Читать книгу Goudduiwel - Duane Aslett - Страница 11

7

Оглавление

Diana sien hoe die ouer een van die twee mans in haar rigting kyk toe sy die oopplan-kantoor binnestap. Sy lees hoe sy lippe die vraag vorm: “Is jy mal, Andries?”

Andries sit op ’n stoel by wat ooglopend sy lessenaar is. Die ouer man sit-staan half op die blad van die lessenaar. Andries antwoord iets wat sy nie kan waarneem nie, waarop die ouer man vervolg: “Ja, sy is sexy, maar as jy sulke goed kwytraak, sal jy vinnig met ’n,” en hier gaan iets verlore, “klagte teen jou sit.” Diana neem aan die woorde wat sy nie kon uitmaak nie, was “seksuele teistering” of iets soortgelyks.

Sy besef dat sommige van die mans in die forensiese wêreld nogal rof kan wees. Baie van hulle is voormalige handelsmisdaad-speurders wat die skuif uit die polisie na die privaatsektor gemaak het en hul geharde ingesteldheid saamgebring het. Sy is egter daarop voorbereid. Laat hulle maar sê wat hulle wil, want sy is hier om te werk, om ondervinding op te doen, om te leer, maak nie saak hoe bar die leermeesters is nie.

Andries swaai op sy kantoorstoel en sy gesig is nou meer na haar gekeer, met die punte van sy swart strooihare wat in sy oë hang. Besef hy nie dat daardie kuif in sy oë sy sig kan benadeel nie? Sy het iewers gelees die natuurlike olie in mense se hare kan nadelig vir die oë wees. Andries se blik rus nog op die ouer sproetgesig-man wie se kopvel deur sy yl rooi hare loer. ’n Glimlag vorm onder Andries se babawange, wat Diana glo nog nooit ’n skeermes nodig gehad het nie.

“Dink jy sy’s ’n screamer? Omdat sy nie kan hoor nie,” maak sy die woorde uit en dan skater Andries vir sy eie grap terwyl hy die kuif uit sy oë vee.

Die ouer man sê iets terwyl hy opstaan en stap dan kopskuddend weg, met sy rug na haar. Nie net sy gesig is rooi nie, sy nek ook. Sy kan nie sien of hy nog iets sê nie.

Haar dag hier was nogal teleurstellend. ’n Klomp administrasie en papierwerk om haar aanstelling te bekragtig. Die kantore oorkant The Zone@Rosebank is indrukwekkend en gerieflik naby die Gautrein se Rosebank-stasie. Die oopplan-kantooruitleg sal haar nie pla nie en sy is dankbaar dat die lessenaars met afskortings toegerus is om ’n mate van privaatheid te verleen.

Mense wat horend is, besef nie hoe die geringste beweging dowe persone se aandag kan aflei nie, grotendeels omdat hulle moet vasstel of iemand dalk hul aandag probeer trek. Die afskortings sal haar help om op haar werk te fokus. Iets wat wel haar aandag aftrek, is die reuk van die koffiemasjiene wat op amper elke hoek staangemaak is. Sy sal haarself moet dwing om nie te veel koppies koffie op ’n dag te drink nie. Dít gaan moeilik wees.

Die menslike hulpbronne-kantoor het tydens die werksaanbod aangedui dat sy oriëntering sal moet ontvang en het vir haar ’n gebaretaal-tolk tydens dié fase aangebied, om dinge te vergemaklik aangesien dit in Engels is – haar tweede taal.

Dit sal nie nodig wees nie, het sy geantwoord, sonder om te noem dat sy ’n digitale opnemer sou saambring vir ingeval sy iets mis; dan sal sy haar ma vra om daarna te luister en dit vir haar te tolk. Sy moet onafhanklik voorkom, veral onder die omstandighede.

