Читать книгу Goudduiwel - Duane Aslett - Страница 9

5

Оглавление

Rex parkeer in die kelder van die kantoorkompleks. Hy klim die trappe na die ingangsportaal op die grondvlak, waar hy die ontvangsdames groet en dan die hysbak neem tot op die vierde verdieping.

Mevrou Snyman is op haar pos en groet hom beleef. Sy is sewe-en-vyftig jaar oud en alles wat hy in ’n sekretaresse wou hê. Sy eerste vereiste aan die menslike hulpbronneafdeling was dat die kandidate snelskrif moes ken. Die praktisyn het gefrons en waarskynlik gedink hy is ’n rassis wat wil verseker dat hy ’n wit sekretaresse kry deur dié verouderde vereiste. Dit was geensins sy motivering nie – uit ondervinding weet hy dat diegene wat snelskrif magtig is gewoonlik ook flink, goed georganiseerd, streng en vaardig is. En dít beskryf mevrou Snyman op ’n haar na.

“Môre, Hilda.”

“Het jy gister se uitstappie geniet?”

“Ja, die tripping op die Kliprivier was baie lekker, dankie.” Rex kom agter dat sy hom vraend aankyk. “Skuus. Dis ’n roeiterm. Dis wanneer ’n groep roeiers rivier-af toer. Hoe lyk my dagboek vir vandag?”

“Jy het ’n vennotevergadering om tienuur en dan half-twee middagete saam met kaptein Januarie.”

Hy haal sy skootrekenaar uit die drasak en skakel dit aan. Hy sal eers sy e-posse moet deurgaan om te kyk of daar enige dringendes is.

“Môre, meneer Reynecke,” hoor hy ’n benoude stemmetjie. Hy kyk op en glimlag. Kyk haar in die oë terwyl hy die woorde doelgerig vorm.

“Môre, Diana, hoe gaan dit vanmôre?”

“Goed, dankie, en met meneer?”

“Diana, jy kan die ge-‘meneer’ maar los. Noem my Rex, asseblief.”

Sy bloos effens en knik. Hy wys na een van die twee stoele voor sy lessenaar en sy gaan sit op die punt daarvan.

“Ek wou net weer eens kom dankie sê vir die geleentheid wat meneer … jy … my gegee het. Ek sal u … jou … nie teleurstel nie.”

“Ek weet jy sal nie,” glimlag hy. “Hoe verloop jou eerste dag sover?”

“Dit was nog meestal administrasie. Sal seker ’n rukkie neem om aan alles gewoond te raak. Wil jy dalk koffie hê? Ek gaan gou vir my kry voor ek weer na die menslike hulpbronne-afdeling toe gaan. Ek wou eintlik net gou kom groet het.”

“Koffie sal lekker wees, dankie.”

Sy verlaat die vertrek en hy gaan na sy Groupwise-inboks – 28 ongeleesde e-posse. Hy sal voor die tienuur-vergadering daarna moet omsien. Die ouditeursfirma bring nuwe uitdagings. Die omgewing is totaal anders as die prokureursfirma waaraan hy gewoond was voor hy onder Horst se leiding as geheime agent begin werk het.

Guillaume het hom daarop voorberei toe hy, as referent, hierdie pos vir Rex by die firma beding het. Goeie ou Guillaume wat sy klerkskap by dieselfde regsfirma as hy voltooi het en kort daarna by Lippmann Gurfein Ing. se forensiese ondersoek-afdeling aangesluit het, waar hy hom opgewerk het tot die vlak van vennoot. Guillaume se hand is in die onderhandelingsproses versterk deur die voordelige Sphinx Traders-ondersoek wat Rex met sy aanstelling na die firma sou bring.

Diana sit die beker koffie op die tafel neer en stap uit.

“Dankie,” sê hy, maar haar rug is reeds op hom gedraai. Dit gaan ’n uitdaging wees om haar in sy span te hê, maar hy glo as hy die nodige stappe doen, sal sy hier kan floreer. Hy besef egter sommige van die personeel is nie daarvan oortuig nie.

Niel Campher se vreemde oproepe oor die naweek kom weer by hom op. Hy hoop Januarie het meer inligting daaroor wanneer hulle vir middagete ontmoet. Hy twyfel steeds of Campher se oproepe enigsins met ’n onverwagse besoek van Freddie se trawante verband hou. Maar hoe meer hy daaroor tob, hoe minder kan hy hom indink waaroor dit werklik gegaan het. Hy sal nie verbaas wees as dit alles met die een of ander sluikhandeltransaksie te make het nie … en dít pla hom, want sy projek hier by Lippmann Gurfein gaan sy volle aandag verg, veral as hy Guillaume en Kie. moet flous oor die werklike rede waarom hy hier is. En Januarie maak op hom staat, sodat hy nie nog tyd het om liegstories te ondersoek nie.

