Читать книгу Goudduiwel - Duane Aslett - Страница 6

2

Оглавление

28 Mei 1900, Pretoria

Die dag se kleure vervaag in skakerings van grys soos wat die nag begin oorneem.

Artillerie-offisier Gustav Preller jaag verwoed deur die strate van Pretoria. Soekend. Lord Roberts en sy Kakies is reeds by die Kliprivier en hy wat Gustav is, wil nie teleurstel nie. Hy móét slaag in sy missie; gehoor gee aan die opdrag wat so kort en kragtig aan hom oorgedra is: “Kry ’n wa!”

Preller sug, deels weens die frustrasie wat geleidelik in hom opgebou het sedert hy die opdrag gekry het, deels weens die wanhoop wat begin het om dit te vervang. Op die oog af is sy taak eenvoudig, want waens vind ’n mens in Pretoria tog om elke hoek en draai – onder normale omstandighede. Maar vanaand s’n is uniek.

Eerstens is die vyand baie naby, net anderkant Johannesburg volgens die jongste berigte, op die oewer van die Kliprivier. En tweedens het al wat mens is reeds die pad gevat, mét hul waens – vol gelaai met die waardevolste besittings wat hulle inderhaas bymekaar kon skraap.

Pretoria is dus ’n spookdorp, so waar de hel moet hy ’n wa in die hande kry?

Hy hoor sy perd se snorkgeluide soos hy op volle vaart deur die verlate strate galop, hoor hoe die hoewe se klakgeluide weergalm. Sy soekende oë vind ware wat in die vroeëre chaos versaak is – mooi goed; bruikbare goed. Goedere wat enige eienaar sou wou saamneem, was dit nie vir die omstandighede en gebrek aan plek op hul waens nie. Op sulke tye gryp jy net die noodsaaklikste: kos en klere.

Hy hoop president Kruger het veilig uit Pretoria gekom. Die Afrikanersaak is in die weegskaal en Paul Kruger se leierskap is onontbeerlik vir sukses. Vanaand moet hy wat Gustav is sy eie groot bydrae tot die saak lewer, ’n saak wat hy reeds besef het sy lewenstaak sal word. Die voortbestaan van die Afrikanervolk.

En hoewel sy taak vanaand direk met die oorlogvoering verband hou, voel hy dat hy in die toekoms op literêre vlak ’n groter en meer beduidende bydrae tot die Afrikaner se opheffing kan lewer, want na hierdie oorlog gaan hy die wapen neerlê en van die pen leef. Die Afrikaner se taal moet verhef word tot akademiese standaard, hoewel baie vir hom lag en sê hy is mal. Volgens hulle is die taal vir ewig verdoem tot sy natuurlike vlak – Kitchen Dutch – want “daarvoor sal die Ingelse sorg”.

Hy trek sy perd in en tuur in ’n systraat op. Nog steeds geen wa in sig nie. Hy hoop hy oorleef hierdie oorlog om sy literêre aspirasies voort te sit, want hoe langer dit neem om ’n wa in die hande te kry, hoe skraler word sy kans op oorlewing. Lord Roberts is na bewering ’n formidabele kryger en hy het geen begeerte om persoonlik met die man se vernuf te make te kry nie. Hy skop sy hakke in die perd se ribbes en kies koers in Sunnyside se rigting.

In Esselenstraat trek hy weer sy perd in en spits sy ore. Het hy reg gehoor? Ja, daar’s dit weer. ’n Gevoel van genoegdoening spoel deur sy lyf. Hy sál sy opdrag nakom. In die skaduwee van ’n denneboom neem hy skuiling in. Hy gáán in sy doel slaag. Hy hoor hoe die geluide harder word namate die afstand tussen hulle krimp. Die klakgeluide van hoewe – en die gerammel van ’n wa! ’n Melodie in sy ore.

