Читать книгу Hoogty - E. Kotze - Страница 8
Hoofstuk 1
ОглавлениеDESEMBER 1951
Die treinreis deur die Karoo na die Vrystaat was ongoddelik warm. Tot Helena se ontsteltenis begin haar neus bloei, iets wat nogal van tyd tot tyd in die Bolandse somers gebeur het. Sodat matrone ’n yslike bos sleutels agter haar nek moes insteek, en eenmaal ’n beker yskoue water in haar gesig uitgeskiet het. Op Bloemfontein, waar sy moes oorstap, het ’n vriendelike kruier haar op die nippertjie in die wagkamer kom roep en op die trein gehelp.
Haar gesig is so vaal soos ’n uitgebleikte seespons toe sy haar bestemming bereik, en toe sy op die ordinêre stasietjie ’n flou glimlaggie uitforseer, voel sy ’n koorsblaar in die hoek van haar mond brand.
Sy word ontmoet deur ’n hoogswanger vrou.
“Jy weet nie hoe betyds jy is nie, juffrou Burger,” groet Anneke Venter toe sy die groen stasiewa in rat sit en wegtrek. “Anders sou jy Felix dalk in die spreekkamer moes help met die bevalling.”
“Bevalling?” Helena klink vir haarself soos die papegaai op die hotelstoep wat die vloekende drinkers na-aap. “Maar hoe kan ek? Ek . . . ek weet niks van sulke dinge af nie. Dis ’n misverstand, ek’s nie opgelei as . . . verpleegster nie.”
Paniek laat haar stotter, en haar angs vererger toe sy agterkom hoe ernstig die situasie werklik is. Die Venters sit op hete kole, dis hul tweede baba dié. Die eerste het hulle amper verloor toe die plasenta losgekom en die kind byna weens ’n suurstoftekort versmoor het.
“Ons is nou voorbereid, en as die eerste waarskuwing daar is . . .” Anneke byt op haar onderlip toe sy in ’n grondstraat in ’n woonbuurt bokant die stasie opdraai en in die oprit stilhou, “. . . moet ons so gou as moontlik by die hospitaal kom.”
Dokter Venter, ’n valerige man met ’n snor en hare wat al min word, wag hulle in. Sy ligblou oë is moeg. Amper soos ’n seeman s’n wat ’n week lank sonder slaap moes klaarkom, dink Helena. Op sy arm hou hy ’n dogtertjie van ongeveer agtien maande.
Asof hy ’n robuuste jong meisie met fris arms en bloesende wange verwag het in plaas van die effe senuweeagtige, witgebloeide rooikop, kyk hy ondersoekend na Helena. Steek dan sy hand uit. “Juffou Burger!” Maar dis na Anneke dat hy besorgd kyk. “Alles wel, ounooi?”
’n Opgeskote oppasstertjie, Siena, kom neem die dogtertjie by hom, en dokter Felix dra self Helena se tasse na haar kamer aan die end van ’n kort gangetjie. Die kamer het ’n eie badkamer.
“Dis waar jy slaap, as jy nie beswaar het om in te woon nie. Losies is maar ’n kwessie, die hotel is propvol: personeel van die landboukoöperasie en bank en poskantoor en handelshuis,” noem hy op. “Ons het sommer aangeneem . . .”
Vir Helena lyk dit piekfyn, en sy glimlag verlig teenoor die vriendelike swart vrou, Mieta, wat ’n skinkbord met tee sitkamer toe bring. Net om daarna baie jonk en onbevoeg te voel toe Felix onder die teedrinkery opmerk: “Ons is baie bly om op sulke kort kennisgewing iemand te kon kry. Jy help ons uit ’n penarie, nie net in die spreekkamer nie, waar Anneke tot vanoggend nog aan diens was. Ons sou tydelik iemand in haar plek gekry het, ’n ouerige dame, wat toe op die nippertjie kop uitgetrek het. Maar sy het jou seker vertel van die baba.”
Anneke moes na regte al in die hospitaal gewees het, as dit nie vir Koekoe was nie. “Ons maak onder uiterste omstandighede kind groot, in ’n boks in die spreekkamer as dit moet. Ons het beplan om haar desnoods saam te neem as dit in die dag gebeur, hoewel dit moeilik sal wees as my vrou begin kraam op pad. In die nag sal ek dit nie waag nie.”
Hy druk ’n soentjie op die kleintjie se hare. “Ek weet dis baie gevra, maar ons sal dit waardeer as jy na haar sal omsien as dit so moet gebeur. Raak dit vir jou te veel, kan jy altyd vir Mieta roep, of vir Siena. Hulle weet alles.”
Die geneesheer wat blykbaar alles veil het vir sy medemens, wat enige tyd van die dag of nag tot hul diens is, het alle vertroue in sy medemens. Ook in Helena, wat net kan knik.
“Jy sal seker die steenkoolstof wil afspoel?” Anneke het tot dusver haar man die praatwerk laat doen. Sy sit ongemaklik agteroor met haar hande op haar buik, ’n aantreklike, donker vrou met kort swart hare en diep kringe onder haar oë, en ’n vermoeienis wat Helena dadelik van haar eie laat vergeet. “Mieta, ons moet maar vroeg eet en in die bed kom.” Sy hou haar hand uit dat Felix haar ophelp uit die stoel en saam kamer toe stap.
