Читать книгу Prooi - Деон Мейер - Страница 9
4
ОглавлениеAugustus. Bennie Griessel. Brackenfell.
Hulle hou in die parkeerterrein van die Fairbridge Mall in Brackenfell stil, stap dan oor na die groot troeteldierwinkel wat agter langs die treinspoor staan.
Hulle loop langs mekaar, Bennie Griessel en Vaughn Cupido. Griessel met sy deurmekaar hare, altyd een sny agter, en sy donker, amandelvormige oë wat al as “Slawies” beskryf is. Hy is meer as tweehonderd-en-veertig dae op die waterkar, maar sy stryd met die bottel het diep spore oor sy gesig gelaat, sodat hy ’n dekade ouer lyk as sy amptelike ses-en-veertig. En die flambojante Vaughn Cupido, ’n kop langer, nege-en-dertig jaar oud, in sy elegante winterjas. Hy sê al maande lank: “The big four-oh, pappie, it’s coming for me. And you know what they say, when forty hits, you have to hit back …”
Hy het nog nie gesê hoe hy beplan om terug te slaan nie.
Die troeteldierwinkel lyk soos ’n miniatuur-plaaswerf en -opstal. Op die groot naambord by die hek staan Robyn’s Ark. Hulle moet eers by die hekkie in, en daarna deur die tuin waar hoenders en hase en eende wei, voor hulle by die winkel se deure kom. Binne ruik dit na voëlmis en hondekos en kat-urine. ’n Kakofonie van papegaaie, kanaries, vinkies en hondjies vul die plek. Een hele muur is vol vistenks, met daarin die enigste vorm van lewe in dié plek wat nie hoorbare geluide maak nie.
’n Vrou kom na hulle toe aangestap. Sy is in haar dertigs en vol van figuur. Haar grimering en haarstyl is ietwat oordadig, die oorbelle groot, haar naels lank en donker geverf.
“I’m Robyn,” sê sy. “Julle is van die SAPS, right?”
“Die Hawks,” sê Cupido.
“Ek ken polisiemense; ek was lank met een getroud,” sê sy. “It’s about time they got the Hawks involved.”
Hulle stel hulself voor, vra of hulle met haar oor Johnson Johnson kan gesels.
“Of course. But it’s J.J.,” sê sy. “Almal het hom J.J. geroep. Kom deur, ons praat in my kantoor.”
“We’re very sorry for your loss,” sê Cupido. “It must have been really hard.”
Sy staan by die deur, wag dat hulle instap, sê dan: “Yes, it’s hard. Veral vir die kinders. Ma’ dis al drie weke, ek cope nou beter. Ek het eintlik ma’ geweet, toe J.J. nie uitkom daai aand nie, toe het ek eintlik ma’ geweet. So I’ve had time to grieve …”
En sy maak die deur agter hulle toe.
* * *
Hulle sit by haar lessenaar. Sy steek ’n dun sigaret aan. Die speurders haal notaboeke en penne uit.
Aan die muur is daar plakkate van diere – honde, katte, eende – met lagwekkende gesigsuitdrukkings en humoristiese opskrifte daarby. Die kleurvolle lêers op die rak agter die lessenaar verskaf ’n vrolikheid aan die vertrek. Op die lessenaar is ’n geraamde foto van twee dogtertjies, parmantige poniesterte wat hul mooi gesiggies omhul. Dit voel vir Griessel effens eienaardig om hier oor die dood te praat.
“Verskoon tog, mevrou, maar ons wil heel voor begin,” sê Cupido. “Cast a fresh eye on the whole investigation.”
“Ons gaan vrae moet vra wat u dalk reeds beantwoord het,” sê Griessel.
“Dis okay, shoot,” sê sy en trek diep aan die sigaret.
“Meneer Johnson was lank in die Polisiediens,” sê Griessel.
Sy knik en tik die as met ’n lang nael af. “Van agttien af, twee jaar voor ons getrou het. Toe was hy Flying Squad by die stasie op Hermanus, toe word hy speurder in die Bellville in, toe vyf jaar by die VIP Protection Unit in Pretoria voor hy freelance gedraai het. Private protection consultant.”
“Wat presies het dié konsultasiewerk behels?” vra Griessel.
