat projekteer, sodat jy die twee saam sien – die hede en die verlede, so ver van mekaar en so onafskeibaar. En dan dink hy aan die intensiteit waarmee sy die jenewer gedrink het en hy weet dit was ’n gevaarlike ding om te sien, dié genesing. Dit het sy eie lus gaan lostorring sodat dit nou hier in hom hang, soos duisend los drade. Sodat sy kop vir hom sê daar is ’n drankwinkel net hier, in Kloof, wat alles weer kan konnekteer, wat die stroombane sal herstel sodat die elektrisiteit van die lewe weer teen volle sterkte kan vloei.

“Here,” sê Bennie vir homself en draai doelbewus links in Breë, weg van die versoeking af.

* * *

Wanneer die trane bedaar, sê Tinkie Kellerman: “Kom, ek dink jy sal beter voel as jy gebad het.”

Alexa knik en staan op. Sy loop, effe onvas, sodat die polisievrou haar moet stuur, op met die trappe, deur die biblioteek, in die gang af, tot by die kamerdeur.

“Ek dink jy moet hier wag.”

“Ek kan nie,” Tinkie se stem vol deernis.

Alexa staan vir ’n oomblik. Dan dring die betekenis tot haar deur. Hulle is bang sy doen iets. Aan haarself. En sy weet die moontlikheid bestaan. Maar eers wil sy by die drank uitkom, die vier sentimeter jenewer in die bottel agter haar onderklere.

“Ek sal niks doen nie.”

Tinkie Kellerman kyk net na haar met groot, meelewende oë.

Alexa loop by die kamerdeur in. “Jy bly net uit die badkamer uit.”

Sy sal die bottel saam met haar klere uit die kas haal. Haar lyf sal haar skuiling wees.

“Sit daar,” knik sy haar kop na die stoel voor die spieëlkas.

* * *

Fransman Dekker hoor die knaende geklop aan die voordeur. Hy gaan maak oop. Willie Mouton, die kaalkop in swart, staan op die voorstoep, saam met ’n alter ego – ’n ewe skraal man, maar met ’n vol bos swart hare, pynlik netjies in ’n kantpaadjie gekam, en die voorkoms van ’n begrafisondernemer: lang, somber gesig, oë wat al alles gesien het, donker pak klere en steenkoolkleurige das. “My prokureur is hier. Nou’s ek reg vir jou.”

“Nou’s jy reg vir my?” Sy humeur vlam op oor die wit man se afpraat na ’n kleurling, maar buite in die straat is lang lense op hulle gerig, toeskouers en media wat skrum teen die heining.

“Regardt Groenewald,” sê die prokureur verskonend en steek sy hand versigtig uit, ’n vredestaak, sodat Dekker ratte moet verwissel.

Hy skud die lang, onsekere hand. “Dekker,” sê hy, en kyk die prokureur op en af. Hy het ’n Dobermann verwag, nie dié bassethond van ’n man nie.

“Hy bedoel maar net ons is reg om te gesels,” sê Groenewald.

“Waar is Alexa?” vra Mouton en kyk by Dekker verby, die huis in. Groenewald verskuif die slap vingers na Mouton se arm, asof hy hom wil terughou.

“Sy word versorg.”

“Deur wie?”

“Deur ’n offisier van Maatskaplike Dienste.”

“Ek wil haar sien.” ’n Wit man se opdrag, maar weer ontlont die prokureur dit.

“Stadig, Willie.”

“Dit is nie nou ’n opsie nie,” sê Dekker.

Mouton kyk verwytend na sy prokureur. “Hy kan dit nie doen nie, Regardt.”

Groenewald sug. “Ek is seker hulle het haar regte aan Alexa verduidelik, Willie.” Hy praat apologeties, stadig, afgemete.

“Maar sy’s ’n siek vrou.”

“Mevrou Barnard het verkies om sonder ’n regsverteenwoordiger te praat.”

“Maar sy is nie compis mentos nie,” sê Mouton.

“Compos mentis,” sê Groenewald geduldig.

“Mevrou Barnard is nie op die oomblik ’n verdagte in die saak nie,” sê Dekker.

“Dis nie wat Adam se bediende gesê het nie.”

“Sover ek weet, werk die huishulp nog nie vir die SAPS nie.”

“Sien jy, Regardt. Dis hoe hulle is. Slimgatte. En dit nadat ek my vriend en kollega verloor het …”

“Willie, meneer Dekker, laat ons almal net kalmeer …”

“Ek is kalm, Regardt.”