Hy herken die drywer in die skemerlig. Pompie, soos die Zoeloe met die vriendelike gesig bekendstaan. Preller het al ’n paar keer met hom te doene gehad. Sy saggeaardheid het hom moeilik in die geharde mynomgewing laat inpas en Pompie het as huisbediende vir een van Pretoria se mees gesiene families begin werk. Hy is vir sy hardwerkendheid en getrouheid beloon, maar dit is sekerlik ook die rede waarom Pompie dié tyd van die aand nog met sy baas as passasier moet rondskarrel.

Preller merk die onmiskenbare silhoeët van die eienaar se keil agter in die wa. Hy het nog nooit van die man gehou nie. Te geldgierig, en hy vermoed al lank die man het bande met die Britte. Dalk is dit hoekom hy Pretoria nog nie verlaat het nie; het seker reeds oor sy volgende sakestrategie met die Britte onderhandel.

Hy wag op die regte oomblik, storm dan vanuit die skaduwees voor die wa in. Pompie paai die verskrikte muile terwyl hy hulle intrek.

“Wat is fout met jou?” skreeu die eienaar van agter die wa af.

“In die naam van die ZA Republiek kommandeer ek hierdie trolliewa!” sê Preller in sy mees amptelike stemtoon. Hy gaan nie tyd mors met mooipraatjies nie.

“Watse blerrie regering? Dit bestaan nie meer nie! Gee pad so- …” Hy sluk die res van sy sin toe Preller die Webley uit sy holster pluk en op hom rig. Dan spring die man van die wa af, struikel en ploeg in die stof neer. Hy strompel weer orent. Onder ander omstandighede sou Preller die toneel vermaaklik gevind het.

“Ek gaan ’n klag lê by die Zarps, Preller! Hulle sal jou toesluit!” skree die man toe hy homself reggeruk het en Pompie weer die muile aan die beweeg kry.

“Watse blerrie Zarps? Hulle bestaan mos nie meer nie!” lag Preller voor hy die perd draai en agter die wa inval.

Hy sien oor sy skouer hoe die eienaar briesend sy vuis in die lug swaai en dan die skemerte in storm, waarskynlik om hulp te ontbied. Hy skud sy kop, want nugter alleen weet waar die man vanaand enige hulp gaan kry.

Hy druk die Webley terug in sy holster en merk hoe Pompie se oë senuagtig na die rewolwer flits. Hy meen die Zoeloe sal sy samewerking veel meer geredelik as die wa se eienaar gee.

“Kerkplein toe, Pompie,” gebied Preller. “Ons moet klaarmaak voor lord Roberts Pretoria binneval. Hy trek al by die Kliprivier.”

Dit is donker teen die tyd dat hulle hul bestemming bereik en die maanlig werp onheilspellende skaduwees oor die plein. Die lug is ysig op Preller se wange. Die winter is hier, en dit gaan die oorlog net moeiliker maak.

’n Stem groet hulle vanuit die donkerte toe Pompie die wa voor die Paleis van Justisie tot stilstand bring.

“Goeie werk, manne! Die rydinge blyk maar skaars te wees vanaand,” sê Jan Smuts toe hy vanuit die donkerte tree en in die maanlig sigbaar word.

“Naand, meneer die staatsprokureur,” groet Preller beleefd terug. “Ja, die eienaar was nie baie gretig om sy trollie af te staan nie. Ek dink hy verwag betaling.”

“Se voet! Ons sal mos die wa mét sy drywer voor dagbreek aan hom terugbesorg. Volg my!”

Hulle stap by ’n sydeur die Paleis van Justisie binne. Die sementreuk van die pas geboude vertrekke hang nog skerp in die lug. Smuts lei hulle deur die eerste kluis en draai dan regs in by die tweede.

Preller steek vas, swets onderlangs. Skok laat sy woorde opdroog. Agter hom prewel Pompie iets in sy eie taal.

Voor hulle, hoog gestapel, glinster meer goudstawe as wat Preller ooit kon droom bestaan. Die goud wat die toekoms van die Boeremag moet verseker, glinster op die steeds nat sementvloer in die Paleis van Justisie se kelder.

