Читать книгу 13 uur - Деон Мейер - Страница 11
6
ОглавлениеBrownlowstraat is vir Griessel ’n verrassing, want Tamboerskloof is veronderstel om ’n rykmansbuurt te wees. Maar hier is die ou Victoriaanse huise ’n glyskaal, van onlangs gerestoureerd tot erg vervalle. Sommige is skakelhuise; ander hurk teen die helling as losstaande kolosse. Nommer 47 is groot en indrukwekkend, twee verdiepings, stoepe en balkonne met krullende traliewerk, roomkleur mure en groen geverfde houthortjies langs die vensters. Iewers in die afgelope tien jaar is dit gerestoureer, maar dit het nou weer aandag nodig.
Daar is nie ’n motorhuis nie. Griessel parkeer in die straat, agter ’n swart afslaankap Mercedes SLK 200, twee polisievoertuie en ’n wit Nissan met die SAPS-kenteken op die deur en die woorde Social Services daaronder, in swart. Forensies se bussie staan oorkant. Dik en Dun. Hulle het seker direk van Langstraat af gekom.
’n Uniform keer hom voor by die groot houtvoordeur. Hy wys sy eieningskaart. “Inspekteur sal moet agterom loop; die sitkamer is ’n crime scene,” sê hy. Griessel knik tevrede.
“Ek dink hulle is nog in die kombuis, inspekteur kan hier regs, en dan al om die huis.”
“Dankie.”
Hy stap. Daar is nie baie tuin tussen muur en huis nie. Die bome en struike is groot, oud, ietwat onversorg. Agter is ’n uitsig oor Leeukop. By die agterdeur is nog ’n uniform op wag. Hy haal weer sy SAPS-kaartjie uit sy beursie en wys dit vir die konstabel.
“Die inspekteur verwag jou.”
“Dankie,” sê hy en loop in, deur die wasgoedkamer, en maak die binnedeur oop. Dekker sit by die kombuistafel met ’n beker koffie tussen sy hande en ’n pen en ’n notaboek voor hom, sy fokus volkome op die bruin vrou oorkant hom. Sy is in ’n huishulpjurk van wit en pienk, met ’n sakdoek in haar hande en huilende oë. Sy is geset, wat dit moeilik maak om haar ouderdom te skat.
“Fransman …” sê Griessel.
Dekker kyk gesteurd op. “Bennie.” En as ’n nagedagtenis: “Kom in.” Hy’s ’n lang, atletiese bruin man, die skouers breed en sterk, die gesig uit ’n sigaretadvertensie, ru en aantreklik.
Griessel loop tot by die tafel en skud Dekker se hand.
“Dit is mevrou Sylvia Buys. Sy’s die huishulp hier.”
“Goeiemôre,” sê Sylvia Buys plegtig.
“Môre, mevrou.”
Dekker stoot die koffie van hom af weg, asof hy hom daarvan wil distansieer, trek sy notaboek nader met ’n sekere onwilligheid. “Mevrou Buys het om …” hy raadpleeg die notaboek. “… ses vyf-en-veertig op diens gekom en eers opgeruim en koffie gemaak hier in die kombuis voor sy die leefarea gaan inspekteer het om … sewe-uur …”
“Damage assessment,” sê Sylvia Buys verwytend. “Daai vrou kan mors.”
“… waarna sy die oorledene, meneer Adam Barnard, en die verdagte, mevrou Sandra Barnard …”
“Sy’s eintlik Alexandra …” Met afkeer.
Dekker maak ’n nota en sê: “Mevrou Alexandra Barnard. Mev. Buys het hulle in die biblioteek op die eerste verdieping aangetref. Om sewe-uur. Die vuurwapen het langs mevrou Barnard op die mat gelê …”
“Not to mention the booze. Sy’s ’n alkie, elke aand suip sy soos ’n vis en meneer Adam …” Die sakdoek kom van die tafel af en Sylvia Buys druk-druk daarmee onder haar neus en haar stem raak dunner en hoër.
