Читать книгу 13 uur - Деон Мейер - Страница 5

1

Оглавление

Om 05:36 hardloop sy teen die steilte van Leeukop uit, die voeteval van haar sportskoene dringend op die gruis van die breë voetpad.

Op dié oomblik, wanneer die vroeë strale van die son haar soos ’n soeklig teen die berg vind, is sy die toonbeeld van sorgelose grasie. Van agter gesien, wip haar donker vlegsel teen die klein rugsak; haar nek is ’n diep sonbruin teen die poeierblou van haar T-hemp. Daar is energie in die ritmiese tred van haar lang bene in die denimkortbroek. Sy skep die indruk van atletiese jeugdigheid – lewenslustig, gesond, gefokus.

Tot sy skielik gaan staan en oor haar linkerskouer terugkyk. Dan verbrokkel die illusie, want daar is angs in haar gelaatstrekke. En uitputting.

Sy sien nie die indrukwekkende skoonheid van die stad in die sagte lig van die opkomende son nie. Haar oë soek wild en bang na beweging in die hoë fynbos agter haar. Sy weet hulle is daar, maar nie hoe naby nie. Haar asem jaag – van inspanning, skok en vrees. Dit is adrenalien, die verskriklike drang om te leef, wat haar dwing om weer te begin hardloop, om aan te hou, ondanks haar lam ledemate, die brand in haar bors, die tamheid van ’n nag sonder slaap en die disoriëntasie van ’n onbekende stad, ’n vreemde land, ’n ongenaakbare kontinent.

Voor haar vurk die paadjie. Haar instink dwing haar regs, hoër op, nader aan die Leeukop-rotskoepel. Sy dink nie, sy het nie ’n strategie nie, sy hardloop blindelings, haar slanke arms is die stange van die masjien wat haar aandryf.

* * *

Speurder-inspekteur Bennie Griessel slaap.

Hy droom hy bestuur ’n groot tenkvragmotor teen die afdraande af op die N1 tussen Plattekloof en Parow, te vinnig, nie heeltemal onder beheer nie. Wanneer sy selfoon lui, is die eerste skril toon genoeg om hom met ’n vlietende gevoel van verligting na die werklikheid te laat opstyg. Hy maak sy oë oop en kyk na die radiowekker. Dit is 05:37.

Hy swaai sy voete van die enkelbed af, die droom vergete. Hy sit vir ’n oomblik op die rand, stil, soos ’n man voor ’n afgrond, en dan staan hy op en strompel deur toe, af met die houttrap na die leefvertrek onder, waar hy sy selfoon gisteraand laat lê het. Sy donker hare, te lanklaas gesny, is deurmekaar. Hy het net ’n verbleikte rugbybroek aan. Sy enigste gedagte is dat ’n oproep dié tyd van die oggend slegte nuus moet wees.

Hy herken nie die nommer op die foon se paneel nie.

“Griessel.” Sy stem verraai hom, hees vir die eerste woorde van die dag.

“Hei, Bennie, dis Vusi. Ek is jammer om jou wakker te bel.”

Hy sukkel om te fokus, sy kop wollerig. “Dis O.K.”

“Ons het ’n … liggaam.”

“Waar?”

“St. Martini, die Lutherse kerk bo in Langstraat.”

“In die kerk?”

“Nee. Sy lê buite.”

“Ek is nou daar.”

Hy beëindig die oproep en stoot ’n hand deur sy hare.

Sy, het inspekteur Vusumuzi Ndabeni gesê.

Seker ’n bergie. Wat te veel van die een of ander iets gedrink het.

Hy sit die selfoon neer langs sy nuwe, tweedehandse skootrekenaar.

Hy draai om, nog nie heeltemal wakker nie, en stamp sy skeen teen die voorwiel van die fiets wat aangeleun staan teen sy pandjieswinkel-rusbank. Hy gryp dit voor dit omval. Dan klim hy die houttrappe uit, boontoe. Die fiets is ’n vae herinnering aan sy finansiële verknorsing, maar hy wil nie nou daaraan dink nie.

