Читать книгу Goudduiwel - Duane Aslett - Страница 8

4

Оглавление

Eduard is steeds verstom. Met die staatsprokureur se aankoms was daar ’n woordewisseling tussen hom, meneer Perrin en meneer Hugo, die bestuurder van die Nasionale Bank. Laasgenoemde twee is toe druipstert daar weg en die staatsprokureur se vernuf met die tref van reëlings was indrukwekkend. Die goud is spoedig op inventaris geplaas en op twee muilwaens gelaai, waarna Eduard die waens na die stasie moes vergesel. Op pad spoorwegstasie toe het die klok op Kerkplein twaalf slae gegee.

By die stasie aangekom, is die goud inderhaas op die trein gelaai. As ’n mens dit ’n trein kan noem, want dit bestaan slegs uit ’n lokomotief, een passasierswa en ’n kondukteurswa. Terwyl hulle nog besig was, het hulle verneem dat die Britte reeds die buitewyke van Pretoria nader en dat hul berede magte onderweg was om die treinspoor oos van Pretoria te vernietig.

Meneer Smuts het hom wat Eduard is aangewys om die goud Machadodorp toe te neem. ’n Opdrag wat hy met graagte sal uitvoer, maar hy het vanoggend sy familie gegroet om te gaan werk, nie om ’n klandestiene operasie vir die regering te onderneem nie. ’n Operasie wat sy einde kan beteken. En sy familie verwag hom tuis. Hy hoop hulle sal verstaan wanneer hulle die nota kry wat hy inderhaas gekrabbel het; dat dit darem die situasie aan hulle sal oordra, want hy moes baie kripties wees ingeval die boodskap deur die Britte onderskep word. Hy wonder wanneer hy weer sy familie sal sien … indien ooit.

Hy staar deur die venster van die passasierswa. Sy hande is op die briewetas wat meneer Smuts hom gegee het, met die opdrag om dit persoonlik aan president Kruger te oorhandig. En behalwe vir die klere aan sy lyf en 20 pond in sy sak, is die briewetas al wat hy saam met hom neem. Hy verstel die ronde keil op sy kop, maar weet goed dis nie dít wat sy ongemak veroorsaak nie. Dan vryf hy oor die snorretjie wat hy so breed soos sy neus hou.

Hy wonder wat sou gebeur het as hy nooit na meneer Smuts se huis gegaan het nie. As hy bloot meneer Perrin se opdragte nagekom het. Hy sou nou amper op pad huis toe gewees het – na sy geliefdes toe. Waar hulle saam sou wag vir die Britte om Pretoria in te neem. Sou dit dalk beter gewees het? Hoe sal hy ooit weet …

Hy voel hoe die wa ruk toe die goudtrein in beweging kom om Pretoria-stasie te verlaat. Hy vee met sy sakdoek die sweet van sy voorkop af. Die mans wat op strategiese plekke in die wa geplaas is, staar benoud deur die ruite, hul gewere in gereedheid. Hier kom moeilikheid; hy voel dit op die krop van sy maag.

* * *

Diana voel hoe die Gautrein grasieus in beweging kom om Pretoria-stasie te verlaat. Sy was vol energie na haar vroegoggend-oefensessie. Gereed vir die dag. Maar nou fladder die skoenlappers in haar maag; opgewondenheid gemeng met angs. Opgewonde oor die eerste dag by haar nuwe werk; angstig omdat sy nie wil teleurstel nie.

Sy is dankbaar dat iemand eindelik haar potensiaal raakgesien het tydens die Sphinx Traders-petalje. Sy het nie verniet haar BCom in forensiese rekenmeesterskap behaal nie, met die bykomende modules om ’n geoktrooieerde rekenmeester te word. Na haar klerkskap het sy in die ouditafdeling van haar firma aangebly en haar kans afgewag om aan te sluit by ’n firma wat forensiese ondersoeke doen. Maar niemand het gedink sy sal die mas kan opkom nie, want hoe sou sy onderhoude voer met moontlike getuies? Of moontlike verdagtes ondervra? Die feit dat sy eers op twaalfjarige ouderdom doof geword het en dus vlot kan praat, asook goed kan liplees, was duidelik nie genoeg om enigiemand te oortuig dat sy die werk kan doen nie.

