Читать книгу Hoogty - E. Kotze - Страница 11

Hoofstuk 4

Оглавление

“Wat neem ’n mens saam?” vra sy vir Anneke, wat Nelie Retief beter ken.

Niks persoonliks nie, besluit hulle. Die orige vrugtekoek word mooi toegedraai.

Op die ingewing haal Helena een van die flaminkveertjies uit haar Bybel en sit dit in ’n wit koevert vir Chris.

Die huis se skaduwee val lank oor die werf toe hulle op Harmstat aankom. Hy stoot die motor direk in die waenhuis en laai haar tassie uit. Die hond kom hulle tegemoet en sy ma wag hulle by die hekkie in.

Chris soen haar. “Waar is Pa?”

“By die melkery,” antwoord sy.

“Middag, tannie. Hoe gaan dit?” onthou Helena haar maniere.

“Goed, dankie,” antwoord Nelie, “en met jou?”

“Goed, dankie, tannie.”

Chris staan daar met ’n tevrede laggie, dié van ’n kat wat ’n leeu ingedra het.

Helena sit haar voete versigtig oor die drumpel. “Ek waardeer dit dat ek die naweek hierheen mag kom. Ek het baie daarna uitgesien.”

“Jy is welkom, maak jou tuis,” sê haar gasvrou gul.

Nelie Retief het dieselfde goue oë as haar seun. Twee leeus met golwende maanhaar en dieselfde lengte, sy ietwat geset. ’n Kragtige vrou vir wie Helena ten spyte van die gasvryheid lugtig voel, soos ’n veldmuis in ’n braakland wat nie seker is of die ploegskaar se lem hom gaan vang of nie.

Die dubbelbed in die gastekamer waarheen sy geneem word, het swaar versierde bedstyle, swart met koperknoppe, driepuntige embleme aan die voetenent, ingelê met perlemoer. So mooi soos wat sy nog nie tevore gesien het nie.

Onwillekeurig trek sy die patroon met haar vinger na. ’n Ster? Die kompas langs die stuurwiel van ’n visserskuit! Sy voel die hoendervleis op haar arms uitslaan. Dís iets wat sy ken.

“Die bed het oorlede Pa op ’n vendusie gekoop, dit was sy trougeskenk aan my,” sê Nelie.

“En eendag myne,” sê Chris besitlik.

Dis te mooi om op te slaap, protesteer Helena, maar Nelie sê sy is welkom en wys haar waar die badkamer is. Met ’n outydse bad en liggroen teëls teen die mure. Ook hier moet sy sê wanneer sy wil bad, sodat die bediendes warm water kan indra. Die outydse lampetbeker en waskom op die wastafel is van porselein, en onder die bed ’n kamerpot.

Al wat pla, is die kleinhuisie eenkant op die werf, witgekalk met ’n plat dak. So in die oog van almal. Selfs by die huis gee die manatok ’n mate van privaatheid.

“Ek gaan wys haar die melkery,” sê Chris.

Hulle stap uit, in die rigting van die koeistalle waar die melkers juis klaar is, spantoue losmaak en voer in die krip gooi.

“Tef,” sê hy toe Helena vra wat die beeste kry, “en gebreekte mielies en koring wat ons maal.” Hulle het ’n handgedrewe meul.

In ’n aparte kamp word jong kallers uit emmers melk gegee. “Ons laat hulle nie by die koeie kom nie. Op drie maande gaan hulle veekraal toe. Anders moet ons hulle deur die winter voer.”

Dis kort en klaar, dis waarvoor hulle grootgemaak word.

Hulle kry oom Stoffel by die koelkamer aan die agterkant van die huis, naby die kombuis, waar die kanne melk gehou word wat kaasfabriek toe gaan. Twee keer ’n week kom laai die lorrie dit. Daar hang ook stukke van ’n slagding aan hake; boud en blad losgesny.

Toe hulle vir aandete aansit, dra Fransiena, een van die baie bediendes, ’n tamaai plat skottel vleis met aartappels en ’n aparte skottel met koring op haar plat hande in en plaas dit voor Stoffel Retief.

Nadat hy gebid het, help hy eers vir tant Nelie aan sy regterkant. Toe skep hy vir Helena in. Daarna help hy homself, voordat hy die vurk en lepel vir Chris aangee.

“Dis te veel vir my,” fluister Helena vir Chris wat langs haar sit.

“Proe eers, en los die res vir my,” fluister hy terug en gee die koring aan.