Kort daarna is daar ’n geskarrel van kaal voete in die gang soos daar badwater ingedra word. “In dié opsig is ons nog primitief en word daar ’n donkie gestook,” maak Felix verskoning.
Helena wonder wat hy daarvan sal dink as hy moet hoor hulle het glad nie ’n badkamer tuis nie, dat die sinkbad tot voor die stoof in die kombuis gedra word. Op die riettuin voor die agterdeur uitgekeer en in die mik van die manatok opgehang word.
Anneke bly in die kamer, Koekoe kom in haar stoeltjie vir aandete. Die oppasstertjie voer haar. “Laat my probeer,” bied Helena aan. Net om oor die ergste vreemdheid te kom.
Felix herken dit as angstigheid. “Sy is maklik,” stel hy Helena gerus.
Daar is dan ook geen teken van onwennigheid nie, die kleintjie eet haar groente en melkpoeding op. Maar asof sy iets aanvoel, steek sy haar arms na haar pa uit toe dit slaaptyd word.
Helena sou graag ’n ent wou gaan stap, sommer kaalvoet in die grondstraat wat nog klam is van onlangse reën. Dis ’n somerreënstreek van donder en blitse, iets wat nie so gereeld aan die Weskus voorkom nie. Slegs by uitsondering is daar ’n bedompigheid in die lug, was donker cumuluswolke aan en skuur met ’n gerammel teen mekaar as God met die sondaars van Vollemink praat. Dan slaan blitse soos vuurslange neer en laat mense die spieëls met ’n laken toegooi.
In haar verbeelding het sy haar die Vrystaat voorgestel as ’n gelyk stuk aarde, stowwerig en plat en eentonig. So het dit ook plek-plek langs die treinspoor gelyk, veral in die suidelike gedeelte, maar Grenspan is tussen groen landerye geleë, met bergreekse in die verte. Vlakby verrys ’n rotsagtige driehoek met ’n plato-agtige kruin, persblou aan die skaduweekant, en met goud bestrook waar die ondergaande son dit vang.
Later verskyn ’n stukkie maan agter die bloekombome. Dis nog nie vol nie. Wanneer die volmaan oor Vollemink hang, ’n goue bal wat sy spooklig oor die see en oor die wit jobbels en die silwer strand laat val, speel die jongens en hul meisies in die duine. Hulle steek ’n rietbos aan die brand, ’n staanhaan waarvan die vonkspatsels soos sterre in die lug op reën. Ligmaan, noem hulle dit, wanneer die skuite oplê.
’n Ligte rilling trek deur haar. Wat is dit? ’n Voorbode? Is sy nou op haar eerste aand op Grenspan bygelowig soos die vissers wat ’n blik vol klippe skud om die wind te verjaag, en glo dis ongelukkig om ’n vrou aan boord te hê? Het die maan iets daarmee te doen?
Sy spoel haar voete onder die kraan af en vee hulle skoon aan die mat. Die ganglig brand, maar die huis is stil. Soetjies stap sy kamer toe, tel ’n verflenterde koerant van ’n stoel af op. Vreemde nuus. Vreemde uitleg. Vreemde lettertipe. Niks waarmee sy verband hou nie.
Dit voel asof sy skaars haar lig afgeskakel het toe daar ’n beroering iewers plaasvind. Sy hoor stemme, ’n kasdeur wat oopgaan. Sy wag vir die klop aan haar deur.
“Slaap jy? Ons ry nou.” Dis Felix.
So gou? Haar hart klop benoud. In haar kamerjas en pantoffels volg sy hom.
Anneke se hare is natgesweet. Sy glimlag dapper. Felix, met haar tassie in die een hand, neem haar aan die arm.
“Moenie jou bekommer nie,” fluister hy vir Helena, “kom kruip sommer hier in.” In hulle deurmekaargeslaapte bed. “As sy wakker word, steek jy net die fopspeen in haar mond. Moenie lig maak nie.”
Dan klik die voordeur toe en trek die motor weg.
Koekoe se traliebedjie is styf teen haar ouers se bed geskuif. Vir Helena voel dit asof sy uit die een droom in ’n ander gestap het, ’n droom van onopgemaakte dubbelbeddens: van J.H. Zietsman na die Venters van Grenspan. Sal sy maar na haar eie kamer gaan? Hoop die dokter sal terug wees voordat Koekoe dalk wakker word? Sy bedink haar en klim lugtig tussen die lakens in.
Van babas weet sy niks. Haar ma het vir Boetie aan haar bors grootgemaak, in haar eie bed. Dis toe dat haar pa buitekamer toe geskuif het, onthou sy. Sy en Boetie het aanvaar dat dit so moet wees. Ma en kinders eenkant, pa apart. Aan koshuiskinders moes sy rekenskap gee van hoe hulle daar gekom het. By implikasie: het jou pa oorgeloop? Die verleentheid en vernedering, woede by gebrek aan verweer.
