Читать книгу Goudduiwel - Duane Aslett - Страница 7

3

Оглавление

Diana Croukamp loer na die muurhorlosie terwyl sy haar iPod se gehoorstuk in haar regteroor verstel om te keer dat dit uitval. Sy sal moet wikkel. Sy het tyd verloor toe sy moes wag vir mense om klaar te maak met die oefenapparate wat sy wou gebruik.

Sunnyside se Virgin Active is altyd frustrerend besig op Maandagoggende. Mense voel seker skuldig na die naweek se oorvloed, of begin met hernude ywer met hul oefenprogramme, net om weer teen die einde van die week belangstelling te verloor. Gelukkig is dit nie te ver na haar ma se huis in Muckleneuk nie.

Sy wil nie hê mense moet weet sy bly nog by haar ma nie, al is sy darem min of meer op haar eie in die woonstel bo die dubbelgarage. Sy móét volkome onafhanklik voorkom, want niemand by haar nuwe werk moet die wysheid van haar aanstelling bevraagteken nie.

Dit tref haar dat sy nog vandag se klere moet uitkies, daarom moet sy nou vinnig klaarmaak. Sy kies die korrekte gewigte, gaan lê op haar maag op die oefenapparaat en haak haar enkels onder die kussings in toe sy haar bene krul om haar dyspiere te oefen.

’n Paar jong manne by die hurksit-masjien staar in haar rigting. Sy is al gewoond daaraan. Ondanks die feit dat sy geen grimering gimnasium toe dra nie, is ’n blondine met ’n lenige lyf blykbaar steeds opvallend. Sy is alewig bewus van hunkerende oë, grootliks omdat haar waarnemingsvermoë skerper is as die gewone mens s’n. Ingeoefen oor baie jare. As die mans so staar, wil hulle gewoonlik ook by haar kom aanlê. Dit is die iPod se enigste doel, om sulke pogings te voorkom terwyl sy oefen, want sy het geen musiek daarop gelaai nie. Sy het nog nooit eens die battery gelaai nie.

Want Diana Croukamp is doof.

* * *

4 Junie 1900, Sunnyside, Pretoria

Eduard storm die vertrek binne. Hy besef hy mag ongeskik voorkom toe hy merk dat die staatsprokureur vir ontbyt aansit. Normaalweg sou hy eers beleef geklop het, maar die Britse kanonne was gister verbete en die skermutselinge duur vanoggend by Sesmylspruit voort. Daar is geen tyd vir hoflikheid of protokol nie; hy weet dat die staatsprokureur op die punt staan om Pretoria te verlaat.

Hy hou sy hoed senuagtig voor hom vas. “Môre, meneer Smuts, my naam is Eduard Meyer,” stel hy homself uitasem voor toe hy die man sien frons. Smuts se lippe trek op ’n tuit binne sy bokbaard en hy pluk geïrriteerd sy servet uit sy kraag.

“Meneer Smuts, ek werk as rekenmeester by die Munt … e … onder meneer Perrin,” voeg hy vinnig by voordat die staatsprokureur hom kan onderbreek. “Meneer Smuts, is u daarvan bewus dat daar nog geen reëlings getref is om die staat se goud ooswaarts te stuur nie? Die goud lê net daar in die Munt, meneer! En meneer Perrin doen niks daaraan nie!”

“Maar die goud is dan lankal weg,” laat Smuts verward hoor. “Ek het dan ’n telegram ontvang wat sê dat die trein veilig in Machadodorp aangekom het!”

“Nee, meneer! Die goud lê nou nog by die Munt. Ek het self vanoggend … e … sonder meneer Perrin se medewete … opdrag aan die smelter én die verfyner gegee om nie die goud in die kroes of in die suur te sit nie, omdat ons op u instruksies wag, meneer.”

Die staatsprokureur gooi sy servet op die tafel, staan op.

“Goeie werk, boetie,” sê hy afgetrokke en sy frons verdiep. “Keer terug na die Munt en wag vir my. Ek sal binnekort daar wees. Ek moet net eers ’n paar reëlings tref. Ek hoop nie ons is te laat nie. Die verdomde Kakies kon teen nou al die treinspoor beskadig het.”

Die ongewone stilte wat in Sunnyside heers, val Eduard op toe hy die huis verlaat. Buite waai geen briesie nie en selfs die voëls tjirp nie so vrolik soos gewoonlik nie. Die onheil in die lug is amper tasbaar, asof die ganse skepping ’n voorgevoel het dat alles nie pluis is nie. Boonop is hy onseker oor hoe hy by die Munt ontvang gaan word. Meneer Perrin gaan sekerlik woedend wees, maar dit skeel hom min. Oorlog kos geld en goud wat in Pretoria agterbly, sal bloot die Britte se saak bevorder.

Goudduiwel

Подняться наверх