Читать книгу Prooi - Деон Мейер - Страница 11

6

Оглавление

Augustus. Bennie Griessel. Brackenfell.

Robyn Johnson sê toe die oproep van Beaufort-Wes se sersant Aubrey Verwey ’n week-en-’n-half later kom, was die skok nie vir haar so groot nie. “Dit was ’n relief, op ’n manier. Dan wonder jy nie meer ís dit so, of is dit nié so nie. Maar dan is daar die anger: Who did this? And why? Ek meen, J.J. was net so ’n lieflike … And how? Hoe het J.J. daar langs daai spoor gekom? Lots of anger and hate for the faceless people who did this. These animals, these bastards. Hy was ’n goeie mens. Hy’t sy flaws gehad, don’t we all? Ma’ hier binne, hiér was hy ’n goeie man gewees …”

Sy skud haar kop ergerlik, asof sy dié negatiewe emosies wil afskud. “Julle moet vir hulle vang,” sê sy sagter. “Asseblief, julle moet vir hulle vang.”

Sy druk die sigaret met ’n bewende hand dood, haar oë vogtig.

“Ons is die Hawks,” sê Cupido. “Daai is wat ons doen.”

Griessel gee haar ’n oomblik, dan vra hy: “Mevrou, hoe was meneer Johnson se … gesondheid?”

“Sy gesondheid? Hy was in peak health, hoekom vra jy oor sy gesondheid?”

“Sy gemoed. Was hy opgewek?”

“Ek het mos gesê J.J. was nie een vir worry nie …”

“Mevrou, ons verstaan dié soort vrae is nie vir jou lekker nie,” sê Cupido. “But we have to look at this from every possible angle. So, fact is, daar’s nie eintlik ’n kans dat mister Johnson per ongeluk van daai trein afgeval het nie. Two things could have happened. He either jumped or he was pushed. As my colleague vra oor jou eks se gesondheid, dan wil ons weet of hy maybe van depressie gesuffer het. It’s another way of asking the awkward question: Did he jump?”

“Okay. Sorry. Ek verstaan. Nee. Never. Nie J.J. nie. Hy … Daar was tye dat ek gedink het miskien is hy te happy-go-lucky. As jy hom gesien het met sy twee girls …”

“Mevrou, die ander moontlikheid …” sê Griessel. “Die groot vraag wat ons gewoonlik met só ’n ondersoek vra, is of daar enigiemand was wat hom sou wou leed aandoen.”

Sy dink eers na, skud dan haar kop. “J.J. was nice. Daai was sy probleem. Hy was net so nice.”

“Maar hy was ’n poliesman. ’n Speurder. Het hy ooit gepraat van iemand wat hom gedreig het, iemand vir wie hy gearresteer het?”

Sy dink, en dan skud sy haar kop. “Hy was twee jaar lank nie meer ’n poliesman nie.”

“Ons verstaan, maar steeds, het hy nooit iets gesê nie?”

“Nie wat ek van weet nie.”

“No gang affiliations?” vra Cupido.

“J.J. kom van Ashton af. Daar’s nie gangs nie.”

Daar ís bendes op Ashton, maar hulle kan sien sy wil nou hê die ondervraging moet klaarkry.

“Okay. Hy het nie in die lean times iewers ’n geldjie gaan leen nie?” vra Cupido.

“Jy meen by ’n loan shark?”

“That’s right.”

“Nee. Hy’t geweet hy kan vir my kom vra. As a matter of fact, hy’t by my geld kom leen, nou, begin van die jaar. En by June het hy alles weer terugbetaal. En hy was besig, die laaste vier maande of so. He was making good money.”

“Hoe het hy sy administrasie gehanteer? Het hy iemand wat sy rekeninge uitgestuur het? Sy boeke gedoen het?”

“Nee, hy’t alles self gemanage.”

“Wat was sy system?” vra Cupido.

“Hoe meen jy ‘sy system’?”

“Het hy files gehou op sy clients en sy payments?” Cupido wys na die rak agter haar met die veelkleurige leggers.

“Nee, hy’t alles so op sy laptoppie gedoen.”

“Waar is die laptop nou?”

“Ek … Dis gewoonlik in sy flat, toegesluit in die sideboard. Of hy vat dit saam in sy tas. I didn’t think to look …”

“Moenie worry nie, ons sal kyk,” sê Cupido.

