Читать книгу Goudduiwel - Duane Aslett - Страница 10

6

Оглавление

Niel Campher stap haastig by Nelspruit se Southern Sun Emnotweni Hotel uit. Hy klim in die Toyota Fortuner wat hy by Avis gehuur het. Hy wou iets hê met meer hoogte as ’n sedan en dié was al wat hulle hom kon aanbied.

Hy wonder wat om te verwag tydens sy vergadering by die i’langa-winkelkompleks. Wingnut het gister die Piper Seneca netjies op Nelspruit-lughawe se aanloopbaan laat neerstryk en amper onmiddellik terug na Wonderboom vertrek.

Die buigsaamheid wat Wingnut se dienste hom bied, is gerieflik en hy moet toegee dat die vent ’n goeie vlieënier is. Seker as gevolg van al die ure op die Bosbok-vliegtuie tydens die Bosoorlog. Die mense kan hulle verluister aan Wingnut se stories as hy ’n paar biere in het. Van klandestiene vlugte onder die dekmantel van die nag en landings “op plekke waar nie eens ’n Land Cruiser dit sou waag nie”.

Niel wonder soms hoeveel van dié stories oorvertellings van ander se ervarings is, met Wingnut wat die hoofrol oorneem.

Hy ry met Madibalaan af oor die Krokodilrivier en draai eindelik by die i’langa-winkelkompleks in, waar hy voor Cappuccino’s Café & Pizzeria parkeer. Die hitte dryf hom na die lugverkoelde verligting wat binne die restaurant te vinde is, en hy vra die kelner of hy in een van die eethoekies kan sit – meer geleë vir die vergadering as een van die oop tafels. Hy bestel ’n Appletiser en bekyk die spyskaart terwyl hy wag.

Die persoon op wie hy wag en sy Appletiser daag gelyktydig op.

“Niel Campher?” vra die poenskopman met ’n roggelstem, wat Niel laat dink die man rook al sy lewe lank elke dag ’n pakkie dertigs. Niel skat hom so in sy middel vyftigs, maar hy dra sy jare goed. Hoewel hy ’n effense magie het, is hy stewig gebou en herinner hy Niel aan hul bure in Stilfontein se Staffordshire-terriër wat hom altyd op sy fiets gejaag het. Tot hy op ’n dag die brak met sy regterhak op die bek geskop het. Die pak slae wat hy by sy pa gekry het nadat oom Rusty kom kla het, was die ongerief werd, want die hond het hom daarna sy gang laat gaan. En sy pa kon mos nie “Daantjie” se kant kies nie, want oom Rusty was per slot van rekening sy skofbaas by die myn.

“Ja. Ek neem aan jy is Kobus?”

“Dis reg, welkom in Nelspruit,” gee die man sy hand. Hy gaan sit oorkant Niel en bestel ’n Coke by die kelner.

“Ons kon hier oorkant by Mediterranean ook geëet het as jy wou.”

“Ek is ’n vegetariër, so met die uitsondering van kaviaar eet ek geen vis of vleis nie.” Niel merk die man se vraende uitdrukking. Hy besluit hy is hom geen verduideliking verskuldig nie en vestig weer sy aandag op die spyskaart. Hy kan nie tussen die Focaccia Primavera en die Penne Arrabiata besluit nie.

* * *

Die kelnerin sit die skinkbord op die tafel neer en skuif elkeen se drankie voor hom in. Hulle bedank haar en sy loop.

“Jy’s stil vandag.”

“Ek kom nou net van die shrink af, so ek’s seker nog so half in touch met my feminine side.”

Rex glimlag. Myron Januarie is nie die tipe mens wat maklik op ’n sielkundige se rusbank sy lê sal kry nie.

“So, die groot dag is om die draai.”

“Ja. Ek is nog net nie seker presies wanneer dit gaan deurkom nie, maar ek gee nie om nie. Hoe langer hulle vat om my bevordering amptelik te maak, hoe meer back pay kry ek. So dis ’n forced savings plan,” sê Januarie en suig aan die strooitjie van sy perskegeur-ystee.

“Nee, ek bedoel die troue. Dis om die draai,” korrigeer Rex. Hy glo adjudant-offisier Constance Bandjies sou haar verloofde sewe soorte hel gegee het as sy hier was om te hoor dat sy bevordering vir hom ’n groter geleentheid as sy troudag is.

“O, dít. Next week, my broe’. Dit ís om die draai,” sê hy met ’n groot glimlag. “Ons gaan honeymoon in die Krugerwildtuin. Ek gaan daai leeus ’n ding of twee wys, pappie. Hulle sê mos leeus copulate up to forty times a day wanneer hulle paar, maar hulle ken nog nie vir Myron Januarie nie.”

Rex lag maar net. Constance Bandjies sou nou sekerlik nóg ’n oorveeg uitgedeel het as sy hier was. Hy teug aan sy Coke Zero tydens die stilte wat volg, voordat hulle praat oor hoekom hulle hier is.

“Anyways,” sê Januarie. “Jy moet seker terugvoer gee oor die mandate.”

“Ja, die ander vennote sit druk op my. Dit voel soms of die bottom line al rede is waarom hulle hierdie werk doen, maar hulle verkondig wyd en syd hoe hulle ook hulle deel vir die land doen deur handelsmisdaad te bekamp.”

“Bottom line?”