“J.J… . Sy vision was om by al die five star hotels bekend te wees, laat hulle hom contract om vir die tourists te brief how to stay safe in South Africa. En dan is hy ook available as hulle vir hom wil huur as ’n bodyguard. Maar dis nie so easy om by die grand hotels in te kom nie. J.J. het gesê they’re a closed system, they don’t like money flowing to the outside. So, hy’t hier en daar by van die kleiner tour operators briefing opportunities gekry, en hy’t vir hulle partykeer shotgun gery, soos hy dit genoem het. Dan ry hy saam in die bussie met die tourists, just to give them peace of mind. Dit was maar die laaste maande wat die bodyguard jobs begin kom het. Maar nie officially van die hotels nie,” sê sy.
“Sy naam was genuine Johnson Johnson? Net só?” vra Cupido, wat ’n ding oor name het.
“Net só. Deur sy ma só gedoop. Sy het haar lewe lank gesê daai double feature gee vir hom gravitas en dignity. Bless her soul. Ma’ almal het hom J.J. geroep.”
“Hoe lank het hy vryskut gewerk?” vra Griessel.
“Amper twee jaar.”
“Alleen?”
“Ja. Hy het nogal ’n offer gehad van Body Armour, die protection agency in die Kaap, ma’ J.J. het gesê, vir wat wil hy twintig persent van sy income vir iemand anders gee, hy wil dit eers try maak op sy eis. Daai eerste tien, elf maande was maar dun vir hom, ma’ hy’t nooit ophou met marketing en networking nie. Sy business card oral gaan gee. En ek meen óral. And then it slowly started trickling in, en so hier van Januarie af, toe begin dit beter gaan. But he never missed a single payment in child support, I’ll let you know. Daai twee girls,” en sy wys na die foto op die lessenaar, “was vir hom alles.”
“Wanneer is julle geskei?”
“Toe hy in Pretoria was, drie jaar terug. Ek het hier gebly. Met die winkel, jy verstaan, I had no choice, I’m the sole proprietor … But a long distance marriage just didn’t work for us. J.J… . Let me just say, soos die meeste mans, was hy nie goed met alleen wees in die aand nie … But you know, we managed to conduct the whole divorce thing in an adult and civilised manner. Because of the kids. J.J. het ’n flat gehuur net in die straat af, so die kinders het baie keer by hom gaan slaap. And we were the best of friends …”
“Sy huisadres was hier in Springbokpark, Olympusstraat,” sê Griessel.
“That’s right.”
“En u kan vir ons die sleutels gee?”
Sy trek ’n laai oop, haal ’n bossie sleutels uit, plaas dit op die lessenaar. “Please don’t leave a mess. Ek moet daai plek vacate voor die einde van die maand.”
“Natuurlik,” sê Griessel.
“Ons wil asseblief hoor, mevrou, hoe die hele ding gebeur het. Van hy hier weg is op die trein,” sê Cupido.
“U het hom die laaste keer gesien op Saterdag, 5 Augustus?” vra Griessel.
“You can give us as much detail as you can remember.”
“Ek verstaan,” sê sy, knik en trek weer aan die sigaret asof dit haar krag gee.
* * *
Robyn Johnson sê haar voormalige man het dié Saterdagoggend sy twee dogters net ná nege hier by die troeteldierwinkel kom aflaai, omdat hulle die nag saam met hom in sy woonstel deurgebring het, soos die meeste Vrydagaande. Hulle is onderskeidelik vier en ses jaar oud, en het onmiddellik begin neul dat hulle saam met hul pa wil gaan, want: “Daddy gaan op ’n grand trein ry, Mommy, en hoekom kan ons nie saamgaan nie?”
“Toe vra ek vir hom wat is dié besigheid met die trein? Toe sê hy net ’n Hollandse auntie het vir hom gehire, his business card distribution paid off again. Die maître d’ by die Cape Grace Hotel het vir hom gerecommend. En die auntie gaan Pretoria toe op die Rovos Rail, en dis ultra luxury, and he gets his own cabin, and everything. En sy betaal vir hom nog goeie geld ook vir sy services.”