Weer dink sy daaraan dat hulle nie moet wonder of hulle ’n fout gemaak het deur haar aan te stel nie – as hulle in haar begin twyfel, mag hulle haar dalk iewers in ’n agterste kantoor indruk om dag vir dag bankstate en ander dokumente te analiseer.

Sy tel haar handsak op om huis toe te gaan. Blykbaar sal haar personeelkaart môre geaktiveer wees en dan sal sy ook haar skootrekenaar ontvang. Hulle het haar verder meegedeel dat dit ’n rukkie sal neem om haar e-posadres te aktiveer en dat haar visitekaartjies eers volgende week van die drukkers af sal kom.

Op pad uit loop sy een van die vennote, wat vandag as Guillaume aan haar bekendgestel is, in die gang raak. Hy nooi haar om by die groep aan te sluit in die werkskroeg op die boonste verdieping. Hulle gaan ’n drankie drink terwyl hulle wag dat die ergste verkeersdruk begin lig.

Sy is geamuseer deur hoe hy sy woorde met sy lippe oorbeklemtoon, stadig, asof dit haar sal help om makliker te verstaan. Hy besef nie dat dit eenvoudiger vir haar is as hy bloot normaal praat nie. Sy eie opgemaakte gebaretaal is ook vermaaklik. “Boonste verdieping” is blykbaar ’n wysvinger wat na die plafon gepomp word; “werkskroeg” ’n hand wat plat voor hom gevee word om die kroegtoonbank aan te dui; en “verkeersdruk” ’n regterhand agter die linker om die voertuie te simboliseer.

Dit ontstel haar nie – sy is net te bly dat hy haar saamnooi en probeer om haar deel van die span te maak. Sy sal hom daarvoor ewig dankbaar wees. Hoewel die verkeer nie ’n probleem is nie omdat sy die Gautrein gebruik, oorweeg sy dit tog om te gaan. Maar sy wil nie die enigste vrou in die geselskap wees nie.

Dan merk sy dat daar ander vroue is wat saambeweeg, en sê: “Dit sal lekker wees, dankie.”

Hulle neem die hysbak na die boonste verdieping. Toe die deure oopskuif, sien sy die naam wat op die glasdeure geëts is: Pacioli’s. Waarskynlik vernoem na die vader van rekeningkunde, Luca Pacioli, ’n monnik wat die eerste boek oor die dubbelinskrywingstelsel gepubliseer het.

Diana wonder hoe hy daaroor sou voel dat ’n kroeg na hom vernoem is.

Sy bestel ’n Savanna Light by die kroegman en wil ’n honderdrandnoot oorhandig, toe hy sy hand ophou en iets sê van die werk wat die koste dra. Sy is verras deur hierdie ekstra wat Lippmann Gurfein Ing. bied.

Sy probeer haar bes om die gesprekke te volg terwyl die trillings van die musiek deur haar lyf vibreer. Hoewel daar nie vandag veel gebeur het nie, is sy pootuit, seker hoofsaaklik weens die druk waaronder sy haarself geplaas het om almal te beïndruk. Sy is ook teleurgesteld omdat sy nie vandag veel met meneer Reynecke … Rex … te doene gekry het nie. En omdat sy gedink het hy sou hier in die werkskroeg wees, maar sy sien hom nêrens nie. Sy troos haar egter daaraan dat sy die man wat soveel vertroue in haar gewys het baie sal sien wanneer sy met die ondersoek besig is.

* * *

By Wonderboom-lughawe se parkeerarea stop Rex op die eerste oop plek wat hy sien.

“Daarso is hulle se sign,” wys Januarie na die bord van die huurvlugmaatskappy waar Wingnut werksaam is. Daar staan Xylo-prop Charters in bruin op ’n wit agtergrond, met houtpropellers wat die X vorm.

Kort na hul middagete het hy Rex gebel en meegedeel dat Niel onmoontlik die betrokke oproep van sy dakwoonstel af kon gemaak het, omdat ’n selfoontoring in Pretoria die oproep gefasiliteer het.

