Читать книгу Elza Rademeyer Omnibus 7 - Elza Rademeyer - Страница 11

8

Оглавление

“Jy moet ophou om jou oor my te bekommer,” sê De Wet vir Esbeth. “Bekommer jou liewer oor jouself. Kyk net hierdie donker kringe onder jou oë. Jy slaap nooit meer ordentlik nie. Natuurlik Gustav Opperman se skuld.”

“Hoe kan dit sy skuld wees? Ek het hom wie weet wanneer laas gesien.”

“Juis. Dís waarom jy nie kan slaap nie. Vergeet van hom, man. Jy kan in elk geval beter doen as om jou met die giere en geite van ’n geskeide man op te hou. Waarskynlik is hy dalk al klaar weer getroud met sy gewese vrou.”

“Ag, kom ons gesels oor iets anders,” probeer sy wegskram van die gevoelige onderwerp. “Hoe smaak jou seekos?”

“Heerlik! Hei, en nou, as jou oë so rek?”

Sy knyp vinnig haar oë toe. Toe sy dit weer oopmaak, is sy net betyds om Gustav by die restaurant se deur te sien uitgaan. Haar groot oë het De Wet ook laat omkyk.

“Waar het hy dan gesit dat ons hom nie gesien het nie?” vra hy vir Esbeth toe hy sy kop terugdraai. “Of het hy net iets by die toonbank gekoop?”

“Hy’t seker net iets by die toonbank gekoop,” sê Esbeth. Maar sy weet dit is nie waar nie. Gustav het in die deur omgedraai toe hy haar gesien het.

“Die man is ook orals,” laat De Wet misnoeg hoor.

“Gits, hoekom klink jy so gegrief?” vra Esbeth. “Hy kan mos kom en gaan soos hy wil.” Toe sy sien dat Eben met die suikerpot peuter, raas sy onnodig kras met hom; sy is skielik sommer uit haar humeur uit.

De Wet gee haar net ’n vernietigende kyk voordat hy weer doenig raak met sy eetgerei. Eintlik lyk dit eerder asof hy sit en stoei met die kos in sy bord en dis ook vir Esbeth ’n marteling om met die ete voort te gaan. Sy weet sy moet haar nie aan Gustav se temperamentele optredes steur nie, maar hoe kan dit anders? Sy sal hom nooit uit haar gedagtes kan weer nie, want … ja, laat sy dit maar teenoor haarself erken, haar hart behoort aan hom.

Dit gaan moeilik om met De Wet oor daaglikse onbenullighede te gesels terwyl sy die hele tyd bly wonder waarom Gustav omgedraai het toe hy haar sien. Is hy bang sy sal haar opdring aan hom?

Later die aand talm De Wet voor haar woonsteldeur. “Gaan jy my nie nooi vir koffie nie?” vra hy toe dit vir hom lyk asof sy geen aanstaltes gaan maak om hom binne te nooi nie. Eintlik wou hy sy goeie nuus vanaand met haar gedeel het, maar Gustav se verskyning by die restaurant het die hele aand bederf.

“Nie vanaand nie. Ek wil maar in die bed gaan klim.” Sy druk Eben by die deur in om solank sy tande te gaan borsel met ’n bemoedigende “Mamma kom nou”.

“Esbeth, vergeet van Gustav Opperman. Hy kan jou niks bied wat ek jou nie ook kan bied nie. Ek gaan volgende week vir ’n paar dae oorsee en as ek terugkom …” Hy sit sy arms besitlik om haar lyf.

“Oorsee?” onderbreek sy hom verbaas. “Wat gaan jy daar maak?”

“Ek gaan my geld haal. En as ek terugkom …”

“Geld haal?” onderbreek sy hom ongelowig. “Waarmee is jy besig, De Wet? Is jy by smokkelhandel betrokke?”

Hy lag oor haar geskoktheid. “Wat maak dit saak hoe ek die geld kry? Feit is, ek gaan een van die dae een van Mosselbaai se rýk manne wees. Ek het al klaar gaan kyk waar ek vir my ’n huis gaan bou waarvan ’n vrou maar net kan droom.”

Sy stoot hom weg. “Jy is met onwettighede besig. Los dit, De Wet. Hulle gaan jou vang!”

“Sal jy spyt wees as hulle my vang?”

Sy vererg haar vir sy ligsinnigheid. “Nee, miskien móét hulle jou vang sodat jy verstand in jou kop kan kry!”

