Читать книгу Hoogty - E. Kotze - Страница 9
Hoofstuk 2
ОглавлениеFelix Venter gee Helena die Sondagmiddag ’n kitskursus in verband met die roetine in die spreekkamer: telefoon beantwoord, afsprake maak, lêers uithaal en die pasiënte deurstuur na die ondersoekkamer. Dit klink net so eenvoudig soos dié van meneer Zietsman in die Paarl, hoewel die omstandighede hemelsbreed verskil.
’n Ruk lank voel sy nog groen en onbeholpe. Dom, om die minste te sê. Wonder sy of sy ooit van enige waarde is. Felix is soggens vroeg uit om pasiënte te besoek, waarna hy by die kliniek anderkant die stasie diens doen, en dan by die spreekkamer indraf.
Moet liewer niks doen nie, leer sy gou. As iemand met ’n bloederige wond inkom, dep hoogstens met ’n stuk watte, maar laat die res aan Felix oor. Sy kry te doen met mense wat vol ipekonders is, wat nie ’n dokter nodig het nie, maar hul eie kwale diagnoseer, net ’n voorskrif soek, pille wil hê, verwag dat sy dit oor die toonbank moet uitdeel!
Sy herken kinders met diarree. Nie gevaarlik nie, dit klaar binne ’n dag of drie vanself op, maar dis aansteeklik. Die kieme versprei maklik onder die kleintjies wat kaalstert tussen die strooise rondhardloop. Daarvoor skryf Felix ’n sulfamiddel voor. In uiterste gevalle antibiotika. Hulle resepteer self; die naaste apteek is op die dorp twintig myl verder.
Helena beskou hierdie terloopse inligting as ’n soort opleiding. Interessant, sodat sy wonder of sy nie ’n verpleegster moes geword het nie. Maar gril dan as sy moet toekyk as ’n snyplek steke moet kry. Of as sy net dink aan die geel etter waarmee sommige kinders se oë toegelak is, die drilsel wat uit hul neuse oor hul bolippe stroom.
Behalwe pasiënte is daar mense wat bloot uit nuuskierigheid spreekkamer toe kom om die nuwe meisie te sien met die rooi kop, geel kop, pienk kop, ’n bos hare wat maar nie hul lê wil kry nie, behalwe as sy dit vleg. Wat nie hul stemme oor die telefoon herken nie. Nie weet wie hulle is of hul adres ken nie. Al doen sy ook haar bes.
Smiddae ná-ure trek sy plat skoene aan en verken te voet die dorpie, waarin ’n mens nie juis kan verdwaal nie. Die hoofstraat loop dwarsdeur die dorp, met aan die linkerkant die bank en winkels en poskantoor. Die hotel en enigste kafee en boekwinkel is agter die stasie geleë. Onderkant die spoorlyn begin die industriële gebied: landboukoöperasie, garages, kaasmakery, ’n varkplaas en ’n stuk groen weiding vir beeste.
Iewers hoor sy balle klap op ’n tennisbaan; sien sy die pale van ’n rugbyveld en netbalbaan; ’n boeresaal. Selfs ’n krieketveld waar spelers in spierwit monderings op ’n Sondagmôre uitstap, hoofsaaklik lede van die Engelse gemeenskap. ’n Groot aantal van die boere is Engelssprekend. Die dorpies in die omgewing het ook Engelse name. Sy bevind haar in die middel van ’n Engelse kolonie uit die vorige eeu.
Felix het nie bra tyd vir ’n spel wat ’n dag lank aanhou nie, en speel ’n vinnige stel tennis. “Wat van jou, Helena?”
“Ek is nie juis sportief aangelê nie, ek kan nie ’n bal raak vang of slaan nie,” moet sy erken toe hy vra of sy nie by die tennisklub wil aansluit nie. Sy kon ook nooit netbal of hokkie baasraak nie. “Maar ek swem en ry fiets en stap.” Heeltemal onaktief is sy beslis nie. “Ek kan roei.”
“En dans?” raai Anneke. Sy was binne ’n week terug by die huis, waar sy tevrede soos ’n kat met haar twee kinders in die bed lê en spin. Maar sy brand reeds weer om ’n raket te swaai.
“Op ’n manier,” erken Helena beskeie.
