Читать книгу Hoogty - E. Kotze - Страница 12
Hoofstuk 5
ОглавлениеDis te gou om op Chris de Wet verlief te wees, weet helena, maar hulle is goeie vriende. Hy kom haal haar plaas toe en neem aan sy bly vir die naweek. Soms bring hy haar eers Maandagoggend terug.
“Jy word maer,” merk Anneke op.
Dis waar. Helena het ’n pond verloor in een naweek en moes haar gordel verstel.
“Dit lyk nie of jy by die fris jong boer kan byhou nie. Ek sal met Chris moet gesels,” dreig Felix.
Helena lag net. Dis te wyte aan die dieet van vleis soggens, middae en saans. Dit gee al ’n gespot af dat Chris amper alles uit haar bord oorskep in syne.
Waarop sy versot is, en wat haar naweke feitlik aan die lewe hou, is die krummelpap wat Fransiena soggens maak. Heerlik met melk en botter vir ontbyt, en met tamatiesmoor by ’n stukkie wors vir middagete. Saans niks meer as ’n beker kookmelk nie.
Waarna sy en Chris nog laat opbly, na musiek luister, tuisgemaak op die chaise longue, wat nie baie gemaklik is nie, maar waarop hulle nader aan mekaar kan sit. ’n Bietjie vry, namate hy meer stoutmoedig word. Min eet en gebrek aan slaap, omdat geeneen daaraan dink dat hulle die volgende oggend vroeg moet opstaan nie, laat haar skraler word.
Sy raak een van die familie toe sy van die vrykamer af verskuif word na “die dogters se kamer” (oom Stoffel se meisiekinders), langsaan die oom en tannie, en regoor Chris. Oor die dubbelbed is ’n blou-en-goue donskombers gevou. Want ongemerk het die herfs ingetree en die nagte begin koud word, hoewel die dae nog warm is.
Sy raak saans aan die slaap met ’n afwisseling van geluide: oom Stoffel se sagte gepaf tussen tandelose lippe, tant Nelie se ligte snorkies . . . Chris? Hy vroetel nog voordat sy sy bed hoor kraak.
Waar, o, waar is die seegeluide waarna sy saans op Vollemink luister? Waarvan sy nooit seker is of dit branders is wat oor die strand spoel en tot in die rand van die hondepisbossies kom draai nie, of die koue suidewind wat deur die rietdak suis. Die geritsel van blare in die evergreenboom, en die gekraak van die bodeur waarvan die werwel afgeglip het. Jas Burre wat hard keel skoonmaak en spoeg, en water afslaan.
Sy is versigtig vir nie te eie word nie. Sy trap nie oor Chris se kamerdrumpel nie, maar bly staan in die deur toe hy haar nooi om na iets te kom kyk. Baie bewus daarvan dat tant Nelie, wat ’n bietjie lê, se deur oopstaan.
Op die gordynkap en kaggelrak staan die handgemaakte modelvliegtuigies ingeryg. Soortgelyk aan dié wat Vilna Frost se broer, Fletcher, gebou het in sy laerskooldae.
“Dis eintlik Pa se liefhebbery, wat later ook myne geword het,” vertel Chris trots.
Aanvanklik was dit vir Helena verwarrend as hy van sy oorlede pa praat en ook Stoffel Retief sy pa noem, maar sy leer gou onderskei. “Pa” is Stoffel. “My pa” is sy biologiese pa.
“Pa was vroeër ’n vliegtuigwerktuigkundige. Kleurblind, anders sou hy seker ’n vlieënier geword het. Deesdae hou hy die plaasgereedskap in stand. Nie juis ’n boer nie,” erken Chris, “eerder ’n instrukteur wat my baie geleer het van masjinerie en metaalwerk. Ongelukkig het hy nou ’n bietjie swaar geword.”
Sy word saamgeneem na die skuur waar die werktuie ingeryg staan: trekkers, ploeë, snymasjien, dorsmasjien, lorrie, bakkie, alles onberispelik en agtermekaar.
Presies soos die masjienkamer van Jas Burre se trolskuit. God bewaar die drywer as dit die slag nodig is dat hy daar moet af en dit stink na olie. Want Jas kry seesiek.
Hoe langer, hoe meer het sy begin wonder hoe dit vir Chris moet wees om week-in en week-uit hier op die plaas slegs in sy ouers se geselskap deur te bring. Radio te luister, ’n draai met die hond oor die werf te stap, te kom slaap, om môre vroeg by die melkery te wees. Verveeld, het sy hom Tweede Kersdag hoor sê toe hy op Grenspan aangekom het.