“Was sy gisteraand onder die invloed?” vra Griessel.
“Sy’s elke aand dronk soos ’n tor. Ek loop half past four en toe was sy well on her way, daai tyd van die middag praat sy al met haarself.”
“Mevrou Buys sê die verdagte was alleen toe sy gistermiddag die huis verlaat het. Sy weet nie hoe laat die oorledene tuisgekom het nie.”
“Hy was ’n goeie man. Always a kind word. Ek ve’staan dit nie. Vir wat het sy hom geskiet? Vir wat? He did her no wrong, hy’t al haar milly gevat, haar gesuip, hy’t dit maar net gevat, hy’t haar elke aand in die bed loop sit en toe gaan skiet sy vir hom?” Sy huil kopskuddend.
“Jy’s traumatised, sister. Ons sal vir jou counselling kry.”
“Ek soek nie counselling nie,” snik Sylvia Buys. “Waar gaan ek weer ’n job kry, op my ouderdom?”
* * *
“Dis nie so eenvoudig soos sy sê nie,” sê Dekker toe hulle met die geelhouttrappe oploop na die biblioteek toe. “Jy sal sien.”
Griessel sien daar is spanning in die man. Hy weet sy kollegas noem Dekker “Fronsman” agter sy rug, ’n verwysing na ’n afwesige sin vir humor en verterende ambisie. En in die wandelgange van die Provinsiale Taakspan het hy die stories gehoor, want hulle praat graag oor opkomende sterre: Dekker is ’n Franse rugbyspeler se kind. Sy ma, ’n bruin vrou uit Atlantis se armoede, was jonk en vól toe sy in die jare sewentig by die Koeberg-kernkragsentrale as skoonmaker gewerk het. Die rugbyspeler was glo ouer, lank verby sy gloriejare, destyds ’n skakelbeampte by die Franse konsortium wat Koeberg gebou en onderhou het. Hul interaksie was eenmalig, en die rugbyspeler is kort daarna terug na sy vaderland, sonder kennis van sy nasaat. Dekker se ma kon nie sy naam onthou nie, daarom dat sy haar seun bloot “Fransman” laat doop het.
Hoeveel daarvan waar is, weet Griessel nie. Maar die kind het klaarblyklik sy pa se Galliese neus, liggaamsbou en steil swart hare geërf – nou borselkop gesny – en sy ma se koffiekleurige vel.
Hy loop agter Dekker by die huis se biblioteek in. Dik en Dun is in die vertrek besig. Hulle kyk op as die speurders inkom.
“Ons kan nie aangaan om só te ontmoet nie, Bennie, die mense sal begin praat,” sê Jimmy.
’n Ou grap, maar Griessel grinnik en kyk na die slagoffer wat aan die linkerkant lê, swart pak se broek, wit hemp sonder das, een skoen weg, twee skietwonde in die bors. Adam Barnard was lank en fors. Sy swart hare in die styl van die sewentigs, oor die ore en kraag, met elegante grys vlerke hier by die slape. In dood is sy oë oop, sodat hy effens verbaas lyk.
Dekker vou sy arms, afwagtend. Dik en Dun staan vir hom en kyk.
Griessel loop versigtig nader, neem die boekrakke, die Persiese tapyte, die skilderye, die drankbottel en glas langs die stoel aan die regterkant van die vertrek in. Die vuurwapen lê nou in ’n deurskynende plastiek-bewysstuksakkie op die grond, waar Forensies dit met ’n wit krytkring gemerk het. “Sy was daardie kant?” vra hy vir Dekker.
“Sy was.”
“The Oracle at work,” sê Dik.
“Fokkof, Arnold,” sê Griessel. “Is die pistool afgevuur?”
“Baie onlangs,” sê Arnold.
“Maar nie hier nie.”