“Dink jy dan ek het ’n tekort aan verstand?”

“As jy verstand het, gebruik jy dit nie. Wat van jou arme ma as jy …

Hy gee haar nie kans om haar sin te voltooi nie; hy soen haar vermanings tjoepstil. En toe hy haar los, is hy duidelik ’n bietjie kortasem.

“Belowe my net een ding; jy sal jou nie in die tyd wat ek weg is, aan ’n ander man verbind nie. Goeienag, my engel.”

Esbeth wag nie tot sy motor wegtrek voordat sy haar kamer toe haas agter Eben aan nie. Is De Wet verlief op haar?

Bekommerd gaan sy lê en sy het ’n slegte nag vol nagmerries oor De Wet wat deur die polisie gesoek word en oor Gustav wat saam met ’n bruid voor die kansel staan.

Gustav se stem oor die telefoon, vroegoggend terwyl die droom nog vlak in haar gedagtes lê, is so onverwags dat sy nie dadelik kan praat nie.

“Is jy daar?” vra hy dringend.

“Ja, ek … e … hoor jou.”

“Het ek jou wakker gelui?”

“Nee, ek was darem al wakker.”

“Esbeth, kan ek jou vanmiddag ná werk kom oplaai?”

“Oplaai? Waarheen?”

“Danabaai toe. Ek wil jou graag die huis gaan wys wat ek … gekoop het.”

“Wat het ek met jou huis te doen?” vra Esbeth ergerlik.

Gustav klink afgehaal. “Stel jy dan nie belang nie?”

“Nee, hoegenaamd nie!”

“O, ek het maar gehoop … Luister, ek kan dit nie net so los nie. Ek móét jou weer sien!”

“Vir wat wil jy my sien?”

“My toekoms hang daarvan af.”

“Wat bedoel jy?” vra sy versigtig.

“Ek sal jou vertel as jy saam met my Danabaai toe ry vanmiddag.”

“Ek kan nie. Ek het ander dinge om te doen.” Toe verbreek sy sommer die verbinding. Sy weet nie wat Gustav se motiewe is nie, maar as hy darem glo hy kan met haar gevoelens woer-woer speel … Om Selma se huis vir háár te wil wys!

Aan sy kant begluur Gustav die geluidlose hoorstuk iesegrimmig voordat hy dit terugplaas op die mikkie. Sy moet haar darem verbeel hy sal hom só maklik laat koudsit! Sy sal hom in die oë moet kyk wanneer sy vir hom sê sy wil niks met hom te doen hê nie, anders sal hy dit nie glo nie. Hy kan nie langer so aangaan nie. Oor een ding het hy nou sekerheid: Hy het haar lief. Onteenseglik lief. Dit help nie om langer teen die gevoel in hom te stry nie.

Toe hy ’n paar uur later in sy motor klim, vergeet hy om daarop bedag te wees dat Selma dalk weer op hom spioeneer.

Esbeth sien hom voor haar winkel stilhou. En haar hart maak ’n snaakse tuimeling toe hy die boetiek binnegestap kom. Sy het moeite om haar blydskap weg te steek en oënskynlik gewoonweg te vra of daar iets is waarmee sy hom kan help.

Hy kyk vlugtig na die ander klante in haar winkel, gaan staan dan reg voor haar om hulle af te sluit. Hy voel hoe sy hart bons toe hy die ligte fladdering van haar wimpers sien, die senuweeagtige gebaartjie waarmee sy ’n haarsliert uit haar gesig vee. Sy kan stry soos sy wil, kom dit by hom op, hy weet sy voel iets vir hom.

“Ja. Ek soek gordyne vir ons huis,” sê hy met sy blik in hare.

“Jammer, maar ek hou nie gordyne aan nie.” Sy skeur haar blik weg van syne. “Net vroue- en kinderklere.”

“Jy sal my nogtans moet help met die maak van die gordyne.”

“Hoekom moet ék jou daarmee help?”

“Ek ken niemand anders in Mosselbaai wat my daarmee kan help nie en my tante uit die Transvaal kom Maandag kuier. Sy sal dit ongemaklik vind om in ’n gordynlose kamer te slaap.”

Esbeth kry die gevoel dat hy so effens die spot met haar dryf, maar sy weet nie hoekom nie. Nog minder hoe om daarop te reageer. “Ek maak klere,” verweer sy haarself.