“Maklik,” antwoord hy ligtelik, “ek het ’n meisie wat my besig hou. En heelwat vriende, sal jy nog agterkom. Jy sal hulle nog ontmoet. Ek speel rugby. Ons het reeds begin oefen,” noem hy op. Hy is lid van die skietvereniging op Hobhuis; hy maak hom klaar om aan die bisley-kompetisie in Bloemfontein deel te neem.
Sy aktiwiteite waarby sy nie betrokke is nie gee Helena tyd vir haarself: om saam met Anneke Ladybrand toe te gaan vir ’n tandartsafspraak en noodsaaklike inkope te doen. Sy kort warm pajamas en ’n paar gemaklike winterskoene wat ook geskik is vir die plaas, ’n roompie vir haar gesig en hande wat erg deurloop in die koue weer.
Sy koop lyfpoeier vir tant Nelie en suiglekkers vir oom Stoffel, wie se swakheid sy ook al agtergekom het. Op die ingewing ’n mooi bont kopdoek vir elkeen van die huiswerkers en vir Boetie wol vir ’n trui: blou om by sy donker vel te pas.
Vir Chris het sy oor die hoof gesien, iets wat hy haar laat ontgeld.
“Jy kan vir my ook ’n trui brei.” Uit die rak van die plaaswinkel kies hy ’n pak goudgeel wol, nader aan borrie as goud.
Jy is nie ernstig nie, ’n geel pullover van hierdie krapperige, goedkoop wol? Nie in my lewe nie, skiet dit deur haar kop.
“Jy sal moet wag tot Boetie s’n klaar is,” stel sy dit op die lange baan. In haar verbeelding kan sy dit al sien: wit hemp, bruin broek, geel pullover van staalwol en ligte baadjie. Want sy hart het hy op die geel wol.
In Anneke se boekkas ontdek Helena die boeke van Daphne du Maurier, veral Rebecca en Jamaica Inn, wat sy nog nie gelees het nie. Lekker avontuurlik, romanties.
Sy lees Far From the Madding Crowd van Thomas Hardy, wat sy tussen ’n paar speurverhale op Harmstat uitgekrap het. Die boek wat sy en Chris albei op skool behandel het, maar hy nie voltooi het nie omdat hy vroeg skool verlaat het. Waarvan sy nie gou genoeg by die einde kan kom nie, om te sien of Bathsheba Everdene en Gabriel Oak by mekaar uitgekom het.
Vergeefs probeer sy Chris laat belangstel in die skaapboer van Wessex, asof slegs Dewet se skaaptrop bestaan. Vir hom is die boek te fyn geskryf. Hy verkies Hendrik Brand of een van dié speurverhaalskrywers.
Hoe sou hy hou van Mickey Spillane? wonder sy, met wie se boeke sy op kollege bekend geraak het. Sy ouens word soggens ná ’n vuisgeveg wakker met ribbes wat deur hul longe steek en gesigte voos geslaan, terwyl daar iewers “a blonde with a brunette base” wag. Die einde is altyd salig as die held en heldin liefde vind.
Dis nie soos die lewe is nie. Maar kan ’n mens daaraan werk? Soos Anneke en Felix? En tant Nelie en oom Stoffel?
Aan die ander kant is daar die Frosts. Daardie soort mense lewe anders. Mevrou Frost ry maklik twee maal ’n week Kaap toe. Bly ’n naweek oor. Laat die bediendes by die kinders bly. En andersom ook. Frost het eenkeer vir Jas saamgeneem, kamma om na ’n nuwe net by Appeldoorn te gaan kyk, toe kom hulle eers dae later terug.
“Ai, Jasper Burger,” is al wat Cora gesê het, “jy is nie vir dié soort lewe gegear nie. Loop slaap jou lyf af.” Gelukkig was dit ligmaan.
Tot dusver het Helena getroude mense maar as verveeld met mekaar en flou beskou. Man vry na meisie, hulle kafoefel in die duine, en vat mekaar, móét partykeer trou. Het kinders. Met ’n kind in die heup staan ’n jong vrou op die kaai as die skuite Sondagmiddae loop. Skielik verwaarloos, die hare vetterig, maag uitgestoot, hangborste. Dalk al weer ’n brood in die oond, nog ’n mond om kos te gee, waarvoor die man hom uitmekaar moet breek op die seewater.
Hoeveel maal moes sy dit nie hoor nie? Maar ’n man is nie te bejammer nie, hulle het op die ou end die hef in die hand. Sy steier byna terug by die gedagte.
Dog, hier op Harmstat is dit anders. Sy geniet dit om saans saam met Chris voor die kaggeltjie gestook met mieliestronke te sit. Melk te kook, kakao te maak. Saam met hom oor die lande en tussen die diere te stap, iewers heen te ry.