Die vorige Desembermaand op Vollemink het sy ’n paar nuwe wit sandaaltjies se sole snuif gedans. Dis die tyd van die jaar dat daar feitlik elke aand ’n opskop op die stranddorp is. Die kêrels uit die noordweste wat kom koelte soek, dans lekker. En die hele Baai, oud en jonk, is saans onder in die saal.
Die tannies, hul arms onder hul borste gevou, voel self lus vir ’n wals en die quickstep en polka. Hulle sal selfs probeer jive, maar helaas. Wanneer die ooms later stoutmoedig raak nadat hulle ’n paar kappe buite tussen die karre gemaak het, kry hulle ’n muurblom beet om haar te wys hoe dit gedoen moet word. Dis maar min of meer hoe hulle almal geleer het, by die ou manne.
In die Oos-Vrystaat reën dit Desembermaand. ’n Wind staan op en blitse sigsag blink agter die wolke. Die weer dreun. Met ’n gerammel kom dit nader. Vasgenael staan Helena by die groot venster van die sitkamer en luister na die geknal van donder, waarna die wind die reën voor hom uitdryf sodat dit in skuins vlae neergiet. Stroompies vorm in die straat, loop teen die skuinste af. Droog byna dadelik weg. Ongelooflik, maar binne ’n uur is alles weer oor.
“Voel julle nie lus om saam Harmstat toe te ry nie?” stel Felix een middag ná so ’n reënbui voor toe dit na nat aarde ruik. “Ons gaan sê dag en drink koffie en wys sommer vir oom Stoffel en tant Nelie ons jongste verskalfie.”
Anneke verwelkom die voorstel en hulle is gou gereed om te ry.
Die hekpale is van opgemesselde sandsteen, merk Helena met hul aankoms. Daarop is die naam Harmstat uitgekap. Ook die buitegeboue is van gekapte sandsteen: ’n skuur en waenhuis, melkstalle, varkhokke, die lae muur van ’n skaapkraal. Die huis is van dieselfde klip, groot en gasvry, met ’n wye stoep aan die ooste- en suidekant. Onverwoesbaar, tot in ewigheid, dink Helena. Die rooi dak is van ver af sigbaar; dit verskaf kleur aan die werf, wat maar kalerig is, behalwe vir ’n paar bloekoms.
’n Hond kom hulle tegemoet, ’n kwispelende basterrifrug, gevolg deur Stoffel en Nelie Retief. Twee hartlike middeljarige mense, som Helena hulle op.
Nelie neem dadelik die babatjie by Anneke. Sy koer en kweel so ooglopend dat haar man moet opmerk: “Die liewe Vader bewaar die eerste kleinkind wat op Harmstat aankom. Nelie smag nou nog na die dogter wat sy nooit self gehad het nie. Al het ek haar twee gegee.”
“En ’n huis vol kleinkinders. Nee, ou man, ek is tevrede,” en glimlaggend gee sy die baba terug aan Anneke. “Ek is verby my jare, en die bloeddruk . . .”
Onderwyl hulle huis toe stap, wil Felix weet hoe dit met die bloeddruk gesteld is, en die dikderm. Hy het pilletjies gebring. Oom Stoffel vryf oor sy maag.
“Let maar op die dieet, nie te veel sout nie, en bly weg van die lekker vet ribbetjies,” praat Felix Venter teen die wind.
Helena word voorgestel. Waarskynlik weet hulle van haar; nuus op die platteland trek gou en ver, en sy sal deurgekyk word.
“En van waar is sy?” Stoffel Retief skud hand.
“Onder uit die Kaap, meneer Retief.”
Oom Stoffel, soos Felix en Anneke hom noem, het ’n sagte gesig, met iets behoedsaams in sy oë. Nie soseer agterdog nie as ’n natuurlike waaksaamheid.
“O, ’n bedrieglike plek, dié Kaap,” sê hy. “Ons het mos een jaar in die somer daar gaan vakansie hou. Skaars vyf minute van die strand, het die verhuuragent ons verseker, en waar eindig ons? Goodwood. Weet jy waar dit is? Myle van die see, en so ’n verkeer. En die wind waai! Ek sê vir Nelie: Kom ons pak op, ons het mos ’n huis.”