“Bingo,” sê Arnold.
“Ek het jou gesê hy gaan dit dadelik kry,” sê Jimmy.
“Ja,” sê Dekker. Hy klink teleurgesteld. “Dis ’n outomatiese pistool, drie rondtes afwesig uit die magasyn, maar hier’s nie doppies nie. Geen bloed op die vloer nie, daar’s nie skietgate in die mure of boekrakke nie, en die skoen makeer,” sê Fransman Dekker. “Ek het die hele huis deurgeloop. Jimmy-hulle het deur die tuin gekyk. Sy’t hom nie hier geblaas nie. Ons gaan die kar in die straat moet deurkyk …”
“Waar is sy?”
“In die sitkamer, by Tinkie Kellerman van Maatskaplik.”
“Klop, klop,” sê iemand van die deur af. Dit is die langhaar-fotograaf.
“Kom in,” sê Dekker. “Jy’s laat.”
“Omdat ek eers fokken prints moes maak vir …” Hy sien vir Griessel. Sy houding verander. “Vusi het sy foto’s, Bennie.”
“Dankie.”
“Jimmy, het julle haar al vir GSR getoets?” vra Dekker.
“Nog nie. Maar ek het haar hande in papier gesit. Sy’t dié nie ge-like nie.”
“Kan julle haar gou gaan doen? Ek kan nie met haar praat as sy papiersakke om haar hande het nie.”
“As sy aan die pistool gevat het, gaan sy GSR hê. Ek weet nie of jy veel daarmee sal kan doen nie.”
“Laat ék daaroor worry, Jimmy …”
“Ek sê maar net. Gunshot residue is nie meer wat dit was nie. Die advokate raak slim.” Jimmy haal ’n boksie uit sy tas. Daarop staan “SEM Examination”. Hy loop na die trappe toe, met die twee speurders agterna.
“Fransman, jy’t goeie werk gedoen,” sê Griessel.
“Ek weet,” sê Dekker.
* * *
Die Metro-polisie se CCTV-beheerkamer is ’n indrukwekkende vertrek; dit het twintig flonkerende televisieskerms, ’n hele bank video-opnemers en ’n beheerpaneel wat lyk soos ’n NASA-pendeltuig s’n. Speurder-inspekteur Vusi Ndabeni staan en kyk na ’n monitor: Die greinerige beeld van die klein, hardlopende figure in die straatligte van Langstraat. Nege sekondes van materiaal, nou in stadige aksie, sewe skaduagtige mense in ’n desperate wedloop van links na regs oor die skerm. Die meisie is voor, net uitkenbaar danksy die donker boggel van die rugsak. Hier, tussen Leeuwen- en Pepperstraat, is sy net drie tree voor die naaste aanvaller, arms en bene wat hoog lig in vlug. Nog vyf mense is sestien, sewentien meter terug. In die heel laaste raam voor sy van die skerm verdwyn, kan Ndabeni sien sy begin haar kop na agter draai, asof sy wil kyk hoe naby hulle is.
“Dis die beste wat julle het?”
Die operateur is wit, ’n uil van ’n mannetjie agter ’n groot, ronde Harry Potter-bril. Hy haal net sy skouers op.
“Kan jy dit vergroot?”
“Nie regtig nie,” antwoord hy in ’n nasale stem. “Ek kan ’n bietjie speel met die brightness en contrast, maar as jy inzoom, kry jy net grain. Die pixels word nie meer nie.”
“Kan ons probeer, asseblief?”
Die Uil skuif en draai aan die knoppe voor hom. “Moenie wonderwerke verwag nie.” Op die skerm hardloop die figure stadig agteruit en vries. Dan pik die man op ’n sleutelbord en histogramme en tabelle verskyn bo-op die beeld.
“Vir wie wil jy beter sien?”
“Die mense wat haar jaag.”