Griessel bêre sy pen en notaboek in sy baadjiesak. Hulle staan op.

“Mevrou Johnson, wat dink jy het op daardie trein gebeur?” vra Griessel.

“If you had to speculate,” sê Cupido.

Sy kyk op na die plafon. Sy tik-tik met die lang naels op die lessenaar. Sy staan stadig op. Van binne die winkel, asof hy weet dis goeie tydsberekening, sê ’n papegaai hoog en helder: “Fok jou, Fanus.”

Dit breek die vae spanning in die kantoor.

“Daai voël,” sê sy. “How am I ever going to sell it with a mouth like that?”

Hulle glimlag.

“Julle moet verstaan, I loved J.J. with all my heart,” sê Robyn Johnson.

“So noted.”

“Eers het ek gedink dit was ’n robbery, want almal steel mos nou in dié land. Van die President af all the way down. Ek wou hê dit moet so iets wees. Random. Bad luck.”

Hulle sê niks.

“Maar toe dink ek, op daai trein vol grand, ryk mense, why would they rob J.J.? En dan moet jy maar kom by die punt waar jy dit admit, he did have a roving eye.”

Hulle knik met begrip.

“My best guess is, J.J. het met ’n ander man se vrou gelol op daai trein. ’n Man wat dit nie gevat het nie.”

* * *

In die parkeerterrein kyk Cupido na sy horlosie en sê hulle gaan die volgende dag al sesuur Beaufort-Wes toe. En hy het vanaand ’n ete by Desiree, en dit moenie te laat wees nie, want dis ’n weeksaand en skoolkwartaal, en sy is streng met haar laaitie, Donovan.

Daarom ry hulle terug na die Valke se kantore in Markstraat, Bellville, en kom ooreen vir die volgende oggend se vertrek. “Dis jou beurt om die road music te bring, Benna,” sê Cupido. Sy jaspante wapper in die gang af, op pad Stellenbosch toe.

Griessel gaan maak aantekeninge in die docket se C-afdeling en dan groet hy deur oop kantoordeure in die loop na sy kar toe.

Wanneer hy in sy baadjiesak reik na sy sleutels, kry hy die bossie van Johnson Johnson se woonstel. Hy besluit om dit nou te gaan deursoek. Alexa Barnard, die vrou in sy lewe, is in Johannesburg vir vergaderings met van haar platemaatskappy se musiekmense. Hy is nie lus om alleen by die huis te sit en kyk na snert op TV nie.

Hy ry Brackenfell toe.

* * *

Johnson se “woonstel” is ’n meenthuis in ’n kompleks, net ’n blok van die Sorgvry-polisiewoonstelle waar kolonel Mbali Kaleni tot ’n paar jaar gelede nog gewoon het.

Griessel parkeer op nommer 5 se plek, neem sy moordtas en loop tot by die voordeur met dieselfde nommer. Hy maak die tas oop, haal die forensiese handskoene en die klein Canon Powershot uit, sluit die veiligheidshek en deur oop, vat weer die tas en stap in.

Maak die deur toe. Staan ’n oomblik.

Hy sal nooit gewoond raak aan die deursoeking van ’n moordslagoffer se huis nie. Daar is die verskriklike stilte, asof dié ruimte weet die eienaar kom nie weer terug nie, die ongemaklike gevoel dat jy steeds privaatheid skend, pal die spanning dat jy iets gaan miskyk, ’n bewysstuk kan bederf omdat jy nie weet waarvoor jy soek nie.

Hy begin met die sitkamer-eetkamer-kombuis, ’n oopplan-ontwerp met ’n bank, twee stoele, ’n koffietafel met ’n klompie DVD-houers van kinderflieks daarop. En ’n TV en Blu-ray-speler op ’n staander.

Geen skilderye nie, geen eetkamertafel nie, net die lang buffet teen die muur, en die ontbythoekie met drie kroegstoele by die kombuis. Hy neem foto’s van alles voor hy met die deursoeking begin.

Hy kry die sleutel vir die buffet se twee deure aan die bossie in sy sak.

