Читать книгу Hoogty - E. Kotze - Страница 7

II

Оглавление

Die vissermanne staan in groepies bymekaar, party gretig om uit te gaan, ander half onwillig. Die skippers hou raad. Waar loop soek hulle vanaand die vis? Hoe lyk die weer?

Een van die oudstes het sy mond tuit gemaak soos ’n tregter en blaas ’n slag ghoe-ghoe voor hom uit. Toe daar ’n wasemrigheid voor hom bly hang, voorspel hy: daar kom ’n bank toemis aan. Dis wat die manne wil hoor. Daar is altyd ’n paar wat rede soek om terug te draai. As die wind effens te hard waai, kom maak hulle vas.

Party was vanoggend teen die witstrand op met die jeep, maar het nie juis tekens gewaar nie. Nêrens ’n voël teen die wal nie.

“Hoe lyk dit, Auret, daar sit nou al snags ’n stukkie maan,” waag een. Met volmaan wanneer die water nie vuur nie, lê die skuite ’n paar dae op.

Auret Nagel het ’n ongelukkige week gehad. Eers probleme met die masjien, en Vrydagnag was die vis in die klip en het hy sy net fyngeskeur. Hulle moes net daar optel en huis toe kom, en het die hele naweek sit en lap en skeure toeryg.

Hy hou hom doof vir sy crew wat onderlangs murmureer. Hy is ewe moeg as hulle, maar as hy kan uithou, kan hulle ook. Hy het klaar besluit. “Die maan kom eers vieruur uit, daar is oorgenoeg donkerte. As dit lyk na hoe, kan ’n mens altyd Bobaai toe loop.” Daar het die manne die vorige week bietjies-bietjies sardyn gevang.

Hy kan nie bekostig om die weer te lê en kyk nie. End van die week staan al wat crewman is bakhand, dan moet hy uitbetaal. “Ek dink ek sal maar so ’n draai loop, wat. Dalk steek iemand êrens ’n vaart uit.”

In die Bobaai loop rondfletter? So praat ’n man wat niks het om hom by die huis te hou nie. Wat nie ’n nooi het nie, en as hy een het, nie weet waar sy rondloop nie.

Auret haak sy stewels oor sy skouer. Van die meisie in die kort katoenrokkie en sandale, hoed vasgedruk met die een hand, kosmandjie in die ander, sou hy nie notisie geneem het as ’n crewman nie op daardie oomblik opmerk nie: “Hillie van ou Jas. Vanmôre voor die hotel afgeklim net toe Jas die buik vol vis insleep. Jy moes hom vanmiddag op die muur gehoor het; hy het glad op die skuit kom slaap. As ek hom ken, sal daar nie juis ’n kalf geslag word nie.”

Auret blaas sy asem uit. Dan is dít hoe sy nou lyk: ligrooi hare, lang bene. Hy weet maar alte goed van die struweling tussen Jas en sy dogter. Moeilike ou man, en die meisiekind glo ’n kruis.

Hy onthou haar uit die dae toe sy kaalvoet saam met Vilna Frost rondgehang het in die winkel en op die strand. Maar sy is toe hoërskool en kollege toe, agter die Frost-kinders aan geleerd loop word, om vol aanstellings terug te kom. Vaagweg onthou hy hoe sy Boetie skoolvakansies halfpad deur ’n skiet-skop-en-donnerprent aan sy arm gevat en feitlik weggesleep het huis toe.

Ou Jas se voorsate stam uit die Dene, sterk mense, en so taai dat hulle bars. Sy ma was ’n Nimb met so ’n kop hare. Deurmekaargemaak met die Burres is hulle ’n nasie op hul eie. Helena is ’n nooi wat hy hom voorgeneem het om nog eendag te vry, maar hy het nooit die kans gekry nie.

Die net is gelaai. “Jis, kêrels,” sê Auret toe hy sy voet oor die rondereel sit en aan boord kom, “gaan na dat alles reg is. Water en olie? Is die toue gekuil?”

Hy gaan tik die barometer. Dit het ’n nommer geval, maar die middag is mooi. ’n Pienk dag, sê die vissers. Die moontlikheid van mis is daar, maar dis nie meer die dae toe hulle met lanterntjies aan maspale gesukkel het nie. Jy het jou radio en DF, en deesdae die eggolood. En almal ken die kus.

Jas is reeds by die passasie uit toe Auret die stuur vat. Arme ou man, dink hy vlugtig. Hy het nou eenmaal ’n swak plek vir die ou bokker, al is hy ook so dwars soos ’n deur. Die ou sal wel later gal braak oor die dogter se dinge.

Die bakkie sleep ’n skuimstreep aan ’n kort tou agter die skuit aan. Agter by die kombuis koek die manne saam om koffie te drink. Hulle gee vir die skipper deur die luik aan. Hy vat ’n sluk. “Ek gaan nou kop toe. Sê as jy iets op die echo merk.”

Hy gee die stuur vir die wielman en klouter oor die toue tot voor op die punt, vat met sy een hand die geroeste takelwerk vas en kyk wyd uit oor die see. Hy fynkam die kus met sy oë, soek of daar nie iewers ’n malgas val, ’n withalsduiker duik of robbe in die wal werk nie. Of hy nie ’n swart kol gewaar wanneer ’n stuk vis rys nie.