Hoekom lyk dit dan nou so reg as sy die verloop van haar en Chris se vriendskap voel groei, dat daar dinge is waarvan hy meer weet, en sy aanvaar dat hy die leiding neem? Net soos sy Felix se “voogskap” oor haar aanvaar. Is dit die verskil tussen ’n geleidelike wennigheid teenoor brutale oorheersing?
Sy is steeds onseker of sy uitgeknip is vir die werk in die spreekkamer. Van die administrasie hou sy, maar sy sukkel met mense wat gepalielie moet word as hulle ongeduldig raak omdat hulle moet wag terwyl Felix besig is.
Noudat die weer begin verander en dit kouer word, het verkoues en griep toegeslaan, en dis veral kinders wat met ontsteekte ore en kroepborse sukkel. Toe ’n ma een oggend ’n seuntjie met die aakligste hoes inbring, tree Felix dadelik op. Hy neem die kind na die sykamertjie waar allerhande klein “operasies” gedoen word, laat hom op sy maag lê met die kop skuins, en begin die slym los klop.
“Ek weet nie hoe lank dit sal duur nie, mevrou sal maar ’n bietjie geduld moet gebruik,” probeer Helena ’n ongemaklike pasiënt gerusstel toe ’n reeks wurg- en braakgeluide hoorbaar word, afgewissel deur die jammerlike gehuil van die kind, en die ma se paaistem.
Die vrou kyk op haar horlosie, dan hoopvol na Helena. Sy lyk eerder aangemoedig as verskrik deur die prosedure wat daar binne voltrek word. “Dink jy ek kan vir Dokter vra om vir my ’n enema te gee? Ek is so verstop!” Sy plaas haar hande weerskante onder haar ronde maag in bokant haar lieste, en steun.
Helena wonder nog of sy ernstig is toe sy die vrou sien huil. Hulpeloos tas sy na die regte woorde, vra dan: “Mevrou, kan ek vir u ’n koppie tee maak?”
Sy het Felix al onaangename gevalle sien hanteer sonder dat hy ’n gesigspier verroer, maar toe die deur ná ’n uur lange konsultasie agter mevrou Van Graan toegaan, lyk hy so toornig dat sy vir ’n oomblik wonder of sy te blameer is.
“Wat is verkeerd?”
Hy skud sy kop, gee dan ’n jammerlike laggie. “Vir party mense loop niks ooit reg nie. Maar laat ons maar volstaan met die maand oue prop waarvan ek haar moes verlos.”
Dis asof hy daarna nie sy hande lank genoeg onder lopende water kan skrop nie.
Oor dié uitlating wat so vreemd aan Felix is, sou Helena later eers weer nadink. Van tyd tot tyd gedurende die dag bly die vrou haar by: die betraande oë, en die opgehewe gesig toe sy die deur agter haar toetrek. Was dit om die ongemak wat sy moes verduur, of skaamte omdat haar man die hele tyd buite in die motor gesit het?
Chris kom haal haar een Vrydagaand vir volkspele op Hobhuis; daarna gaan sy saam Harmstat toe vir die naweek.
Haar enigste rok wat naastenby geskik is, is van groen tafsy, lank, met ’n wye hals en ronde kragie, pofmoutjies en ’n lang lyfie met ’n puntjie voor. ’n Standaardpatroon vir ’n koshuiskind. Vir die wis en onwis het sy dit oral saamgepiekel, een maal aangehad en daarna ’n swart nommertjie by Berta Nagel laat maak.
By die groen rok maak Anneke ’n wit halsdoek afgewerk met ’n wit kantjie. Helena hink op twee gedagtes, vleg dan haar hare in ’n dik wrong wat agter haar rug afhang.
Chris het ’n grys langbroek en oopslaanhemp en ligte baadjie aan, probeer nie eens om na ’n Voortrekker te lyk nie. Hy is op ’n draf, want hy moet nog eers by Dewet aangaan om dosering af te gee vir skaap wat wurm het.
“Jy kan in die motor wag, ek is nou-nou terug,” sê hy toe hy langs die waenhuis stilhou en uitklim.
Sy het reeds haar deur oop. “Kan ek na die huis gaan kyk solank jy en Simon gesels?”
Maar hy het weer nie die sleutel nie. Hoewel hy tog geweet het hulle kom hier aan.
“Ons ry dadelik,” sê hy.
Sy is onmiddellik vies. Dis aspris, dink sy, en begin aanstap met die pad waarlangs hulle gekom het, ten aanskoue van Simon-hulle, en natuurlik tot Chris se verleentheid. Sy draai uit toe hy haar stadig volg. Klim die helling uit, waarvandaan sy ’n uitsig op die vlei en aangeplante weidings het. Dis waar sy pa en oom beeste gevoer het om weer te verkoop.
