Читать книгу Goudduiwel - Duane Aslett - Страница 12

8

Оглавление

Alicia druk die voordeur toe en sit die sleutels vir Niel se dakwoonstel op die kombuistoonbank neer. Dan staan sy besluiteloos. Sy voel klaar skuldig dat sy hier is sonder Niel se medewete, laat staan nog tussen sy goed rondkrap. En sy is nie seker waar om te begin nie.

Sy is keelvol vir sy streke. Meer as dit, sy is keelvol vir die invloed wat dit op haar en Rex se verhouding het. Rex is goed vir haar en Michiel. Sy het lankal die idee van liefde prysgegee en só het Michiel en Niel die enigste mans in haar lewe geword. Hoeveel dokters het sy nie by die hospitaal met die skouer aangekyk wanneer hulle by haar begin aanlê het nie? “Is jy mal?” het die ander verpleegsters haar om die beurt berispe. “Dis elke vrou se droom om ’n mooi jong dokter te haak, en jy wys hulle een na die ander weg.”

En sy het erg bekommerd geraak toe sy wou begin val vir een van die skurke met wie Niel uithang. En hoe meer sy teen die aantrekkingskrag baklei, hoe meer val sy. Tot sy begin dink het sy sal nooit haar aangetrokkenheid tot ’n “bad boy” – soos haar beste skoolvriendin tydens die matriekvakansie na hulle verwys het – afskud nie. En toe Rex halfdood uit ’n ambulans gelaai word en Niel haar meedeel dat hy die hele tyd ’n geheime agent was, het die laaste stene van die muur waaraan sy so lank gebou het, verkrummel.

Sy sal nie toelaat dat haar broer dit opneuk nie. Vererg stap sy na Niel se studeerkamer toe. Dit is waarskynlik die beste plek om te begin soek vir leidrade oor waarmee die klein twak nou weer doenig is.

Die regterkantste boonste laai van sy mahoniehout-lessenaar is gesluit. Sy sak op die groot bruin leerstoel neer en haar oë dwaal moedeloos deur die studeerkamer. Sy moet daardie laai oopkry sonder om die slot te beskadig. Niel het haar op ’n keer ewe windmakerig geleer hoe om ’n slot te manipuleer, maar dit was met die spesiale gereedskap wat hy in ’n swart leerhouer by hom gehad het. Sy trek die ander laaie oop met die hoop dat daai leerhouer in een van hulle gebêre is, maar moet almal weer teleurgesteld toedruk.

Teen die muur oorkant haar hang ’n olieverfskildery van ’n naakte vrou se bolyf, met die kennebak en naeltjie wat die portret bo en onder afsny. Sy vee ’n paar van haar donker hare wat losgekom het agter haar regteroor in en staan op om die skildery van nader te aanskou. Sy trek dit van die muur af weg en glimlag tevrede toe sy op die kluis afkom wat daaragter geskuil het.

Sy vat die skildery aan weerskante vas en lig dit van die hakie af, skud haar kop oor die twee kaal borste wat so vlak voor haar gesig is. Wat is dit met mans en ’n vrou se borste? Wys dit vir hulle en alle redelikheid, toerekenbaarheid en verantwoordelikheid – om maar net ’n paar te noem – is daarmee heen.

Sy staar hande op die heupe na die kluis se toetspaneeltjie, dankbaar dat dit nie met ’n draaiknop toegerus is nie, want dan sou sy sekerlik nie die syferkombinasie kon uitwerk nie.

Dink, Alicia, motiveer sy haarself. Jy ken hom al jou lewe lank. Watter kombinasie sal hy gebruik? Sy tik die familie se geboortedatums om die beurt in, om telkens ’n flitsende rooi liggie en drie kort biepgeluide vir haar moeite te ontvang.

Misnoeë begin in haar posvat, want die moontlikhede is oneindig … maar nee, berispe sy haarself, Niel sal mos nie enige kombinasie opkook nie. Hy is ’n berekende mens en hou van orde in sy lewe. Hy sal nie ’n kombinasie uit sy duim suig nie. Dit sal iets wees wat betekenis dra, maar iets wat nie maklik geraai kan word nie, daarom die vermyding van geboortedatums.

Dink, Alicia! Watter syferkombinasie hou vir hom betekenis in? Sy sleutel een in en skrik omtrent toe die groen liggie flits en die slot ontgrendel. Sy weet nie hoe die gedagte by haar opgekom het nie, maar die gebruik van die datum waarop hul oupa dood is, stuur rillings deur haar lyf – asof iemand oor háár graf geloop het. Sy draai die versinkte handvatsel en swaai die kluisdeur oop.