In sy slaapkamer trek hy die kortbroek uit en die muskusreuk van seks styg van sy middellyf af op.

Fok.

Die kennis van goed en kwaad kom lê skielik swaar op hom. Saam met die gebeure van die vorige aand, pers dit die laaste lomerigheid uit sy kop.

Wat het hom besiel?

Hy gooi die broek met ’n beskuldigende boog na die bed toe en loop by die badkamer in.

Griessel lig die deksel van die toilet ergerlik, mik, en urineer.

* * *

Skielik is sy op die teer van Seinheuwelweg en sy sien die vrou en die hond, honderd meter links van haar af, en haar mond vorm ’n uitroep, twee woorde, maar haar stem is verlore in die jaag van haar asem.

Sy hardloop na die vrou en die dier toe. Die hond is groot, ’n rifrug. Die vrou is dalk sestig, wit, met ’n groot pienk sonhoed, ’n wandelstaf en ’n klein sakkie op haar rug.

Die hond is skielik onrustig. Dalk ruik hy haar vrees; miskien voel hy die paniek in haar aan. Haar sole klap op die teer wanneer sy vaart verminder. Sy gaan staan, drie meter van hulle af.

“Help me,” sê die meisie. Haar aksent is sterk.

“What’s wrong?” Kommer in die vrou se oë. Sy tree terug. Die hond grom en beur aan die leiband, nader na die meisie toe.

“They’re going to kill me.”

Die vrou kyk verskrik rond. “But there’s nobody.”

Sy kyk oor haar skouer. “They’re coming.”

Dan meet sy die vrou en die hond en sy weet dit gaan nie ’n verskil maak nie. Nie hier in die oopte teen die berg nie. Nie teen hulle nie. Sy gaan almal in gevaar stel.

“Call the police. Please. Just call the police,” sê sy en dan begin sy weer hardloop, eers traag, haar liggaam onwillig. Die hond ruk vorentoe en blaf een keer. Die vrou trek aan die band.

“But why?”

“Please,” sê sy en skuifel op die teerpad, in die rigting van Tafelberg. “Just call the police.”

Sy kyk een keer om, wanneer sy sewentig tree weg is. Die vrou staan steeds daar, vasgenael en effens verwese.

* * *

Bennie Griessel spoel die toilet en hy wonder hoekom hy dit nie gisteraand sien kom het nie. Hy’t dit nie gesoek nie, dit het net gebeur, jissis, hy hoef nie so skuldig te voel nie, hy’s net ’n mens.

Maar hy is getroud.

As jy dit ’n huwelik kan noem. Van tafel en bed en woning geskei. Nee, fok weet, Anna kan nie alles hê nie. Sy kan hom nie uit sy eie huis jaag en van hom verwag om finansieel twee huise aan die gang te hou en dan boonop wil hê hy moet vir ses fokken maande lank nugter én selibaat bly nie.

Ten minste is hy nugter. Eenhonderd-ses-en-vyftig dae al. Dit is meer as vyf maande van stry teen die bottel, dag vir dag, uur vir uur, tot hier.

Here, Anna mag nooit uitvind van gisteraand nie. Nie nóú nie. Minder as ’n maand oor voor sy ballingskap uitgedien is, sy straf vir sy gesuip. As Anna moet weet, is hy heeltemal in sy moer in, al die gesukkel en swaarkry verniet.

Hy sug en gaan staan voor die spieëlkassie om tande te borsel. Sien homself. Die grys by sy slape, die plooitjies langs sy swart oë, die Slawiese gelaatstrekke. Was nog nooit ’n oil painting nie.

Hy maak die kassie oop, haal borsel en tandepasta uit.