Aan die linkerkant, borde en glase en koffiebekers en ’n paar kosbakke. En drank. ’n Kwartbottel Klipdrift, ’n halfbottel Three Ships, ’n paar klein bottels vonkelwyn en twee bottels rooiwyn, nog verseël.

’n Oomblik van sy demone in die oë kyk. Griessel sluit dit weer toe.

Aan die regterkant, ’n warboel van kabels en herlaaiers, ’n ou ADSL-modem, die boksie vir ’n LG-foon en oopgeskeurde koeverte met munisipale en selfoonrekeninge, kwitansies en ’n geheuestokkie.

Geen skootrekenaar nie.

Hy plaas die geheuestokkie in ’n plastiek-bewyssakkie, gaan soek dan deur die kombuiskaste en die yskas, daarna die twee slaapkamers. Die een was die kinders s’n. Daar is niks van belang in die kaste of bedlaaitjies nie.

In Johnson se kamer is die bed opgemaak, die ingeboude klerekaste redelik netjies. ’n Ou, mooi laaikas voor die bed. In die boonste laai is persoonlike dokumente – onder meer ’n ID-dokument, ’n rybewys wat die vorige jaar verval het, die egskeidingsbevel. Foto’s van die kinders. En ’n foto van die gesin toe dit nog heel was. Hulle sit op ’n rusbank – nie die een hier voor in die sitgedeelte nie. Johnson is in die middel, omring deur Robyn en die kinders.

Hy was ’n lenige man. Fiks. Aantreklik. Met ’n glimlag vol selfvertroue, ’n uitdrukking wat sê: Kyk, dís die lieflike goed wat die lewe vir my gegee het.

Terwyl hy alles stelselmatig deursoek en op die Canon vaslê, dink Griessel aan foto’s.

Sommiges lieg.

Dié een van die Johnson-gesin is omtrent drie jaar oud. Destyds dalk uitgestal op Robyn se lessenaar. Of teen J.J. se muur waar hy in Pretoria gebly het. Dit spreek van geluk en harmonie, dit profeteer ’n sprokiesverhaal.

En kyk waar is hulle nou.

Hy dink nie hy het sulke foto’s nie. Toe hy en Anna, sy eks, só oud was, het hy dag en nag gewerk by die ou Moord-en-Roof. Gewerk en gesuip. Sy lewe was ’n waas van geweldsmisdaad en drank. Die enkele foto’s wat bestaan, het hy geneem met ’n mik-en-druk wanneer hulle in April gaan vakansie hou het. Tien dae van soberheid by Langebaan of Hermanus se see, sy kop by die werk, sy hart by die brandewyn. Net Anna en sy dogter, Carla, en sy seun, Fritz, is op die foto’s. Die kinders uitbundig, gelukkig. En in Anna se oë – dalk verbeel hy hom dit in retrospek – ’n bietjie bang vir die monster in haar man, die posttraumatiese stres wat niemand destyds mooi verstaan het nie.

Dit was foto’s wat hul toekoms veel beter voorspel het. Want hy was afwesig.

Carla is nou twee-en-twintig. Sy het begin werk as ’n skakelbeampte op ’n wynlandgoed. Sy het drama geswot, maar sy kon nie werk in die vermaaklikheidsbedryf kry nie. Fritz is negentien en ’n tweedejaar by AFDA, die Kaapse filmskool wat Griessel nie kan bekostig nie. En Anna is getroud met ’n prokureur. Wanneer hy en Anna mekaar nou en dan sien, lyk dit altyd vir hom of sy verlig is dat sy verlos is van hom. En of sy haar ’n bietjie skaam vir sy styllose klere en sy apologetiese houding.

En hy verstaan dit.

Want hy is steeds net ’n poliesman, ’n rehabiliterende alkoholis, skaars agt maande droog, en sy grootste begeerte is om die ander rehabiliterende alkoholis in sy lewe te vra om met hom te trou. Die ring vir Alexa Barnard is gekoop, toegesluit in sy boonste laai by die werk.

Hy hou aan vir homself sê hy het haar nog nie gevra nie, want hy wil dit spesiaal maak. ’n Storie wat sy met trots en smaak sal kan oorvertel.

Maar die waarheid is: Hy is bang.

Bennie Griessel sug. Hy maak klaar, sluit en ry.

Hy het niks gekry nie.

Prooi

Подняться наверх