“As jy klere kan maak, kan jy tog seker gordyne ook maak?”

“Het jy al die materiaal gekoop?”

“Nee, ek sal die geld gee. Jy moet dit koop.”

“Hoe sal ek weet waarvan jy … e … julle hou?”

“Jy het goeie smaak. Jy sal die regte gordyne koop.”

“Ek sal nie weet hoeveel om te koop nie. Het jy die mate?”

“Watse mate?” hou hy hom opsetlik dom.

“Die mate van die vensters!” vies sy haar onnodiglik.

“Wat het dit met die maak van die gordyne te doen?”

“Alles! Ek bedoel, jy moes mos weet hoeveel materiaal om te koop.”

“Sal jy my help om die mate te neem?”

“Ek kan nie. Jy sien mos hier is klante in my winkel.”

“Ek sal wag tot jou winkel sluit.” Hy kyk kamtig aandagtig op sy horlosie. “Dis minder as ’n uur. Sien jou weer buite.”

Toe Esbeth haar winkel sluit, wag hy in sy motor wat langs hare geparkeer staan. Dit baat haar niks om haarself tot kalmte te maan nie. Toe hy uit die motor klim en nader gestap kom, klop haar hart onstuimig in haar keel.

“Jy kan jou motor hier los as jy wil. Ons kan net vir Eben by tant Ralie gaan oplaai en dadelik ry,” sê hy vir haar.

Sy besluit om nie met hom te argumenteer nie. Haar vrae oor sy gewese vrou kan wag tot later. Dit kan tog nie kwaad doen om haar net vir ’n wyle te verbeel hy hou van haar nie.

Hulle ry ’n hele ruk in stilte nadat hulle Eben by tant Ralie opgelaai het. Maar haar senuwees kan die uitgerekte stilte nie verduur nie. Sy probeer gewoon klink toe sy vra: “Wanneer beoog jy en Selma om in te trek?”

Hy loer vlugtig na haar en frons. “Ek en Selma? Wat laat jou dink ek koop die huis vir my en Selma?”

“O, ek het maar gedag …” Sy swyg ongemaklik toe hy weer na haar loer en terselfdertyd sy hand oor hare op haar skoot vou.

“Vergeet van Selma. Ek het geen begeerte om ooit weer ’n huis met Selma te deel nie.”

Dit raak ademloos stil in haar. Die klip in haar binneste smelt soos was. “Hoekom wil jy die huis dan vir my gaan wys?”

“Ons kan netnou daaroor gesels. Wanneer ons daar is.”

Sy maan haarself om nie opgewonde te raak nie, maar die veld, die lug, alles lyk skielik uitbundig vrolik. Sy voel vir die eerste keer in ’n lang tyd weer die milddadigheid waarmee die son skyn toe hulle voor ’n pragtige ruim huis stilhou en deur ’n ietwat verwaarloosde tuin na die voordeur loop.

Hy sluit die voordeur oop en laat haar eerste ingaan. Die huis is karig gemeubileer en sy kry die geur van nat verf. Hy kom staan agter haar toe sy naby die venster gaan staan om na buite te kyk. Sy hande raak liggies aan haar skouers. “Wat dink jy van die huis?” vra hy effens hees.

“Dit is mooi. ’n Pragtige uitsig.”

“Sal jý daarvan hou om hier te bly?”

Sy probeer haar uiterste bes om kalm te bly. “Hoekom vra jy dit?”

“Omdat ek hoop jy gaan ja sê as ek jou vra om die huis met my te deel.”

Sy draai stadig om. “Te deel? Wat presies bedoel jy, Gustav?”

Sy hande skuif met haar bo-arms af en vind ’n rusplek op haar heupe. “Ek het jou lief. Dit moet jy al kon agtergekom het.”

Dit raak wonderlik stil in haar. Sy kyk hom met groot oë aan, stom.

Hy kyk haar sag maar deurdringend aan. “Ek weet dis seker baie onverwags, maar …” Sy stem raak gesmoord. “Ek kan my gevoel vir jou nie langer vir myself hou nie, Esbeth. Ek wil jou myne maak. Het jy … my … Ek bedoel, staan ek ’n kans om jou liefde te wen? Of is jy … De Wet en jy …”

Sy het ’n onverklaarbare vreugde aan sy onbeholpenheid. Haar arms kruip asof vanself om sy nek. “Daar is niks meer as vriendskap tussen my en De Wet nie. En as jy wil weet of ek jou liefhet … Ja, ek het. Sommer baie, baie lief.” Dan trek sy sy kop nader en lig haar mond na hom toe op.

