Читать книгу Anna Atoom en die seerower se dolk (skooluitgawe) - Elizabeth Wasserman - Страница 6

3: MonPetit-eiland

Оглавление

Admiraal Atoom en Sabatina het MonPetit-eiland dertien jaar gelede gekoop, net voor Anna gebore is. MonPetit is een van ’n pragtige groep eilande net suid van die ewenaar, amper reg in die middel van die Indiese Oseaan.

Die hart van die eilande bestaan uit pienk graniet. Dis mettertyd bedek deur woude vol palmbome en eksotiese plante. Toringhoë takamaka-bome gooi diep skaduwees oor die strande. Broodvrugte, mango’s en avokadopere hang in oorvloed aan die bome rondom die Atoom-familie se huis.

Die strand bestaan uit sagte sand, wit soos sneeu. Miljoene helderkleurige visse swem in die warm water van die koraalrif rondom die eiland, en snags kom lê seeskilpaaie hul eiers op die strand.

In die middel van die eiland het admiraal Atoom ’n huis gebou in die tradisionele eilandstyl. Die dak is spits en stewig gepak van droë palmblare. Reg rondom die huis loop ’n stoep wat skadu bied teen die fel tropiese son. Die vensters het geen glas in nie, net houthortjies wat jy kan toetrek as dit reën. Binne roer groot dakwaaiers die lug en hou die vertrekke heerlik koel.

Toe Anna agt jaar oud was, het ’n verskriklike ding gebeur. Haar pa het saam met sy vriend Uranus Draak aan ’n Tornado-Absorbeerder gewerk, toe ’n atoomverplasende straal hom per ongeluk vol in die bors getref het. Atoomverplasende strale word deur die Tornado-Absorbeerder gebruik om die energie van baie sterk storms te verminder. Dit was nuwe tegnologie wat nog nie voorheen uitgetoets is nie, en die effek van so ’n straal op ’n mens was totaal onvoor­spelbaar. Vir ’n paar oomblikke het die admiraal gevaarlik gebewe. Dit het gelyk asof hy gaan ontplof. Dit was asof sy molekules11 in miljoene submikro­skopiese deeltjies wou oplos. ’n Ruk lank het sy lyf so tussen verdamping en verdwyning gehuiwer, en hy het allerhande vreemde vorme begin aanneem.

Gelukkig was hy omring deur slim wetenskaplikes. Hulle het hom in ’n spesiale tenk geprop om te keer dat stukke van hom nie heeltemal wegdryf nie. Weke lank het hulle hom probeer red, maar uiteindelik was dit duidelik dat sy molekules permanent hulle aantrekkingskrag vir mekaar verloor het. Die admiraal sou nie meer die swaartekrag van die aarde kon oorleef nie. Die enigste raad was dat hy in die ruimte moes gaan bly.

Gelukkig was die wetenskaplikes van GROEN net mooi op daardie tydstip klaar met die bou van ’n nuwe ruimtestasie. In die ruimtestasie was die admiraal veilig, en hy kon aangaan met sy werk.

Anna sien haar pa darem nog elke dag. Elke aand, en gewoonlik vroeg­oggend ook, wanneer sy ruimtestasie oor hulle kant van die aarde wentel, maak hulle met hom kontak. Sy beeld verskyn op ’n televisieskerm langs die eetkamertafel. Die ontvangs is nie altyd ewe goed nie: soms is sy gesig net ’n donker skadu in ’n sneeustorm van stratosferiese12 versteuring. Op ander tye is sy gesig en stem so helder dat Anna haar amper verbeel dat hy reg langs haar sit.

Die eerste paar maande nadat haar pa hulle moes verlaat, was die treurigste ooit op MonPetit-eiland. Anna en haar ma was heeltemal alleen. Professor Sabatina het gedink dis ’n goeie idee om vir Anna ’n boetie te kry. Sy het die hulp van haar slim vriende ingeroep. Anna het ’n boetie gekry met die naam van Pip.

Maar Pip is geen gewone seuntjie nie! Hy is ’n BioTron, half mens, half robot.

Vir Anna is haar boetie net irriterend. Hy is amper vyf jaar oud, maar steeds kan hy nie ordentlik praat nie. Hy maak net snaakse brom- en borrel­geluide. Sy sou veel eerder die enigste kind wou wees en hom inruil vir ’n troeteldier, soos ’n mak vlermuis of ’n uil.

Boeties is ’n pyn.

Anna Atoom en die seerower se dolk (skooluitgawe)

Подняться наверх