“Hy’t niks meer oor die kliënt gesê nie? Hoekom sy beskerm moet word?”
“Niks meer nie. Hy was kwaai oor die confidentiality of the client relationship. Ek het dit gerespect, so I didn’t push it.”
“Hy was cool? Niks worries nie?” vra Cupido.
“Daai dag?”
“Daai tyd, daai ball park.”
“J.J. was ma’ altyd cool, hy’t gesê worry help nie, it just burns energy you can use to solve the problems.”
“Okay,” sê Cupido, “en toe?”
“Toe sê hy vir my: ‘Jewel,’ – hy’t my ‘Jewel’ geroep oor my naam Robyn is, nè – ‘I’m flying back one o’clock Monday, I’ll be in Cape Town at three, I’ll come pick up the kids at four.’ Nou, daar’s ’n paar dinge van J.J. wat jy moet verstaan. Number one: Hy’s nooit laat nie. Nie as dit by daai twee girls van hom kom nie. Never ever. Number two: If something unforeseen happens wat kan maak dat hy laat is, dan bel hy. Altyd. Number three: Elke aand, dan bel hy sy twee girls. Depending on his schedule, somewhere between six and eight, ma’ hy bel élke aand, unless hy vir my sê: ‘Jewel, vanaand is ek vas, send the girls my love.’ Daai man het sy foute gehad, ma’ hy was ’n wonderlike pa, daai twee girls was sy lewe.”
“Point taken,” sê Cupido.
Griessel knik en skryf in sy notaboek.
“Right. Toe bel hy daai Saterdagaand, en ek hoor hoe vertel hy vir die girls hulle is nou op Matjiesfontein, die trein het daar gestop, en hy sê vir hulle hoe grand daai trein is, hulle het high tea gehad, I ask you, en hy stuur vir hulle photos op WhatsApp …”
“Hoe laat het hy gebel?” vra Griessel.
“Just after six.”
Griessel maak ’n aantekening.
“Het jy nog die foto’s?” vra Cupido.
“Ja. My foon lê daar binne …”
“Ons kan later kyk, dankie. Daar’s nie foto’s van die Hollandse auntie nie?”
“He would never do that. He was too discreet. Daar was net foto’s van sy compartment, that lovely wood panelling, en van die koek wat hulle met high tea gehad het, J.J. had a sweet tooth … En van Matjiesfontein se historic geboutjies, en van die trein se buitekant …”
“Okay.”
“Gaan gerus voort,” sê Griessel.
“So, daai Sondagaand, toe bel hy nie. Toe begin ek so klein bietjie worry, wat gaan aan? Because he always calls. Always. Maar jy sê vir jouself hy werk, maybe it just wasn’t convenient. En jy wonder, you just can’t help it, hoe oud is die Hollandse auntie, en hoe lyk die Hollandse auntie, because J.J. is J.J., if you know what I mean … Anyway, so los ek dit toe maar. Tot die Maandag. Heeldag hoor ek niks, which is fine, ma’ toe kom drie-uur en hy kom nie uit nie, en toe kom vieruur en hy kom nie uit nie, toe bel ek hom, because, as I said, he’s never late when it comes to picking up the girls. Ma’ sy foon gaan net na voicemail toe, en ek dink, okay, maybe is hy nog op die vliegtuig, maybe it was delayed, en ek los vir hom ’n voice message en ek sê: ‘Bel my, J.J., jy laat my worry.’ By sesuur, toe weet ek daar’s moeilikheid. Toe bel ek Rovos. En daai mense was baie nice, you can imagine, hulle kan nie sommer net details oor die passengers gee nie, ma’ hulle het uit hulle se pad uit gegaan om te help, ek dink hulle kon die distress in my stem hoor. Toe sê hulle daar is een passenger wat iewers Saterdagnag of Sondagoggend van die trein afgeklim het, they can’t give me details, but I should maybe go ahead and report it. Toe gaan ek hier na die poliesstasie toe, daar’s ’n warrant officer wat saam met J.J. in die Bellville in gewerk het – Neville Bandjies, hulle braai nou nog saam – en ons maak die missing person report. Maar toe weet ek al, daai aand, toe weet ek al something very bad has happened, because Johnson Johnson loved his two girls too much.”