Die operateur gebruik ’n muis om twee van die vyf agterste figure te selekteer, wat skielik die hele skerm vul. Hy tik weer op die sleutelbord en die beeld verlig, die skaduwees vervlak. “Al wat ek kan probeer, is ’n high pass sharpen …” sê hy. Die fokus verskerp effens, maar nie een van die twee mense is herkenbaar nie.
“Jy kan darem sien dis ouens, en die voorste een is swart,” sê die Uil.
Vusi kyk stip na die skerm. Dit gaan hom nie veel help nie.
“En jy kan sien dis nie ou mans nie.”
“Kan jy dit uitdruk?”
“O.K.”
“Hulle is net op die een kamera?”
“My shift is agtuur klaar. Dan sal ek kyk of daar nie iewers nog iets is nie. Hulle moes van Groentemark of Kerkstraat se kant af gekom het, maar dit gaan tyd vat. Daar’s sestien kameras in daai sektor. Maar nie almal werk meer nie.”
“Dankie,” sê Vusi Ndabeni. Maar een ding verstaan hy nie: As een van die aanvallers hier, by Pepperstraat, net drie tree agter haar was, hoekom het hy haar nie gevang voor die kerk nie? Dis vyfhonderd meter, dalk meer. Het hy gegly? Geval? Of doelbewus net gewag vir ’n stiller plek?
“Nog een ding, as jy nie omgee nie …”
“Hei, dis my werk …”
“Kan jy vir my die twee vergroot wat voor hardloop?”
* * *
Griessel loop agter Dekker by die sitkamer in. Dit is ’n ruim vertrek, met groot banke en stoele om ’n tamaai koffietafel, smaakvol, oud, goed gerestoureer. Klein en tenger Tinkie Kellerman van die SAPS se Maatskaplike Dienste sit regop in ’n gemakstoel wat haar verdwerg. Sy’s die een wat laat haal word wanneer die slagoffer of verdagte ’n vrou is, want sy is vol deernis en empatie, maar daar is nou ’n frons van ongemak op haar gesig.
“Mevrou, kom ek haal die sakke van jou hande af,” sê Jimmy joviaal vir Alexandra Barnard, ’n geboë figuur in ’n te groot wit kamerjas. Sy sit vooroor op die punt van ’n groot viersitplekbank, haar elmboë op haar knieë, haar kop hang, ongewaste grys en blonde hare verberg haar gesig. Sy steek haar hande uit sonder om op te kyk. Jimmy maak die bruin papiersakke los.
“Ek moet net gou dié diskette op jou hande druk. Hulle is klewerig, maar dis al …” Hy breek die seël op die SEM-kissie en haal die ronde metaalskyfies uit. Griessel sien Alexandra Barnard se hande bewe, haar gesig nog steeds agter die lang hare bedek.
Hy en Dekker kies elkeen ’n stoel. Dekker maak sy notaboek oop.
Jimmy werk vinnig en sekuur, eers die regterhand, dan die linker. “Daar’s hy, dankie, mevrou.” Hy gee vir die speurders ’n kyk wat sê “hier’s ’n interessante een”, en dan pak hy op.
“Mevrou Barnard …” sê Dekker.
Tinkie Kellerman skud haar kop effens, asof sy wil sê die verdagte is nie kommunikatief nie. Jimmy loop uit terwyl hy sy oë rol.
“Mevrou Barnard,” sê Dekker, sy stem harder, saakliker.
“Ek het dit nie gedoen nie,” sê sy sonder om te beweeg, haar stem verrassend diep.
“Mevrou Barnard, u het die reg tot ’n regsverteenwoordiger. U het die reg om geen vrae te beantwoord nie. Maar as u sou kies om ons vrae te beantwoord, moet ek u meedeel dat u verklaring in die hof gebruik kan word.”
“Ek het dit nie gedoen nie.”
“Wil u ’n regsverteenwoordiger kontak?”