Die skemerte verdiep. Die donker rol oor die oop see aan, en een ná die ander verskyn die sterre. Toe hy nog niks gewaar nie, gaan hy terug na die stuurkajuit en skakel op ’n ander band in, probeer die skuite verder teen die kus op roep, vroetel met die knoppe. Hy verander ’n slag van koers, sy oog heeltyd op die eggolood. Sien g’n teken van vis nie.

Dit word laat. Die manne het een vir een gaan bonks vat, reg vir uitspring as hy roep. Die kok bring vir hom toebroodjies en koffie. Dan is hy weer alleen; hy en die kompas, die radio en diep onder in die masjienkamer die polsing van die enjin.

Daar is nagte wanneer die vis ver en skaars is en Auret voor van die kop af in die swart water sit en tuur dat sy lewe soos ’n film voor hom verbyrol. Dan is hy weer die kortbroekseun van verarmde boeremense wat ’n lewe op Vollemink kom soek het.

Sy skoolgaan is onderbreek toe sy pa hom as sestienjarige aan Friedman verhuur het as toonbankklerk. Dis nadat hy etlike jare lank soggens voor skool op die fiets gespring en bestellings geneem het by die vaste kliënte, en smiddae afgelewer het. Buitenstyd het hy net gesteek en harders getrek en kreef gevang.

Maar al die tyd had hy sy oog op die trollers, waar hy meer sou verdien. Wanneer ’n skuit ’n man kortgekom het en die vis nie ver was nie, het hy die nag site gevang en gesorg dat hy die volgende oggend weer betyds by die winkel was. Snags het hy nie saam met die manne in die bonks gelê nie, maar voor by die skipper gesit en uit hul ondervinding geleer van vis. Hoe dit in die water vertoon, watter soort vis dit is, hoe dik die skool is, watter kant toe dit loop, hoe die net gegooi moet word om die kol toe te maak.

Veral van ou Jas, die nors en stugge man wat min praat, en as hy die slag sy mond oopmaak, vloek, het hy alles van die see te wete gekom. Van visvang en kreef ook, maar veral van vis. Jas het van die kop af gejag, heelnag deur, en eers wanneer hulle met ’n vol vrag huis toe loop ’n rukkie gaan skuinslê. Maar kort duskant die baai, as hulle in die jobbel kom, staan hy op en stuur self deur die passasie.

Auret is feitlik agter die winkeltoonbank uitgehaal en skipper gemaak. Toe hy die boodskap kry dat Frost hom wil sien, het sy broek letterlik gebewe. Frost is bekend daarvoor dat hy ’n werksman, goed of sleg, die dood op die lyf kan jaag. Hy het vreesaanjaend gelyk agter die lessenaar so groot soos die eiland toe hy daardie oggend Auret se lewe vir hom oplepel van sy vulletjiedag af.

“Ek sien jy is ’n kêrel wat nie omgee vir werk nie. Sulke mense gee ons graag ’n kans. By Friedman sal jy nooit verder as hoofklerk kom nie.” Frost maak hom toe ’n aanbod wat hy geglo het hy nie maklik weer sal kry nie. Hy word skipper op een van die fabriekskuite, die Lorelei.

Sy ma was oorstelp, bly om sy onthalwe. “Jy verdien dit, Auret. God seën die kind wat na sy ouers omsien.”

Hy het sedert sy pa se dood ná ’n beroerte die verantwoordelikheid vir sy ma op hom geneem. Maar nie altyd genoeg gedoen nie, moes hy erken. Hy het sy kop laat sak, skuldig oor hy nie meer kon bekostig nie. Hy het toe al ’n noi aangehou, en Vilna was ’n duur meisie. Wat haar oë raakgesien het, moes sy hê: ’n armband, oorkrabbertjies, stringe duur krale. Hy moes soms ’n kar huur en haar uitneem na ’n dans op ’n ander dorp. ’n Donker pak laat maak en ’n wit borshemp koop.

Aanvanklik was sy groot vrees met die Lorelei dat hy nie vis sou vang nie. Hy was dankbaar vir die vertroue wat in hom gestel word, maar alles hang daarvan af hoeveel vis hy vang. En hy het geweet hy het nie genoeg ondervinding nie.

Toe Frost sien hy twyfel, gee hy hom dié raad: “Gaan praat met Jas. Dis hy wat jou aanbeveel het, jou hemelhoog geprys het.” Hy gluur Auret dreigend van onder swaar wenkbroue aan. “Sê vir hom ek donner hom as jy kak droogmaak,” praat hy vissermantaal.

En wat antwoord Jas? “Gaan vra hom liewer of hy weet jy vry agter sy rug na daardie Vilna-meisiekind van hom. Dan kyk ons wie donner vir wie.”

“Nee, oom!” skrik Auret.

“Jy dink niemand sien jou nie, nè? Maar hier is mense wat niks anders te doen het as om van die duine af te spioeneer nie. Jy probeer hard, maar jy het dit nie in jou om skelm genoeg te wees nie. Vollemink is klein en die vissie groot. Pasop!”