* * *

Rex slurp aan sy koffie en lees met ’n halwe oog die berig in een van die ou tydskrifte wat hy uit ’n mandjie langs die toonbank opgediep het. Dit handel oor ’n internasionale toekenning wat die staatsaanklaers van die Boeremag-saak as erkenning vir hul goeie werk ontvang het, en hoe hulle tien jaar lank vanuit ’n stofbedekte stoorkamer onder in die Paleis van Justisie moes arbei. Hulle moes noodgedwonge hul intrek in die kelder neem omdat die advokatekamers nie genoeg ruimte gehad het om die staat se vervolgingspan te huisves nie.

Ten einde laas is 19 beskuldigdes tot altesaam 240 jaar gevangenisstraf gevonnis.

Hy skuif die tydskrif opsy en sluk die laaste bietjie koffie. Campher se storie hinder hom steeds. Die een oomblik klink die ou so angstig soos iemand in die dodesel, die volgende lag hy die saak af en verwag dat niemand bekommerd moet wees nie.

Waarom is sy selfoon nou afgeskakel? Dis nie asof Freddie of sy trawante Niel gaan bel en vra waar hy wegkruip nie.

Rex kom agter dat hy besig is om uit frustrasie sy regterbeen op en af te pomp. Hy haat dit dat Campher sy lewe so binnedring.

Hy het sy prokureurspraktyk die rug gekeer en ’n lewe as ’n geheime agent aanvaar … om in afsondering Leigh se skielike dood te probeer verwerk. Weg van al die “En hoe gaan dit vandag, Rex?”-vrae, in stemtone wat medelye moes oordra. Die vervulling wat die prokureurspraktyk hom eenmaal gebied het, was net so afwesig soos sy.

Elke dag op kantoor was leër as die vorige, totdat dit vir hom gevoel het die kantoor is sy eie witgeverfde graf.

Nadat hy Alicia ontmoet het, kon hy insien dat hy eintlik heeltyd besig was om weg te hardloop, eerder as om vrede te maak met sy vrou se afsterwe. En só het die wil om weer voluit te lewe algaande sterker geword – maar Niel Campher was die fynskrif in die “Dis te goed om waar te wees”-aanbod.

En nou is hy gatvol vir Campher se streke.

Hy soek ’n nommer op sy selfoon, skakel dit. Oorkant die pad toring die Witkop-blokhuis half vervalle, met ontblote dakkappe wat soos die ribbes van ’n karkas deur die son verskroei word.

“Hoesit, my broe’?” antwoord Myron Januarie opgewek.

“Myron, ek weet ons sien mekaar môremiddag, maar ek het vroeër ’n weird oproep van Campher af gekry.”

Nadat Rex klaar verduidelik het, is Januarie ’n ruk lank stil, sê dan. “Klink vir my ook maar na spookstories, Rex.”

“Ek wil eintlik hoor of jy kan vasstel deur watter selfoontoring sy oproep gekom het. Ek vermoed hy was nie by sy penthouse nie. As hy weer besig is met sy stront, wil ek dit weet.” Hy beduie aan die kelnerin dat sy die rekening kan bring.

“Ek sal môre bietjie check, ’cause leopards mos never change their spots, of hoe?” merk Januarie op voor hy aflui.

* * *

Hy staar na die leë kelder van die Paleis van Justisie. In besonder na die indrukke wat die goudstawe in die sementvloer gelaat het.

Buite wag die wa wat hulle tot barstens toe gelaai het. Goiingsakke is oor die vrag gegooi om dit te verskuil, heel moontlik onnodig aangesien die strate verlate is.

“Die ouditeur-generaal wag vir julle daar by die stasie,” ontvang Preller sy finale opdrag. “Die trein sal Machadodorp toe vertrek wanneer julle klaar gelaai het. En daar is geen tyd om te verspil nie – die trein moet vertrek voordat die Kakies dit op die Oosterlyn kan onderskep. President Kruger sal self die goedere in Machadodorp in ontvangs neem.”