Wat het sy in hom gesien, die Bella-vroumens? Daar was ’n oomblik gisteraand toe hy gewonder het of sy by hom lê omdat sy hom jammer kry, maar toe was hy te lus, te fokken dankbaar vir haar sagte stem en haar groot borste en haar mond, Here, daardie mond, hy het ’n ding oor ’n mond, dis waar die moeilikheid begin het. Nee, dit het by Lize Beekman begin, maar gaan vertel dít vir Anna.

Jissis.

Bennie Griessel borsel sy tande haastig en dan klim hy onder die stort in en draai die krane wyd oop sodat hy die beskuldigende reuke van sy lyf kan afwas.

* * *

Dit is nie ’n bergie nie. Griessel se hart ruk vir ’n oomblik as hy oor die skerpgepunte traliewerk van die kerkmuur klim en die meisie daar sien lê. Die sportskoene, die kakiekortbroek, die oranje kamisool en die vorm van haar bene en arms sê sy is jonk. Sy herinner hom aan sy dogter.

Hy loop met die smal, geteerde paadjie op, verby die hoë palm- en dennebome en ’n geel bordjie, STRICTLY AUTHORISED. CARS ONLY. AT OWNER’S OWN RISK, na waar sy op dieselfde teer, links van die mooi grys kerkgebou, uitgestrek is.

Hy kyk op, na die perfekte oggend. Helder, byna geen wind nie, net ’n vae bries wat vars seereuke teen die berg opstoot. Dit is nie ’n tyd vir dood nie.

Vusi staan langs haar, by Dik en Dun van Forensies, ’n polisiefotograaf en drie in SAPS-uniform. Agter Griessel se rug, op die Langstraat-sypaadjie, staan nog uniforms, minstens vier in die wit hemde met swart epoulette van die Metro-polisie, ewe selfbelangrik. Saam met ’n klompie omstanders leun hulle met arms op die traliewerk en kyk na die stil figuur.

“Môre, Bennie,” sê Vusi Ndabeni op sy sagte manier. Hy is van dieselfde gemiddelde lengte as Griessel, maar hy lyk kleiner: skraal en netjies, die swart broek se nate skerp, spierwit dashemp, die skoene blink. Sy peperkorrel-hare is kort, hoekig geskeer, die bokbaardjie onberispelik geknip. Hy’t chirurgiese rubberhandskoene aan. Griessel het hom verlede Donderdag vir die eerste keer ontmoet, saam met die ander vyf speurders vir wie hy in die volgende jaar moet “mentor”. Dit was die woord wat John Afrika, streekkommissaris: Speurdienste en Misdaadintelligensie, gebruik het. Maar toe Griessel alleen in Afrika se Alfredstraat-kantoor gesit het, was dit: “Ons is in die kak, Bennie. Ons het die Lotz-saak opgefok en nou sê topstruktuur dis omdat dit te lekker gaan in die Kaap, ons moet onse vingers uit onse gatte trek, maar wat kan ek doen? Ek verloor my beste mense en die nuwes weet nog niks, hulle is rou. Kan ek op jou reken, Bennie?”

En ’n uur later later, in die kommissaris se groot vergaderlokaal met ses van die beste “nuwe” mense wat onbeïndruk in ’n ry op grys staatsdiensstoele sit, toe versag John Afrika die boodskap: “Bennie sal julle mentor wees. Hy’s 25 jaar al in die Mag, hy was lid van die ou Moord en Roof toe die meeste van julle nog op laerskool was. Wat hy al vergeet het, moet julle nog leer. Maar julle moet mooi verstaan: Hy’s nie hier om jou werk vir jou te doen nie. Hy’s jou raadgewer, jou klankbord. En jou mentor. Die woordeboek sê dis …” en die kommissaris het vir ’n oomblik na sy notas verwys, “… a wise and trusted counsellor or teacher. Dis hoekom ek hom Provinsiale Taakspan toe geskuif het. Want Bennie is wise en jy kan hom trust, want ek trust hom. Daar’s te veel kennis wat verlore gaan, te veel nuwe mense en ons hoef nie elke keer die wiel van voor af uit te vind nie. Leer by hom. Julle is met die hand uitgesoek; daar’s nie baie wat die geleentheid gaan kry nie.”