Meer het die ou nie gesê nie, maar die sluwe kyk in sy klein blou ogies het ’n onrus in Auret laat roer.

Van Vilna Frost was hy knaend bewus vandat sy met spikkelbruin oë onder ’n swart gordyntjie na hom geloer het wanneer hy as winkeljongetjie aan hul agterdeur kom klop en die swart boekie oor die onderdeur aangee.

Met dieselfde oë het sy later sy beskeie ouerhuis verken wanneer sy Vrydae saam met mevrou Frost ’n sjokoladekoek en beskuit kom koop het wat sy ma as byverdienste gebak het. En as niemand kyk nie, ’n skelm vinger deur die karamelversiersel getrek en afgelek het. Die toonbeeld van maagdelikheid staan sy later op die werktafel in die voorhuis wanneer die nate van ’n halfklaar rok aan haar vormlose dogtertjielyf afgesteek word en sy ma, die modemaakster van Vollemink, some invou om die benerige knieë. ’n Fees vir sy vyftienjarige oë.

Smiddae het sy saam met die skoolkinders by die winkel aangekom om lekkergoed te koop. Deur comic-boekies geblaai. Saam met daardie wildewragtig van Jas wawiele op die strand gemaak, hul rokke ingesteek in hul blou bloemerpype. Saam met die honde ver verby die mond gehardloop en swerms meeue opgejaag. Nat tot in die middellyf die hardernette help uitsleep.

Hulle het mekaar regtig in die oë gekyk die oggend toe die net dik gemas was met harders en hulle die bakkie opdra. Sy het vasgenael in die kiel se sleepspoor staan en kyk hoe hy en nog ’n man onder die drastok inbuk en soos trekdiere vorentoe beur; sy broek opgerol tot hoog in sy lieste, spiere en are bultend, senings styf gespan.

Verleë het sy weggekyk toe hy sy pype afrol, en die honde geroep en weggedraf, onbewus daarvan dat sy self nat is en deurskyn. Hy het eers later besef hy het nie ’n onderbroek aan nie.

Haar broer en susters is op twaalf reeds weggestuur na Engelse skole in die stad, maar om die een of ander rede was Frost se laatlam op veertien nog in Vollemink Sekondêr. Teen daardie tyd was Auret reeds verlief op haar, op die kyk-stadium, maar te bang om aan haar te raak. Saterdagaande sit hulle langs mekaar op die harde bankies in die ou bioskoopsaal waar ’n stokou cowboyprent draai en eet grondboontjies uit ’n papiersak. Wat meer was daar om te doen?

Met die bakkie roei hulle oor die baai eiland toe waar die malgasse broei en die robbe wag dat dit aand word om die neste te beroof. Met sy bokskameratjie het hulle foto’s geneem; hy van haar en sy van hom.

Een Sondag het hulle met die fietse na die plaas gery waar hy grootgeword het. Afgestap na die varswaterfontein waar ’n kis in die skoon sand ingelaat is en die suiwer water opwel. Sy wou proe en het uit sy hand gedrink en hy het die druppels van haar ken afgelek, en haar op haar mond gesoen. Sy het hom teruggesoen en hy het gedink dis die afskeid. Die volgende jaar is sy na ’n Engelse meisieskool gestuur.

Hy was seker sy sal nuwe vriende maak wat naweke sal saamkom Vollemink toe, soos haar susters voor haar gemaak het, hom maklik vergeet tussen al die grênd Engelse kêrels. Tot sy verbasing het sy nie.

Daar was af en toe tog ’n brief in die pos in haar ronde meisiehandskrif waarin sy kla oor die streng reëls in die koshuis, dat sy feitlik ingehok is, geen telefoonoproepe mag ontvang nie behalwe van haar ouers, dat sy na haar honde verlang, en die see en die ruik van vis en die hawe. Dat sy die brief met ’n dagleerling moes uitsmokkel. Dat sy nie die vakansie huis toe kom nie, maar saam met haar ouers Karoo toe gaan, waar Frost renperde teel.

Dan een mooiweersdag kom sit sy op die net by hom waar hulle ’n nuwe stoot inboet, in die voorvlerk of buik. Naels pêrelpienk, lippies ’n aks donkerder, kortbroekie ’n goeie raps bo haar knieë help sy om die netnaalde vol te maak. Dring sy opsluit aan om ook te brei, sodat hy agterna die skuifknope moet losryg.

Mettertyd het die onskuldige vryery waarteen Jas hom gewaarsku het van fietsry en resies jaag oor die strand gevorder tot perdry en die duine verken, volstruisneste soek, met die .22-geweertjie skyfskiet, waar sy met die eerste probeerslag die blikkie van die paal af geklits het. Stelselmatig het dit tot iets meer verdiep.

Sy ma het ’n stokkie daarvoor gesteek toe Vilna agter hom begin aanloop huis toe, vrypostig die buitekamerdeur oopmaak as hy bedags probeer slaap en haar sandvoete tussen die lakens afskud. “Sy’s ’n skoolkind, Auret, dis nie betaamlik nie. Soek jou eie portuurs. Sy kan jou in ernstige moeilikheid laat beland.” Tronksake as ’n man met ’n minderjarige verkeer.

