Читать книгу Prooi - Деон Мейер - Страница 13
8
ОглавлениеAugustus. Bennie Griessel. Drie Susters.
“Net hier,” sê speurder-sersant Aubrey Verwey en wys met sy vinger na ’n droë donga tussen ’n klos Karoobossies links van die spoor. “Net hier het hulle hom gekry. Met die breins so buitekant, én toe lê hy al agt dae lank. You can imagine. Not a pretty sight.”
“Jy bedoel die railway worker?” vra Cupido met ongeduld wat deurslaan. Want hy is al van vroegoggend af beneuk, toe hulle sesuur uit Bellville weg is.
Griessel het op pad Beaufort-Wes toe – om vir Verwey op te laai – vir Cupido vertel van sy deursoeking van die Johnson-meenthuis. Maar hy kon sien sy kollega se kop is elders. Aanvanklik het hy gedink dit was dalk net die vroeë uur.
Nou staan hulle langs die treinspoor in die wydheid van die Groot Karoo, nege kilometer anderkant die Drie Susters-vulstasie. Hulle moes van die gekettingde hek by die N1 af twintig minute lank met die stowwerige dienspad langs stap, want die man van Transnet het nie opgedaag met die hekslot se sleutel nie. En ondanks die bloue hemel is die Augustus-windjie bitter koud. Nie Cupido of Griessel het warm klere saamgebring nie. “Dis ’n semi-desert, for crying out loud, jy expect a bietjie hitte,” het Cupido verontwaardig vir Griessel gesê toe hulle uit die kar klim.
“Ja, die Transnet-trajekbestuurder,” sê Verwey nou. Hy is jonk. Sy moderne haarstyl is ingewikkeld, vol kepe en kerwe en vlakke.
“Dieselfde een wat die sleutel vir ons moes bring?” vra Griessel.
“That’s correct.” Asof hy onder kruisondervraging in ’n hof is.
Cupido skud sy kop stadig, sug hardop en sê: “Okay, let’s take it from the top.”
“Kaptein?”
“Vertel vir ons die hele storie, sergeant. How did this all unfold for the SAPS in Beaufort West?”
“Daai is alles in die docket …”
“Ek weet dis in die docket, ma’ die docket is nie exactly ’n masterpiece of detail and eloquence nie, to put it mildly.”
“My docket is professional,” sê Verwey gekwets. “Strictly by the book.”
Griessel tree tussen hulle in voor Cupido kan reageer. Die dossier is inderdaad nie ’n toonbeeld van omvattende doeltreffendheid nie, maar hy kan sien dit is nie nou die regte tyd om dit op te haal nie. “Jy weet hoe dit is,” sê hy aan Verwey. “’n Docket is ’n opsomming. Ons soek die groter prentjie.”
Verwey vermoed dat hy gepaai word. Hy trek sy skouers effens terug, gee Cupido ’n verontwaardigde kyk en sê: “My docket is professional.”
Griessel knik. Cupido bly genadiglik stil.
Verwey staar oor die vlaktes: “Die Transnet-ou … Chungu, dis sy naam, hy het hom hier kom kry.”
Griessel knik weer, ter aanmoediging.
“Chungu inspect die train tracks tussen Beaufort en Hutchinson, dis sy territory. Toe ry hy hier met die dienspad langs, en toe ruik hy, ma’ iets ruik vrot, en hy sê, dis nou nie só uncommon nie, want party kere slaan die treine ’n koedoe of ’n ding, even ’n dronkie from time to time. So, toe kyk hy uit en hy sien niks, want Johnson lê toe so half in die sloot. Toe stop Chungu waar dit die meeste stink, en toe klim hy uit sy railway-bakkie en hy gaan tot omtrent daarso, toe sien hy vir Johnson lê. Hy’t die wit van die hemp gesien, eintlik, eerste. En toe die vlieë en die maggots en die gebryseling, en die stink is toe baie kwaai, en hy kan dit nie hou nie. Toe klim hy in en hy ry so ’n entjie aan, en toe bel hy vir Beaufort-stasie.”