Griessel het na hulle gesigte gekyk. Vier lenige swart mans, een gesette swart vrou en een breedgeskouerde bruin speurder, almal in hul vroeë dertigs. Daar was nie veel gulhartige dankbaarheid nie, met die uitsondering van Vusumuzi (“maar almal noem my Vusi”) Ndabeni. Die bruin speurder, Fransman Dekker, was openlik vyandig. Maar Griessel is al gewoond aan die onderstrominge van die nuwe SAPS. Hy het daar langs John Afrika gestaan en vir homself gesê hy moet dankbaar wees hy het nog ’n pos, ná die ontbinding van die Ernstige en Geweldsmisdaadeenheid. En dat hy en Mat Joubert, sy voormalige bevelvoerder, nie na ’n stasie toe geskuif is soos die meeste van hul kollegas nie. Die fokken nuwe strukture wat nie nuut is nie, dis weer soos dit dertig jaar gelede was, speurders by stasies, want dis hoe hulle dit deesdae in die buiteland doen en nou moet die SAPS dit ook so doen. Maar ten minste het hy nog werk en Joubert het vir hom opgeskryf vir bevordering. As sy geluk hou, as hulle verby sy drinkrekord en die regstellende aksie en al die politiek en kak kan kyk, sal hy vandag hoor of hy kaptein gemaak het.

Kaptein Bennie Griessel. Dit klink vir hom reg. En hy het die verhoging nodig. Baie.

“Môre, Vusi,” sê hy.

“Hei, Bennie,” groet Jimmy, die lang, maer witjas van Forensies. “Ek hoor hulle roep jou nou die ‘Oracle’.”

“Soos daai antie in Lord of the Rings,” sê Arnold, die kort dikke. Saam staan hulle in Kaapse polisiekringe bekend as Dik en Dun, gewoonlik in die holgeryde grap van “Forensies sal deur Dik en Dun by jou staan”.

“The Matrix, jou aap,” sê Jimmy.

“Whatever,” sê Arnold.

“Môre,” sê Griessel. Hy wend hom tot die uniforms onder die boom en hy trek sy asem in, reg om vir hulle te sê: “Dis ’n misdaadtoneel; kry julle gatte anderkant die muur,” en dan onthou hy dis Vusi se saak dié; hy moet stilbly en mentor. Hy gee die uniforms ’n vuil kyk wat geen effek het nie en draai na die lyk toe.

Die meisie lê op haar maag, haar kop weg van die straat af. Haar blonde hare is baie kort. Op haar rug is twee kort snywonde, horisontaal, eweredig links en regs op haar skouerblaaie. Maar dit was die gewelddadige sny oor haar keel wat haar dood veroorsaak het, diep genoeg om die slukkanaal te ontbloot. Haar gesig en bors en skouers lê in die wye plas bloed. Die reuk van dood is al teenwoordig, bitter soos koper.

“Jissis,” sê Griessel, want al sy vrees en weersin stoot in hom op, en hy moet asemhaal, stadig en rustig, soos dok Barkhuizen vir hom geleer het. Hy moet sy afstand kry, hy moet dit nie internaliseer nie.

Hy maak sy oë vir ’n oomblik toe. Dan kyk hy weer op, na die bome. Hy soek objektiwiteit, maar dit is ’n verskriklike manier om dood te gaan. En sy kop wil vir hom die gebeurtenis wys soos dit gebeur, die mes wat flits en so seepglad en diep deur haar weefsel sny.

Hy staan vinnig op, gee voor hy kyk rond. Dik en Dun stry oor iets, soos gewoonlik. Hy probeer luister.

Here, sy is so jonk. Agttien, negentien?

Watter soort waansin vat dit om só ’n kind keelaf te sny? Watter soort perversie?