Die tamaai glimlag op sy gesig trek oom Stoffel se aandag. “Wat is dit, Chris?”

“Niks, Pa. Ek vra maar net of sy nie liewer ’n skilpadjie wil hê nie.”

“Skilpad? Hoe so?”

“Want sy eet nie springhaas nie.” En hy raak aan die lag. “Toe het ek vir Fransiena gevra om vir ons skilpadjies te braai.”

Die bakkie met lewer in netvet is inderdaad op tafel, die vetjies kraakbruin en die gemaalde lewer geurig.

“Jy, Chris!” skud tant Nelie haar kop. “Moet jy altyd terg? Pa het vanoggend die hele rugstring van die skaap in die pot gesit. Eet, Helena.”

Sy eet effentjies. Lewer is ’n suiweringsorgaan waarvoor ’n mens ook kan gril, waarvan die buise uitgesny moet word.

Teen wil en dank moet oom Stoffel die skilpadstorie hoor. Helena byt op haar tande en druk deur toe sy sien Chris gaan haar nie help nie.

“Ek het hom maar net vertel hoe lekker vet ons veldskilpaaie in die winter word.”

“En van die groot skilpadbraaiery,” por Chris nou.

“Dit gebeur maar een keer in die winter, gewoonlik met ’n veldpiekniek. Dan maak die mans ’n vuur . . .” En kortliks beskryf sy dit weer.

Stoffel Retief wil weet wat daar te eet is onder so ’n dop.

“Bloedmin,” moet sy erken, behalwe die lewer en sagtedop-skaaleier, en die sagte vleisies wat die kinders van die beentjies afsuig. Ook dat sy in geen jare skilpad geproe het nie. Vir ’n kind gaan dit eerder oor die opwinding van ’n wintersdag in die veld, en die vuur.

Sy moet toegee dat dit ’n absurde praktyk is. En effens rooi om die kieue wil sy haarself nog verdedig dat dit omtrent gelykstaande is aan die braai van lammerstertjies en peertjies . . . toe knal dit meteens soos ’n donderslag in haar kop: Heuleuna, hou jou bek en vreet jou kos!

Wat het sy gedink doen sy? Wat sou hulle gedink het as sy aan tafel opgehaal het van die bosluisies aan die skilpadpootjies? Of dat dié wat uit die vuur probeer wegkom met ’n stok teruggedruk word . . . Besadig eet sy verder, en vee die sous met ’n stukkie brood op sonder om een maal weer te praat.

Die skottelgoed word ná ete in die buitekombuis in ’n skottel gepak. Helena wil opwas, maar Chris, wat help afdra het, keer. “Dis Fransiena se werk, my ma sal nie daarvan hou nie.”

Daar word boekegevat, en dan drink hulle koffie.

“Chris, jy moet kyk dat alles toe is. En blaas die lampe dood,” gee Stoffel Retief sy laaste orders af.

Hulle soen mekaar goeienag.

So liefdevol is ons nie, dink Helena. As hy nie op die see is nie, sal Jas agter die houthoop by ’n buitevuur sit en rook en dan stil-stil die buitekamer se deur toemaak. Haar ma vroetel nog lank in die kombuis met melk of ’n karringry as daar genoeg room is, vee met die vlerkie van ’n seeduiker die vuurherd uit, pak fynhout vir die oggendkoffie aan, verwilder die kat wat ’n dooie voël ingedra het, om eindelik haar kop om die deur te kom steek. “Nag, Hillie.”

“Nag, Ma.”

“Nag, oom, nag, tannie,” sê Helena.

Sy is gereed om self ook kamer toe te gaan, maar Chris soek die gewenste stasie op die radio. Die ontvangs is effens krapperig. Sy ken dit goed: LM se treffersparade. Hulle koshuismeisies saamgebondel in die enigste kamer waar daar ’n radio is, die volume sag gestel, ’n sigaret wat die rondte doen. Wat juffrou Perks nie sal ruik nie, omdat sy self rook, maar mevrou . . . !

“Ons gaan darem nie nou al slaap nie.” Chris trek vir haar ’n gemaklike stoel nader met ’n leuning wat kan verstel, nooi haar om te sit. Die een oomblik soos ’n stout seun, dan sorgsaam.

Voordat hy self in die gemakstoel oorkant haar neersak, strek hy hom om die lamp dood te draai wat ’n pienk kartelpatroontjie op die wit tafeldoek gooi. Steek ’n kers aan. Hulle sit regoor mekaar, sy voete raak net-net nie aan hare nie.