Preller merk die moegheid op Smuts se gesig. Al is die man maar pas 30 teenoor sy eie 25, lyk hy vanaand heelwat ouer. Seker die verantwoordelikheid wat so swaar op sy skouers rus, want toe die ander amptenare begin pad vat het, het Smuts agtergebly om toesig te hou oor die ontruiming van die stad voor die Britse magte dit beset.

“Wanneer gaan u Pretoria verlaat, meneer?” wil Preller bekommerd weet. Hulle kan nie bekostig dat lord Roberts hom in Pretoria betrap nie.

“Ek gaan môre by die kommando’s aansluit.”

Preller glimlag. Die Kakies glo die oorlog is op sy einde, maar hulle onderskat hoe taai die Boere is, veral as hulle in ’n hoek gekeer is – en daardie hoek is nou die Oos-Transvaal. Preller vermoed daar sal nog baie bloed oor dié vrugbare grond gegiet word voor die oorlog verby is. Die goud wat hy vanaand help wegstuur, gaan die Boeremag se verset versterk.

“Reg so, meneer Smuts, ons sal u nie teleurstel nie.” Hy sien ’n glimlag oor die moeë gesig spoel. En hy is verheug dat hierdie belangrike taak aan hom opgedra is; dit kan die finale uitslag van die oorlog bepaal.

Pompie klap die leisels en die muile beur om hul vrag aan die beweeg te kry.

Die houtwa kreun deur die nou straatjies en kraak oor elke hobbel in die pad. Preller het stelling agter die Zoeloe-drywer ingeneem, Webley in sy hand, gereed vir die wis en die onwis.

Toe hulle eindelik langs die trein tot stilstand kom, kan Preller die ouditeur-generaal se angs duidelik op sy gesig lees. Sy hoë stemtoon verraai dit ook.

“Roberts en sy troepe kan enige oomblik om die draai gestorm kom, en julle vat julle bleddie tyd met ’n muilwa!”

Preller oorweeg dit om hom ’n goeie tongloesing te gee, maar besef dis nie die regte tyd nie. Die ouditeur-generaal is ’n finansiesman; oorlog sit nie in sy murg nie. Die man se blik flits heen en weer met elke geluid of beweging en hy sien klaarblyklik uit daarna om die stoomlokomotief te hoor fluit as die trein begin beweeg. Na regte behoort hy eers te ontspan as die trein veilig verby die Oosterlyn is, waar die Kakies hulle nie meer kan onderskep nie, maar Preller besluit egter om hom salig onbewus daarvan te los.

“Waar moet ons aflaai?” vra Preller so kalm moontlik, om die man hopelik te help bedaar.

“Volg my!” sê die ouditeur-generaal en vee met ’n sakdoek oor sy voorkop. Ten spyte van die koue aandluggie sweet hy asof dit ’n snikhete somersdag is.

Hy lei hulle na die agterste trok, waar hy die swaar sydeur stadig ooptrek. Links van die stasie, op ’n sylyn, merk Preller ’n ander trein wat gereed staan om die staatsamptenare vanaand Machadodorp toe te neem. ’n Unieke en besonderse trein, dink hy, want dit gaan die tydelike setel van die regering word.

“Laai hier in!” beveel die ouditeur-generaal agter hom. “Toe, toe! Wat staan julle nog so rond?” Die handlangers spring aan die werk. Preller kan nie die gebabbel van dié Ierse vrywilligers verstaan nie, maar die geskarrel maak dat die goud vinniger gelaai word as wat hy verwag het. Hy moet glimlag toe hy die ouditeur-generaal se verligting merk. Dié vee weer met die sakdoek oor sy voorkop, ooglopend steeds sonder ’n benul dat die gevaar nog lank nie verby is nie.

Die ouditeur-generaal klim op die trein en waai glimlaggend vir Preller toe dit met ’n gefluit aan die beweeg begin kom. Wiele skree soos wat die remme hulle los en stampgeluide trek deur die trokke soos hulle op die spoor begin voortrol.

