Читать книгу Prooi - Деон Мейер - Страница 17

12

Оглавление

Augustus. Daniel Darret. Bordeaux.

Ses dae ná die ete en fotosessie by Élodie Lecompte gaan hy terug, gedryf deur nuuskierigheid. Oor “sy” skildery, en oor haar. Sewe-uur in die aand lui hy haar klokkie met ’n gevoel van effense ongemak. Is hy hier omdat hy ydel is? Of soek hy net na homself?

Hy hoor die venster daar bo op die derde verdieping oopgaan. Hy kyk op. Sy wou eers sien wie dit is, sy leun uit en lig haar hand. Glimlag. Die venster gaan toe. Sy gons hom binne.

Bo by die deur sien hy sy is meer informeel aangetrek, ’n denim en ’n olyfgroen T-hemp. Weer kaalvoet.

“Ek is bly jy het gekom,” sê sy, en bied hom wyn aan.

Hy sê nee, dankie, hy wou net gou na die skildery kom kyk. Daar is teleurstelling in haar oë, maar sy knik en sê: “Bien sûr.” Natuurlik. En hy wonder weer oor haar, wie sy is, watter storie agter haar lê. En die aura van eensaamheid om haar. Daardie eerste aand het sy so min van haarself vertel, sy was net besig met die kamera en die foto’s.

Hy volg haar na haar ateljee.

Die skildery van hom staan op die esel, groot, twee meter hoog. Die buitelyn van sy liggaam is getrek, sy gesig is reeds voltooi. Dit is vir hom vreemd om dit te sien, hoe sy hom vasgevang het. Daar is lewe daarin. Sý lewe. En sy verlange. Hy verwonder hom aan haar vaardigheid.

“Ça vous plaît?” vra sy. Hou jy daarvan?

“Oui,” sê hy sag.

“Vraiment?” Regtig?

Hoe kan sy twyfel?

“C’est … formidable.”

Sy glimlag op ’n manier wat hy nog nie gesien het nie, met opregte vreugde.

“Dan moet jy ’n glas saam met my drink. Sjampanje.”

Hy kan nie weier nie.

Hulle gaan sit in die salon. “Wanneer het jy begin skilder?” vra hy vir haar.

“Ná my man se dood,” sê sy. “Ek het hom geskilder, oor en oor, tot ek hom teruggehad het.”

“Wat het jou man gedoen?”

“Hy was ’n professor in paleontologie. Hy was ’n wonderlike man. Ek mis hom nog elke dag.”

Sy staan meteens op. “Een oomblik, asseblief,” sê sy en loop haastig uit, die val van haar kaal voete geluidloos. Sy kom oomblikke later terug met die foto in ’n raam, hou dit na hom toe uit.

Hy was nie ’n mooi man nie, haar oorlede eggenoot. Lank en pynlik skraal, met dik brillense en ’n snor wat nie ’n gedeeltelik herstelde haaslip heeltemal kan wegsteek nie. Maar daar is iets sag en deernisvol in sy glimlag.

Hy wonder ’n oomblik lank, vra dan: “Het jý die foto geneem?”

“Ja,” sê sy.

“Hy was baie lief vir jou,” sê Daniel Darret.

Haar gesig is op dié oomblik intens. “En ek vir hom.”

* * *

Die kuns van meubels maak en restoureer het Daniel bekoor vandat hy die eerste dag saam met Lefèvre begin werk het. Dit was ’n wêreld wat hy glad nie geken het nie: Die liefderike aandag, die sorgsame werk, die stelselmatige proses om iets afgeleef en stukkend te omskep in iets manjifiek en waardevol. Hy het stadigaan die begeerte ontwikkel om dit ook te kan doen. Hy het Lefèvre dopgehou, onopvallend en geduldig, deur elke fase.

Byna twee jaar gelede het hy by die Saint-Michel-vlooimark stadigaan sy eie gereedskap begin aankoop, uitgesoek met die hand, vir merk en meet en saag en skaaf en beitel en hamer en skuur. Hy het die stukke een vir een aangedra na sy hoekie van die werkswinkel. Lefèvre het dit gesien. Niks gesê nie.