Die skaduwees het na die hoeke gevlug en die kersvlam brand roerloos. In stilte luister hulle na die populêre liedjies. “Irene, Good Night”, “Beautiful Brown Eyes”, “Sugar Bush”, “Unforgettable” van Nat King Cole . . .

“Ons wou flou word oor daardie fluweelstem van hom,” raak sy van voor af ekstaties. “En Bing Crosby: ‘Sweet Leilani’, ‘White Christmas’, ‘Swinging on a Star’, ‘In the Cool, Cool, Cool of the Evening’. En South Pacific. Het jy die fliek gesien, met Mary Martin? I’m gonna wash that man right outta my hair.”

“When you find your true love, when you feel her call you . . .”

Hy ken die woorde, maar is nie Perry Como nie. Selfs Boetie sing beter. Al moet hulle by die huis tydjies steel om na die radio te luister.

“Ons moet ver ry om by ’n ordentlike bioskoop uit te kom. Die goed wat hier wys, is stokoud,” sê Chris.

“Ek het op Vollemink grootgeword waar net moord en doodslag in die biosaal gewys het, en ’n ou man soms ’n tent kom opslaan het. Hy het ’n vliegtuigie gehad waarmee hy op die strand geland en mense vir vlugte oor die baai geneem het. Ek het drie maal na Scott of the Antarctic gaan kyk. Jy kan net dink watter kontras die Paarl was. Matinee Saterdagmiddae, sjieling vir die fliek, vier pennies vir ’n roomys.”

Liefs nie erken dat ’n pennie soms kleingemaak moes word vir oggend- en aandkerk nie. Om nie van die vryhede op kollege te praat nie. Vergete is die skilpaaie.

“Ek het niks gemis nie. Kathryn Grayson en Howard Keel in Show Boat, en Ava Gardner, die mooiste vrou op aarde. Robert Taylor en Vivien Leigh in Waterloo Bridge en Betty Hutton in Annie Get your Gun. Al die musicals!”

“Ek sê jou wat: ons ry een naweek Bloemfontein toe!” raak hy geesdriftig.

“Is dit nie te ver nie?”

“Ons ry nie, ons vlieg, om teen melktyd terug te wees.”

Hulle sou die hele nag kon ompraat. Hy hou van operamusiek, hoewel sy kennis beperk is. Dit strek nie juis verder as U Eie Keuse op ’n Saterdagaand nie.

“Ons het ’n Afrikaans-onderwyseres gehad wat ’n musiekperiode geskep het waarin ons na sangers soos Jussi Björling, Di Stefano en Gigli geluister het,” vertel hy. “Sy het ’n groot versameling plate gehad. Caruso en Erna Sack en Galli-Curci. Amelita. Dis vir my so ’n mooi naam. Ek sou eendag ’n dogter van my na haar wou vernoem, maar Ma sê dit klink darem te veel na een van die swart vroue. Toe ek by die huis kom en vertel van ’n simfonie van Hector Berlioz, dink my ma ek vloek!”

Helena maak haar oë toe. “Ek het ’n vriendin gehad . . .”

Op Vollemink, waar die skuite een vir een die hawe binnekom, Jas Burre s’n leeg. As die vis die nag weggesak het en die leë net kom op, vloek Jas die lug aan die brand; kom haal hy sy frustrasie by die huis uit, laat Cora dit oor haar kop stort. Gee Helena pad, spring sy op haar fiets na die Frosts toe, waar Vilna musiek oefen. Haar vingers dartel oor die note: ’n polonaise van Chopin, ’n etude. “So deep is the night” . . . En die opwindende “Rit van die Walküre”, uit ’n opera van Wagner.

Sy moet Chris herinner: “Dis oor elf. Jy moet halfvyf opstaan.”

Daar is nog lig in sy ouers se kamer toe hy voor haar uitstap met die kers in ’n wit enemmelblaker. Asof sy nie op haar eie haar pad sal kry nie.

Haar bed is reggemaak vir die nag, die deken opgevou en die beddegoed teruggevou. Sy wag dat hy die kers op die bedtafeltjie aansteek, die vuurhoutjie doodblaas, sien die geel vlammetjie in sy oë weerkaats en uitdoof.

Een maal trek hy sy vingers deur haar hare voordat hy omdraai. “Nag, Helena.”

“Nag, Chris.”

Dan gaan die kamerdeur sag agter hom toe.