Sy was dus weer weggesteek in Sphinx Traders se ouditspan en haar bekommernisse wat sy tydens die oudit gelug het, is elke keer as blote bogstories afgemaak. Die bestuurders het mos gedink mooi, blond en boonop doof beteken ook so dom soos grond. En elke keer dat sy haar uitgespreek het oor transaksies wat nie sin maak nie, is sy gemaan dat die doel van die oudit nie is om bedrog op te spoor nie, maar om “gerusstelling te verskaf dat die finansiële state in alle wesenlike opsigte ’n redelike weergawe van die onderneming se finansiële posisie en prestasie is”.

Toe die bom eindelik in die media bars, was die risiko dat die ouditfirma se reputasie kan skade ly so groot dat die uitvoerende raad ’n interne ondersoek geloods het.

Hulle het bevind dat die ouditvennoot grof nalatig was en die meeste van die personeel wat in die ouditspan was, het ook in die kruisvuur gesneuwel. Haar redding was die e-posse wat sy tydens die interne ondersoek kon toon. E-posse waarin sy al daardie vrae gevra het. Sy het dus haar werk behou, want watter professionele firma wil in vandag se tyd die voorblad haal oor hulle ’n gestremde werknemer onverdiend afgedank het? Beslis nie een wat reeds vure in die media moes doodslaan oor sy nalatigheid tydens ’n statutêre oudit nie.

Tog was daar binne die firma steeds afsydigheid teenoor haar, totdat die Kommissie vir Maatskappye en Intellektuele Eiendom gelas het dat Sphinx Traders (Edms.) Bpk. ondersoek moet word. Lippmann Gurfein Ing. se forensiese afdeling word toe die mandaat gegee om ondersoek in te stel na hul finansiële belange en die ondersoekspan voer ’n onderhoud met haar om alle inligting te bekom waaroor sy beskik. Die vennoot in beheer van die ondersoekspan sien toe haar potensiaal raak en bied haar werk aan – om te help met die ondersoek na Sphinx Traders se sake.

Vandag is haar eerste dag.

Sy kyk af na die klere wat sy reggesit het. “Power-dress,” het Diana se ma aanbeveel voor sy vroeg vanoggend kantoor toe is. “Swart is altyd ’n wenner,” was die verdere voorstel. En haar ma sal weet, want sy, professor Croukamp, is ’n vrou wat tot op die vlak van dekaan by Unisa gevorder het. Sy weet hoe om haar te laat geld.

Diana het dus besluit op ’n swart romp, bypassende baadjie en liggeel bloes. Sy het haar blonde hare in ’n poniestert vasgemaak en haar donkerraambril opgesit. Sy sal volgende week weer kontaklense dra, maar in haar eerste week moet die bril bydra tot ’n professionele voorkoms. Nadat sy aangetrek het, het sy haarself vanuit alle hoeke in die badkamerspieël bekyk. Sy was net mooi van mening dat haar uitrusting perfek is om haar nuwe kollegas mee te beïndruk … toe gooi sy in die wasbak op.

Sy staar steeds by die venster uit toe Pretoria-stasie buite sig verdwyn en wonder wat om op hierdie eerste dag te verwag. Die naarheid dreig om weer in haar op te ruk en sy haal diep asem.

Jy mag nie eens kougom kou op die Gautrein nie, wat nog te sê opgooi.