En nie een van hulle besef dat hulle deur die bosse met ’n verkyker beloer word nie.

Hulle is albei uitasem toe hy haar oplaas laat gaan. “Ek kan jou ongelukkig nie dadelik vra om met my te trou nie,” sê hy spytig. “Met Selma se dinge … sal jy bereid wees om ’n tydjie te wag?”

“Hoekom moet ons wag?” vra sy met haar hande teen sy rug. “Jy is mos nie meer met haar getroud nie?”

“Nee, maar ek is bekommerd oor haar. Sy tree nie vir my normaal op nie. Ek het haar probeer wysmaak daar is nie ’n meisie in my lewe nie, maar …” Hy trek sy skouers op en beduie na twee losstaande stoele. “Kom ons gaan sit. Dis belangrik dat jy moet weet wat Selma se gesindheid teenoor jou gaan wees as sy uitvind ek wil met jou trou.” Hy trek sy stoel tot regoor dié van Esbeth. “Selma tree soms heeltemal ongebalanseerd op. En sy hét al met dreigemente gekom, sou sy wel uitvind dat ek tog ’n meisie het.”

“Sy is seker maar net oorstuur van jaloesie,” sê Esbeth.

“Sy maak my bang,” erken hy en vertel haar hoe sy hom met allerhande voorwerpe in die hotelkamer gegooi het. “Daar was werklik waansin op haar gesig. En net die volgende oomblik was sy weer so sag soos ’n lammetjie – wou sy hê ons moet die verlede vergeet en … Sy maak my regtig moedeloos.”

“Is jy baie seker dat jy geen gevoel vir haar meer het nie?”

Hy glimlag skeef. “Baie seker. My hart behoort aan jou. Dit moet jy altyd en altyd onthou. Sal jy met my trou … later wanneer dinge meer rustig is?”

Haar blik beweeg stadig van sy ken af op tot by die sagte uitdrukking in sy oë. Sy wonder hoekom sy skielik lus is om te huil. “Ek sal. Baie graag.” Sy leun vooroor en druk haar kop teen sy bors, hoor die onreëlmatige slae van sy hart en verwonder haar oor die skielike rustigheid wat oor haar neerdaal.

“Dankie, sê hy sag en soen haar liggies op die voorkop. “Ek het geen rus of duurte geken hierdie laaste paar dae nie. En gisteraand het dit nie makliker gemaak nie.”

“Jy het dit ook nie vir mý maklik gemaak nie,” verwyt sy liggies. “Ek het al begin glo jy en Selma is klaar weer getroud.”

“Die huiskopery het baie van my tyd in beslag geneem. En daarby was ek bang Selma vind uit van jou. Eintlik het ek my voorgeneem om eers ná die geboorte van die kind weer met jou in aanraking te kom, maar dis te lank. My verlange na jou was te sterk.”

Hy staan op en hou sy hand na haar toe uit. “Kom ek gaan wys jou die res van die huis.”

Dis ’n mooi en gerieflike woning, maar Gustav se teenwoordigheid omskep dit in ’n paleis. Die enigste donker wolkie op Esbeth se horison is Selma. Gustav gee voor dat sy ’n ongebalanseerde, wispelturige vrou is wat selfs waansinnige neigings toon, maar sy kan haar beswaarlik indink dat hy met só ’n onstabiele meisie sou getrou het.

Eben, wat met ’n dolle vaart van buite af deur die kombuis dwarrel, onderbreek haar gedagtes. Sy berispe hom streng en daarna bekyk sy saam met Gustav die vensters wat sommer baie gordyne nodig het.

“Waar kry jy die meubels wat hier in die huis is?” vra sy nuuskierig, want sy kan hom nie eintlik vereenselwig met die goedkoop meubels nie.

“Dit was ingesluit in die prys van die huis. Die vorige eienaars het dit net as ’n vakansiehuis gebruik. Ons kan maar later daarvan ontslae raak wanneer ons die huis meubileer.”