Toe sy haar nagklere uithaal, onthou sy die veertjie in die koevert. Sy stap op haar kaal voete terug kombuis toe waar sy haar verbeel sy hoor iemand. In plaas van Chris kom sy op Stoffel Retief af, in sy gestreepte pajamas, glas water in die hand. “Ja, meisie?”

“Ekskuus tog,” maak sy lamlendig verskoning. “Ek kom . . . ek wil net . . .”

“O,” sê die oom hulpvaardig, “jy wil seker ’n draaitjie loop. Wag,” en hy steek ’n lantern aan. “Sal jy regkom?”

“Ja, dankie, oom.”

Sy kan immers nie erken dat sy gehoop het om Chris nog ’n keer te sien nie, dalk ’n nagsoentjie . . . Sy is net bly sy loop hom nie raak op pad na die kleinhuisie nie.

Eers nadat sy terug in haar kamer is, wonder sy of hulle gehoor het toe Chris haar kers opsteek. Het oom Stoffel kom kyk wat vroetel hulle so laat in die nag?

Toe die kombuisdeur ’n rukkie later sag toeklik nadat Chris ’n laaste draai oor die werf gemaak het, het sy al haar kers doodgeblaas.

Die volgende oggend voel tant Nelie nie lekker nie. “Sy bly maar vandag in die bed.” Chris het van die stalle af ingekom. “Pa is dorp toe om iets by dokter Felix te kry.”

“Wat kan ek doen?”

“Ek het vir Fransiena gevra om ’n eier sag te kook en roosterbrood te maak. Sal jy dit vir Ma kamer toe neem, en ’n koppie flou tee?”

Dis blykbaar ’n huishouding dié waar die mans gewoond is daaraan om die mas op te kom. Oom Stoffel het gisteraand se vleis gekook. Nou bring Helena haar kant.

Soos sy in die huishoudkundeklas by miss Rose geleer het, dek sy ’n skinkbord. Fransiena wys haar in watter laai die skoon skinkbordlappies gebêre word. Stokstyf gestywe met ’n borduurblommetjie.

Nelie Retief sit gestut teen ’n wal kussings. Ligpers bedbaadjie oor haar nagrok, krullerige hare agteroor geborsel. “Ai, dis tog lekker om so bederf te word,” glimlag sy.

Sy lyk nie juis siek nie, maar kla tog met ’n swak stemmetjie: “Die ou bloeddruk het my weer plat op my rug. Ons het vannag byna nie ’n oog toegemaak nie.”

“Ek hoop nie ons het julle gehinder nie. Ons het so laat gesels, en toe ons sien, is dit byna halftwaalf.”

Blykbaar het die tannie-hulle niks gehoor nie. “Ons was in elk geval wakker; die oom het nog weer koeksoda gaan drink. Die spysvertering.”

Helena wil weet wat van middagete. Hoewel geen kok nie, kan sy darem aartappels skil. En ’n groentesoppie maak.

“Ek dink daar is genoeg gaar vleis vir vanaand.” Tant Nelie reik na die bos sleutels langs haar bed. “Sluit tog maar die koskas nadat jy die suiker- en konfytpotjies gebêre het. En bring vir my.”

Sy drink haar koppie leeg en gebruik ’n sakdoekie om haar mond af te vee.

Servet vergeet, onthou Helena te laat. “Kan ek vir tannie nog tee skink?”

“Dankie, ons wag maar tot die oom terug is. Hy sal saam met my kom drink, en dalk weer ’n bietjie kom lê.” So ’n slegte nag.

Toe Helena later saam met Chris buitetoe stap, lyk die werf tog ’n bietjie anders as wat sy dit van die vorige middag onthou. Daar hang ’n rustigheid oor alles. Die skape wei teen ’n hang, die beeste is uitgejaag veld toe, die skuur uitgeskrop, vars voer in die krip gegooi.

’n Varksog lê byna die hok vol. Vetgemaak om in die winter geslag te word. ’n Wit landras. Die jongetjies verkoop hulle aan die varkplaas, wat weer aan Eskort lewer.

“Verveel ek jou?” vra hy.

“Hou ek jou nie uit jou werk nie?” wil sy weet.

“Glad nie,” antwoord albei gelyk.

Naweke is daar nie dringende werk nie, verseker hy haar. Behalwe plant- en oestyd.

“Ek weet ’n bietjie van plaaslewe. My ma het ook grond gehad. Sewehonderd-en-vyftig morg.”

“Maskas!” Hy klink verwonderd.

“ ’n Sandveldplaas, met ’n bietjie saaigrond en tuinerye. Maar dis eintlik bokwêreld.”