Preller haal sy sakhorlosie uit en sien dat dit amper middernag is. Agter hom klap Pompie die leisels van die wa terwyl die trein die stasie begin agterlaat. Preller staar die leë bak van die trolliewa ’n oomblik agterna voor hy omspring.

Die Engelse is naby en hy moet nog sy persoonlike besittings by Fort Wonderboom gaan oppik voor hy self padgee uit Pretoria.

* * *

Niel vee die sweet van sy voorkop af. Die son bak vuurwarm op Wonderboom-lughawe se aanloopbaan. Dit lyk of daar poele water vorm agter die wasigheid wat bokant die teeroppervlak hang en dit smaak hom selfs die teer is besig om te verdamp.

Die nat kolle slaan donker uit op die grys gholfhemp wat hy saam met sy wit-en-swart geruite kniebroek dra. ’n Sweetdruppel kielie uit die vou agter sy regterknie teen sy kuitspier af totdat dit tussen sy enkel en Lacoste-seilskoen verdwyn.

“Dink jy Rex het jou storie geglo?” vra Wingnut hier langs hom.

“Hy het geen rede om my nie te trust nie,” antwoord Niel skouerophalend terwyl hy en Wingnut die Piper Seneca uit die snikhete vliegtuigloods stoot. Die sinkstruktuur doen niks om die hitte van die son te temper nie.

“Jy het seker gemaak my naam verskyn nie op jou vlugplan nie, nè?” maak Niel vir oulaas seker toe hulle in die vliegtuig klim.

“Name is nie nodig nie,” antwoord Wingnut kortweg en skakel die twee motore aan.

Wanneer die vliegtuig ’n rukkie later na die aanloopbaan rol, vra Wingnut bo die enjin se geraas: “Hoe gaan jy by jou afspraak kom?”

“Ek het ’n kar bespreek. Hulle sal hom by die vliegveld gereed hê.”

Wingnut knik en Niel is verbaas oor hoe anders hy lyk noudat die groot oorfone sy bakore wegsteek. Die Ray-Ban Aviator-sonbril laat hom ook meer selfversekerd voorkom.

“En jy sal laat weet wanneer ek jou weer moet optel?” vra Wingnut. “Ek sal ’n dag of twee voor die tyd moet weet sodat ek myself nie double-book nie.”

“Ja, maar ons gaan moontlik nie reguit hiernatoe terugkom nie. Ons sal dalk eers ’n paar ander plekke moet besoek. Maar ek sal vroegtydig laat weet sodat jy kan beplan.”

Wingnut swaai die Seneca sodat die aanloopbaan voor hulle uitstrek.

“Solank jy die vliegtuig charter, kan ons vlieg nét waar jy wil. As die invoice betaal word, vra my base nie vrae nie.”

Die twee motore se toere neem met oorverdowende geraas toe wanneer Wingnut twee swart hefbome vorentoe druk. Dan vroetel hy met twee blou hefbome en die enjins se geraas vervleg totdat hulle in samehorigheid dawer.

“Wat was dit?” skree Niel en wys na die hefbome.

“Ek het die props ge-synch,” antwoord Wingnut en lig sy voete van die remme af. Die Seneca maak ’n rukbeweging en skiet dan vorentoe soos ’n bul wat sy poot een keer op die grond kap voor hy storm. Die gerammel neem toe terwyl die vliegtuig vorentoe pyl oor die aanloopbaan en verdwyn meteens toe die Seneca kontak daarmee verbreek om op die lugstrome te sweef.

Niel bewonder die toneel toe Wonderboom en dan Pretoria in ’n al kleiner wordende prentjie omskep word, bespikkel met blou swembaddens wat lafenis teen die snikhete Maart-middagson belowe. Hy kan nie glo dis tegnies gesproke al herfs nie, want dit voel of die somer verbete veg teen die draai van die seisoen.

Goudduiwel

Подняться наверх