Is dit al wat hulle hier gedoen het? Nee, het tant Nelie eendag laat val, daar was ’n vyeboom en ’n paar perskebome, vaspit, waarvan sy konfyt gekook en ingelê het ook.
Helena maak haar hand bak oor haar oë en tuur af in die vlei.
“Nee,” help Chris haar reg asof hy haar gedagtes lees, “dit was meer huis se kant toe. Die vyeboom was voor die agterdeur.”
Met sy arm oor haar skouer beduie hy: “Daar was die boordjie met perskes. Dit aard goed hier in die Oos-Vrystaat waar die winters so koud is, sodat die bome kan rus.”
Dat hy darem altyd die wind so uit haar seile kan haal!
“Kom ons ry,” sê hy, “anders kom ons laat. Ons kan anderdag . . .”
Toe sy weer langs hom in die motor sit, is sy skielik hoendervleis.
“Koud? Kom skuif nader aan my.” Hy slaan een arm om haar skouers, trek haar teen hom aan.
Op die dorp gaan hulle eers by ’n kafee aan, waar hulle tee drink en sy haar mooimaak. Op die nippertjie besluit sy om haar vlegsel los te maak. ’n Fout, want toe is dit ruig, en daar is te min tyd vir ’n ander plan voordat hulle skoolsaal toe ry.
Dis ’n tipiese plattelandse byeenkoms, byna soos ’n tiekie-aand of kerkbasaar, waar Chris almal ken, en hulle hom.
“Helena Burger,” stel hy haar aan sy vriende voor, en sê dan spoggerig: “Eiegoed!”
Dan weer is sy Volleminkie. Toe een van daardie onskuldige meisies grootoog in hul pad kom staan, moet Helena “tog na die kleur kyk, waarin die branders speel”. Om die dood kan Helena die ooreenkoms nie raaksien nie. Dalk was hierdie een ’n ou kys wat hom afgesê het en teenoor wie hy nou afwys.
Die meisie vind Volleminkie ’n prettige naam, iets wat deur die loop van die aand meermale spottend genoem word. “Waarmee sal jy nog vorendag kom, Christiaan?”
Helena verveel haar op die ou end. Sy het begin dans toe sy tien, twaalf jaar oud was, en vind volkspele sieldodend. Sy sal Chris eerder wil leer om behoorlik te wals as om al in die rondte te stap en te hop. Maar veral is daar die meisie met die oë, met wie sy definitief nie wil kompeteer nie.
Vir seker sal sy hom voor stok kry. Hy moet nou mooi onthou dat sy nie ’n openbare aardigheid is nie. Hillie Burre laat nie met haar smous nie. Sy is nie sommer iets wat hier aangesleep is nie.
Stokstyf en penorent sit sy langs hom op pad terug huis toe. As hy dan móét weet: haar pa . . . is ’n man van statuur. Dis wat meneer Frost hom noem. Iemand om mee rekening te hou.
Betyds sluk sy die woorde terug om haar nie te vergryp nie, haar gewete nie te verkrag nie. Want eintlik is sy hoog die duiwel in vir haar pa, loop en maak sy al ’n week lank rusie, vandat haar ma geskryf het van “die muishond wat weer in die hoenderhok was”.
Chris, wat niksvermoedend reguit waenhuis toe ry, die motor intrek en afskakel, maar nie aanstaltes maak om uit te klim nie, kry ’n onverdiende afjak toe hy haar na hom toe trek.
“Wat is dit nou?”
Sy wens sy kan hom ’n eenvoudige antwoord gee, maar huismoles is iets wat Chris nie sal verstaan nie. Dis iets waarvan hy waarskynlik nog nooit gehoor het nie, waaroor hy sal lag omdat dit so onbenullig klink.
Die afgelope ligmaan het saamgeval met die Van Riebeeckfees in die Kaap, wat byna ongemerk op Grenspan verbygegaan het asof die Vrystaat nie deel is van die volksplanting nie. Maar waaroor daar volledig in Die Burger berig is, en foto’s geplaas is van die skaalmodel van die Drommedaris wat in Tafelbaai kom vasmeer het. En van die spoggerige sierwa in die optog in die arena wat die jeug van Suid-Afrika uitbeeld. Waaraan Boetie ook deelgeneem het, as verteenwoordiger van Vollemink se skool.
Omdat Cora alleen by die huis was (Jas was af Bobaai toe waar die skuit op die slip moes kom), het sy haar van ant Tiek laat ompraat om hulle uit te vat Kaap toe. Sy veral met die hoop dat sy Boetie sal sien.