“Nee,” en dan lig sy haar kop stadig en druk haar hare weerskante weg van haar gesig af. Bloedbelope blou oë, vel het ’n ongesonde kleur. Griessel sien die eweredige gelaatstrekke, die skimpe van vergange skoonheid onder die spore van misbruik, en hy weet hy ken haar, hy ken ’n weergawe van hierdie gesig, maar hy kan haar op dié oomblik hoegenaamd nie plaas nie. Sy kyk vir Dekker, dan vir Griessel; haar enigste uitdrukking is een van volslae moegheid. Sy reik ’n hand na ’n tafeltjie langs haar uit en tel ’n pakkie sigarette en ’n aansteker op. Sy sukkel om die pakkie oop te kry en ’n sigaret uit te haal.
“Mevrou Barnard, ek is inspekteur Fransman Dekker. Dit is inspekteur Bennie Griessel. Is u gereed om ons vrae te beantwoord?” Sy stem is harder as wat nodig is, soos wanneer ’n mens met iemand praat wat ’n bietjie doof is.
Sy knik klein, met moeite, en steek die sigaret aan. Sy trek die rook diep in, asof dit haar krag moet gee.
“Die oorledene is u man, meneer Adam Barnard?”
Sy knik.
“Wat is sy volle name?”
“Adam Johannes.”
“Ouderdom?”
“Twee-en-vyftig.”
Dekker skryf. “En sy beroep?”
Sy rig haar moeë oë op Dekker. “AfriSound.”
“Verskoon my?”
“AfriSound. Dis syne.”
“AfriSound?”
“Dis ’n platemaatskappy.”
“En hy besit die maatskappy?”
Sy knik.
“U volle name?”
“Alexandra.”
“Ouderdom?”
“Honderd-en-vyftig.”
Dekker kyk net vir haar, pen reg.
“Ses-en-veertig.”
“U beroep?”
Sy maak ’n kort, ironiese geluid en vee weer hare terug van haar gesig af. Griessel sien bevestiging van die huishulp se stelling dat sy ’n drinker is – die bewende hande, die oë, die kenmerkende verkleuring en erosie op haar gesig. Maar daar is iets anders waaraan sy hom herinner. Hy weet hy het haar al iewers ontmoet.
“Verskoon my?” sê Dekker.
Van waar ken hy haar, wonder Griessel. Van waar?
“Ek werk nie.”
“Tuisteskepper,” sê Dekker en skryf dit neer.
Sy maak dieselfde gelade geluid.
“Mevrou Barnard, kan u vir ons vertel van laasnag se gebeure?”
Sy sak stadig terug in haar groot stoel, plaas ’n elmboog op die leuning en stut haar kop met die hand. “Nee.”
“Verskoon my?”
“Ek weet nie hoe lank ek nog die versoeking sal kan weerstaan om ‘jy is verskoon’ te sê nie.”
Dekker se kakebeenspiere beweeg, asof hy op sy tande kners. Alexandra trek haar asem stadig en doelbewus in, asof sy haar staal vir ’n groot taak. “Ek is ’n alkoholis. Ek drink. Van elfuur in die oggend. Teen sesuur is ek gewoonlik genadiglik dronk. En van halfnege af onthou ek nie veel nie.” Op daardie oomblik, miskien omdat die diep, ryk stem iewers in sy geheue resonansie vind, onthou Bennie Griessel wie sy is. Die woord kom sit op sy tong, hy sê dit amper hardop, bedwing homself net betyds: Soetwater.
Sy was ’n sangeres. Xandra. Here, sy het oud geword.
Soetwater. Die woord roep ’n visioen by hom op, ’n TV-beeld van ’n vrou in ’n noupassende swart rok, net sy en ’n mikrofoon in die helder kollig van ’n rookgehulde verhoog.
’n Glasie vol sonlig, ’n soet kelkie klein.
Skink Soetwater.
