Читать книгу Anna Atoom en die seerower se dolk (skooluitgawe) - Elizabeth Wasserman - Страница 5
2: Die AardWag
ОглавлениеTerwyl Anna nog op die strand sit en droom, is haar ma besig in haar laboratorium naby hulle huis.
Professor Sabatina leun vooroor en loer oor haar silwer halfmaanbril. Sy sit op ’n stoel wat om ’n reusagtige hologram6 van die aarde gly. Op die hologram-aardbol is MonPetit maar so groot soos ’n muntstuk. As jy baie mooi kyk, sien jy die donker vierkant van die Atoom-familie se huis in die middel van die eiland.
Professor Sabatina bring die grootste gedeelte van haar tyd in hierdie laboratorium deur. Sy werk vir die Geografiese en Ruimtelike Organisasie vir Ekologiese Navorsing, ’n groot internasionale organisasie beter bekend as GROEN. Die AardWag is een van hul heel belangrikste projekte. Met behulp van die AardWag monitor7 sy die weerpatrone. Sy waarsku die wêreld as rampe soos ’n tsoenami of ’n vulkaniese uitbarsting dreig.
Professor Sabatina geniet elke oomblik van haar werk. Sy is gelukkig om die beste toerusting in die wêreld tot haar beskikking te hê.
Die super-rekenaar wat die AardWag beheer is so slim dat professor Sabatina dikwels vergeet dat dit net ’n masjien is. Sy het vir hom ’n naam gegee: Maks.
Maks se stem vanuit die versteekte luidsprekers verbreek professor Sabatina se konsentrasie.
“Kyke ’n bietjie na 25°02”S 130°09”W!”
Vir die professor maak die string koördinate dadelik sin. “Dis naby Pitcairn-eiland, of hoe?”
Haar stoel zoem op die glybaan om totdat sy oor die Stille Oseaan hang.
“Jy siene wat ek sien?”
“Ek SIEN, Maks. Ek kan egter niks SIENE nie, selfs al kyk ek met twee oë. Ons moet regtig jou taalprogram oorskryf! Jy’s die slimste rekenaar in die hele wêreld, maar jy klink soos ’n ongeletterde8 swaap!”
Sy ignoreer die lang sug wat uit Maks se luidsprekers opklink. Maks kry homself altyd jammer as die professor met hom raas. Om aandag en simpatie te kry, maak hy ’n geluid wat klink soos die geroeste rat van ’n ou trapfiets.
“Hou op om die gek te skeer en doen jou werk, Maks. Wat is dit wat die see hier so ’n snaakse kleur gee? Hier’s ’n vreemde versteuring, en die temperatuur van die water is ook te hoog.”
Die professor druk haar neus nog nader aan die hologram. ’n Donker kring is nou duidelik sigbaar in die see. Skielik begin ’n rooi lig teen die plafon van die laboratorium flikker. ’n Alarm skree skril.
Die volgende oomblik verskyn ’n ou man in ’n gestoffeerde leunstoel reg langs professor Sabatina. Hy hang half skeef soos wat hy omtrent ’n meter en ’n half bokant die vloer dryf. Dis natuurlik onmoontlik vir iemand van vlees en bloed om só te verskyn – die beeld van die ou man is ’n hologram. Dis meneer Amsterdam, die direkteur van GROEN.
Die professor is nie bly om hom te sien nie. Sy gunstelingtydverdryf is om sy neus in ander se sake te steek.
“Sabatina, daar is ’n probleem wes van Suid-Amerika!” sê Meneer Amsterdam. “Ek het nog nie jou verslag daaroor gekry nie.”
As meneer Amsterdam tog net in GROEN se hoofkantoor in Holland wil bly en haar uitlos!
“Ja, meneer Amsterdam, ek en Maks is bewus daarvan. Ek dink net u verwag my verslag ’n bietjie te vinnig, aangesien die versteuring in die suidelike deel van die Stille Oseaan maar skaars ’n halfuur gelede begin het.”
Meneer Amsterdam trek sy gesig op ’n lang plooi. “Sabatina, Sabatina!” sug hy. “Jy het die mees gesofistikeerde toerusting op aarde. Wat sal van ons word as ons nie op jou kan vertrou om ons betyds in te lig oor probleme nie?”
Die professor probeer hard om haar nie te vererg nie.
“Ek kan u reeds sê dat dit lyk asof die versteuring vanaf die seevloer kom. Dit veroorsaak hoëfrekwensie-klankgolwe wat oor ’n radius van sowat 10 000 kilometer versprei.”
Sy kyk ’n oomblik af na haar rekenaarskerm.
“Gelukkig is daar op die oomblik baie min skepe in daardie omgewing. Ek stel voor dat u eerder u kosbare aandag aan moontlike skeepvaartprobleme gee. Dit sal my en Maks die nodige tyd gun9 om hierdie saak uit te sorteer.”
Sy glimlag gemaak-vriendelik, maar haar persblou oë bly yskoud.
Meneer Amsterdam trek sy bolip vies op en verdwyn.
“Wel!” sê die professor. “Nou kan ons ten minste aangaan met ons werk. Maks, het jy nog inligting vir my?”
Die rekenaar bly ’n lang ruk stil. Professor Sabatina het ’n vermoede iets baie slegs is besig om te gebeur. Sy vryf haar silwer hare senuweeagtig deurmekaar.
“Maks, wat dit ook al was, dit lyk of dit begin verdwyn!” roep sy dan uit. “Die skokgolwe het heeltemal verswak. As jy nie slim genoeg is om vir my te kan sê wat dit veroorsaak het nie, kan jy minstens vir my sê of hierdie golwe enige skade kon aanrig?”
“Niks meer as om die vissies wat daar rondswems se kiewe te kielies nie,” antwoord Maks. “My berekeninge is dat die golwe nie sterks genoegs was om die rotsformasies en tektoniese plate in die aarde se kors te skuifs nie.”
Die professor verwonder haar opnuut oor presies hoeveel inligting Maks kan verwerk in die bestek10 van ’n paar sekondes.
“Ek is besig om deur my databank te gaan om te siene of daar al ooit voorheen so iets gebeurs het. Ek kyke ook of daar verslae is oor die effeks van hierdie frekwensie klankgolf op seelewe.”
Maks gee ’n opsomming van die vreemde gebeure wat so pas in die Stille Oseaan plaasgevind het: die versteuring het presies drie minute en vyf sekondes geduur. Dit lyk nie asof daar enige nagevolge is nie. Maar die belangrikste vrae bly onbeantwoord. Wat was dit? Wat het dit veroorsaak? Tot laat in die nag probeer professor Sabatina en haar rekenaar antwoorde kry op al dié vrae, maar niks maak sin nie.
Dis amper middernag toe sy besef daar is niks wat sy nou meer kan doen nie. Maks sal die res van die nag alleen verder werk. Uitgeput trek sy die deur van die laboratorium agter haar toe. Sy stap die kort entjie huis toe deur die warm tropiese nag.
Sy het al weer aandete misgeloop, en die kinders is lankal in die bed.