* * *

“Hoe voel jy vanoggend?”

Vanuit sy oorgroot gemakstoel staar Myron Januarie na die raamlose leesbril van die vrou oorkant hom. Haar swart hare is styf teen haar kop gekam en in ’n bolla teen haar agterkop vasgesteek. Styfpassende ligbruin romp met wit bloes. Bene sywaarts gekruis. Grimering onberispelik aangewend; dalk het sy ’n kursus in selfgrimering gedoen. En haar parfuum ruik duur. Sy tik met die agterkant van die pen teen haar rooibruin lippe terwyl sy op ’n antwoord wag, haar groen oë vol afwagting.

Doktor Wilken. Hy lag innerlik vir dié van. Wil sy hom werklik ken?

“Same as always, dok.”

“En die nagmerries?”

“Nagmerries is vir kinders, dok. Dis sommer net drome.”

“Nou goed,” sê sy met Job se geduld, “en die drome?”

“Nee, hulle is steeds daar.”

“H’m,” is al wat sy uiter terwyl sy ’n aantekening op haar skryfblok maak. Dan: “Jy word binnekort bevorder. Hoe voel jy daaroor dat jy majoor Januarie gaan wees?”

Dit laat hom glimlag. Wek ’n gevoel van genoegdoening in hom.

“Nee, lekker … soos ’n cracker.” Hy wil dadelik sy tong afbyt. Hou op dom goed sê! Lekker soos ’n cracker? Watse kak is dit? En hierdie sielkundige behandeling is ook sommer stront. Hy is oukei. Hy is mos ’n poliesman, en poliesmanne verwerk sulke goed, sonder die hulp van ’n koptiffie. Dis deel van die job. Tiffies is vir polieskarre wat meganiese herstelwerk nodig het, nie vir poliesmanne se koppe nie.

“Is hierdie sessions regtig nodig, dok? Ek sê mos ek is oukei.”

“Kaptein Januarie,” en sy sit die skryfblok op die tafeltjie langs haar neer, Job se geduld nou ooglopend uitgeput, “die meeste polisiebeamptes dink hulle is oukei.” Sy maak aanhalingstekens in die lug met haar vingers toe sy “oukei” sê. “Totdat hulle hul geliefdes leed aandoen. Besef jy hoeveel polisiebeamptes het verlede jaar hul families uitgewis voor hulle daarna selfdood uitgevoer het? En almal van hulle het gedink hulle is ‘oukei’.” Weer die aanhalingstekens.

“Ek het nie familie nie, dok. Ek meen … ek is nog nie getroud nie.” Sy oë dwaal die soveelste keer oor die sertifikate wat teen die mure pryk. Sommige is in die naam van Elisma Karen Wilken uitgereik. Wilken was seker haar nooiensvan, want die mees onlangse sertifikate is vir Elisma Karen Serfontein. Hy skat sy het in 2003 of 2004 getrou, en uit die afwesigheid van ’n trouring en die gebruik van haar nooiensvan maak hy die afleiding dat sy geskei is.

Hy wonder of dit ’n minlike skeisaak was. Hy glo nie so nie, want dit is seker die rede waarom sy weer haar ou van opgeneem het.

Die speurder in hom wil maar net nie gaan lê nie. Foto’s van haar en ’n blonde vrou wat allerhande aktiwiteite beoefen, is oral in die spreekkamer staangemaak.

Op die een is hulle saam op ’n rubberboot in die witwater van ’n rivier; op ’n ander sit hulle op ’n oord se kabelkar met ski’s in hul hande; op ’n ander loer hulle oor die rand van ’n brug met reksprongkoorde om hul enkels vasgebind; en op ander foto’s sit hulle met skemerkelkies by eksotiese bestemmings.

Die fooie vir sy sessies sal seker tot die volgende avontuur bydra. Maar as Polmed egter bereid is om só geld in die water te gooi, is dit Polmed se probleem.

Myron bestudeer die twee vroue op die foto’s. Uit die paar sessies met doktor Wilken het hy nou al afgelei dat die blonde vrou die avontuurlustige een is. Dit is sy wat doktor Wilken uit haar gemaksone dryf om die lewe by die horings te pak. Dit is seker Blondie se lus vir die lewe wat doktor Wilken na haar toe aantrek en haar konserwatiewe wortels afgekap het, sodat sy die sogenaamde sorgeloosheid van die adrenalien-fanatikus kan omhels.

Hy wonder hoe lank dit sal hou, want elkeen moet getrou wees aan jouself, doktor Wilken. Sonder die voeding wat die wortels verskaf, verdroog die stam. Adrenalien kan jou net só lank aan die lewe hou en jy kan jouself nie gedurig dwing om iets te wees wat jy nie is nie. Het jy dít nie geleer tydens die studies wat hier teen die mure verteenwoordig word nie?