“Gebryseling?” vra Cupido.
“That’s correct. Dit meen kwaai stukkend. Johnson Johnson se kop. Heeltemal gebrysel.”
“I see,” sê Cupido. “Dié Chungu, het hy ’n routine met sy inspections?”
“Hoe meen jy?”
“Hy’t die body gekry op ’n Maandag, right?”
“Right.”
“Nou, doen hy elke Maandag dié stuk spoor hier?”
“O. Okay, I see what you mean …”
“Well?”
“Ek sal hom moet vra.”
“Toe bel hy die Beaufort-Wes-stasie en toe stuur hulle die twee konstabels,” moedig Griessel hom aan.
“Daai is standard practice,” sê sersant Verwey.
“Vir twee konstabels om op die crime scene te kom kots?” vra Cupido. “Vir die hele Karoo se blougatte om alles te kom vertrap?”
“Die crime scene was op die trein. Hulle het net vir Johnson hier uitgegooi,” sê Verwey. “This is not rocky science.”
“Rocky science?” vra Cupido.
“That’s correct. Rocky science. Daai meen dis nie só complicated nie.”
“I can see clearly now,” sê Cupido en Bennie is nou seker daar is iets groots wat sy kollega pla. Want in normale omstandighede sou daar nou ’n geamuseerde toon aan Vaughn se stem gewees het. Hy sou onderlangs na Griessel gekyk het, hulle sou ’n lag onderdruk het wat hulle later, met die terugry, sou deel. Maar vandag is nie normale omstandighede nie. Iets het Cupido kwaad gemaak, dalk gisteraand, dalk baie vroeg vanoggend, ’n broeiende, groeiende woede, ingehou soos stoom in ’n pot. Bennie ken vir Vaughn, hy weet dit help nie om te vra voor Cupido nie reg is om te sê nie. En hy weet dit kan dalk uitbars voor hy vra, daarom wil hy net keer dat dit nou hiér gebeur.
“En toe?” por Griessel vinnig aan.
Speurder-sersant Aubrey Verwey van Beaufort-Wes se SAPD is heeltemal onbewus van die onderstrominge. Hy trek homself regop vir dié oomblik in die kollig, en hy vertel. Van die twee uniforms in die polisiebakkie wat eindelik hul naarheid genoeg onder beheer gekry het om die lyk langs die treinspoor van nader te bekyk. En toe, na aanleiding van die gehalte van die swart pak klere en die wit hemp, die afleiding gemaak het dat dit “nie sommer ’n local joker is nie”.
“Local joker,” herhaal Cupido stroef.
“That’s correct,” sê Verwey. “En toe radio hulle in vir ’n speurder.”
Die stasiebevelvoerder van Beaufort-Wes het vir sersant Aubrey Verwey uitgestuur. Toe hy op die toneel kom, was daar ook polisievoertuie van die klein SAPD-stasie op Hutchinson, en twee van Victoria-Wes, want in die Karoo werk die lang arm van die gereg se bostelegraaf baie doeltreffend. Maar niemand het vermoed dat dit Johnson Johnson se lyk is wat daar lê nie, want nie een van hulle het die beriggies die vorige week in die media raakgesien nie.
Verwey sê met nadruk hy het op die nuuskierige vertrappers van die misdaadtoneel geskel, hy het vir die manne van Victoria-Wes gesê hy “voel fokkol” vir hul argumente dat hierdie net anderkant die Noord-Kaapse grens en dus eintlik hul jurisdiksie is. Detective sergeant Aubrey Verwey is uitgeroep, en daarom is dit detective sergeant Aubrey Verwey se saak. En soos wat hy dit vir die twee Valke vertel, sit hy groot klem op die woord “detective”.