Maar hoewel onmondig, was sy goed jarig, en sonder gelyke. Dit het uitgeloop op ’n uitgerekte verhouding wat hom tot in die heerlikste hoogtes van die hemel gevoer het, maar ook laat afsak het in die dieptes van die hel se onsekerheid. Ná skool het Frost sy dogter Amerika toe gestuur vir ses maande. Oriëntasie, het hulle dit genoem. Daarna is sy UCT toe, waarskynlik om die gevoel van studentwees te kry. Ingeskryf vir ’n kursus in die regte, maar of sy ooit graad gekry het . . .

Af en toe het hy ’n gesteelde naweek ingepas wanneer hy weggeglip het Kaap toe, ’n geleentheid saam met ’n vriend gebedel, by haar woonstel aangeklop. Soms ’n bloutjie geloop omdat hy nie ’n definitiewe afspraak kon maak nie weens sy werksomstandighede.

Tydens universiteitsvakansies het sy hom probeer oorreed om saam met haar oorsee te gaan, al weet sy ook hy kon nie, veral Junie, Julie wanneer dit somer in Europa is en die visseisoen op sy beste. Travel is such fun, krap sy op ’n poskaart nadat sy en studentevriende ’n boot gehuur het waarmee hulle op die Mediterreense See seil. Elke aand in ’n vreemde hawetjie vasgemaak, aan wal gegaan en vreemde kosse geëet, wyn gedrink, en gereeld in die water geval as hulle aan boord wou gaan. Op dié manier die horlosietjie verloor wat hy vir haar gegee het. Alles ’n grap.

“Jy het geen idee hoe ons dit geniet het nie. Dit laat my aan Vollemink dink.”

Met die bakkie oorroei na die Lorelei, teen die toue opklouter, die growwe seematras in die wielhuis, met die ritme van die water wat onder die kiel wieg . . . Verbeel hy hom sy het haar lippe afgelek, of was hulle maar so blink van die genietinge waarmee sy hom kom vermaak?

Sulke slae kon hy haar haat, as hy nie so seergemaak was nie.

Om nie heeltemal droëbek te sit nie het hy troos gaan soek. Daar was oulike onderwyseressies, die enetjie van Sutherland waar daar net ordentlike mense woon. Só korrek. En so sonder slag op ’n dansbaan! En geen privaatheid in die voorhuis van die huis waar sy geloseer het nie.

Om eerlik te wees, sy hart was verknog aan die swartkopnooientjie met die groenbruin oë wat hy grootgemaak en vir homself gemerk het, regteroor halfmaan, linkeroor lelie. Tussen al die meisies wat hy geken het, het hy haar bly soek. Hy het altyd verlang na haar aanraking en die ontwykende geur van seep en lyfpoeier as hy haar styf onder sy kortribbetjie intrek in ’n holte in die duine, en hulle mekaar so warm vry dat hulle skaars agterkom die suidewind waai hulle toe.

Is daar enigsins nog sprake van trouheid? het hy hom dikwels in sy eensaamheid afgevra. Hy het die weke en maande afgetel, sy verlange fisies weggewerk. Homself moer toe gewerk op die see; Sondagaande gaan vis soek, by die naaste hawe afgelaai en dadelik weer losgegooi. Vrydagaande vodde op Vollemink aangekom.

Hoewel hy homself deurgetrek het, het hy die Lorelei met sorgsaamheid behandel en mooi opgepas. Want ’n skuit is soos ’n vroumens wie se giere jy nog nie ken nie. Jy moet ’n gevoel kry vir haar. Soos ’n versigtige jongkêrel wat ’n onervare meisie op die dansvloer nader, het hy die boot hanteer. Haastig van natuur, moes hy hom bedwing as die wind deur die maswerk fluit, wou hy met haar die oop waters invaar dat die wit skuim teen haar opspat en sy ’n breë spoor agterlaat. Hy sou wou kyk hoeveel knope sy kan haal, hoe diep hy haar kan laai. Maar dis nie hoe ’n verstandige man te werk gaan nie. Hy het geweet hy moet haar eers liggies vashou en die passies leer, met omstandigheid oor die seë stuur om haar nie in die trôe te laat breek val nie.

Hy was gou bekend as een van die voorste skippers op Vollemink, ’n man wat versigtig en spaarsaam met sy geld gewerk het, wat iets bymekaar wou maak vir die toekoms.

Saam met die vrou van sy hart.

Mettertyd moes hy homself egter al hoe meer afvra of dié vrou nog bestaan. Nuus van haar is wisselvallig, vol vae beloftes. Hopefully I’ll be back by Christmas. Love, Vilna.

Soms wonder hy of liefde nie die mees misbruikte woord in enige taal is nie, wanneer die uitlewing van begeerte en hartstog ’n selfsugtige gewoonte word, wat saamgaan met leedvermaak en uittarting, jaloesie en hardvogtigheid. Wat het geword van misterie en deernis en warmte en innigheid?