Hy dwing die beelde uit sy kop, dink aan die feite, die implikasies. Sy’s wit. Dit beteken moeilikheid. Dit beteken media-aandag en die hele siklus van misdaad-wat-handuit-ruk-beskuldigings wat weer van voor af begin. Dit beteken groot druk en lang ure en te veel mense met vingers in die paai en elkeen wil net sy eie gat beskerm en hy’s nie meer lus vir al die dinge nie.

“Dis moeilikheid,” sê hy sag vir Vusi.

“Ek weet.”

“Dit sal beter wees as die uniforms agter die muur bly.”

Ndabeni knik en loop na die uniforms toe. Hy vra hulle om met ’n ompad, agter die kerk om, uit te gaan. Hulle is traag, want hulle wil deel wees van dié ding. Maar hulle loop.

Vusi kom staan by hom, notaboek en pen in die hand. “Al die hekke is gesluit. Daar’s ’n motorhek daar anderkant, by die kerkkantoor, en die hoofhek hier voor die gebou. Sy moes oor die traliemuur gespring het; dis die enigste manier om hier in te kom.” Vusi praat te vinnig. Hy wys met sy vinger na ’n bruin man wat anderkant die muur op die sypaadjie staan. “Die ou daar … James Dylan Fredericks, hy’t haar gekry. Hy’s die day manager van Kauai Health Foods in Kloofstraat. Hy sê hy kom in met Golden Arrow se bus van Mitchells Plain af en dan stap hy van die stasie af. Hy’t hier verbygekom, vyf oor vyf, iets het sy oog gevang. Toe spring hy oor die muur, maar toe hy die bloed sien, toe loop hy terug en bel die Caledonplein-stasie, want dis die nommer wat hy op speed dial het vir die winkel.”

Griessel knik. Hy vermoed Ndabeni is senuagtig oor sy teenwoordigheid, asof hy hier is om die swart man te evalueer. Hy sal dit moet regstel.

“Ek gaan vir Fredericks sê hy kan maar gaan; ons weet waar om hom te kry.”

“Dis goed, Vusi. Jy hoef nie … ek waardeer dit dat jy my die detail gee, maar ek wil nie hê jy moet … jy weet …”

Ndabeni raak aan Griessel se arm, asof hy hom gerus wil stel. “Dis O.K., Bennie. Ek wil leer …”

Vusi bly ’n oomblik lank stil. Dan voeg hy by: “I don’t want to blow this, Bennie. Ek was in Khayelitsha vir vier jaar, I don’t want to go back. Maar dis my eerste … witte,” versigtig, asof dit ’n rassistiese stelling kan wees. “Hierdie is ’n ander wêreld …”

“Dit is.” Griessel is nie goed met dié soort van ding nie, altyd onseker oor waar die regte, politiek-korrekte woorde lê. Vusi red hom: “Ek het probeer voel of daar iets in haar broeksakke is. Vir ’n ID. Maar daar’s niks. Nou wag ons net vir die patoloog.”

In die bome sketter ’n voël skerp. Twee duiwe kom land naby hulle en begin dadelik pik-pik. Griessel kyk rond. Daar is een voertuig op die kerkterrein, ’n wit Toyota-mikrobus wat aan die suidekant, teen ’n baksteenmuur van twee meter, geparkeer staan. Die woord Adventure staan in groot rooi letters op die kant daarvan.

Ndabeni volg sy oë. “Hulle parkeer seker net hier vir die veiligheid,” en hy beduie na die hoë mure en geslote hekke. “Ek dink hulle het ’n kantoor af in Langstraat.”

“Kan wees.” Langstraat is die hoofkwartier van rugsaktoerisme in die Kaap, jongmense, studente van Europa, Australië en Amerika wat goedkoop blyplek en avontuur soek.

Griessel hurk weer by die lyk, maar só dat haar gesig weg van hom af lê, want hy wil nie na die verskriklike wond of haar fyn gelaatstrekke kyk nie.

Sy moet asseblief tog nie ’n buitelandse kind wees nie, dink hy.

Want dan gaan dinge handuit ruk.

13 uur

Подняться наверх