Sy vertel van die vlei wat tussen die plase deur loop, die diep swart grond waarin die groentetuine aangelê is, die klein boordjies met druiwestokke en vyebome en kwepers en granate. Die afgewitte huise met strooidakke en rietdakke, en hardgemaakte werwe, wat geleidelik oploop na die rooi sandgrond waar ’n bietjie gesaai word. ’n Wisselvalligheid, want die oostewind kom waai dit baie jare weg. ’n Droë halfwoestyn waarin Afrikanerbeeste oorleef; waar vyebos en slaaibos en harpuisbos en doringbos kos vir die bokke is; waar boere in die winter met hul kleinvee trek om beter weiding te soek. Weg van die vleie is die water brak.

Hy luister aandagtig. “Wat het daarvan geword? Die plaas.”

“Dis verkoop.” Sy sê nie haar pa het dit verkoop nie. “Voor my tyd. Toe hulle Vollemink toe trek, het my ma ’n melkkoei saamgevat. Ons het nog altyd ’n koei gehad.” Sy klink ’n bietjie vermakerig toe sy sê: “Ek kan melk!”

Hy lag geamuseerd. Dalk wil sy vanaand haar slag wys?

’n Ent onderkant die huis kom hulle op ’n dam af waarvan die wal vroeër tydens ’n wolkbreuk gebreek het. “Al die koring in die pad van die vloed het weggespoel, daar was ’n vlei agter die huis om. Gelukkig het ons nie verder skade gehad nie.”

Sy kan haar voorstel hoe erg dit was, bekyk die donga wat die water deur die wal geforseer het. “Kan julle dit nie regmaak nie?”

“Ons besproei mos nie regtig nie. Die water was maar hoofsaaklik vir die diere. Maar die boorgat is sterk genoeg.”

Helena kry ’n idee van die omvang van die boerdery. Tussen plant- en oestyd is daar altyd iets om te doen.

“Ons dors self,” vertel Chris. “Die mielies lewer ons by die koöperasie, maar ons maal spesiaal mieliemeel vir ons eie gebruik. Die stronke sit ons deur die hamermeul en meng dit met mielies vir die beeste. Verlede jaar het ons glad nie vakansie gehad nie, dit was te droog.”

Hulle moes spook om die diere te red. Hulle maak darem altyd voorsorg, en het genoeg tef en kuilvoer gehad, en die weidings op Dewet.

“Ek het toe vir die eerste maal korog geplant, waarvan ek te hore gekom het by ’n boeredag op Wepener. Dis ’n baster tussen koring en rog met ’n ryk proteïeninhoud wat goeie voeding vir beeste is.”

’n Proefneming, voeg hy by, wat goeie resultate gelewer het, sodat hy volgende somer ’n groter stuk daaronder gaan sit.

“Pa en my oom Krisjan was half skepties, maar gelukkig het ek my ma aan my kant. Daar het ook ’n kundige uit Bloemfontein gekom wat ons toegespreek het oor die praktiese uitsoek van bulle volgens hul teelwaarde. En die kalwingsprobleme en versorging van verse.” Sonder enige selfbewustheid wei hy hieroor uit. “Dit het my op die gedagte gebring van ’n stoetery en die teel van vleisbeeste.”

“En jul melkkoeie?” Sy is so bang sy klink onnosel.

“Is ’n belangrike deel van ons inkomste, die maandelikse melktjek sorg vir ’n gemaklike kontantvloei,” erken hy. “Maar ’n mens moet vir die toekoms beplan. Ek wil nie ’n veespekulant word wat op die pad boer nie.”

Dit neem haar gedagtes terug na die droë dam. Sy kan haar voorstel hoe dit moet lyk as dit kant en wal lê, met voëls in die riete en wilgerbome, ’n piekniekplek in die skaduwee, wolke wat hulle in die water spieël. Dalk ’n roeibootjie. So ’n dam kan op Harmstat vir die aanplant van weiding aangewend word. Dan hoef hulle nie afhanklik te wees van Dewet . . .

Heuleuna, hou jou bek!

Kort voor die middag sluit Chris die plaaswinkel oop, nie veel groter as Jas Burre se buitekamer nie. Voor die deur bondel ’n paar mense saam; hul eie werkers en ook dié van ’n buurplaas wat hul naweek se inkopies kom doen.