Hoekom moes sy onvoorwaardelike liefde bederf word deur agterdog? Hoekom kry hy die gevoel dat dit vir Vilna gerieflik is dat hy daar is, ’n handperd om haar te vermaak wanneer sy die slag besluit om huis toe te kom? Nes hy dink sy het hom vergeet, soek sy hom, agtervolg hom, kom in die maanlig met die honde oor die natblink seestrand aangehardloop, klim uitasem die duin uit agter die rooi gloed van sy sigaretkooltjie aan. Om haar in die mik van sy opgetrekte bene te kom inwikkel, waar hulle mekaar lank en innig bemin.

Daarna is wroeging weer sy maat wat langs hom hardloop dwarsdeur die lang, donker nagte wanneer hy die helder fosforkolle soek wat vis aandui. Dan is hy oortuig dit was maar net ’n ligte flirtasie, ’n vuurtjie wat hy met fynhout aan die brand moes hou nadat sy weer weg is, wat soms bitter flou en bleek was, soos die aandster net voor dit ondergaan.

Totdat hy op ’n dag besluit het dis nie meer genoeg nie. Die Lorelei het te klein geword en te kort geskiet aan die nuwe bote met hul groter tonnemaat. Hy moes wegbreek, Frost se skuit teruggee, skuld maak en sy eie boot laat bou.

Auret skakel die radio in op ’n ander band, probeer die ander visskuite oproep, kry nie antwoord nie. Ou Jas is verdomp skelm. Hy sal ’n man nie roep voor hy nie self volgeskep is nie.

Hy verander ’n slag van koers. Dan skielik gewaar hy sulke fyn krappies op die echo, omtrent die dikte van ’n haar se breedte. Dis nie ’n groot kol nie, maar dis genoeg vir hom.

“Roep die wielman! Ons is hier by vis en ek wil kop toe gaan,” skree hy agtertoe.

Een vir een peul die manne uit, in hul werksmondering en nog deur die slaap. Auret trek sy dik jas aan, vou ’n serp om sy nek. As dit kom by die gooi van ’n kol vis, het hy meer vertroue in sy oë en ore as die eggolood. Die koue naglug maak die punt van sy neus klam en hy snuif en vee ’n slag met die agterkant van sy hand. Beduie dan agtertoe met die flits dat die stuurman moet stadiger.

Meteens slaan die kol voor die bewegende skuit op. Hulle is feitlik in die vis, hy kan dit in die water sien beweeg. Dis doodstil op die dek toe hulle nog ’n keer draai. Die skool gee effens pad, en hulle vermeerder spoed. Sirkel nog ’n slag, en toe slaan dit spierwit op soos die robbe hom skrikmaak.

Hulle kan die vis hoor raas.

“Staan reg!” roep Auret, en “Los!” skree hy, en “Stadig,” toe hulle die vis mooi toe het, en “Haal nou uit!”

Die stuurman haal die clutch uit sodat die skuit op sy eie momentum die laaste entjie na die bakkie dryf. En daarna loop alles verkeerd. Die bakkieman sukkel met die skuiftou, die skuit kom te vinnig nader, die wielman skree hulle kan nie tru nie en hulle loop in die net.

Die manne skrik, Auret vloek. As die kok nie ingespring en hom gaan red het nie, het die bakkieman verdrink. Die net het in die skroef gekom. Hulle moet magteloos lê en dryf tot iemand hulle gelyk met ligdag kom insleep.

Auret voel ’n misoes. Sy net wat hulle nou pas heelgemaak het, is weer flenters. Hulle sal seker die ganse ligmaan moet sit en boet.

“Dis nou ’n wetter,” groet Jas hom die oggend op die kaai toe hulle die net aflaai. Hy het oor die draadloos gehoor wat gebeur het.

“Ja, oom.”

Jas het gistermiddag eerste geloop en laaste ingekom met ’n skuit halfvol. Die ou bittereinder.

“Gelukkig het jy darem nie jou bakkieman verloor nie. Dan was jy in die kak.”

“Ja, oom.”

“Want dit kan ’n hofsaak afgee, al was dit nie jou skuld nie. Jy is die skipper en jy mag nie ’n fout maak nie. Kyk wat het gebeur toe my manne die slag gemuit het. Hulle het my met ’n mes wil steek, en toe ek die fokker se arm met die shifting spanner afslaan, kry ek die rekening van die dokter en hy sit ses weke by die huis en vreet hom dik uit Friedman se winkel.”

“Ja, oom.”

“Jong, watse ge-ja-oom is dit dié?” vra Jas, skielik ergerlik. “As jy iets te sê het, sê dan so. Maak ’n slag jou bors skoon en vloek die hel uit hulle uit. Maar moenie dat hulle met jou mors nie. Jy sit mos darem nie agter jou knieë nie.”

Die ou man is vol tale op pad huis toe tot hulle ligte vrouestemme agter die heining hoor jil.

“Ma sal nog die werf uithol dat ons later onder die grond bly, in ’n bomskuiling. Nie dat ons dit nie dalk nodig kan hê nie,” spot-lag die meisie.

En Cora antwoord: “Jy darem, Helena, moet nou nie weer ’n ding begin nie. Los tog jou pa uit, vir vrede. Ek sien die skuit is in. Maak klaar en kom vryf jou wasgoedjies uit solank ek die tafel dek.”