Dit verg inspanning om anders te wees as wat ’n mens werklik is. En dan maak dit jou gedaan.

Hy besef sy wag nog vir hom om te reageer. Sy, wat besig is met haar eie identiteitskrisis, wil hom help met syne. Want sy dink hy is net nóg ’n poliesman wat sy emosies onderdruk.

* * *

Rex bestudeer die vennote wat om die raadstafel vergader het. Hul oë is gefokus op die Excel-werksblad wat die dataprojektor op die skerm gooi.

Een van die kolomme dui die geteikende inkomste per maand aan terwyl ’n ander wys wat die inkomste van die huidige projekte beloop. ’n Derde kolom wys die tekort uit en dit is dié een wat tans deur Harry Warrick bespreek word. Met sy staalraambril, styllose bruin hare, breë snor en effense boep wat oor sy gordel hang, kon Harry Warrick na Rex se mening niks anders as ’n rekenmeester gewees het nie. Die ou probeer egter baie hard om daarvoor te vergoed met die Mercedes-Benz wat in die kelder geparkeer staan: die afslaankap-sportmodel.

“Gents, as PIC I am concerned that we have a lot of blue sky. Rex, you need to push this captain January of yours for an answer on the Sphinx Traders engagement. When are you meeting with him again?” Harry Warrick hou daarvan om sy vennote te herinner dat hy die “partner in charge” is en hy laat val dus die “PIC”-titel by elke moontlike geleentheid.

“Today. We’re having lunch after this meeting.”

“Good, get an answer from him. He needs to put pressure on his superiors to sign the engagement letter. They’re dragging their feet on this, but I suppose that’s par for the course with government projects these days. In any event, that engagement may add a bar to the bottom line.”

Hoekom kan die man nie net “million” sê pleks van “bar” nie? Dis nie asof dit ’n moeilike woord is om uit te spreek nie. Rex weet egter sy frustrasie lê eerder by die spreker as by die woordgebruik.

“I’ll see what I can do,” antwoord hy in die hoop dat dit ’n einde aan die gesprek sal bring … en hy is verlig toe Harry Warrick wel die vennotevergadering daarmee beëindig.

Met die uitstap merk hy saggies op: “Dit was moord.”

“Ja, jou eerste vennotevergadering was bietjie van ’n vuurdoop,” antwoord Guillaume laggend. Rex skud sy kop onwillekeurig. Die man verstaan nie wat ’n vuurdoop regtig is nie. ’n Paar dik vennote is kinderspeletjies teenoor ’n pikdonker bomskuiling iewers in Italië. “Na die laaste budget-vergadering het ek oor die pad gestap na die Maserati showroom toe en een gaan koop. Ek gaan vandag eerder daar wegbly. Lizelle sal my skei as ek met nog ’n kar by die huis opdaag.”

“Watter Maserati het jy gekoop?”

“’n Wit Gran Turismo. Jy’t hom dalk al hier onder in die kelder gesien,” kom die trotse antwoord. Rex besef dat Guillaume gehoop het hy sou vra. “Hoor hier, Rex, sit maar bietjie pressure op daai contact van jou by die cop shop. Dit sal die ander vennote impress as jy die knoop deurhaak. Dis as gevolg van daai engagement dat ek hulle kon oorreed om jou as partner eerder as ’n associate aan te stel. En jy weet mos hoe moeilik dit is om ’n wit man as vennoot aan te stel met vandag se politiek. Veral as dit nog iemand van buite die maatskappy is. Hierdie is die brass ring, ou maat. Einde van die jaar gaan al die vennote op ’n whisky-toer Ierland en Skotland toe. En ons vlieg besigheidsklas. Jy beter intussen jou gholf-swing oefen, want ons gaan ’n ronde op St. Andrews speel. The home of golf, kan jy dit glo? Sien jou.”

Rex kyk sy vennoot agterna. Hoe het Guillaume nie verander sedert hul tyd as grootoog-klerke by die prokureursfirma nie! Toe bier en slaptjips by O’Hagan’s, en ’n 12 jaar oue Jetta om jou daar te kry, goed genoeg was. Geld het soms ’n vreemde uitwerking op mense. Nou is 12 jaar oue whisky nie eens meer goed genoeg vir Guillaume nie.

Hy kyk op sy polshorlosie – die Jacques Lemans wat Niel hom vir sy verjaardag gegee het. Hoog en laag gesweer hy’t self daarvoor betaal: En dis ’n genuine een, Rex.

Hy sal moet wikkel om betyds te wees vir sy afspraak met Myron Januarie. En hulle twee het baie om oor te gesels, want dis asof Campher van die aardbol af verdwyn het, en dít maak Rex kriewelrig.

Goudduiwel

Подняться наверх