“My kliënt het inligting wat met die saak verband hou,” sê Groenewald.

“Watse inligting?”

“Pertinente inligting. Maar kan ons nie …”

“Dan is dit sy plig om dit aan my oor te dra.”

“Nie as jy slimgat met my raak nie.”

“Meneer Mouton, jy het nie ’n keuse nie. Weerhouding van inligting …”

“Asseblief, menere …” sê Groenewald, pleitend. Dan, baie versigtig: “Miskien moet ons liewer binne gesels?”

Dekker huiwer.

“My kliënt het ’n sterk vermoede wie vir Adam Barnard om die lewe gebring het.”

“Maar ek wil nie laster nie,” sê Mouton.

“Willie, laster is onder die omstandighede nie ter sprake nie.”

“Jy weet wie vir Barnard geskiet het?”

“My kliënt het nie bewyse nie, maar voel dit sy siviele plig om die beskikbare inligting met die Gereg te deel.”

Fransman Dekker kyk na die skare, dan na Groenewald en Mouton. “Ek dink julle moet inkom.”

* * *

Rachel Anderson loop met die soom van die berg langs, in die voetpaadjie, nou haastiger, want dit is gelyke grond en sy het die skuiling van dennebome agtergelaat. Daar is net die huise links onder, groot plekke met swembaddens, digte tuine, hoë mure. En daaragter lê die stad en die lang swiep van Tafelbaai, ’n poskaart van helderblou see en die klompie toringblokke wat bymekaar hurk, asof hulle solidariteit in die nabyheid soek.

Dit is ’n leuen, dink sy, dié skoonheid. ’n Valse front. Sy en Erin het hulle daardeur laat mislei.

Voor haar draai die paadjie na regs, om verby ’n reservoir te kom. Die hoë grondwal sal haar wegsteek vir ’n paar honderd meter.

* * *

Agter die toe badkamerdeur trek Alexa Barnard haar japon en slaapklere uit en dan vat sy die bottel onder die kledingstukke wat sy ingedra het.

Sy skroef die prop af met ’n bewende hand. Daar is nie veel in nie. Sy bring dit na haar lippe en drink. Die beweging eggo in die lang spieël en sy kyk onwillekeurig daarna: Haar kaal lyf, die vroulikheid so nutteloos, haar vuil, lang hare in slierte in en om die gesig, stoppels van onderarmhare, mond oop, bottel desperaat hoog gelig om die laaste druppels te tap. Sy skrik vir dié demoon, vir die doelgerigtheid waarmee die spieëlbeeld op die bottel fokus.

Wie is dit wat daar staan?

Sy draai weg, drink die bottel leeg, maar vind nie verligting nie. Sy sit dit op die vloer neer en leun teen die muur met ’n uitgestrekte arm.

Is dit sy wat daar staan?

“Soetwater,” het die simpatieke speurder met die eienaardige gelaatstrekke en die deurmekaar hare gesê. “Hoe het jy tot hier gekom?” het hy bedoel. Sy het vir hom vertel, maar dit was voor dié spieëloomblik, onvolledig.

Sy draai terug en kyk weer vir die vrou in die weerkaatsing. Die lang lyf lyk so weerloos. Die bene, die heupe, die maag wat met ’n klein ronding hang, die ferm borste, die lang tepels, die nek waar die vel nie meer glad span nie. Die gesig, afgeleef, opgebruik, opgedrink.

Dit is sy. Háár lyf, háár gesig.

Here.

“Hoe hét jy tot hier gekom?” Daar’s ’n opregte nuuskierigheid in haar stem.

Sy ruk weg, loop in die stort in. Tot hier, maar sy wil nie verder nie. Sy kan nie.

Maak die krane meganies oop.

Adam is dood. Wat gaan sy doen? Vanaand? Môre?

Die angs wat in haar opstoot, is groot, sodat sy met haar palms teen die teëls moet druk om staande te bly. Sy staan vir ’n oomblik só, die water te warm, maar sy voel dit nie. Die pille, dit is wat sy moet kry, die slaappille, sodat sy kan wegdryf, weg van die vrou in die spieël, weg van dié verterende vrees, die dors, die donkerte voor haar.

Die pille is in die kamer, waar Tinkie Kellerman sit.

Dan sal sy iets anders moet kry. Hier, in die badkamer. Sy trap uit die stort uit met ’n dringendheid, pluk die badkamerkassie oop, haar hande bewend, te haastig, botteltjies wat omval, niks wat sy kan gebruik nie. Sy vat haar skeermes, kyk na die nutteloosheid daarvan, smyt dit weg, teen die deur, krap rond in die kassie, hier is niks, niks …

“Mevrou?” kom dit van anderkant die deur.