Die toneel in die agterplaas klink so verleidelik dat Auret byna instem om op uitnodiging by Jas te gaan koffie drink toe die ou hom vra. Bedink hom dan betyds; die Burres mag hul hande vol hê met die meisiekind.

En hy . . . in sy seeklere en boetse voel hy net nie skaflik nie. Voordat hy die skade aan sy net gaan vasstel, wil hy eers was en skoon aantrek. En sy ma het seker ook al gehoor van sy ontbering en sal iets te ete reggemaak het.

“Totsiens tot later, oom,” verskoon hy hom en stap aan.

Helena verstyf toe sy die mans hoor verbykom en Auret Nagel hoor groet. Sy staal haar vir haar pa, wat haar skynbaar nie raaksien nie. Dis in Auret se gesig wat sy vaskyk toe sy met die skoppie blare orent kom. Vlugtig ontmoet hul oë oor die morning glory-heining waarna hy sy pet vir haar lig en knik, hoflik soos teenoor ’n vreemdeling, voordat hy aanstap.

Sy plant die besem in die hoek en steek haar hande in die badjie seepwater, begin was haar goed deur, die rok wat sy op die trein aangehad het en die klere wat sy die laaste dae op Harmstat gedra het. Onderklere wat sy te privaat beskou het om van die plaasvroue te laat was en uithang. En nou nog ’n maal spoel om haar pa kans te gee om te eet en te gaan slaap.

Jas stroop hom tot op sy frokkie en broek, los die bondel voor die agterdeur en stap op sy sokkies binnetoe. Hulle sê môre sonder om na mekaar te kyk. “Kom jy nie eet nie?” wil hy kortaf weet.

“Ek het saam met Ma opgestaan, ons het pap gehad.”

Sou hy weet dat sy die vorige middag die kosmandjie gaan wegbring en hulle net-net gemis het? Asof hy die wind van agter gehad het, is die skuit by die passasie uit.

Sy was teleurgesteld dat sy Boetie nie te sien gekry het nie, maar aan die ander kant was dit miskien ’n goeie ding dat dinge tussen haar en haar pa eers ’n bietjie afkoel, dat hulle mekaar nie daar op die kaai gepak het nie.

“Dan het hulle seker gehoor van vis wat iewers opslaan,” het haar ma probeer vuur doodslaan toe Helena mandjie in die hand teruggekom het. Sy het maar weer die kos uitgepak sodat hulle later daarvan kon eet: brood en koue gebakte vis en kookmelk op die bankie aan die westekant van die huis waar die son ’n wye blink baan oor die see verf.

Nou terwyl Jas eet, kyk Cora die wasgoed op die lyn krities deur, of dit reg opgehang is, soort by soort, kleur by kleur, en omkeerkant buitetoe om nie te verbleik nie. ’n Frons verkreukel haar voorkop. “Nog maar altyd die ou goedjies waarmee jy hier weg is. Tot die broekies van Vilna Frost. Lyk nie of daar juis winkels op Grenspan is nie?”

Dat haar ma dit nou moet raaksien. Maar dan is dit meer besonders as enigiets wat sy in enige plaaslike winkel kan koop, al is dit voos gedra. Franse kant.

“Grenspan is ’n klein plekkie. Daar is ’n algemene handelaar, Woods, en ’n Jodewinkeltjie wat letterlik alles aanhou. Die groter dorpe is ver.”

“Daar loop darem seker ’n trein of bus?” Cora het kennelik die groot dorp in gedagte.

“Bloemfontein toe, ja, maar dan moet jy die naweek daar oorbly. Ek was al saam met die Venters Ladybrand toe, en met Chris op Hobhuis.”

“Die kêrel van wie jy geskryf het?” vra Cora haar direk uit.

“Ja, dis die outjie wat ek by die Venters ontmoet het. Hy boer op Harmstat vir sy ouers en woon by hulle in die mooiste ou huis van sandsteen. Hulle is gawe mense van wie ek baie hou.”

“Ek het gewonder of jy nie te knaend by die vreemde mense boer nie. Ons is nie gewoond om ander se drumpel deur te trap nie.”

Dis nou tipies Cora Burger, wat net die pad koeistal toe en terug ken, min vriende het, behalwe miskien ant Tiek en Berta Nagel, die kleremaakster.

“Net af en toe, Ma, as hulle my nooi en Chris my kom haal. Dis nie eens elke naweek nie. Daar gaan soms weke verby dat –”

“Ek wil net sê, ’n meisie moet oppas dat ’n man nie dink sy is maklik nie, en vrypostig raak en sy respek vir haar verloor.”

Byna werktuiglik speel Helena met die ringetjie aan haar regterhand: ’n seëlring met ’n voëltjie wat ’n diamantjie in sy bek dra. Daaronder in sierletters die naam: Chris.

“Jou pa het destyds vir my ook een gegee,” merk Cora onverwags op. “Nou nie met ’n steentjie in nie, maar met sy voorletters daarop. Dit pas lankal nie meer nie. Ek het altyd gedink jy kan dit eendag kry.”

“Wat sal Pa daarvan sê?”

“Ag, hy onthou seker nie meer nie.”

“Omdat Ma dit nie dra nie. Steek dit aan die pinkie.”