Twee maande gelede het Lefèvre opgekyk toe hy die eikehoutplanke ook daar in sy hoek gaan neersit het. Die ou man het opgestaan en sy vingers oor die grein laat gaan, gebuk en daaraan gesnuif. Elke plank opgetel en met die oog gemeet. Weer neergesit. Niks gesê nie. Dít was sy manier om dit goed te keur.

Daniel het die tafel tydsaam begin maak. Hy het daaraan gewerk wanneer daar ’n ledige halfuur was, soms het hy ná ure gebly, nou en dan oor ’n naweek ingekom. Tydsaam. Bewus dat hy baie het om te leer, bereid om sy skoolgeld te betaal.

Lefèvre het nou en dan na hom en die projek gekyk. Uitdrukkingloos.

Dit is ’n table de ferme, ’n plaashuistafel. Hy het dié ontwerp – geskoei op ’n pragtige voorbeeld wat Madame in die voorwinkel verkoop het – doelbewus gekies omdat dit eenvoudig is. Net meer as twee meter lank, agt-en-tagtig sentimeter breed, vyf-en-sewentig sentimeter hoog, ’n blad, vier dunloop-pote, ’n fries aan al vier die kante. En twee basiese laaie voor.

’n Paar dae voor die Augustus-vakansie het hy een oggend by die werk aangekom, en gesien Lefèvre het sy regterlaai uitmekaar gehaal. Hy het geweet waarom. Die voeë was nie goeie handewerk nie. Hy het net vir le génie geknik toe hy inkom, en dit later oorgedoen.

Nou is hy amper klaar. Hy is besig om dit finaal te skuur, met ongemak, want die verband aan sy hand is lastig. Maar hy hou daarvan, die ritme, die reuk, die meganiese herhaling.

En hy dink hy wil ses stoele daarby maak, sy volgende projek. Hy het genoeg hout.

Teen vieruur dryf die Augustus-middag se hitte hom om klaar te maak. Hy vee die fyn skuursels op, maak die gereedskap skoon en bêre alles noukeurig, asof Lefèvre oor sy skouer loer. Hy sluit en hy loop.

Die Rue Notre Dame is stil. Eers by die Monument aux Girondins is daar aktiwiteit, toeriste wat foto’s neem, twee kinders wat in die water van die fontein lafenis teen die hitte soek. Dit neem hom tussen twintig en dertig minute om huis toe te stap. Sy roete is nooit presies dieselfde nie, maar sigsag altyd verby van sy gunstelingplekke. Hy ken die meeste van die geboue en plazas en strate se geskiedenis. Hy loop feitlik elke dag doelbewus verby die Grand Théâtre, adem die plein se atmosfeer in.

Vandag stap hy in die wandelhal van Rue Sainte-Catherine af, want Bordeaux se mense is meestal see toe, dis nie die gewone drukgang nie.

Vyfhonderd meter voor die Cours Victor Hugo sien hy vir Lonnie May.

Hy sal later wonder: Was dit sy verskerpte bewussyn sedert Élodie Lecompte en die geweld in die nag wat hom Lonnie laat oplet het?

Maar eers dink hy dit is sy verbeelding. Hy het Lonnie meer as ’n dekade laas gesien, dalk is dit net iemand wat hom aan Lonnie herinner. Die bekende figuur is twintig meter voor hom, soekend, hy kyk kort-kort na sy foon. Daniel loop agter hom aan, hou sy afstand. Dit kan nie wees nie. Herinneringe wat terugvloei, hy skud sy kop, ai, die ou lewe darem. Maar die vermoede dat dit Lonnie is, neem toe. Die wakker manier van stap, die bonkige figuur, die vorm van die kop, die blinkende bles.

En iets wat hom pla, nog vaag.

Hy kyk stip na die man, sien dit is sweerlik Lonnie, maar ouer. Here, ons word almal oud. Hy wil vinniger stap, uitroep na sy ou kameraad.

Hy doen dit nie, ’n ongemak in hom, ongedefinieerd. Iets is nie pluis nie.

Dan weet hy wat dit is.

Daar is iemand, feitlik hier langs Daniel, wie se aandag ook op Lonnie is. Daniel ken die tekens, byna vergete opleiding wat hy nou onthou.

Die man is besig om Lonnie te agtervolg.

Prooi

Подняться наверх