Sy skrik en gee ’n sagte gil toe haar selfoon begin lui. Druk haar handpalm teen haar hart in ’n poging om te kalmeer terwyl sy na haar handsak loop om die foon uit te haal.

Sy sien dis Rex. Oorweeg dit om te antwoord, maar laat dit lui tot haar stemposboodskap oorneem. Sy sal hom terugbel sodra sy hier padgegee het, want sy is angstig om klaar te maak.

In die kluis lê ’n plaatjie met ’n nommer daarop gegraveer, wat aan ’n sleutelring vasgedraai is. Daar is egter geen sleutels aan die ring nie. Die nommer het vir haar geen betekenis nie en sy neem ’n foto daarvan met haar selfoon voor sy dit terugplaas. Agter die plaatjie is ’n paar ou bundels staangemaak. Sy trek een uit en maak dit oop; herken dadelik haar oupa se handskrif, in verouderde swart ink op die vergeelde bladsye. Sy vryf met haar vingers oor die skrif toe die hartseer in haar opkom.

Sy klap die bundel toe en druk dit terug in die kluis.

Dan versteen sy, want langs die bundels, in die hoek, sien sy die swart leerhouer. Sy staan eers ’n ruk daarmee in haar hand, vervies haar dan vir haar besluiteloosheid. Hoekom nóú huiwer? Sy het tog gekom om te snuffel.

Doelgerig gaan sit sy weer in die groot leerstoel. Sy trek die houer se ritssluiter oop en haal die twee instrumente uit waarmee Niel haar geleer het. Dankie, boetie, dink sy terwyl die ironie van die saak haar opval.

Sy hoop daardie tegniek werk op hierdie lessenaarslot, want sy het op ’n Yale geoefen. Sy begin om met die twee instrumente in die slot te krap.

Na vyf minute se gesukkel sit sy terug in die stoel, met frustrasie wat dreig om haar geesdrif te blus. Sy blaas haar asem uit, probeer van die twyfel ontslae raak, maak haar oë toe en probeer herroep wat sy by Niel geleer het. Dan pak sy die slot met nuwe ywer aan.

Kort daarna trek sy die laai met groot gebaar oop. Haar selftevredenheid is egter van korte duur, want skielik wonder sy hoe de hel sy die laai weer gesluit gaan kry!

Sy vee die kommer eenkant toe. Moenie die bobbejaan agter die bult gaan haal nie, dalk sal Niel dink hy het vergeet om dit te sluit. Sy moet net sorg dat sy alles los soos sy dit gekry het.

Sy haal ’n mosterdkleurige koevert uit die laai en draai die toutjie, wat om twee ronde bruin knoppe gebind is, aan die een kant los. Binne-in, kom sy agter, is dokumente, verhale en artikels oor die Kruger-miljoene.

Dan gewaar sy ’n vierkantige rooi dosie van nagemaakte leer in die laai. Dit lyk soos iets wat ’n juwelier sou gebruik om ’n armband in te verpak. Sy haal dit uit, lig die deksel en dit slaan teen negentig grade met die houer oop. Die binnekant is uitgevoer met rooi fluweel of iets soortgelyks, en ’n versinkte area dui aan waar iets wat rond is gehuisves moet word – dis tans leeg. ’n Kort stukkie rooi lint is ingewerk en is bedoel om die ronde voorwerp uit die holte te lig.

Uit die foto en beskrywing op die voubiljet wat agter nog ’n stuk rooi lint gehuisves word, besef sy dat dit ’n gedenkmedalje is wat in dié houer gebêre word. Voorop die voubiljet wat sy uit die deksel haal, staan: Commemorative medallion: 110 Year Anniversary of the Kruger National Park, met die jaartal 2008 wat bo die seël van die SA Munt aangebring is. Onderaan word aangedui dat dit medalje nommer 0043 is.

Alicia vou die biljet oop en op die eerste bladsy is ’n sertifikaat van egtheid wat bevestig dat die medalje van die SA Munt afkomstig is, onderskraag deur die handtekening van die besturende direkteur, A. Mvinjelwa. Sy blaai om – en snak na haar asem.

Op daardie bladsy staan dat slegs 110 van dié sterlingsilwer-gedenkmedaljes tydens die Krugerrand-vrystelling op 31 Mei 2008 aangebied is. Dit het op Skukuza plaasgevind, ter herdenking van die Nasionale Kruger-wildtuin se 110de bestaansjaar en ter viering van Paul Kruger se onverpoosde werk om die eerste wildbewaringsarea te vestig, wat later tot dié wildtuin uitgebrei is.