“Ag wat,” Cora lyk ongemaklik dat die gesprek nou so ’n koers ingeslaan het, “ek werk so baie in die water, dit sal jammer wees as ek dit per ongeluk verloor.”

Dan was daar tog eens ’n vonk tussen haar ma en pa? Soos daar nou nog tussen Chris se ouers is. “Hy is nogal vryerig,” het tant Nelie eendag geterg en oom Stoffel se groot, sawwe ore speels gevryf.

Maar dis moeilik om te glo as sy haar ouers sien, hoe die duiwel kort-kort dreig om los te breek. Die stuk familiegeskiedenis ken sy alte goed: hoe Cora, wat al as ’n oujongmeisie beskou is, op neën-en-twintig met Jasper Burger getroud is. ’n Goeie vangs, as in ag geneem word dat sy ’n plaasnooi was met grond van haar eie en ’n flukse boerderytjie: bokke en skaap en ’n klompie beeste.

Haar vee het deurmekaar geloop met dié van skoonfamilie wat die vrugbare tuingrond bewerk het, seker met die doel om dit later in te palm. ’n Verneukspul van hoek tot kant; Jas het dwarsdeur die ding gesien. Want hoe weet sy wat haar toekom as dit by die deelslag kom sonder dat daar behoorlik rekord gehou word?

Hy het Cora se deel verkoop om sy eerste skuit te betaal. Vir haar het hy saamgebring Baai toe, waar die son skerp is en die lug ’n louter vlam wat alles verskroei.

Helena en Boetie het soos twee strandloperkuikens op die rand van die water grootgeword, eers kaal in die vlak poeletjies gespeel en toe al dieper namate hulle ouer geword het. Totdat hulle agter die branders geswem het, Helena sommer in onderklere, soos baie van die ander kinders ook.

Haar eerste baaibroek het sy van Vilna Frost geërf, so ’n rooi-en-wit gekolde valletjiesgedoente wat amper soos ’n balletrokkie gelyk het. Waarmee sy in die binnehoffie voor hul huis op haar tone gedans en haar verbeel het sy is die danseres in die geraamde prent in die Frosts se sitkamer. ’n Meesterstuk deur Degas, het Vilna se ma vertel toe Helena vasgenael bly staan het. ’n Afdruk, natuurlik, wat meer vir ’n mens kan beteken as ’n swak oorspronklike stuk.

Sy het Helena ’n boek geleen met kleurafdrukke van skilderye deur Manet en Monet, Cézanne en Renoir, wat Helena saans by kerslig in haar kamer deurgeblaai het: pragtige, koketterige vroue met afgeslane wimpers, bewonder deur mans met sluwe jakkalsgesigte. Veral het sy herhaaldelik teruggeblaai na die naakte meisie met lang, uitgekamde hare waarin die lig weerkaats, die stywe borsies en ronde heupe, en ’n vol rooi mond. Behalwe vir die hare, wat haar eie kon wees, het sy Vilna in die figuur gesien, ryp en tot barstens toe ontvanklik vir . . . seks? In daardie stadium was dit nog nie ’n woord om te gebruik nie, slegs maar ’n gevoel.

Vilna was twaalf toe sy die eerste maal saam met haar ouers Europa toe is. En meteens uitgegroei toe hulle ná drie maande terugkom. Byna al die klere wat ant Berta voor die tyd vir haar gemaak het, was te klein, veral oor die borste. Te kort sou dit na Vilna se sin nooit kom nie.

Die end van die storie was dat mevrou Frost die meeste daarvan vir Helena gegee het. Almal gawe, goeie goed met baie dra in hulle. Baie daarvan moes net effens verstel word toe sy later kosskool toe is, langer gemaak, bietjie ingevat in die middel.

Jasper Burger was altyd suinig. Die groen jas het sy gekry toe sy kosskool toe is, by Friedmans gekoop teen ’n afslagprys waarop Jas aangedring het. En toe nog maandeliks afbetaal. Hy is langtand om kontant uit te haal, en Cora het deur die jare kort duskant steel loop draai om haar en veral die kinders nie in die skande te laat kom nie.

Sonder dat hy dit agtergekom het, het Helena self gereël om ná standerd agt La Rochelle toe te gaan. En hom toe gekonfronteer met die besonderhede: soveel is die koshuisgeld vir die jaar, soveel die boeke, skoolrokke en hemde, onderklere, kerkskoene, kouse, toiletware.

Tot hy eendag ontplof het en wou weet waffergoed toiletware is. “Het dit met ’n klôsit te doen? Moet ek nou vir kakpapier ook betaal?”

“Pa teken net die vorms, en die tjeks,” het sy hom met kenmerkende astrantheid aangevat. En nogal die ronde gewen, hoewel Jas haar nooit laat vergeet het wat die twee jaar op hoërskool en ’n jaar op kollege in die Kaap hom gekos het nie.

Amper te gou is dit nou weer Boetie se beurt, en sal sy vir hom in die bres moet tree. Want hy het dit nie in hom om te baklei nie. Al het hy standerd agt in die eerste klas geslaag, word dit ’n gedoente toe Jas agterkom dat daar weer eens agter sy rug gekonkel is en dat Boetie so te sê op pad is Paul Roos toe. Nie twee keer stamp Jas Burger sy voet teen dieselfde klip nie. Nie ’n oulap kry hulle uit hom nie. Kanselleer!