Om hom tussen daardie menigte uit te ken, was onmoontlik, en nie wat ant Tiek in gedagte gehad het nie. Haar bene sou dit nie hou nie. Vir haar is dit ’n outing. Hulle gaan boek in by ’n hotel regoor die stasie, waar hulle die middag lekker uitrus en die aand eet en slaap. Word later heel bedrewe met die hyser bestuur en roltrap ry. Daar word van winkel tot winkel gestap, hoede en skoene aangepas en knope gesoek. Grotes om by ant Tiek se ou krop te pas, om ’n plooi of knoeisel aan ’n rok weg te steek.
Stokflou haal hulle die aand die trein terug, en neem van die stasie af die bus Baai toe.
Wat Cora nie geweet het nie, was dat die Boetie-Jas einste Maandagaand weer in die Baai was toe iets in die enjin ontplof het. En daar sit Jas toe twee dae lank by die huis, sonder ’n krummel gaar kos, en moet hy boonop hoor waar die twee vroue oorgeslaap het.
“ ’n Hoerhuis! Weet julle twee ou fools nie van beter nie?”
Cora sê toe maar niks, want sy het reeds geld uit die geldlaaitjie gevat. ’n Mooi lappie materiaal gekry waarvan sy wil hê dat Berta vir Helena ’n baadjietjie vir die winter moet maak. Swart-en-wit geblokte tweed. Sy sluit ’n saampeltjie in.
Dis sulke slae dat Helena vir Jas Burger sê wat sy van hom dink, as hy haar ma g’n plesier gun nie, verwag dat sy moet sit en huis oppas. Ongelukkig is Chris nou in die spervuur sonder dat hy dit weet.
“Het jy nie die aand geniet nie?” dring hy aan.
Sy hou haar met moeite in. “Dit het niks met die aand of enigiets te doen nie. Dis sommer . . . ek wat vol duiwels is! Los my net uit.”
Asof hy daar alles van weet, kyk hy haar skuins aan. “Vrouegeite, ja. Oudokter op Ladybrand het my eendag naaldgesteek. Ek dink vandag nog Pa het my spesiaal daar afgelaai om . . .”
Sy het ’n goeie idee, maar wil nogtans uit sy mond hoor. “Om te wat?”
“Sommer. Ek sal jou anderdag vertel,” skram hy skielik weg.
En asof sy ’n weerbarstige dier is, begin hy aai en paai, streel haar hare, vleg hulle terug in die oorspronklike vlegsel, vryf oor haar skouers. Praat in haar oor totdat sy heeltemal slap word en haar arms om sy nek sit. Hy hou haar so styf vas dat sy vrees haar rok se moue skeur uit.
Hy sê mooi goed in haar ore en sy belowe mooi goed terug. Hy soek met sy mond die sagtheid van haar hals, en knoop die nekdoekie los, streel met sy vingers. Sy voel die hartklop van begeerte tussen hulle, hoe die seun in hom man word. En beweeg weg van hom.
“Nee, wag,” keer sy en skakel die radio aan sodat die laataandmusiek oor hulle vloei.
Hy maak keel skoon. “Helena . . .” fluister hy.
“Chris,” antwoord sy.
Hulle gaan draai op die begin van die wêreld om.
Ounag moet hulle by sy ouers se slaapkamerdeur ingaan wat op die stoep oopmaak. Op hul tone sluip hulle binnetoe.
Stoffel Retief wag Helena by die ontbyttafel in. Fransiena is in die kombuis. Die poetoepap het platgeval, maar die melk is warm.
“Môre, oom. Hoe gaan dit met die tannie?” vra sy liefderik.
“Goed. Sy sal seker later opstaan.”
“Kan ek vir oom gaan tee haal?”
“Dankie, ons het gedrink.”
Die sagte oom Stoffel het iets op die hart. “Helena, hoe laat het julle vannag ingekom?”
“Dit was laterig, oom. Seker so halfdrie.”
“Nader aan vieruur.” Daar sal ’n wekker voor die bed wees.
Sy sluk swaar aan ’n lepel pap. Sy het nie verwag om skotvry te kom nie.
“Waar was julle al die tyd?”
“Ons het sommer in die kar gesit . . . en gesels, oom.” Sy is bly sy hoef nie vir hom te lieg nie. “Ons het niks verkeerds gedoen nie, oom. Net ’n bietjie . . . gesqueeze,” eindig sy met ’n koketterige glimlag.
Wat hom kamma streng laat vra: “Is dít wat julle dit noem?”
“Wat, oom? ’n Paar drukkies is al wat dit was, niks meer nie. Oom kan maar vir Chris vra.”