* * *

Eduard kan Pretoria-stasie nie meer deur die goudtrein se venster sien nie. Die naarheid lê vlak in sy keel. Die rook wat die wa vul, maak dit erger, maar hy gun die gewapende burgers hul pyptabak. Hulle het dit seker nodig om die senuwees te kalmeer. Hy sluk swaar, probeer om nie diep in te asem nie, en klem die briewetas teen sy bors vas. Hy weet dit sal nie ’n koeël of stuk skrapnel keer nie – net sielkundig help dit, want hy voel nie so ontbloot met die tas hier styf teen hom nie. Hy herken die terrein; hulle nader nou Sunnyside.

Dan ontplof die veld langs die trein in ’n stofwolk. Skrapnel slaan teen die kant van die wa vas. Eduard hoor hoe ’n kreet uit hom ontsnap. Die bomme reën aan weerskante van die trein neer, elke keer met oorverdowende gedonder wat aan die treintrok ruk en sy ore laat sing.

Die stofreuk wat in die wa opwarrel, is verstikkend. Een van die mans skree van angs en sy geweer val kletterend op die vloer. Hy draai om met sy hande oor sy gesig geslaan. Bloed sypel deur sy vingers.

Eduard neem dekking op die vloer en hou die briewetas oor sy kop terwyl hy smeekgebede prewel – onophoudelik. Dit donder om hom soos die artillerievuur voortduur en hy wag op die slag wanneer die trein getref word. Wanneer die stilte sal oorneem en sy liggaam leweloos hier lê.

Hoe sal dit voel? Sál hy iets voel? Sal sy gees opstyg om die konsternasie hier onder vanuit die wolke waar te neem?

Hy kan voel dat die trein versnel het en nou volstoom vorentoe beur. Keer op keer ontplof die veld weerskante van hulle. Al die insittendes is nou al plat op die vloer, hul gewere nutteloos teen ’n vyand wat iewers op ’n koppie sit en seine uitstuur om die aanval op die trein te koördineer.

Geleidelik neem die donderslae af en die manne begin verlig opstaan. Hier en daar kreun ’n gewonde wat deur sy kamerade bygestaan word.

Eduard stof homself af. Hy besef dat hulle die eerste gevaar oorleef het, maar nog nie heeltemal veilig is nie. Die Britte kon moontlik die spoorlyn iewers voor hulle gesaboteer het en hy weet ook dat die spoorwegstasies tussen Pretoria en Bronkhorstspruit reeds verlate is. Die sinjale sal dus onbeman wees en die spoorlyn kan versper wees met trokke wat in die warboel van die uitvlug versaak is.

Gespanne neem hy weer sy sitplek op die bank in, die briewetas terug voor sy bors. Hy kom agter dat hy steeds besig is om skietgebede te prewel. As hy maar net nie ingemeng het nie, was hy nou tuis saam met sy geliefdes.

* * *

In die vroeë oggendure trek die goudtrein by Machadodorp se spoorwegstasie in. Die eindbestemming, oplaas. Die stasie is egter stil, nie die ontvangs waarop Eduard gehoop het nie; hy het ’n perron vol mense verwag.

Soos toe die goudtrein vroeër by Witbank-stasie ingetrek het en die stasiemeester aan die voorpunt van ’n nuuskierige skare gestaan en wag het om hulle te verwelkom. Eduard was aanvanklik bekommerd oor dié ontvangs en het gewonder of hulle bewus was van die goud waarmee die kondukteurswa volgepak was. En indien wel, hoe die nuus so vinnig tot daar versprei het.

“Ek is Koos Viljoen, die stasiemeester,” het die man gesê terwyl hulle blad skud. “Ons het ’n telegram ontvang wat gevra het dat ons vir julle manne verversings gereed moet hê. Daarin is genoem dat julle noodsaaklike voorraad na Machadodorp vervoer?”

“E … ja … die kondukteurswa is vol … e … ammunisie.”

“O, maar dis goed. Dit sal natuurlik baie help met die oorlog,” het Viljoen in ’n formele stemtoon voortgegaan. “Dit spyt my, maar hier is nie veel voorraad op die stasie nie. Veral nie op sulke kort kennisgewing nie. Al wat ons kon bymekaarskraap, is ’n paar blikke Weense worsies en limonade. Dis nie veel nie, maar dit is julle s’n as julle honger en dors is.”

