Читать книгу Prooi - Деон Мейер - Страница 16
11
ОглавлениеAugustus. Bennie Griessel. Worcester.
Verby De Doorns bekyk Griessel die inligting wat Vodacom verskaf het oor Johnson Johnson se selnommer. Dit is die gewone twee registers van oproepe, gemaak vir die laaste drie maande voor sy dood, die een ingedeel volgens datum, die ander volgens nommers.
“Anything?” vra Cupido terwyl hulle agter ’n swaar vragmotor teen ’n bult uit kruip.
Bennie haal sy notaboek uit en maak seker wat Robyn Johnson se selnommer is voordat hy antwoord: “Sy eks … Die oproepe waarvan sy gepraat het, toe hy die kinders gebel het daardie Saterdagaand op die trein, 5 Augustus …”
“Yes?”
“Hulle is almal hier. Maar hy het iemand anders gebel, later daardie aand. 21:07 …”
“Wie se nommer?”
“Ek weet nie …”
Griessel haal sy selfoon uit, tik die nommer in en bel. Dit lui twee keer, dan antwoord ’n man. “Yes?”
“Hello,” sê Griessel, “who’s speaking?”
“Who do you want to speak to?” Geïrriteerd.
“My name is Bennie Griessel. I am a captain in the South African Police Service, investigating the death of mister Johnson Johnson …”
Die oproep eindig. Griessel kyk na sy foonskerm. “Die sein is weg,” sê hy en beduie na die berge wat weerskante van die pad toring.
“Wie was dit?”
“Weet nog nie … ’n Man. Ek sal nou weer bel.” Hy hou die seinstafies op sy foonskerm dop.
“So, Benna, when are you going to pop the question?”
Cupido weet Griessel wil vir Alexa Barnard vra om te trou. Hulle het al dikwels gepraat oor sy worsteling met die plek, die tyd en die toespraak.
“Ek het gedink Sondag …”
“Nou Sondag?”
“Ja.” Hy voel ’n hol kol op sy maag, en dis nie van die vulstasie-vleispastei nie.
“Brave, Benna. Brave. En waar, if I may be so bold?”
“Okay. Ek het gedink, Alexa hou van goeie kos …”
“Check.”
“En sy hou van atmosfeer …”
“Check.”
“En sy hou van mooi plekke …”
“Check.”
“Toe kyk ek na die beste restaurante, die top-tien-lys …”
“Cool.”
“En toe reken ek, Overture-restaurant. Dis nommer ses op die lys, dis daar naby Stellenbosch. Ek het op die website gekyk. Die uitsig is fantasties, dit lyk romanties …”
“Ek het gewonder wanneer jy ‘romantic’ gaan mention.”
“En ek sal dit min of meer kan bekostig.”
“Check. Ma’ jy weet dis op ’n wine farm, nè? With both of you being alkies … Ek sê maar net.”
Griessel sug. “Ja, ek het gesien. Die ding is, dit maak nie saak waarheen ek haar vat nie, daar gaan altyd alkohol naby wees.”
“Except, sê nou maar, sunset on the beach at Cape Point. Little picnic basket, blanket on the sand, sea breeze in her hair … Chicks love daai tipe ding. Dis wat ek gescheme het, wanneer die dag kom dat ek vir Desiree moet vra, as sy en die laaitie nog daai tyd ’n captured Hawk wil hê.”
“Ek het gedink aan ’n strand. Kampsbaai, Clifton … Maar jy weet hoe die weer in die Kaap is … Daai sea breeze waai vir jou en die kombersie tot by Robbeneiland. En ek dink die hele tyd hoe die ring uit my vingers glip en in die sand val, en die fok weet, ek het nie geld vir nog een nie. Ek moet nog veertien maande lank aan dié een afbetaal.”
“Good point.”
“Jy dink Overture kan werk?” vra Griessel.
“Sounds great. Wil jy hê ek moet by Desiree check? Sy ken al die larney gate in die Stellenbosch in.”
“Asseblief.”
Hulle kom uit die pas uit, die Breederivier-vallei maak oop. Griessel kyk weer na sy foon se skerm. Die sellulêre sein is terug.
Hy bel.
“The subscriber you have dialled is not available at present. Please try again later.”
Hy probeer nog sewe keer voor hulle terug is in Bellville. Die nommer bly beset.
* * *
Hulle is ná sewe-uur terug op kantoor. Hulle bring die dossier op datum.
Cupido bel Stellenbosch toe, en rapporteer dan aan Griessel: “Desiree scheme die Overture is pure class, jy kan maar laat waai. En sy sê: ‘Good choice’.”
“Dankie, Vaughn.”
“Gaan jy haar sê? Vanaand? Van Overture.”
Hy huiwer, dan sê hy: “Ja.”
Hy en Cupido hoor die toon in sy stem. Vaughn kom vat aan sy skouer. “Good luck, Benna.”
Cupido groet en ry; Griessel bly agter.
Hy sluit die laai oop waar hy die ring bêre, heel agter, in die mooi swart dosie. Hy haal dit uit. Maak dit oop. Dit sit daar, sprankelend en mooi.
Jissis.
Hy bêre dit weer sorgvuldig. Sluit die laai. Hy soek die nommer van die Overture-restaurant. Kry dit. Staar daarna.
Dis ’n groot stap dié.
Hulle is nou al amper vyf jaar lank “bymekaar”; hy weet nie altyd wat dié woord beteken nie. Hulle bly al drie jaar saam, in haar huis in Tamboerskloof.
Hy het haar destyds ontmoet toe hy die moord op haar man ondersoek het. Sy was ’n verdagte, ’n wrak. Sy was ’n verskiete ster, die voormalig beroemde sangeres Xandra, eens die nasie se liefling. Hulle speel nog dikwels haar eertydse treffer “Soetwater” oor die radio:
’n Glasie vol sonlig, ’n soet kelkie klein.