Sy “ons” gee haar ’n warm gevoel om die hart. Die lewe lag haar skielik toe. Hoe sy en Gustav by oupa Janus verby gaan kom, weet sy nie. Maar dis later se kwellinge. Voorlopig is dit net genoeg om te weet Gustav het haar lief.

Veel later, net toe hulle die dorp bereik, versnel Gustav skielik en ry só vinnig dat Esbeth onrustig na hom kyk. “As hulle jou vang teen hierdie spoed, gaan jy betaal dat dit gons!” Hy antwoord haar nie dadelik nie. Eers nadat hy ’n paar wilde draaie deur die dorp gery het, verminder hy spoed.

“Ek is jammer as ek jou senuwees op hol het, maar ek het Selma se motor reg agter ons gewaar. Ek moes haar afskud, want ek wil nie hê sy moet agterkom wie jy is of waar jou boetiek is nie.”

Sy kyk vinnig om. “Ek is darem nie meer ’n kind nie, hoor. As sy my lastig val, sal ek haar gou vertel waar Dawid die wortels gegrawe het.”

“Jy ken haar nie,” sê Gustav waarskuwend. “Jy is te sag om haar te hanteer. Ons moet sorg dat sy nie op jou spoor kom nie.”

“Wat gaan jy doen omtrent die kind wat sy verwag …?”

“Ek sal my verpligtinge teenoor die kind nakom, maar dis al. Ek voel heeltemal afsydig teenoor die kind; dit is baie moeilik om te aanvaar dat dit myne is. As sy ’n buite-egtelike verhouding met Dewald kon aanknoop, kon sy dit met anders mans ook gedoen het.”

“Hoekom het jy met haar getrou?” sien Esbeth ’n gaping om die vraag te vra wat haar so treiter.

“Ek het net haar mooi kant gesien voor ons troue. Die donker kant het sy eers ná die huwelik gewys.” Hy klim uit en stap om die motor. Toe hy haar deur oopmaak, neem hy albei haar hande in syne. “Ek wil hê jy moet weet dit was nie ’n impulsiewe besluit om my liefde aan jou te verklaar nie. Ek het hard baklei teen my gevoel vir jou.”

Sy gee een van haar tintelende laggies. “En toe verloor jou hart die stryd.”

Hy moet noodwendig glimlag. “Ja, my hart wou hom nie langer laat voorskryf nie.”

Hy stap saam tot by haar motor waar dit steeds voor die boetiek staan. “Wil jy na my woonstel toe kom?” vra sy skamerig.

“Ek het gedink jy vra my nooit!” verwyt hy tergend.

En dis ook hoe hul samesyn vir die res van die middag verloop. Vol speelse pret en opwinding. Later nooi sy hom vir ete en hulle ry eers gou dorp toe om ’n bakkie room te gaan koop. Dit word ’n genoeglike aand.

Hulle weet niks van die wraakgedagtes waarmee Selma buite in haar motor sit en kyk na die silhoeëtte voor die kombuisvenster toe hulle laataand saam die skottelgoed was nie. Ook nie van haar verligting toe Gustav kort daarna die woonstel verlaat om terug te keer hotel toe nie. Sy volg hom op ’n veilige afstand, net soos sy hom en Esbeth die middag agtervolg het, en ry eers weg toe sy seker is hy sal nie weer die hotel verlaat nie.

Haar mooi gesig is verwronge van afguns. Sy weet sy het haar kanse verbrou, maar dit kan reggemaak word. Dewald sit in ’n gestig en hy was verantwoordelik vir haar en Gustav se kind se dood. Sy wil hom nooit weer sien nie. Hy, met al sy beloftes van ’n wittebrood oorsee, ’n paleis van ’n huis wat hy vir haar gaan bou, die statusmotor wat hy kwansuis vir haar sou koop … Soos ’n honger vis het sy die aas gesluk, en nou het sy niks nie. Maar sy sal Gustav se liefde terugwen. Dis net die donkerkop-vroumens wat in haar weg staan. Sy moet haar uit die pad kry. Maar hoe?

Eers laat in die nag kom daar ’n plan by haar op. En as dié plan misluk, sal sy nie huiwer om meer drasties op te tree nie. Sy móét Gustav terugwen, want sy weet nou dat die lewe sonder hom donker is. Behalwe die sekuriteit wat hy haar kan bied, is daar haar liefde vir hom … Sy weet nóú hoe lief sy hom het!

Elza Rademeyer Omnibus 7

Подняться наверх