Alexa Barnard draai om en sluit die deur. “Los my uit.” Dit is nie haar stem nie.

“Mevrou, asseblief …”

Sy sien die drankbottel. Sy vat dit aan die tuit, slaan dit stukkend teen die muur. ’n Glasstuk spat teen haar voorkop. Sy kyk na die skerp lem wat in haar hand agterbly. Sy lig haar linkerarm en sy sny met geweld, diep en desperaat, van die palm na die elmboog. Die bloed is ’n fontein. Sy sny weer.

* * *

In die sitkamer is Mouton en Groenewald langs mekaar op die groot bank, Dekker oorkant.

“Ek het nie bewyse nie,” sê Mouton.

“Sê hom net wat gebeur het, Willie.”

Hulle is soos daardie twee in die ou swart-wit rolprente, dink Dekker. Wat was hulle name?

“Daar het ’n ou by my kantoor ingebars en gesê hy gaan vir Adam doodmaak …”

“En wie is dié ou?”

Mouton wend hom tot sy prokureur. “Jy’s seker dis nie laster nie, Regardt?”

“Ek is seker.”

“Maar wat as ek moet getuig?”

“Willie, laster sal nie ter sprake wees nie.”

“Dit kan hulle loopbaan vernietig, Regardt. Ek meen, sê nou dis nie hy nie.”

“Willie, jy het nie ’n keuse nie.”

Laurel en Hardy, onthou Dekker. Twee wit grapjasse. Hy vra: “Meneer Mouton, wie was dit?”

Hy trek sy asem diep in, adamsappel oorgehaal soos ’n haan. “Dit was Jos Geyser,” en hy sit terug asof hy ’n storm losgelaat het.

“Wie?”

“Die gospelsanger,” sê Mouton ongeduldig. “Van Jos en Melinda.”

“Ek ken hulle nie.”

“Jos en Melinda? Almal ken hulle. Sestigduisend van die nuwe CD, vierduisend op een dag, toe hulle op RSG se Musiekster was. Hulle is groot.”

“En waarom sou Jos Geyser vir Adam Barnard wou doodmaak?”

Mouton leun sameswerend vorentoe en praat skielik sag: “Want Adam het vir Melinda in sy kantoor gelooi.”

“Gelooi?”

“Jy weet … Hy’t met haar seks gehad.”

“In Barnard se kantoor?”

“Dis reg.”

“En toe vang Geyser hulle?”

“Nee. Toe bely Melinda.”

“Aan Jos?”

“Hoër op. Maar Jos was by toe sy gebid het.”

Fransman Dekker maak ’n geluid, iewers tussen ’n lag en ongeloof. “Meneer Mouton, jy is nie ernstig nie.”

“Ek is!” Verontwaardig. “Dink jy ek sal in sulke tye hier sit en grappies maak?”

Dekker skud sy kop.

“Gistermiddag toe kom Jos Geyser met ’n moerse spoed verby Natasha en hy breek omtrent my deur af en hy sê hy soek vir Adam en ek sê hoekom en hy sê hy gaan vir Adam doodmaak, want hy het Melinda ge-rape. Toe sê ek ‘hoe kan jy dit sê, Jos?’, toe sê hy Melinda het gesê. Toe sê ek ‘wat het sy gesê?’, toe sê hy sy’t gebid en bely oor die Groot Sonde in Adam se kantoor, op die lessenaar, sy’t gesê dit was die duiwel, maar hy wat Jos is, weet van Adam se dinge. En hy gaan hom doodbliksem. Hy was malkwaad, hy’t my amper gegryp, want toe sê ek dit klink nie na rape nie, hy’s hierdie helse groot ou, hy was ’n Gladiator voor hy bekeer is …” En dan laat Mouton weer sy stem sak: “Die storie is, hy kan nie … jy weet … dit opkry nie, oor die steroids …”

“Dis nie ter sake nie, Willie,” sê Groenewald.

“Dit gee hom motief,” sê Mouton.

“Nee, nee …” sê die prokureur

“Doodbliksem?” vra Dekker. “Dis wat hy gesê het?”

“Hy’t ook gesê hy gaan hom vrekmaak … nee, hy gaan hom fokken vrekmaak, hy gaan Adam se balle uitsny en hulle bo die platinum-CD in sy voorhuis raam.”

“Adam se dinge? Na watter ‘dinge’ het Geyser verwys?”