En toe bind Verwey ’n sakdoek voor sy neus vas, maar dit help niks. En hy trek sy plastiekhandskoene aan, span die geel misdaadband en hy sê vir almal hulle bly nou agter daai band. En hy neem foto’s met sy Samsung-selfoon, want die polisiefotograaf op Beaufort-Wes se hele kamerasak is vyf maande gelede gesteel. Uit die polisiekantoor uit. En dis nog nie vervang nie, so die selfoon was al wat hy kon doen. En toe gaan voel hy in die sakke van die slagoffer se baadjie, en hy kry die selfoon, heeltemal flenters, daai foon moes gebreek het toe Johnson Johnson die staalpaal langs die spoor tref, of dit het dalk ’n klip op die grond getref, so met die uitval uit die trein uit. “Beyond reasonable doubt. Heeltemal beyond reasonable doubt.”
Dit was al wat in die sakke van Johnson Johnson was. Die selfoon. ’n LG G5.
“So I tagged it and I bagged it,” sê Verwey.
“En toe kry ek myself die bloed en harsings aan die ’lectric pylon, net da’, kyk, da’ kan julle dit nog sien. Die CSI-ou van George het eers die volgende dag hier aangesukkel gekom, toe sê ek hy moet daai analyse. Toe bel ek my SB, en hy rapporteer dit hoër op, en die police spokesperson in die Kaap gee dit vir die media, lat daar ’n John Doe langs die railway line ge- … ’n John Doe is wat jy ’n ou noem wat dood is, ma’ hy’s nog nie ge-ID nie …”
“We live and learn,” sê Vaughn Cupido en slaan sy oë op na die ’lectric pylon.
Griessel haal net diep asem.
“En toe bel hierdie reporter my van Die Burger af en sy vra, ma’ is dit nie Johnson Johnson nie? Toe hoor ek die eerste keer van dié ou. Maar toe sê ek, no comment, want die victim was nog nie ge-ID nie. Eers toe ek die LG-foon se simkaart process, toe is dit beyond reasonable doubt lat dit Johnson Johnson is. Heeltemal beyond reasonable doubt.”
* * *
Hulle ry terug Beaufort-Wes toe. Cupido bestuur, Aubrey Verwey sit agter. Verwey praat baie, meestal oor die sake wat hy met vernuftige speurwerk opgelos het: tikhandelaars, huisbrake, veediewe en twee plaaslike huishoudelike moorde.
Hulle het ’n vermoede hy het ’n agenda. Toe hulle Beaufort-Wes binnery, sê hy: “Okay, so hoe moet ek maak om ’n Hawk te word?”
Vaughn Cupido maak ’n geluid soos ’n hond wat geskop word, sag genoeg dat net Bennie dit hoor.
Griessel sê: “Hou net aan doen wat jy doen.”
“Maar julle sal vir my ’n woord insit, nè?”
“Ons gaan probeer.” Dit is die naaste aan die waarheid wat hy kan kom.
Hulle laai hom by die polisiestasie in Birdstraat af. “Hang net ’n minuut aan, Vodacom se call list het gekom, ek kry dit gou,” sê Verwey en hardloop na die gebou.
Cupido laat sy voorkop sak, stamp dit ’n paar keer teen die stuurwiel.
Griessel grinnik.
Verwey kom terug met die koevert. “Dis Johnson Johnson se cell phone records, dit het gekom ná ek al die docket vir julle gestuur het.”
Hulle groet, en toe hulle ry, roep Verwey: “Sit daar ’n woord in!” Hy staan op die sypaadjie en waai tot hulle om die hoek verdwyn.
Griessel kry hom ’n bietjie jammer. Om op dié plek vasgekeer te wees …
Hulle gooi petrol in by ’n vulstasie. Griessel gaan koop vleispasteie en koeldrank, dan vat hulle in doodse stilte die N1 terug Kaap toe.
Verby die Groot Karoo Nasionale Park se ingang. Net meer as ’n kilometer verder, by die stilhouplek met sy opgeskote bome en betontafeltjies en -stoele, trek Vaughn sonder waarskuwing af. Hy hou stil en klim uit, los die deur net só oop. Hy loop ’n entjie weg. Daar is geen ander motors of mense nie. Hy gaan staan, draai om.
“Jissis, Benna,” sê hy. Dit is woede en wanhoop, alles ineen.