Helena kyk nuuskierig rond na die basiese kruideniersware op die rakke: seep en rolle materiaal, die tradisionele sis waarvan die Sothovroue hul rokke en voorskote en kopdoeke maak. Glasgoed, bekertjies, wol, botteltjies medisyne.

Chris help hulle weg, weet by voorbaat wat elkeen se behoefte is. Neem hulle geld. Sommige handel met eiers wat na die depot by die koöperasie gestuur word, verpak in ’n eierkis met Harmstat en die Retiefs se naam daarop gestempel.

Sy wag dat hy die slot inhaak en toedruk. “Alles is so onder slot en grendel. Selfs die koskas.”

Hy frons. “Sluit jy nie ook jou goed toe nie?”

“Wat het ek behalwe ’n paar stukkies klere? In die koshuis het die kaste geeneen slotte aangehad nie.”

“En die Venters?”

“Ek glo nie hulle sluit ooit ’n deur nie.”

“Behalwe die . . . ?”

“Spreekkamer,” kliek dit by haar, waar vertroulike inligting omtrent pasiënte geliasseer word. “En die drug-kas.” Waarvan net Felix die sleutels het.

“Dis nie ’n kwessie van vertrou nie, dis ’n beginsel, ’n verhouding tussen ons en ons werkers. As ek laat slap lê, maak hulle ook soos hulle wil, en dan loop dinge verkeerd.”

Toe hy die sleutels aan die lussie van sy gordel haak, voel sy op haar plek gesit. Op Harmstat word dinge volgens ’n vaste stelsel bedryf, hier is nie plek vir losklosse nie.

Bowendien verskil dit nie juis van die tros skuitsleutels in Jas Burre se broeksak nie. Sy sien haar ma by die kombuistafel sit met ’n dik ferweelbroek van haar pa waarvan die sakke aljimmers vervang moet word, deurgeslyt van sleutel dra.

’n Meisie trou nie voor sy nie ’n broeksak en ’n gulp kan insit nie, hoor sy ant Berta Nagel, Vollemink se kleremaakster, en ant Tiek gesels.

Die naweek het soos ’n gedagte verbygevlieg.

Chris kan met reg trots wees op sy gesaaides en vee. En daar heers ’n goeie verhouding tussen die Retiefs en hul werkers. Vyf bediendes het Helena in en om die huis getel, van Fransiena in die kombuis tot by die was-en-strykvrou, wat van geslag tot geslag op dieselfde plaas aanbly.

Dis nie soos op die see waar die man een nag aanstoot kry en môre sy mandjie en slaapgoed vat en afklim nie. En die skipper moet maar rondval om vanaand ’n man in sy plek te kry.

Helena word hand en voet bedien, ’n gas wie se bed opgemaak en handdoeke in die son uitgehang word. Selfs die rok wat sy die vorige aand oor die stoelleuning gehang het, is weggeneem om gestryk te word as sy van die brekfistafel af opstaan.

Dit het die Saterdagnag gereën, en Sondagoggend is alles fris en skoon gewas. Tant Nelie het darem opgestaan. Sy kom saam met hulle na die kerkdiens oor die radio luister, oom Stoffel met ’n das en baadjie aan en Chris ook. Helena het die seersakker-pakkie aan wat ant Berta Nagel in matriek vir haar gemaak het. Effens te kort, die skirt se soom op haar knie, sodat ’n stuk been wys.

Toe tant Nelie die gesang insit, eers te hoog en toe weer te laag, sodat die lied byna verby is voor hulle die noot het, moet Helena ’n lag onderdruk. Amper soos die gemeente op Vollemink wat vooruit hardloop terwyl arme ant Tiek agterna kom met die orrel. Dan wou sy en Vilna hulle doodlag. Twee spektakels voor in die kerk, te dom om te weet die mense kyk vir hulle, en dat hulle later raas gaan kry.

Fransiena het lekker pampoenkoekies vir middagete gemaak. En Helena het vir die poeding gesorg: jellie met gebreekte Mariebeskuitjies en ingemaakte perskes wat die nag in die koelkamer styf geword het, met vla daarby.

Vyfuur trek Chris die Chrysler uit en sê sy nog ’n keer vir die oom en tannie met ’n soengroet dankie. Vir haar gevoel is dit reg.

“En wat van my?” wil Chris bekaf weet.

Ewe koel haal sy die koevert met die veertjie uit haar handsak. “Dis vir jou.”

“Vollemink!”

Dit gee ’n gelag af toe hy haar met die veertjie kielie en dit toe in sy hoed se band steek.

Hoogty

Подняться наверх