“Nee, ek wil maar net sê, julle is al twee nog kinders, glad te jonk . . .” kry oom Stoffel sy prekie in. Wat dalk vir hom voorgesê is.
Sy laat sak haar wimpers. “Ja, oom.”
Op dié manier moet sy die spit alleen afbyt.
Sy hoor Chris met die melkers by die stalle in hul eie taal praat. Vlotter as Engels, het hy aan haar erken. Alleenkind op die werf met slegs die swart kinders as speelmaats. Maak ’n vlot van palmiet, swem in die dam. Haal eiers uit die nessies wat in die wilgerbome swaai. Blaas die dooier uit, laat dit droog word en ryg die doppies in. Hang dit onder die veranda totdat daar ’n wind opkom en dit wegwaai.
Soortgelyk aan die seekastaiings wat op die strand uitspoel, het sy gedink, die dorinkies reeds afgeskuur en die doppe liggroen verbleik. In stringetjies van klein tot groot wieg hulle in die suidewind aan die tak van die skewe ou manatok.
Teen teetyd kom daar kuiergaste. Gelukkig voel tant Nelie beter en kan sy die Strausse van die buurplaas ontvang en geselskap hou. Helena het hulle nog nie ontmoet nie, hoewel sy die wit opstal in die verte tussen ’n paar bome opgemerk het. Die man is in sy middeljare, was ’n wewenaar, weer getroud met ’n jonger vrou, dit weet sy.
Erna Strauss het ligte hare en helderblou oë en lyk stralend gelukkig. Hulle het ’n baba van ses maande. Wat seker nog drink, te oordeel na die vrou se vol borste onder ’n duur bloese van roomwit sy.
Borste wat die man snags met sy hande omkelk, dink Helena. Sy herleef weer die gevoel van die vorige nag toe Chris se hand op die gladde materiaal van haar rok getalm het, toe hy hom met moeite kon losmaak . . .
Tant Nelie stuur haar om te vra dat Fransiena tee maak.
“Ons begin maar nou eers weer uitgaan, noudat die outjie meer gereelde ure het,” sê Dawie Strauss toe Helena terugkom met die skinkbord. “Ons het haar vanoggend by Erna se suster gelaat. Elsie sal ’n rukkie by ons bly.”
Erna laat haar man meestal praat. Sy lyk ’n oomblik besorg. “My suster kry nog swaar ná haar man se skielike dood. Die kleintjie is vir haar ’n groot troos.” Sy oorhandig Dawie se tee, waarin sy melk en suiker gegooi het. Sy self skakel die soetigheid uit totdat sy haar figuur terug het.
Helena voel aan sy word deurgekyk, geweeg. Die jonge Chris se meisie, Helena Burger. Wat by Felix in ontvangs werk. Hulle kon haar daar gesien het, toe hulle die baba gaan weeg het.
Nee, in so ’n geval sou Felix hulle sommer direk van die huis af toegelaat het, die baba ondersoek en die kaart ingevul het sonder dat sy hulle ontmoet het. Sy onthou nou dat sy die rekening gepos het.
Sy maak haar klaar vir die inkwisisie wat moet volg, nadat almal gehelp is. Toe dit blyk dat sy nie van die Burgers van Hobhuis is nie, wil hulle weet waar sy vandaan kom.
“Uit die Kaap,” antwoord sy ewe inskiklik.
Terselfdertyd klim ’n wilde gedagte haar op. Wat sal hulle dink as sy blatant uitblaker: Ek kom van Volleminkbaai af, my pa is van die rooi Burres. As ek sy spoor moet vat, loop hy dood in die brakleegtes van die Bêrerivier. My ouma was ’n Deen; Nimb was haar van. My oupa Burger . . .
Sal sy dit oor haar hart kry om te sê dat haar pa se pa hulle kleintyd net so gelos en weggeraak het? Dat sy ma, haar Deense ouma, haarself aan ’n boer verhuur en op sy soutpanne gewerk het? Kaalvoet. Sodat sy later nie meer voete gehad het nie, eerder kloue . . . opgevreet deur die sout.
Jas gaan groet as hy in die Bobaai oplê, het Cora haar eenmaal uitgelaat. Betaal glo iemand om na sy ma te kyk. Hulle het toe al opgehou vra wanneer hulle weer ’n slag by Ouma kan gaan kuier. Op Spreeuwal, langs die rivier.
Haar pa praat mos nie, behalwe wanneer hy vloek: “Here got, Heuleuna, ek gjee jou sommer ’n bleddie klap. Wil jy tot op die laaste nog ’n siek ou mens se derms loop sit en uitrye? Skoert!”
Met ouma Lina se dood ’n paar jaar gelede het Jas ’n kar gehuur om hom begrafnis toe te vat.