Sy maak haar oë toe en luister na die asemhaling langs haar, hoe Koekoe aan die leë bottel suig. Voel die bed onder haar wieg, ritmies soos die geskommel van ’n trein. Treinsiek, noem haar ma dit. Walseesiek, sê die seemanne daarvoor.
Sy wil net wegraak toe haar neus kriewel, sy ’n nies voel aankom. Sy probeer onderdruk dit met haar wysvinger styf op haar bolip, voel die nattigheid en wonder of dit weer begin bloei het. Om nie die kussing te besmeer nie, draai sy op haar rug. Voel die sout straaltjie in haar keel afloop. Met haar sakdoek voor haar neus gly sy versigtig van die bed af tot haar tone die vloer raak, soek in die vreemde huis na die badkamer.
Dit was ’n vals alarm. Só maak ’n verbeelding.
Sy piepie, spoel haar hande af en spat koue water oor haar gesig. Nou terug. Sy kom agter hoe warm dit is. Die kamervenster is dig toe.
Sy vou die kombers van haar af en voel aan Koekoe, wat roer en steun. Waar is die fopspeen? Onder die kussing. Gespanne wag sy, wens amper Koekoe wil wakker word sodat sy die fopspeen kan gee en verder slaap.
Hene, Hillie, hoor sy haar ma van die debakel sê, kan hulle dan nie maar uit wans uit die meidjie by die kind in die kooi laat slaap het nie? Vir jou kan ’n mens vir niks gebruik in die nag nie. Onthou jy nog die slag toe ek jou gestuur het om die pot te gaan haal toe Boetie so opgegooi het? Toe kom jy met die wekker aan, toetentaal deur die wind.
Sy sluimer net in toe Koekoe knies. Helena druk die tiet in haar mond. Die kleintjie skop haar kombersie af. Spoeg die fopspeen uit. Kom orent en klouter oor die afgesakte tralie na waar Helena lê. “Mamma?”
Sy voel op die kussing, na Helena se gesig en haar nek, en sy voel die hare raak, die blessitse wilde boskasie. “Mamma!” Sy gaan aan die huil, en hoe Helena ook al sus en paai, laat sy haar nie troos nie.
Buite raad staan Helena later met die kind op die mat voor die bed, soos sy haar ma so dikwels met Boetie sien doen het as hy oorpyn of koliek het. Bietjie melk in die bottel gooi. Met die kind op die arm loop sy kombuis toe, stort melk op die vloer, sukkel om die tiet op te kry. Sy wip Koekoe op haar arm. Koekoe beur weg van haar af. Wat as die kind stuipe kry? Lou mosterdbad, flits dit deur haar kop.
“Hy sal nie koue melk drink nie.”
“O genade tog!” Helena skrik haar morsdood vir Siena sonder haar voorskoot en wit keppie.
Sy gee die kleintjie vir die oppasster. Siena sus en maak geluidjies. “Sjapa, sjapa,” klink dit.
Daar staan ’n kruiwa op die stoep met ’n kombers en babakussinkie. Helena kry die indruk Siena wil Koekoe toemaak en al om die huis stoot, al om die huis, tot sy slaap. Dis glo wat sy bedags doen. Maar tog nie in die middel van die nag nie. Wat moet die dokter daarvan dink?
Dan maar weer binnetoe. Siena druk die kind se kop teen haar skouer en sus. Sy klik met haar tong. Koekoe kyk op en lag. Sy vat die fopspeen. Haar oë val toe.
Sy slaap, maar net totdat hulle haar neerlê, dan fladder die oë weer oop.
Einde ten laaste sit Helena en Siena albei op die bed, Siena met die kleintjie teen haar skouer, gestut teen ’n stapel kussings. Die kleintjie sug en snik en slaap. Helena trek die komberse oor hulle. Dit word stil, behalwe vir die nênetjie se kort snorkgeluidjies.
Dis hoe Felix hulle kom kry toe hy ligdag by die huis instrompel.
“Pappa!” Koekoe maak haar los uit haar oppasster se arms en vlieg na haar pa toe.
“Ewê!” Siena vlieg vervaard op.
“Dokter!” Helena se hare staan soos ’n bos besemriet in alle rigtings.
“Pa se pop het nou ’n sussie. Dis weer ’n dogtertjie met donker hare. Sy is met ’n keisersnee verlos. Dit gaan goed met ma en dogter. Hoe het dit hier gegaan?”
“Darem nie te wild nie.” Helena se hande gaan selfbewus na haar hare. “Van iets aan my het sy nie gehou nie. Ek het gedink sy kan maar by my slaap, maar toe ruik sy my . . .” Want dis wat dit was. “En toe sy aan my gesig vat . . .”
“Ja, ’n kleintjie is baie soos ’n skaaplam. En elke ma het haar eie reuk. Gaan maak vir ons koffie en pap, my nêne.”
Toe Siena in die kombuis begin oorlog maak met die potte en koppies, kyk dokter Felix kopskuddend na die bed.
“Daar is skoon linne in die gangkas, Helena. Sal jy die bed oortrek terwyl ek bad, asseblief?”