’n Mondjie vol liefde, ’n slukkie vol pyn.
Drink Soetwater.
Middel tagtigerjare, daar rond, en Griessel onthou haar soos sy was, die onmoontlik sensuele blonde sangeres met die Dietrich-agtige stem en genoeg selfvertroue om haarself nie ernstig op te neem nie. Hy het haar net op ’n televisieskerm ontmoet, en op die voorblaaie van tydskrifte, in die dae voor hý gedrink het. Sy het vier, vyf treffers gehad, hy onthou “ ’n Donkiekar net vir Twee”, “Tafelbaai se Wye Draai” en die heel grote, “Soetwater”. Fok, sy was hierdie moerse ster en kyk hoe lyk sy nou. Bennie Griessel voel ’n jammerte vir haar, ’n verlies, ’n aanklank.
“So u kan nie onthou wat gisteraand gebeur het nie?”
“Nie veel nie.”
“Mevrou Barnard,” sê Dekker, styf en formeel. “Ek kry nie die indruk dat jou man se dood jou geweldig ontstel nie.”
Hy maak ’n fout, dink Griessel. Hy lees haar verkeerd; hy’s te gespanne, te haastig.
“Nee, inspekteur, ek is nie in rou nie. Maar as jy my gin en dry lemon bring, sal ek my bes doen.”
Vir net ’n oomblik is Dekker onseker, maar dan trek hy sy skouers terug en hy sê: “Kan jy enigiets onthou van gisteraand?”
“Genoeg om te weet dit was nie ek nie.”
“O.”
“Kom vanmiddag terug. Drie-uur is ’n goeie tyd. My beste van die dag.”
“Dit is nie ’n opsie nie.”
Sy maak ’n gebaar wat sê dit is nie haar probleem nie.
“Ek sal jou bloed moet laat toets vir alkoholvlakke.”
“Gaan aan.”
Dekker staan op. “Ek kry net die tegnikus.”
Griessel loop agter hom aan. In die sitkamer is Dik en Dun besig om op te pak. “Kan jy net haar bloed trek voor julle gaan?”
“Sure, Chief,” sê Jimmy.
“Fransman,” sê Griessel, daarvan bewus dat hy baie versigtig sal moet wees. “Jy weet ek is ’n alkoholis?”
“A,” sê Arnold, die dikke, “speurders wat bond. Wat kan mooier wees?”
“Fokkof,” sê Griessel.
“Ek was in elk geval op pad,” sê Arnold.
“Julle moet nog die Mercedes in die straat doen,” sê Dekker.
“Dis volgende op die lys,” en Arnold loop by die vertrek uit, sy hande vol van bewysstukke en apparaat.
“So?” vra Dekker as hulle alleen is.
“Ek weet hoe sy voel, Fransman …”
“Sy voel niks. Haar man lê daar en sy voel niks. Sy’t hom geblaas, ek sê jou. Die gewone storie.”
Hoe verduidelik jy aan ’n nie-suiper hoe sy nou voel? Alexandra Barnard se hele wese sit daar en smag na alkohol. Sy is soos ’n drenkeling in die verskriklike vloed van dié oggend; drank is die enigste reddingsboei. Griessel weet.
“Jy’s ’n goeie speurder, Fransman. Jou toneel is perfek bestuur, jy doen alles volgens die boek en jy’s tien teen een reg. Maar as jy ’n bekentenis wil kry … Gee my ’n kans. Een-tot-een is nie so intimiderend nie …”
Griessel se selfoon lui. Hy kyk na Dekker terwyl hy dit uithaal. Die bruin man lyk nie positief oor sy voorstel nie.
“Griessel.”
“Bennie, dis Vusi. Ek’s by Metro se CCTV-kamer. Daar’s twee van hulle, Bennie.”
“Twee wat?”
“Twee meisies, Bennie. I’m standing here, watching five guys chasing two girls up Long Street.”