Skink Soetwater.
’n Mondjie vol liefde, ’n slukkie vol pyn.
Drink Soetwater.
Met daardie sensuele stem van haar, en daardie smeulende verhoogpersoonlikheid, en al die wonderlike moontlikhede, alles weggedrink weens verhoogvrees en selftwyfel en ’n man wat voortdurend met ander vroue gelol het. Tot daar niks van haar loopbaan of haarself oor was nie. En toe skiet hulle haar eggenoot en sy erf die platemaatskappy en sy moet ’n nuwe begin maak. Griessel het op haar verlief geraak omdat sy aards en eerlik en stukkend en dapper was, oor haar naïwiteit en vrygewigheid, haar deernis, haar humor, haar vermoë om vir haarself te lag. Hy het vir haar lief geword oor haar eenvoud en die eenvoudige manier waarop sy vir hom lief is. Net sommer só. En sy bewonder hom en respekteer hom. Vir hom. Bennie Griessel, die voormalige dronkgat, wat op ses-en-veertig nog net tot kaptein in die polisie gevorder het, weens die drank. Sy verhef hom, maak ’n ophef van hom, haar “baasspeurder”, haar “Koningvalk”, haar held.
Hy speel so ’n bietjie baskitaar, in ’n vierstuk-orkes met die naam Roes wat nou en dan by danse en troues optree. Soms sal hy saans sit en oefen saam met ’n CD in die hoëtrou. Dan kom staan sy en sing saam en sê: “Jy’s so ’n talentvolle man, Bennie.” En hy weet baie goed hy is maar bra gemiddeld op die kitaar.
Hy kan dit nie ontken nie, hy het haar ook lief vir die sensualiteit wat steeds daar agter die littekens van haar lewe lê.
Maar fok, dis ’n groot stap dié.
Want hy het ’n gemors van sy eerste huwelik gemaak. Want sy borg by Alkoholiste Anoniem, Dok Barkhuizen, het al vir hom gesê twee alkoholiste bymekaar is ’n resep vir moeilikheid. Want Alexa is skatryk, en hy het nie eens die twintigduisend gehad wat die ring hom gekos het nie. Hy moes dit by die bank gaan leen, want hy is finansieel geknak weens ’n polisiesalaris en ’n seun op filmskool en die jare van te veel geld op alkohol vermors en te veel onderhoud aan sy eks betaal.
Hy kyk na die nommer van die Overture-restaurant. Dis ’n groot stap dié.
Hy kan vir haar so min gee. Maar hy kan vir haar ’n vra-om-te-trou-aand gee wat onthoubaar en oorvertelbaar is. ’n Aand wat haar waardig is.
Hy haal diep asem.
Hy bel.
* * *
Hulle bly saam in haar huis in Brownlowstraat 47, teen die flank van Seinheuwel. Dit is ’n mooi ou Victoriaanse dubbelverdieping. Daar is ’n balkon bo, van waar jy oor die stad kan uitkyk.
Griessel parkeer in die motorhuis, loop by die kombuisdeur in. Alexa staan voor die stoof met haar voorskoot waarop daar staan: Jy roer my! Hy het dit self uitgedink en vir haar laat maak. Hy het dit op Valentynsdag vir haar gegee, verlede jaar. Sy het daarvan gehou.
Kosmaak is nie een van haar talente nie. Sy is ’n uitstekende sakevrou. En wanneer sy nog nou en dan sing, word sy dikwels staande toegejuig. Haar klavierspel is steeds goed. Maar sy het geen aanvoeling vir kook nie, al is dit ’n selfverklaarde “passie”. Haar aandag in die kombuis raak maklik afgelei as ’n SMS of ’n oproep deurkom, sodat sy nie kan onthou watter van die resep se bestanddele reeds in die pot is nie. En haar smaaksintuig is onbetroubaar. Sy sal met toe oë en groot noukeurigheid proe aan ’n gereg, dit dan met opgewondenheid as “perfek” verklaar. Maar wanneer sy dit opdien en begin eet, sal sy fronsend sê: “Nou is iets nie reg nie. Proe jý dit ook?”
Dan lieg hy en sê: “Nee, wat, dis lekker.” Want hy glo as dít die grootste offer is wat hy in hul verhouding moet bring, dan doen hy dit.
Nou moet hy weer lieg. Oor volgende Sondag, want die restaurant was vol bespreek vir die komende naweek. Hy sal vir haar by Overture moet kry sonder dat sy weet van sy planne.
Dit is koud buite, maar die kombuis is knus. Haar gesig verhelder wanneer sy hom sien. “Bennie,” sê sy met opregte vreugde, “jy is seker doodmoeg.”
Hy soen haar, hou haar vas. “Darem nie te erg nie.”
“Hoe was die Karoo?”
“Vaughn sê die fokkol groei nogal mooi, maar ek hou van die … ooptes.”
Sy lag, sê dan: “Ek maak tamatiebredie.”
“Dit ruik lekker.” Darem vaagweg die waarheid.
“En jy moet dit proe! Ons kan eet wanneer jy reg is.”
“Ek gaan was gou my hande.” Hy gaan staan in die deur, draai om. Hy moet haar vra. Nóú.
Sy kyk na hom, haar oë so sag.
Hy draai om en loop kamer toe om te gaan stort, vir net vier minute, want die Kaap het ernstige waterbeperkings, dit is die grootste droogte in menseheugenis. Hulle praat van Dag Zero, wanneer die damme leeg gaan wees. Water-Armageddon.
Maar dit is nie waaroor hy hom bekommer nie.
Dis oor sy ete-afspraak met Alexa.
Dis ’n groot stap dié.