Sy maak ’n skouergebaar. “My grootouers is al oorlede.”
“Helena,” roep Chris van die systoep af waar hy hom met die hond vermaak, “kom kyk hier!”
Sy maak haar los van die grootmensgeselskap. Hy sit op die groengeverfde wakis van sy oupa waarin daar nog ’n gevlegte sweep en ’n slypsteen en ’n kruithoring is. Wat eendag na sy seun, Harm de Wet, moet gaan. Die hond het hom omtrent in ’n syfer agt geknoop om sy eie stert te byt en Chris lag geamuseerd.
Die middag stap hulle in die rigting van die spruit, oor ’n oop stuk grond waar tef geplant was. Hy slaan sy arm om haar lyf en trek haar styf teen hom aan, sodat hul heupe en dye in ritme met mekaar kom. Sy kyk op na hom, hul oë hou mekaar vas.
Onder een van die groot wilgerbome langs die spruit gaan sit hulle. Toe hy oorbuk en haar soen dat haar hele binneste aan die lewe gaan van begeerte, klap die hond sy stert. Hulle spring op.
’n Skielike windvlaag werk rooi stof rondom hulle op; wolke pak saam. “Hier kom ’n weer aan,” waarsku hy. “Ek hoop nie jy’s bang nie.”
“Nie juis nie. Ek het dit darem teen hierdie tyd gewoond geraak. Buitendien kry ons ook af en toe donderweer. Hael ook. Maar dit smelt dadelik, nog voordat ’n mens daaraan kan raak.”
Wat nog te sê ’n handvol kan bymekaarmaak en in jou mond stop, of jou gesig daarmee was. Aangedryf deur die wind wat skielik met harde rukke kom, las die donker wolke aan. Hulle haal die huis net betyds. Dit rammel en die aarde skud. Kettings vuur volg mekaar op, slaan vlak by die huis neer.
Die storm tref die werf, waaroor ’n vaalswart kombers toevou. Dis dadelik donker en ysig koud. “Hael,” sê Stoffel Retief.
Terselfdertyd roep tant Nelie: “Die luike, Chris!”
Helena hardloop agterna. “Kan ek help?”
Maar oom Stoffel het reeds sy hande om sy mond gevou. Die groot indoena basuin bevele aan die werkers uit, wat van oraloor te voorskyn kom.
“Gaan binnetoe!” roep Chris toe ’n reeks donderslae en blitse mekaar vinnig opvolg, sodat sy wip soos sy skrik. En die natrillings steeds voel toe sy reeds weer veilig in die huis is.
Die wind het haar rok en hare geskep en die volgende vlaag du haar by die oop gangdeur in, tot in die voorhuis waar tant Nelie in ’n stoel neergesak het, haar palms teen haar slape gedruk. Die gekletter van hael op die sinkdak doof alle ander geluide uit. Instinktief steek Helena die lamp op die buffet aan en lui die koperklokkie, wat sekerlik nie ’n effek kan hê nie.
Nogtans kom Fransiena se voetstappe gangaf, haar oë en die wit van haar voorskoot twee ligpunte in die donker. Sy skink ’n glas water, maak gerusstellende klikgeluidjies. Gaan haal ’n waslappie waarmee sy tant Nelie se voorkop afvee.
Helena het haar katswink geskrik. As dit nie vir Fransiena was nie, weet sy nie. Sy het al gesien dat ant Tiek iemand in ’n kardoessak laat asemhaal. Hiperventileer, noem sy dit as ’n mens so ontsteld raak.
“Kan ek vir tannie ’n koppie tee maak?” Tee het nou al vir haar ’n reddingsgordel geword, die laaste strooi waarna sy gryp as sy raadop is.
Dit werk.
“Ja, asseblief. En ’n stukkie beskuit daarby. Daar sal kookwater op die Aga wees, laat Fransiena jou help. En dan kom sit jy hier by my.” Tant Nelie wys na die leunstoel langs haar.
Die haelbui is gou verby, maar die reën stort steeds neer.
“Ek hoop tog nie daar kom skade by die mielies nie,” klaag tant Nelie. “Dis altyd so ’n bekommernis, die hael en die oes op die land . . .”
Helena sit met gevoude hande. Dis natuurlik dat tant Nelie bekommerd sal wees. Sy is immers die administrateur van die boerdery, die een wat moet kophou, sorg dat daar reg gereken word.
Toe Helena die mans op die stoep hoor, gaan maak sy koffie. Sy dek ’n skinkbord met beskuit en die vrugtekoek waarvan daar nog ’n stuk oor is. Dalk vergete sedert sy dit saamgebring het . . . hoe lank gelede.