“So, die bliksem is al weer besig met die een of ander scheme, my broe’, en ek wil ook weet wat dit is.”

“Nou ja, hy het genoem dat hy besig was om met Wingnut te reël om te verdwyn, en dit kan dalk beteken dat hy Wingnut gevra het om hom iewers heen te vlieg. En ek dink die charter company vir wie Wingnut werk, operate van Wonderboom-lughawe af. Ek weet die naam begin met ‘Xylo’, maar ek kan nie die res onthou nie.”

“Ek bel jou nou,” het Januarie gesê en die oproep summier beëindig. Rex het gemeen daar was iets dringends op kantoor waaraan hy aandag moes skenk, maar minder as ’n uur later bel hy toe weer.

“Ek het ’n 205-subpoena gekry vir Xylo-prop Charters vir wie Weasel werk …”

“Jy meen Wingnut,” het Rex gekorrigeer.

“Ag, ek confuse altyd die twee bliksems. Ja, ek meen Wingnut. Kom ons gooi ’n draai daar vanmiddag en skud so ’n bietjie die boom. Dalk val daar iets interessants uit die takke uit.”

“Moet ek vra hoe jy so vinnig ’n 205-subpoena in die hande gekry het? Of watter vermeende misdaad jy daarmee ondersoek?”

“Nope. Kom ons sê maar net daar is baie mense wat vir Myron Januarie favours skuld.”

Hulle stap by die kantore van die huurvlugmaatskappy in en kom dadelik agter dat daar slegs een persoon aan diens is.

“Ag nee, fokkit!” sê die oorgewig man met die deurmekaar grys hare toe hy opkyk. Die ring om sy kop is klaarblyklik te danke aan die geel bofbalpet wat voor hom op die lessenaar lê. Sy oë verklap sy angs.

Rex kyk na Januarie, wat fronsend na die man staar voor sy gesig verhelder.

“My donder! Is dit dan nie my ou vriend nie – dit is mos Dolf, of hoe?” Die man knik. “Rex, Dolfie hier is die man wat destyds die ontvoerde Chantelle Heyneman vir Skoppensboer Swaziland toe gesmokkel het. In sy aerie. It’s a small world after all, ou Dolfie!”

Dolf staan op en mik om sy hand uit te steek, maar trek dit dan onseker terug. Verwardheid spoel oor sy gesig.

“Steeds besig met jou clandestine vlugte, ou Dolfie?”

“Glad nie … e … kaptein Januarie. Ek het my les geleer.” Hy vee ’n sweetdruppel van sy wang af. “Xylo-prop is ’n above-board charter company en ons doen finansieel baie goed.”

“Nou, Dolfie, hoekom staan ek dan met ’n 205-subpoena in my hande vir hierdie company as dit so above-board is as wat jy sê? En by the bye …” stoom Januarie voort voor Dolf iets kan sê, “dié is Rex. Hy is amper bokveld toe as gevolg van twee koeëls wat jou voormalige kliënt hom persent gegee het. En hy het nog nie closure daaroor gekry nie. So ek sal nie my luck met hom try nie, veral nie terwyl ek dalk geïnteresseerd is om jou mooi vliegtuie te gaan bewonder nie.”

Dolf se oë skiet na Rex. Betrag hom van kop tot toon, ooglopend om te meet hoe geïntimideer hy behoort te wees.

“Watse vliegtuig is daardie?” vra Rex en beduie na ’n ou propeller-aangedrewe model wat gehawend in die hoek staangemaak is.

“Dis ’n ou Lugmag Harvard wat ek eendag nog wil restoureer,” antwoord Dolf onseker.

“Daai een lyk baie interessant, kaptein – hoekom gaan loer jy nie na hom terwyl ek en Dolf mekaar hier beter leer ken nie?” Rex vou sy arms voor sy bors en hoewel hy warm kry in die donker pak wat hy vir die vennotevergadering aangetrek het, wil hy nie sy baadjie uittrek nie, want hy kan sien sy voorkoms het die gewenste uitwerking op Dolfie.

