Читать книгу Anna Atoom en die seerower se dolk (skooluitgawe) - Elizabeth Wasserman - Страница 7

4: Die wapen van die Hodoul-familie

Оглавление

Die oggend ná Anna se benoude ontmoeting met die hamerkophaai is almal aan die ontbyttafel met hulle eie gedagtes besig.

Pip probeer om ’n stuk gebraaide piesang aan Brak se stert te plak. Professor Sabatina sit en bekommer haar oor die vreemde elektromagnetiese golwe in die Stille Oseaan, en Anna prut van opgewondenheid oor die dolk wat sy in die see gevind het. Die vorige aand het sy dit geskrop totdat dit skoon is.

Die hef van die dolk is veral mooi. Dit lyk asof dit uit soliede silwer gemaak is, met fyn goue insetsels en klein edelgesteentes wat in ’n patroon ingelê is. Daar is ’n storie agter hierdie dolk – sy weet dit! Vandag gaan sy uitvind aan wie dit behoort het, en hoe dit in die see by hulle eiland beland het. Sy weet presies waarheen om te gaan: die argief13 op die groot eiland. Haar plan is om ná skool daar ’n draai te gaan maak.

Skielik verskyn admiraal Abraham Atoom se gesig op die skerm langs die tafel.

“Dagsê, my aardse familie!” roep hy vrolik uit. Anna verstel die volumeknop op die luidspreker teen die muur.

“Abraham,” sê haar ma. “Ek moet dringend iets met jou bespreek.”

Sy loer onderlangs in die rigting van die twee kinders. Die admiraal verstaan dadelik dat dit werksake is.

“Absoluut, geen probleem nie, engel!” glimlag hy vrolik. “Maar eers wil ek hoor wat julle kinders vir vandag beplan. Wat maak julle daar op die pragtige MonPetit?”

“Skool,” brom Anna. Sy stoot haar vrugteslaai in haar bord rond. Sy sou so graag die dolk vir haar pa wou wys. Dit kan sy egter nie doen sonder om haar ma ook daarvan te vertel nie. Haar ma het duidelik haar eie probleme vanoggend, en boonop sal die hele storie met die haai uitkom as sy eers begin vrae vra.

Die familie se geselsery word onderbreek deur ’n gekraak, gevolg deur Maks se stem.

“Professor, ek dinks jy moet liewer dadelik laboratorium toe kome. Dinge is aan die gebeurs in die Stille Oseaan!”

“Dankie, Maks. Ek kom dadelik!” Sy draai terug na die videokamera wat die huis met die ruimtestasie verbind. “Abraham, probeer asseblief in verbin­ding bly met my. Daar gaan iets vreemds aan en ek sal graag wil hoor wat jy daarvan dink.”

Dis net die kans waarop Anna wag.

“Pa!” sê sy toe haar ma weg is. “Kyk wat het ek gister gevind!” Sy trek die dolk uit haar skoolsak en hou dit voor die videokamera.

Admiraal Atoom fluit saggies in sy baard. “Grote griet, wipneus, dit lyk soos ’n stokou dolk! Waar op aarde het jy dit gekry?”

“Net agter my seeslak-akwarium, Pa. Ek moes al ’n honderd maal daaroor geswem het sonder om dit raak te sien! Ek wil vandag na die argief toe gaan, Pappa. Ek wil kyk of ek enige leidrade kan kry oor waar hierdie dolk vandaan kom.”

“’n Uitstekende plan, wipneus. Vra vir mevrou Salie om jou die register14 te wys van skepe wat vermis geraak het rondom die eilande. Begin soek so van die agtiende eeu af.”

Die admiraal dink diep. “Wys my net weer daardie dolk?”

Hy staar stip na die beeld van die dolk op sy skerm en druk sy neus amper teen die kamera om beter te kan sien.

“Die ontwerp op die hef lyk baie soos een wat ek op ’n ou kis in die Hodouls se huis gesien het,” sê hy.

Die Hodoul-familie is direkte afstammelinge van een van die mees berugte15seerowers wat hier rondgevaar het. In sy kinderdae was admiraal Atoom groot maats met Raymond Hodoul.

Anna se asem slaan skoon weg van opgewondenheid. Dit beteken die dolk het waarskynlik aan ’n regte, egte seerower behoort!

Haar pa weet presies wat sy dink. “Bly kalm, sproetneus. Ek is nie doodse­ker nie. Sover ek weet, het die argief ’n afskrif van Hodoul se skeepsdagboek. Jy sal miskien iets van waarde daarin kan lees.”

Ton het intussen stilweg die eetkamer binnegekom. Hy werk vir die Atoom-familie en neem Anna elke dag met die motorboot skool toe. Hy kug saggies. Dis sy manier om Anna te waarsku dat sy moet opskud om nie laat te wees vir skool nie.

Die admiraal ken die teken. “Nou toe, weg is jy, meisiekind!” knipoog hy vir haar. “Weet jou ma iets hiervan?”

“Ek sal haar nog vertel, Pappa, maar …”

“Ja, los dit dalk maar vir eers. Dis duidelik dat iets anders haar op die oomblik pla. Kom vertel my vanaand wat jy uitgevind het.”

Anna gryp haar skoolsak en hol agter Ton aan. Sy is vandag nog minder lus vir skool as gewoonlik. ’n Ellelange dag in ’n bedompige klaskamer, en dit terwyl sy ’n seerowerskat het om te vind! Sy kan nie wag om by die argief uit te kom nie!

Anna Atoom en die seerower se dolk (skooluitgawe)

Подняться наверх