Helena voel haar haarwortels prikkel. Al het Stoffel Retief ook geen bybedoelings nie, behoort hy nie te veralgemeen nie, asof sý vir die Kaapse weer verantwoordelik is.
Nietemin glimlag sy maar terug. “Ek ken Goodwood nie, oom.”
Sy was in die stad op kollege; die kollegestudente se uithangplekke was Seepunt en oor die nek Clifton en Kampsbaai toe. Met hul laaste sjieling anchovy toast gaan eet by die Waldorf in St. George-straat op ’n Saterdagoggend, waar hulle kon sit en luister na musiek. Basil Metaxis se orkes en die sanger Maurice Stoller: “Begin the Beguine”, “Bamboo” . . .
“Ai, Stoffel,” kom tant Nelie tussenbeide. “Jy het jou laat ompraat van die Freemantles, en nou pak jy dit op die wind. Wat van al die vars vrugte en die soet muskadel wat ons saamgebring het?”
Sy plaas haar hand op Helena se arm. “Die water was wel effens koud, dis mos nie Durban nie.”
Helena sou later agterkom dat die hele Vrystaat winters optrek na Amanzimtoti.
Stoffel Retief, wat blykbaar besef hy wen nie hierdie rondte nie, nooi sy gaste in. “Ja, wat kuier ons op die stoep? Stap voor, stap voor. Laat hulle vir ons koffie bring.”
Helena sloer en kyk. Grênd het sy ook al gesien, by die Frosts; koper en silwer en glas, matte en skilderye en gordyne; meubels; ’n klavier van rooshout waarop mevrou Frost vir Vilna lesse gee.
Dis ’n klas van sy eie dié: boeredeftigheid. Die sitkamer is effens somber, met swaar meubels en blink vloere, die luike toe agter weggebinde gordyne. Koel in die warm weer. Dit word waarskynlik nie dikwels gebruik nie.
Die eintlike kuierplek is die eetkamer, rondom ’n tafel met sitplek vir ten minste twaalf mense. Stinkhoutstoele. Helena herken die hout; die slagter op Vollemink het ’n kapblok van soliede stinkhout, ’n stomp wat oom Joos so ongeërg gebruik dat dit vreemdelinge verstom laat.
Die buffet, wat omtrent ’n hele muur beslaan, is nie sommer enige ou dresser nie. Donker hout met ’n gewelf versier met laaitjies en rakke waarop outydse porselein uitgestal is wat in klein spieëls weerkaats. Niks oordadig nie, maar fyn en oud. ’n Outydse olielamp met ’n gekartelde pienk skerm hang uit die dak. ’n Tafel met twee gemakstoele en chaise longue, ’n radio en tydskrifte en boeke vul een hoek van die vertrek.
Familiegoed, soortgelyk aan dié in hul eenvoudige voorhuis, wat aan haar ma behoort. ’n Kiaathouttafel en Sandveldse lemoenhoutstoeltjies: ’n lae stoeltjie, handgemaak, met ’n riempiesmat. Seldsaam, het meneer Meyer gesê, so ’n volledige stel, en oor die botterwit hout, glad van baie jare se gebruik, gevryf. Hy sou dit wou koop, maar daar skop Jas toe vas. Die skoolmeestertjie moenie dink hulle is verleë oor sy geld nie. Jas Burre het self een pond tien in die bank!
’n Kaalvoetvrou dra koffie in. Die mans praat oor die weer. Die droogte van die vorige jaar, toe die kommandowurms se knieë deurgekruip was op soek na ’n grasstingel, so het Felix die mense hoor vertel. Ja, dit was kwaai. Die reën kom vanjaar op die regte tyd.
“Die mielies is mooi. September al geplant,” gesels oom Stoffel.
Helena roer suiker in haar koffie met ’n swaar silwerlepel wat teen die kant van die koppie rinkel.
“Chris?” hoor sy Felix vra.
“Hy is al die hele week doenig op Dewet om die koring af te kry. Voor die reën hom vang en dit vrotpootjie kry. Daar is ’n klompie skaap ook en jong tollies. Die man woeker so aan die een kant . . . Dis net dat dit ver is, en ’n onkoste om die implemente oor en weer te karwei. Maar nou ja, met Nelie aan sy kant wen hy. Hy saai die stukkie koring spesiaal vir sy ma.”