“En al die mense op die platform?”

“O,” het Viljoen verleë geglimlag terwyl hy met sy hand oor sy woeste baard vryf. “Nuuskieriges wat nuus oor die oorlog wil inwin. Ons hoor dit gaan maar swaar in die hoofstad. Baie van die mense het familie daar en is bekommerd oor die stand van sake.”

“Ek sien.” Eduard was verlig, en dankbaar vir die kos en koeldrank so voor die laaste skof. “Het julle dalk vir ons warm klere? Ons gaan dood van die koue en daar was nie tyd om jasse te gaan haal nie. Die … e … gewere en ammunisie moes uit Pretoria voor die Britte daarop beslag kon lê.”

Maar hulle moes net so koud vertrek omdat die inwoners van Witbank hulle nie met warm klere kon help nie.

Hy sien nou die lekkende vlamme van ’n groot vuur langs die spoorlyn. Die manne koek daarom saam en die burgers wat hom op die goudtrein vergesel het, maak dat hulle daar kom, waar hulle gretig koffie en beskuit van die Ierse omstanders aanvaar.

Het hierdie mense dan nie die boodskap ontvang oor die belangrike afvaardiging wat met ’n trok vol goud na Machadodorp op pad is nie? Hy sal hulle vinnig oor die belangrikheid van die operasie inlig.

Sy oë verken die toneel. Daar is rye en rye passasierswaens asook oop en toe trokke wat die syspore vol staan. Sommige trokke is met voorraad gevul, ander dien as behuising, en nog ander as kantore. Een gewapende burger patrolleer die spore tussen die trokke en waens – beslis nie die beste sekuriteit nie, veral met die goudtrein wat so pas hier aangekom het.

Hy vra die manne by die vuur waar hy ene meneer Bredell, die polisiesekretaris, kan opspoor en hulle beduie waar sy woonkwartiere in een van die passasierswaens is.

Na ’n lang geklop kry Eduard die man darem wakker.

“Watse goud?” vra hy kliphard, sy stem skor. Oë wat sukkel om te fokus. Sy ronde wange is pienkwarm geslaap.

“Sjt!” maan Eduard terwyl hy oor sy skouer loer. “Ons het die laaste goud uit Pretoria per trein gebring. In opdrag van die staatsprokureur, meneer Smuts.” Hy laat val dié hoëprofielnaam om die amptelikheid van die operasie te beklemtoon. Dit het die gewenste uitwerking, want Bredell se oë rek. Fokus nou beter. “Ek het die inventaris by my,” tik Eduard op die briewetas.

Bredell vryf met sy duim en wysvinger oor sy welige snor. Sy kort swart hare staan orent soos penne op ’n ystervark se rug.

“Ons sal dit môre aflaai. Gaan slaap jy nou maar. Die wag is mos op sy pos,” en daarmee maak hy die deur in ’n verdwaasde Eduard se gesig toe.

Frustrasie borrel deur die jong man se moeë lyf. Hy het nie alles deurgemaak sodat die goud hier by die eindbestemming geroof kan word nie.

Op die perron neem hy stelling in op ’n lendelam houtstoel, van waar hy die sydeur van die kondukteurswa kan dophou. Sy oë wil-wil toeval, maar hy dwing homself wakker.

Hy sien die blikke wat die manne om die vuur in die wa se rigting stuur en hoor die gemompel asook die uitbundige gelag wanneer iemand iets komies kwytraak. Elke nou en dan loer hulle in sy rigting. Hy sit só totdat die laaste een gaan slaap en gee hom dan eers oor aan die moegheid.

Môre sal hy die goud aan president Kruger oorhandig. ’n Grootse oomblik in dié taak wat hy vir volk en vaderland verrig het.

Goudduiwel

Подняться наверх