“Adam is …” En dan huiwer Mouton. “Ek kan nie glo Adam is dood nie.” Hy sit terug en vat aan sy kaal kop. “Hy was my vriend. My vennoot. Ons kom ’n lang pad saam … Ek het vir hom gesê eendag gaan iemand …”

Daar daal ’n stilte neer. Mouton vee met die agterkant van sy hand oor sy oë.

“Ekskuus,” sê Mouton. “Dis vir my sleg …”

Die prokureur steek weer sy lang, skraal hand na sy kliënt uit. “Dis te verstane, Willie …”

“Hy was hierdie moerse presence …”

En dan hoor Dekker die hoë, dringende stem van Tinkie Kellerman: “Fransman!”

Hy kom vinnig orent en loop deur toe.

“Fransman!”

“Hier,” roep hy. Hy sien vir Kellerman op die bopunt van die trap.

“Kom help,” sê sy. “Maak gou.”

* * *

Honderd meter anderkant die reservoir draai die paadjie links, bergaf, stad se kant toe, in ’n wye, vlak klofie. Rachel Anderson stap tussen dennebome deur, volg die roete om groot rotsblokke, sien die klipmuurtjie voor haar met die deurgang in die middel en daar voor regs, ’n byna voltooide huis agter ’n groot akkerboom. Die koelte is ’n diep skadukol, ’n plek vir rus, maar eers dink sy aan ’n kraan, haar dors is ’n vuurwarm koors.

Sy loop verby die motorhuis, haar oë soekend, straat se kant toe. ’n Opgesaagde denneboom lê die dubbelmotorhuis se deur vol, die stompe netjies gestapel. Sy sien die kraan langs die agterdeur van die huis, sy bid dat dit sal werk, sy loop vinniger, buk, draai dit oop. Die silwer water stroom daaruit, vir ’n paar sekondes warm, dan skielik koel. Sy gaan sit op een knie, draai die kraan effens toe en dan drink sy, só, direk uit die tuit uit.

* * *

Fransman Dekker het al genoeg deure oopgedwing om te weet jy gebruik nie jou skouer nie. Hy tree terug en hy skop. Dit splinter, maar bly toe. Hy skop weer, twee keer, voor dit breek en net veertig sentimeter oopswaai. Dit is genoeg om die bloed te sien.

“Ag, liewe Here,” sê Tinkie Kellerman agter hom.

“Wat?” sê Willie Mouton en probeer by haar verbykom.

“Meneer, jy kan nie …”

Dekker is in die badkamer. Hy sien vir Alexa Barnard lê. Hy trap in die bloed en draai haar kaal liggaam om. Haar oë is oop, maar sonder fokus.

“Ambulans,” roep hy vir Tinkie. “Nou.”

Hy buk en kyk na die skade. Haar linkerpols is diep gesny, minstens drie keer. Die bloed loop steeds daaruit. Hy gryp ’n kledingstuk wat op die vloer lê en begin dit om die wonde draai, so styf as wat hy kan.

Alexa sê vir hom iets, byna onhoorbaar.

“Mevrou …” sê hy.

“Die ander arm,” fluister sy.

“Ekskuus?”

“Sny die ander arm, asseblief,” en sy hou met ’n moeë hand die bottelskerf na hom toe uit.

* * *

Sy les haar dors en was die bloed van haar hande en arms en gesig af en dan staan sy op, draai die kraan toe en haal diep asem. Die stad is net hier onder …

Sy loop om die hoek van die huis, nou minder angstig, haar vrees deur die water getemper.

En dan sien sy hulle, net twintig tree weg, in die straat. Sy steek vas, skrik met ’n snak. Hulle staan met hul rûe na haar toe, langs mekaar. Sy ken hulle.

Sy staan versteen, sy hoor die oorverdowende klop van haar hart.

Hulle kyk in die straat af wat ondertoe loop. Die een draai sy kop, sê iets. Gaan hy haar sien?

Hy kyk weer vorentoe.

Sy gee ’n tree agteruit, nog een. Hulle kyk steeds bergaf. Die motorhuis. Met die boomstompe. Sy moet daar in. Vyf tree agter haar. Sy is te bang om van hulle weg te kyk, sy skuifel agteruit, doodbang sy sal op iets trap. As hulle net nie omkyk nie. Sy is langs die kant van die motorhuis, nog net een tree. En dan begin die een omdraai. Die een by wie alles begin het. Die een wat met die mes by Erin gebuk het.

13 uur

Подняться наверх