“Wag-wag. Ek het niks om weg te steek nie.” Die sweetkolle slaan nou sterk deur op die kakie-knopieshemp wat Dolf by sy chino-kniebroek en bruin vellies dra.

“Een van jou pilots – hulle roep hom Wingnut – het moontlik in die afgelope drie dae ’n vlug onderneem. Ek soek die details,” sê Januarie ernstig.

“Ek wil nou nie moeilik wees nie, kaptein, maar ek het kliënte wat nie tevrede sal wees as ek bloot inligting uitdeel nie. So, mag ek asseblief die lasbrief sien?” Dan voeg hy vinnig by: “Net om myself teen die kliënte te beskerm, natuurlik.”

“But of course, ou Dolfie. Ons is mos ou pelle wat vir mekaar uitkyk, of hoe?” sê Januarie en oorhandig die dokument.

“Dis reg, kaptein … ou pelle.” Met ’n oordrewe glimlag bêre Dolf die lasbrief in sy boonste laai. Hy haal ’n rooi lêer van die rak agter hom af en blaai daardeur. “Ja, hier is dit. Hy was Sondag Nelspruit toe, en toe sommer op dieselfde dag terug. Ek kan hom inroep as julle meer wil weet.”

“Not yet necessary, Dolfie. Inteendeel, niemand moet van hierdie enquiry weet nie. Ek weet mos uit ervaring jy wil jou nie skuldig maak aan defeating or obstructing the course of justice nie. So, ek weet sommer, your lips are sealed, nè?”

Dolf knik instemmend.

“Wat het hy daar gaan maak?” vra Rex.

“Ek is nie seker nie. Al wat ek weet, is dat die vlug deur ene Glenn McGregor geboek en betaal is.”

Rex en Januarie kyk mekaar vraend aan.

“Thanks, Dolfie, that’s all for now. En onthou, nie ’n woord hieroor nie. Ek glo jou. Jou company is above-board. Dis meneer McGregor se shenanigans waarin ons belangstel. So bel my asseblief as hy enige ander vlugte met julle charter. Ek reël sommer vir jou informer’s fees. Dis lekker money-for-jam daai. Cash in your pocket, my vriend.”

Januarie haal sy visitekaartjie uit en oorhandig dit aan Dolf, waarna hulle omdraai en wegstap.

“Nelspruit? En is Glenn McGregor in werklikheid Niel Campher?” sê-vra Rex toe hy sy baadjie uittrek terwyl hulle aanstap na die S5 toe. Dan trek hy sy das oor sy kop en rol sy moue op teen die hitte. “Wat sal hy daar gaan soek? En hoekom die hele fasade met Freddie-hulle?”

“Seker om jou rede te gee om nie te veel vrae te vra nie en onder die radar te beweeg,” merk Januarie op. “Maar hy het hom misgis met die inquisitiveness van Rex Reynecke. Well done, partner. Ek dink hier is ’n groot slang in die gras. En blykbaar is jy die snake whisperer. Dalk moet ek Wingnut na die Valke se interrogation room toe vat en sy skroewe bietjie stywer draai. Hoor wat aangaan.”

Rex oordink die voorstel.

“Kom ons gee eers kans. Dolfie sal bel, hy het soos ’n akkedis op warm sinkplaat rondgetrippel. Hy sal sy samewerking gee. Ek wil nie Campher snuf in die neus gee nie,” sê hy toe hulle die Audi se deure toeklap en hy die enjin aanskakel.

“H’m. Give him enough rope, meen jy. Fine met my, maar as Dolfie nie binne die volgende paar dae bel nie, gaan ek Wingnut se vlerke vir hom afknip.”

Goudduiwel

Подняться наверх