Tant Nelie glimlag vergenoeg. Haar hare is agteroor gekam soos dié van ’n man, dit krul in haar nek. “Los maar vir Chris én my lappie koring. Dis my baba, sê ek altyd, al slaan die hael dit partykeer plat.”
Die kinders is aan die kriewel, die babatjie knies. Dis huistoegaantyd. Felix word bedank vir sy moeite om die pille te bring.
“Ons sien julle tog seker weer voor Kersfees, of gaan julle ’n bietjie weg?” vra tant Nelie.
“Nie vanjaar nie. Ons kuier maar so om die huis.” Felix tel vir Koekoe op.
“Chris sal spyt wees hy het julle gemis,” groet oom Stoffel.
Die aangeleentheid rondom Kersfees is blykbaar reeds uitgepraat tussen Anneke en Felix. Op pad terug wonder Helena of sy iets daarmee te doen het dat die Venters nie planne het vir so ’n belangrike tyd nie. Dit lyk nie of die twee kleintjies vir hulle ’n probleem is nie. Anneke borsvoed oral onder ’n doek, en Siena sal seker saamgaan om te help oppas. Dis eerder met háár dat hulle nie raad weet nie.
Hoe laat verstaan sy hulle dat sy nie ’n vyfde wiel aan die wa wil wees nie? Basies is sy gewoond daaraan om binne perke haar eie gang te gaan. Op Vollemink het die meisiekinders saans in ’n groep afgesit kafee toe vir ’n ice-cream soda, of bioskoop toe, of om te gaan dans. Sommer op ’n stuk gladde sement op maat van grammofoonmusiek as dit na hóé lyk.
Die twee jaar in die meisieskool was hulle wel onder streng toesig, maar op kollege het hulle meer vryheid gehad. Sy sal die jolyt mis.
Toe Helena ’n ronde cheddarkasie by die kaasfabriek gaan bestel om huis toe te stuur, en Aliet Gresse wat by versendings werk haar vra of sy nie lus het om die Woensdagaand by hulle op Rose Vale, waar sy woon, te kom kuier nie, willig sy dadelik in. Dit word gereël dat die ouens van die hotel haar sal kom oplaai.
Aliet laat Helena aan ’n speelse jong rob in ’n olierige hawekom dink. Stil bruin oë, gladde blink vel, hare op nommer twee afgeskeer.
“Die boontjiesop-opskop,” terg Felix. “Pas maar op!”
“Ek sal oukei wees, ek kan na myself kyk,” verseker sy hom.
Hulle kuier die aand op die stoep, waar musiek speel. Die mans het wyn gebring, en brandewyn. Hulle drink en dans en eet inderdaad boontjiesop, wat heel smaaklik is.
Omdat sy nuut is, trek Helena die aandag, is sy vir ’n oomblik die middelpunt van die geselskap. Haar bry laat haar onderdeur kom, en die skollietaal waarmee hulle haar vereenselwig, wat die Capeys praat: djy en djou en djille. “Djille sta’maak ’n biesem teen i’ mier!”
Die maklikste manier is om maar saam te speel. Onder gelag word sy goedgekeur.
Daarna is die ys gebreek en kuier hulle lekker saam. Sy bly egter in haar pasoppens, want party van die mans raak aangeklam, en sy is afhanklik van ’n rygeleentheid. Sy self was so nugter soos ’n spook toe sy ná een in die bed kom, kan sy aan die Venters rapporteer.
Dit laat haar wonder oor die braaivleis by die boeresaal ná die tennis Saterdag. Felix speel ook, en neem vir Anneke en die kinders saam. Hulle sal nie vir die dans bly nie, maar dring aan dat Helena ook kom.
“Dis heeltemal informeel,” sê Felix. “Dit maak nie saak as jy nie ’n maat het nie. Hulle eet en drink en skoffel in die bondel. Ons stuur iemand om jou te kom haal.”
Sy moes iets van dié aard verwag het, nogtans lui die naam Chris de Wet nie ’n klokkie toe hy hom kom aanmeld nie. Hy gee die indruk van nog nie heeltemal uitgegroei te wees nie, groot met breë skouers, smal heupe, sterk nek, ligbruin oë en hare. Aan die jong kant, beskeie, nogtans met ’n stewige handdruk wat darem nie haar hand verbrysel nie.