“Jammer, ek het ook nou al die besigheidstaal aangeleer. Dit beteken maar die wins wat die firma maak.”

Januarie haal ’n dokument uit en stoot dit oor die tafel.

“Signed, sealed and delivered, baby! En ek kon nog nie iets uitvind oor Campher se bellery nie, maar sodra hulle vir my die inligting stuur, laat weet ek jou.”

Rex herken die dekbrief van die dokument. Die formele Dear Honourable Minister, gevolg deur vet hoofletters:

ENGAGEMENT LETTER: FORENSIC INVESTIGATION: SPHINX TRADERS (PTY) LTD.

Hy ken al die inhoud van die firma se standaard-aanstellingsbrief. Die beleefde dankie vir hierdie geleentheid, gevolg deur die partye se verantwoordelikhede, die opdrag, die omvang van die ondersoek, die tydperk wat ondersoek moet word, die beperkings en die betaalbare fooie. Daarna volg al die “caveat”-bepalings wat die firma se regsaanspreeklikheid beperk.

Hy blaai na die laaste bladsy waar die minister geteken en sodoende aanspreeklikheid vir betaling van die fooie aanvaar het. Lippmann Gurfein Ing. is dus amptelik aangestel om die Valke by te staan met die ondersoek na die betrokke maatskappy se finansiële sake, want soos die hof in die Botha-saak bevind het, het die moderne samelewing so gespesialiseerd geraak en is daar soveel wetgewing en bedrywe wat geadministreer en gereguleer moet word, dat geen polisiediens sonder die hulp van privaat instansies alle misdaad kan ondersoek en voorkom nie.

* * *

“Jou pa het die Ysterhout-laer afgesweer, Niel. Nadat daardie Engelse grootdoop-kerk hom gebreinspoel het en laat glo het dat geheime organisasies onheilig is. So hoekom moet die organisasie jou as lid toelaat?”

Niel sluk aan die Milo-melkskommel wat moet troos bring nadat die rissies in die Penne Arrabiata die witwas uit hom begin brand het. Pleks hy eerder die Focaccia Primavera bestel het, maar Kobus se keuse van die Spaghetti Al Paella het hom oortuig om ook op ’n pastagereg te besluit.

“Want eerstens is ek nie my pa nie, en tweedens was my oupa, soos jy sekerlik self weet, baie hoog op in die Ysterhout-laer. En hy was baie ontsteld toe sy enigste seun so teen hom gedraai het – in elk geval wat die Ysterhout-laer betref. Verder glo ek julle sal onthou wat my oupa en oupagrootjie alles vir die Ysterhout-laer beteken het. Die Campher-naam is amper sinoniem daarmee.”

“Hoe weet jy al dié goed?” vra Kobus met wantroue wat in sy stem deurskemer.

Niel besef hy moet nou die aas ingooi, anders gaan hy nie ’n byt kry nie.

“My oupa het die inhoud van sy studeerkamer aan my bemaak, met al sy boeke en persoonlike geskrifte. Hy het ’n groot versameling werke oor Paul Kruger gehad en ek het al my oupa se dagboeke gelees, hoewel hulle baie kripties is.”

“Hy het dagboeke gehou?” vra Kobus meer aandagtig en Niel besef die aas is gevat; die volgende stap is om hom vinnig dog versigtig in te katrol. Soos ’n forel wat die vlieg gevat het – as jy hom te veel laat spook, vrek hy van uitputting; as jy die lyn te slap hou, glip hy binne ’n oogwink weg.

Hy druk sy hand in sy sak en haal die sleutel uit.

“Dít was in sy brandkluis, met ’n plaatjie hier op die sleutelring waarop ’n nommer gegraveer is. Ek kon egter nog nie vasstel wat hierdie sleutel oopsluit óf waarna die nommer op die plaatjie verwys nie. Dit is wat ek probeer vasstel, en ek dink die Ysterhout-laer kan my daarmee help – indien ek as lid toegelaat word, natuurlik.”

Kobus staar lank na die sleutel. Die aas is te aanloklik om te weerstaan.

“Ek sal kyk wat ek kan doen. Ek sal jou kontak. Waar gaan jy wees?” Sy oë verlaat nie die sleutel nie.

“Op my sel. Dis die nommer wat ek jou gegee het. Skakel my gerus daarop.” Hy het ’n spesmaas dat die Ysterhout-laer nie gaan skroom om lidmaatskap aan hom toe te staan nie. Tevrede drink hy die res van sy melkskommel.

* * *

Kobus haal sy selfoon uit, skakel ’n nommer. Wanneer daar geantwoord word, sê hy: “Ons moet praat. Niel Campher het die sleutel.”

Hy luister, sê dan: “Ek het dit met my eie oë gesien. En die poephol waai dit rond asof dit ’n doodgewone voordeursleutel is. Hy het nie ’n benul nie.”

Luister weer, en antwoord: “Ons kan vanaand bymekaarkom. Ek sal my van die kerkraadsvergadering verskoon.”

Hy luister, sluit dan af met: “Goed, tot dan.”

Hy druk die foon dood en staar die Toyota Fortuner agterna tot dit buite sig verdwyn. Dan klim hy in sy Isuzu en skryf die Fortuner se registrasienommer neer op die kontantstrokie wat hy pas by die restaurant gekry het.

Hy skakel sy voertuig aan en trek weg terwyl hy nog ’n nommer op sy selfoon skakel.

Goudduiwel

Подняться наверх