“Het Anneke dit gemaak?” vra tant Nelie toe sy nog ’n stukkie neem.
“My ma het dit voor Kersfees vir my gestuur, tannie.”
“En dis nie om sommerso op te eet nie. Sy het dit vir mý gebring.” Chris maak asof hy die bord wil inpalm.
“Chris!” roep sy ma verontwaardig, maar lag tog. “Jou ma is ’n goeie bakster, Helena. Sy maak seker jou rokkies ook?”
“Nie eintlik nie, tannie. Daar is ’n kleremaakster op Vollemink.” Cora slaan wel haar eie oggendrokke aanmekaar en die ou voorskote vir die growwe werk, maar bederf deur Vilna Frost het Helena vol fiemies geraak en laat werk hulle van ant Berta Nagel.
Die wolke, uitgereën en byna wit, word omlyn deur die gloed van die son wat nou in die weste afsak. Oral aan drade en takke is swaar, blink druppels ingeryg, en stroompies water loop teen die skuinste af om in holtes op te dam. Die grond ruik na vars klei en die mielies loop in grasgroen rye oor die bulte.
“Jou ma was angstig,” vertel Helena toe sy en Chris later in ’n smal wielspoorpad tussen die lande loop. “Almal bid vir reën op die regte tyd, en hou dan asem op vir hael.”
Haar ongeoefende oog merk nie regtig skade nie. “Alles is darem seker nie verlore nie.”
“Nee wat, die weer trek in stroke. En dit wat wel platgeslaan is, kan altyd afgesny en vir kuilvoer gebruik word. Vir die beeste. ’n Mens plant mos nie net vir jouself nie, maar eers vir die voëls en die kommandowurm en die hael.”
Planttyd, vertel hy, sit hulle dag en nag op die trekkers, die ligte in die donker soos groot, blink oë wat heen en weer oor die lande kruip. “Jy is so moeg en vaak dat jy dit later nie meer weet nie, jy gaan maar net aan en aan. En net voor jy dink nou kan jy nie meer nie, is dit verby. Dan slaap jy ’n dag en nag om. En eet ’n bees op. Dan moet jy hoor hoe spog die manne onder mekaar.”
Met mielies en koring en lusern en tef en korog vir die diere . . . “Wat van ’n blom vir julleself?” lok sy hom uit.
Nie dat sy juis kan praat nie, sy wat agter ’n skuins, mankoliekige morning glory-heining grootgeword het, tussen skeelpietpolle en hondepisbossies. En sestien was voor sy ’n japonikaboom gesien het.
“My ma het darem ’n paar rose op Dewet gehad. Weet jy dalk iets van snoei en pesbestryding? Dan kan jy ’n kwekery begin en ek los jou daar in die ou huis tussen die spinnekoppe en vlermuise. Ek bring een maal ’n week vir jou melk en botter en mieliemeel . . .”
“. . . en ek boer met groente. Ek laat Simon die grond omspit en ons plant ertjies en boontjies en skorsies en kool . . .”
“Om wat daarmee te maak?” keer hy die woordevloed.
“Om te verkoop. Jy kan die hele Grenspan voorsien van vars produkte, en genoeg vir julle én jul werkers oorhou. En eet.” Sy voel haar mond water vir vars groente.
“Volleminkie!” lag hy haar entoesiasme weg. “Jy weet nie hoe swaar ek in die koshuis gekry het nie. Tamaties en beet kan nog gaan, maar al groente wat ons eet, is rys. En Fransiena maak marog gaar, dis amper soos spinasie. Maar dankie.”
Hoe is dit moontlik? Selfs in daardie onvrugbare grond, half aangemaak met seesand, sien haar ma kans vir tuinmaak, móét Cora plant. Lei sy boontjies op teen ’n stellasietjie van palmietstokke, lê patatranke in. As die erdvark of die molle dit nie kom uitdol nie, kry sy die wind op ’n ander manier van voor.
“Dis nie jou grond nie,” brom Jas Burre, en nie lank nie dan is hulle aanmekaar – oor die erfplaas wat op ’n ondergrondse meer dryf, waaruit hulle vandag ’n fortuin kon gemaak het, noudat die boere aartappels met spilpunte besproei. Wat Jas vir ’n appel en ’n ei verkwansel het.
“Vir ’n skuit waarmee ek my lewe maak. Ek dol nie uintjies nie. As jy só voel . . .” Dit skeel niks of hy pluk ’n handvol note uit sy agtersak. “Dè, loop koop terug jou kamstige grond van daardie skelmagtige swaer-ding van jou. Vat pad!”
Daar is dinge waaraan ’n mens liefs nie moet karring nie.