Hy is ’n rugbyspeler wat vir die geselligheid gekom het, om te gesels en te eet. Hy speel ook nie tennis nie, is ’n skut wat aan die skietvereniging behoort. Nee, hy dans nie, maar hy gee glad nie om as sy wil nie. Staan met ’n bier by die vuur, keer ’n paar tjops en wors op die rooster om, kry sitplek op ’n stomp en bring vir haar ’n bord vleis en koffie.
“Daar’s brood ook as jy wil hê.”
“Dankie, maar die vleis is glad te veel vir my.”
“Eet sover jy kom, ek sal die res neem.”
Terwyl hulle eet, vra hy haar naam. Dit het hom blykbaar ontgaan.
“Buggeg,” bry hy agter haar aan, wat haar in die versoeking stel om te vra hy moet liewer Burre sê soos al die Sandvelders. Bedink haar dan, dat dit nie ’n spottery van ’n ander aard afgee nie. Mense sal maar gewoond moet raak daaraan dat haar erre amper wil wegraak tussen tong en verhemelte.
“O, van die Kaap?” vra hy uit soos mense maak wat nie refensie het nie. “Jy was anderdag saam met Felix en Anneke op Harmstat?”
En jy is dáárdie Chris? Wat koring ingery het?
Nou weet hulle van mekaar.
“En wat het jy in die Kaap gedoen?”
Dis op die punt van haar tong om te sê: die biesem teen die mier gesta’maak. Maar sy kan nie verwag dat hy moet verstaan nie.
“Ek het daar studeer. Tegniese kollege. Maar ek kom van die . . . Weskus.”
Sy wenkbroue skiet teen sy voorkop op. “Nou is ek heeltemal verdwaal.”
“Die Kaapse Weskus?” toets sy hom.
“O, die Skedelkus. Ek het nie geweet daar woon mense nie.”
“Waarna lyk ek vir jou?”
Dis asof hy haar vir die eerste maal behoorlik raaksien: die skoon, uitgeborselde hare wat tussen haar skouers hang, fyn soos koperdraad en sag om aan te raak nadat sy dit gewas en klapperolie ingevryf het.
“Jy het byna nie aan jou kos geraak nie,” sê hy bedagsaam.
“Ek het genoeg gehad, dankie.”
Sy drink haar koffie terwyl hy haar bord leegmaak.
Sy het al gesien dat ’n man ’n hele vis kafdraf. Jan Tekkie van Vollemink steek ’n gebraaide hotnotsvis in sy mond, werk hom van ’n kant af deur sy kies en spoeg die grate anderkant uit. Maar sowat van vleis eet!
Net ná tien vra hy of sy omgee as hulle nou gaan. Môre is kerk; hy neem sy ouers.
Sy let op dat hy die o sonder die kappie uitspreek. Moore, sê hy. Hy het ’n mooi stem. En goeie maniere.
Daar is nie ’n kerk op Grenspan sover sy kon sien nie. Afgesien nou van die kerkie met kleimure en die Roomse kruis waarby sy saans as sy gaan stap, stilstaan en haar verluister aan die sang van die swart mense: die sterk stemme, harmonieus en gewyd. Eenmaal ’n maand is hier glo ’n diens in die boeresaal – nadat hulle die Saterdagaand daar gedans het, het Aliet-hulle gespot.
“Ek kan jou kom oplaai, dan gaan jy saam met ons,” stel hy voor.
Graag, wil sy sê, maar nie omdat sy so ’n danige behoefte aan die kerk het nie. Gedwonge kerkbywoning op kosskool, twee maal Sondae plus bidure en katkisasie, het haar ’n weerstand laat opbou. ’n Sondag so op jou eie kan egter lank word, sodat dit ’n soort uitvlug sal wees.
Maar sy is nie seker of dit die regte ding sal wees om haar so by die mense op te dring nie. Nie so gou nie. En is dit nie ’n vreeslike draai nie?
Op die ingewing sê sy: “Ek verbeel my die Venters laat môre doop, dan ry ek saam met hulle.”
“O, ek het nie geweet nie.”
Ek ook nie, dink sy.
Hulle sê nag by die voordeur. Hy wag dat sy ingaan en stap dan na sy motor. ’n Ligblou Chrysler.