Waar sou Niel aan medalje nommer 43 van slegs 110 sulkes gekom het? Sy probeer terugdink aan Mei 2008, maar al wat sy onthou, is dat dit ongeveer die tyd is toe Niel in hierdie dakwoonstel ingetrek het. Wat sy wel weet, is dat hier iets aan die gang is en dat sy nie gaan toelaat dat dit haar lewe versuur nie.

Vies neem sy foto’s van die houer en voubiljet voordat sy alles terugplaas soos sy dit gevind het.

Sy sluit die dakwoonstel toe sy loop en dan skakel sy Rex terug. “Ons moet gesels. Ek dink Niel is weer besig met sy twak,” sê sy toe hy antwoord.

* * *

“Hy slaap,” sê Alicia wanneer sy haar sitkamer binnestap. Sy plons moeg langs Rex op die bank neer, trek haar regterbeen onder haar in en draai sywaarts na hom toe. Sy plaas haar elmboog op die rugleuning en laat haar kop teen haar hand rus. “Hy raak vinnig aan die slaap as jy hier is. Seker oor jy hom so moeg speel met al die karretjies.”

“Dit neem my terug na my kinderdae,” sê hy glimlaggend terwyl hy met die plastiekmotortjie vroetel. Hy sit die speelding op die tafeltjie langs die rusbank neer en gee haar sy volle aandag. “Sê my, hoekom is jy agterdogtig oor Niel se manewales?”

Sy voel skielik ontbloot, asof die kortbroek en moulose hempie wat sy aanhet nie genoeg bedek nie. En dan is sy nog kaalvoet ook. Maar sy besef dís nie wat haar so laat voel nie …

“Oukei, moenie my judge nie,” sê sy oplaas, “maar ek het vanmiddag deur die goed in sy studeerkamer gaan snuffel en in ’n laai wat toegesluit was, het ek ’n boksie gekry wat wys Niel was by die Krugerrand Launch van 2008, by Skukuza. En dat hy een van honderd-en-tien limited edition-medaljes ontvang het. Kyk hierso.” Sy tel haar selfoon van die koffietafel af op en soek die betrokke foto. Wys dit dan vir hom. Hy trek sy vingers oor die skerm om die foto te vergroot en lees kopskuddend die inskrywing. “Die medalje was nie in die houer nie,” voeg Alicia by, “so ek neem aan dis by hom.”

“Ook net hy wat dit sal regkry om so iets in die hande te kry. Dalk was hy nie by die launch nie en het hy die medalje by iemand gekoop wat wél daar was.”

“Dis moontlik,” gee sy toe. “Daar was ’n koevert in die laai ook, vol artikels en goed oor die Kruger-miljoene.”

’n Frons vorm op Rex se voorkop en dit val haar nogmaals op watter fors indruk sy gesig maak. Haar ma het altyd gesê mans met so ’n sterk gesig het ’n “presence”. Van die dag dat sy hom ontmoet het, was sy van sy ingehoue krag bewus.

“Jy het gesê die laai was gesluit. Het jy die sleutel opgespoor?” wil hy weet.

Sy voel haar wange warm raak. “Ek het die slot ge-pick. Niel het my eenmaal geleer hoe,” sê sy skaam en kyk na die speelgoedkarretjies wat op die grond lê.

“Nou toe nou,” merk Rex grootoog op. Hy trek haar nader en druk haar teen hom vas. Soen haar op die voorkop. “Ek is impressed. As Michiel nie hier was nie, het ek jou kamer toe gevat, bad girl wat jy is.”

Sy maak haar mond oop om haar optrede te regverdig, maar die woorde ontwyk haar.

“Anyway,” gaan sy voort, “dis al wat ek kon kry.” Sy besluit om nie oor die kluis te praat nie, want daar was tog niks noemenswaardig daarin nie. En een inbraak is genoeg om oor te bieg. “Klink dit vir jou na iets?”

“H’m. Dis ongelukkig nie veel om op te gaan nie. Ek kan Januarie vra om te kyk of iemand so ’n medalje as gesteel aangemeld het.”

“Nee, los eerder. Ek wil nie spoke opjaag nie en Niel sal weet dit was ek wat hom verkla het as die ding wel gesteel is en hulle hom daaroor aanvat.”

Rex kyk op sy horlosie. “Ek moet ry. Môre gaan ’n lang dag wees. Ons begin met die ondersoek, so ek moet die span aan die werk kry.”

Sy staan op met teleurstelling in haar gemoed. Sy is seker die gesprek oor Niel se streke het die aand korter geknip as wat dit andersins sou gewees het. Sy voel egter beter toe hy haar by die voordeur styf vasdruk; ook toe hy haar ’n laaste soen deur die traliehek gee nadat sy dit gesluit het.

Sy glimlag terwyl sy die deur toedruk. Hy blý ’n moeilike man om te peil.

Goudduiwel

Подняться наверх