Читать книгу Prooi - Деон Мейер - Страница 19

14

Оглавление

Daniel sit ’n halfminuut lank voor hy besef wat gebeur het. Hy spring op, gaan uit, draf met die trappe af. Die bruin koevert lê daar op die vloer, deur die voordeur se posgleuf gedruk.

Vir Daniel Darret. In swart ink.

Hy tel dit op, maar hy weet reeds: Lonnie ken sy nuwe naam. Dit beteken ’n duisend dinge. Lonnie het hom opgespoor en dit moes ’n moeilike, dalk lang, dalk duur proses gewees het, want Daniel het sy spore baie goed uitgevee. Dit beteken Lonnie het besef hy kan daardeur Daniel se nuwe identiteit ontbloot. Immer lojale Lonnie moes dus gedink het die doel heilig die middele. Lonnie is nie hier om te kom gesels oor die ou dae nie.

Dit beteken Lonnie is in die moeilikheid.

Dit weet hy voor hy die koevert oopmaak.

Hy haas hom terug na sy woonstel, kry ’n mes uit die laai, skeur die koevert versigtig oop.

Umzingeli

Saint Andrew. Under the organ. 10:15.

Lonnie

Dit is die eerste woord, die aanspreeknaam, wat hom laat sidder, wat al die sluise van sy geheue oopmaak.

Prooi

Подняться наверх