Boetie skop nie eens vas nie, hy is soos ’n lam ter slagting, en dis Cora wat die spit moet afbyt. Uit pure radeloosheid skryf sy toe aan Helena op Grenspan. Sy weet nie wat in Boetie se kop aangaan nie; sy weet nie wat moet word nie.

Uit die wanhopige brief was dit vir Helena duidelik dat haar ma se gees self geblus is, dat sy nie kans sien om van voor af die strydbyl teen Jas op te tel nie. Die drie jaar wat sy vir Helena baklei het, veral die laaste jaar op tegniese kollege, was miskien net te veel.

’n Berg het van haar skouers afgerol toe Helena klaargemaak het en die aanstelling as sekretaresse by ’n ouditeur in die Paarl gekry het: J.H. Zietsman. Veral vir Cora, maar selfs vir Jas, wat glo loop en spog het met sy slim dogter.

Vir die onderhoud by J.H. Zietsman trek Helena die middag haar beste pakkie aan wat spesiaal vir haar voorstelling gekoop is: blouselblou, met netjiese swart hofskoene. Sy het die trein Paarl toe gehaal en ’n taxi na die kantoor in die hoofweg. Die meisie by ontvangs het ’n brief klaar getik, in ’n lêer gesit en toe kortliks die werksituasie uiteengesit. Dis elementêr; sy moet boekhou ken, en snelskrif en shorthand, ’n balansstaat kan tik, bankdeposito’s doen, liasseer, tee en koffie maak. Die meisie trou binnekort en het reeds bedank.

Sy gee ’n droë laggie, wat kan beteken dat sy besef hoe pateties min Helena weet en hoe baie sy het om te leer. “Ek is darem nog ’n week hier om jou touwys te maak.”

Meneer Zietsman had staalgrys hare en ’n silwerraambril. Ongeveer vyftig. Rysig en oorheersend. Hy het ’n brief in Engels gedikteer en Helena moes dit tik. Nie kommentaar gelewer oor die fout wat sy gemaak het nie, net die ooreengekome salaris bevestig.

En haar toe aan die ou man in die aangrensende kantoor gaan bekend stel. “Mister Allen, my accountant. Helena Burger.”

Daarmee was dit afgehandel. “Ek verwag dat jy op l Desember om agtuur die oggend aanmeld,” spreek hy af.

Stap toe voor haar uit, maak ’n deur aan die einde van die gang oop na ’n gemeubileerde slaapkamer met ’n dubbelbed en selfs portrette van ’n vrou en kinders op ’n bedkassie. “My familie woon in Rondebosch, waarheen ek naweke gaan. Ek bly hier omdat dit gerieflik is.” Heel terloops voeg hy by: “Jou eerste plig is om soggens my bed op te maak.”

Dit was so onverwags dat sy nie ’n woord kon uitkry nie. Met die herinnering aan meneer Zietsman se oë agter sy bril en die geweldige neus, en die vertoiingde elmboë van mister Allen se baadjiemoue, is sy daar weg.

“Ek sal dit nie doen nie. Ek maak nie eens my pa se slaapkamer aan die kant nie, mevrou!” het sy teenoor die koshuismatrone uitgebars.

Die vrou, ’n weduwee met volwasse kinders, het haar bekommerd aangehoor. “Nee, kind, natuurlik doen jy dit nie. Jy doen niks van dié aard nie, dis ongehoord, oneties. Soek vir jou ’n ander werk.”

Die kollege sou binnekort sluit. Waar kry sy op kort kennisgewing werk? Of verblyf? Of moet sy druipstert teruggaan Vollemink toe, daar ’n joppie gaan soek, sy, Helena Burger met die handelsdiploma?

Haastig begin fynkam sy die advertensiekolomme, tot iets haar oog tref: Dokter Felix Venter van Grenspan in die Vrystaat soek ’n ontvangsdame vir sy spreekkamer. Dringend.

Sonder om ’n idee te hê waar die plek geleë is, gaan pos sy dieselfde aand haar aansoek.

Dit word byna onmiddellik met ’n telefoonoproep bevestig, en daarna skriftelik. ’n Tjek vir haar reiskaartjie is ingesluit. Op die Vrystaatse platteland wantrou mense mekaar nog nie, hulle sluit moontlik nie eens hul deure nie.

Hul eie kombuisdeur het net ’n werwel. Dis in elk geval so oud dat dit oopgetrap kan word, as daar ooit ’n sleutel was.

So goed moontlik het Helena die nuwe verwikkelinge aan haar ma verduidelik, alles ten aanhore van ant Tiek, van wie se telefoon hulle altyd gebruik maak. Sy het haar geskaam om weer eens geld te moet vra om die eerste maand in die vreemde te oorleef.

Tien pond het na ’n fortuin geklink, en sy was spyt dat haar ma nogeens die spit moes afbyt. Sê vir Pa ek sal elke oortjie terugbetaal, Ma, het sy in haar dankiesê-briefie belowe.

Hoogty

Подняться наверх